MEDIAVERKLARING: STANDPUNT VAN DIE FAK OOR AFRIKAANS AS UNIVERSITEITSTAAL

deur Prof Danie Goosen

Die FAK wil hiermee sy diepe afkeur uitspreek oor die valse en diep misleidende standpunte wat die afgelope tyd ten opsigte van Afrikaans aan universiteite ingeneem word. Veral die volgende kwessies is ter sake:

Die FAK wil hiermee sy diepe afkeur uitspreek oor die valse en diep misleidende standpunte wat die afgelope tyd ten opsigte van Afrikaans aan universiteite ingeneem word. Veral die volgende kwessies is ter sake:


Die FAK wil hiermee sy diepe afkeur uitspreek oor die valse en diep misleidende standpunte wat die afgelope tyd ten opsigte van Afrikaans aan universiteite ingeneem word.

Veral die volgende kwessies is ter sake:

  1. Tydens die afgelope dekades het die een na die ander universiteitsbestuur plegtig belowe dat universitêre Afrikaans nie in gevaar verkeer nie. Ter ondersteuning is talle mooiklinkende taalbeleide in dié tyd voor die neuse van die Afrikaanse taalgemeenskap geswaai. Daarin word plegtig belowe dat Afrikaans se plek aan die universiteite veilig is.Vandag blyk hierdie beloftes toenemend niks anders te gewees het as ’n paaiboelie-strategie en ten diepste ’n leuenagtige voorstelling van sake. Universiteitsbesture het oor jare openlik vir die Afrikaanse taalgemeenskap gelieg.Universiteitsbesture moet nie verontwaardig reageer as die Afrikaanse wêreld hul voortaan met die grootste denkbare minagting hanteer nie. Dit sal enkel en alleen hul eie skuld wees.
  2. Daar word tot vervelens toe aangevoer dat die getal Afrikaanssprekende studente afgeneem het, en dat Afrikaans daarom afgeskaf moet word.Die werklike toedrag van sake is dat die absolute getalle van Afrikaanse studente nie dramaties afgeneem het nie, en dat hulle steeds ’n betekenisvolle aanwesigheid op kampusse soos die US, die UP en die NWU is.In hierdie verband mag nie vergeet word nie dat toe Engelssprekende studente slegs 14% van die totale bevolking by UP uitgemaak het, was die aanbod van klasse in beide tale klaarblyklik “ekonomies regverdigbaar”. Noudat Afrikaanssprekendes 30% van die totale bevolking van dieselfde universiteit uitmaak, is dit skielik nie meer haalbaar nie.Hierdie feit skep by Afrikaanssprekendes onwillekeurig die indruk dat daar met twee maatstawwe gewerk word. Van ’n sin vir regverdigheid is daar, ondanks mooi klinkende beloftes, kennelik geen sprake nie.
  3. Die afgelope jare het dit ook mode onder universiteitsbesture, hulle akademiese meelopers en raserige populiste geword om aan te voer dat Afrikaans op ons kampusse uitsluitend werk. Inderwaarheid bestaan daar nie ’n enkele bewys daarvoor dat Afrikaanse klasse aan “ons” universiteite per definisie teen enige anderstalige student diskrimineer nie. Inteendeel, eertydse Afrikaanse universiteite het bykans tot die dood toe (blyk dit nou) agteroor gebuig om anderstaliges (lees: veral Engelssprekendes) ter wille te wees.Hoe is dit moontlik dat dié agteroorbuig ten gunste van anderstaliges nou met diskriminasie téén hulle gelyk gestel word? Enigeen wat dit doen, ly aan kwaadwilligheid, misplaaste haat, kollektiewe selfontkenning, werklikheidsvreemde denkbeelde oor ’n wêreld sonder taalgrense of al hierdie patologieë tegelyk.
  4. Tydens die afgelope dekades het dit mode in veral die geesteswetenskappe geword om aan te voer dat daar nie iets soos die “werklikheid” is nie, maar dat alles deur ons “gemaak” of “geskep” word.Ironies hiervan is egter dat verskeie akademici wat so dink, baie gou is om aan te voer dat ons onsself wat Afrikaans betref by die sogenaamde harde werklikheid van getalle moet neerlê. Skielik vergeet hierdie einste akademici dat daar (ingevolge hul eie denke) planne gemaak en nuwe uitweë gesoek kan word om die agteruitgang van Afrikaans te verhoed.’n Tweede ironie wat hieraan knoop, is dat dit ook hierdie einste akademici is wat so graag na buite voorgee om in opstand teen “die bestaande ordes” te wees, terwyl hulle inderdaad die eerstes is wat hulle by die diktate daarvan neerlê. Van opstand is daar hoegenaamd geen sprake nie.
  5. Een van die grootste gekhede van vandag is die verwagting by populistiese groepe (nagepraat deur leunstoel-akademici) dat die verwydering van Afrikaans uiteindelik daartoe sal bydra om hul ekonomiese en sosiale nood te verlig.Die tragiese ironie hiervan spreek vanself: die grootse prestasie wat universitêre Afrikaans is, is juis ’n voorbeeld wat deur dié groepe nagevolg en nie afgebreek behoort te word nie. Afrikaans se ontwikkeling tot op die hoogste vlak het daartoe meegewerk dat talle Afrikaners in staat gestel is om ook ekonomies suksesvol te wees. Indien universitêre Afrikaans afgebreek word, word ’n belangrike voorbeeld en selfs bondgenoot vernietig.
  6. Afrikaanssprekendes word tot vervelens toe daaraan herinner dat Afrikaans nie sal uitsterf solank as wat ons dit praat nie. Hieruit word die gevolgtrekking gemaak dat ons moet ophou om oor die stand van Afrikaans aan ons universiteite te kla.Ook hierdie punt is ongegrond. Afrikaans sal inderdaad, soos beweer word, nog lank sonder universitêre Afrikaans kan oorleef. Maar blote oorlewing is juis nie waaroor dit in die taalgesprek gaan nie. Die vraag is eerder “hoe” Afrikaans in die toekoms sal oorleef.Sonder haar aanwesigheid op universiteit loop Afrikaans die wesenlike risiko om haar status as taal van die intellek, die verbeelding en die morele bewussyn prys te gee. En tot ’n informele taaltjie van die sypaadjie en die kombuis gereduseer te word.
  7. Apologete vir Engelse eentaligheid voer dikwels aan dat die beskerming van tale (en kulture) nie die taak van ’n universiteit is nie. Ook hierdie stelling is louter bog. Dit strook eenvoudig nie met die werklikheid nie.

By verre die meeste universiteite in die moderne ontwikkelde wêreld is nie net tot stand gebring om studente vir die beroepslewe voor te berei nie, maar ook om hulle in die breë sin van die woord op te voed. En ’n onlosmaaklike deel daarvan is dat studente eers werklik as opgevoed (of gekultiveerd) beskou is as hulle hul wêreld met behulp van ’n veelheid van tale (ook en veral hul moedertale) oop kan maak.

Die kultivering van moedertale aan universiteite staan nie in spanning met die akademiese lewe nie, maar verteenwoordig eerder ’n onontbeerlike deel daarvan. Die oppervlakkige Engels wat vandag as normatief aan ons universiteite beskou word (en op ’n ondemokratiese wyse aan almal opgedwing word), verteenwoordig ’n ernstige verskraling van dié opvoedingsideaal. Die volle ontwikkeling van ons moedertale op universiteit kan help om dié ideaal weer sy regmatige plek aan ons universiteite te gee.

Afrikaanssprekendes het by ’n skeidingsoomblik aangekom. Indien daar voortgegaan word om universitêre Afrikaans af te breek, sal groot getalle van ons mense slegs een gevolgtrekking daaruit maak: dat ons nie welkom is aan die bestaande universiteite nie, en dat ons voortaan vir Afrikaans ’n eie universitêre toekoms sal skep.

 

Prof.  Danie Goosen

Voorsitter van die FAK-direksie

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.