Museums in Suid-Afrika en die bewaring van Westerse kultuurgoedere – Evelyn Ferreira

Die Mouseion van Alexandrië in antieke Egipte was die tuiste van musiek en poësie en het beskik oor ʼn skool vir filosowe en ʼn biblioteek asook ʼn bewaarplek vir tekste. Dus ʼn navorsingsinstituut gelykstaande aan wat ons vandag ʼn universiteit sou noem.

Die Koninklike Biblioteek van Alexandrië, as onderafdeling van die Mouseion, was een van die grootste en mees gerekende biblioteke van die antieke wêreld bestaande uit ʼn versameling werke, lesinglokale, vergaderplekke en tuine. Alexandrië is dan ook as gevolg van hierdie biblioteek beskou as die hoofstad van kennis en leer waar baie van die beroemdste denkers van die antieke Hellenistiese wêreld studeer het. Iets meer oor dié museum: dit is gestig deur Ptolemy 1 Soter, ʼn Macedoniese generaal en opvolger van Alexander die Grote. Die meeste van die boeke in die biblioteek is as papirusrolle bewaar en dit is onbekend hoeveel daar was, maar daar word geraam dat dit tussen 40 000 en 400 000 was. Die biblioteek is natuurlik beroemd vir die feit dat hy afgebrand het met die daarmee gepaardgaande verlies aan hierdie waardevolle papirusrolle en boeke. Bronne verskil oor wie verantwoordelik was vir die biblioteek se vernietiging en wanneer presies dit plaasgevind het. Daar word beweer dat verskeie brande oor baie jare die oorsaak was. Dan was daar ook ʼn aardbewing wat die stad en biblioteek ernstig beskadig het. Een van die moontlike oorsake van die biblioteek se vernietiging word gekoppel aan ʼn brand wat deur die weermag van Julius Caesar in die jaar 48 vC gestig is asook ʼn aanval deur Aurelius in die jaar 27 nC. ʼn Mens kon dus kon sê politieke motiewe speel dikwels ook ʼn rol.

Die woord Mouseion is die oorsprong van die moderne gebruik van die woord museum. Oor die jare het die begrip “museum” egter baie verruim van wat dit in die antieke tyd was. Benewens die versamel van artefakte en alles wat daarmee gepaard gaan, wys die museumkundige, Peter Vergo, daarop dat museums intussen veel meer as “plekke van studie, opvoeding of vermaak” geword het. Volgens hom het die handeling van “om te versamel” ook ʼn politieke, of ideologiese of estetiese dimensie verkry wat nie ontken kan word nie. Hy pleit vir ʼn nuwe perspektief op die rol van die museum in die maatskappy wat nie sy sukses bloot meet aan kriteria soos geld en aantal besoekers nie. Die oorspronklike doel van die museum bly egter nog steeds ʼn riglyn waarteen wetenskaplikes ontwikkeling in denke oor die onderwerp meet. Vergo verwys in hierdie opsig na vier standaardkenmerke van die museum: Eerstens moet die uitstalling op een of ander manier bydra tot die bevordering van kennis deurdat dit bestudeer word. Tweedens moet die versamelings nie arbitrêr gerangskik word nie, maar moet dit georganiseer wees volgens ʼn sistematiese en herkenbare skema van klassifikasie. Derdens moet ʼn museum nie besit en geadministreer word deur ʼn private individu nie, maar deur meer as een persoon namens die publiek. Vierdens moet hierdie uitstallings redelik toeganklik wees vir die publiek hetsy deur spesiale reëling of deur die betaling van ʼn fooi.

Deur net na die kenmerke van die antieke en tipiese museum te kyk, val woorde op soos bewaarplek, kennis en leer, studie, opvoeding, vermaak, bevordering van kennis, georganiseer, geadministreer en toeganklik. Dit bevestig ʼn bepaalde karakter wat oor tyd aan museums gekoppel word. Daar word klaarblyklik groot waarde aan hierdie instellings geheg. Om te bewaar is om waarde aan die verlede te heg asook wat daaruit geleer kan word. Om dus te vernietig of toe te laat dat, wat waardevol is, vernietig word, is om die ware karakter van ʼn museum te minag of te ontken.

As ons na die huidige stand van Westerse kultuurgoedere in Suid-Afrikaanse museums kyk, is die prentjie meer as bekommerenswaardig. Hoewel die Westerse element net een van die aspekte van ons diverse land se kultuurgoedere weerspieël, is dit iets waaroor instellings soos die Erfenisstigting, die Nasionale Kultuurhistoriese Museum en ander hulle met gesag kan uitspreek omdat hulle hul op ʼn daaglikse grondslag daarmee besig hou. Omdat onder meer die bewaring van Westerse kultuurgoedere vir hierdie instellings so krities is, is die erns waarmee hulle hul kommer uitspreek oor die huidige situasie, iets om van dringend kennis te neem. ʼn Onlangse gespreksgeleentheid oor die onderwerp, geïnisieer deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, het aan die lig gebring dat daar in Suid-Afrikaanse museums, waar Westerse kultuurgoed bewaar word, al vir jare ‘n skokkende situasie bestaan. Die ernstige tekort aan opgeleide personeel en ʼn gebrek aan fondse is klaarblyklik twee van die grootste krisisse waarmee die museumbedryf te kampe het. Dit lei onder meer tot die verlies van waardevolle artefakte wat dikwels toe te skryf is aan nie net onkunde nie, maar ook ʼn skynbare gevoelloosheid vir artefakte wat van groot waarde is. Onopgeleide personeel het ook nie die kundigheid om uitstallings en die ontsluiting daarvan volgens wetenskaplike metodes te behartig nie.

Bogenoemde perspektief laat ʼn mens onwillekeurig krities oordeel oor een van Vergo se karaktereienskappe van museums wat verwys na wie ʼn museum moet besit en administreer. Indien ʼn gemeenskap ʼn private museum oprig om so te verseker dat sy kultuurgoedere bewaar word, sou ʼn mens verwag dat die inisiatief van daardie bepaalde gemeenskap deur alle belanghebbendes ondersteun sou word. Dan onstaan daar twee vrae: wie moet hiervoor verantwoordelikheid neem en tweedens is ons in hart en siel “museummense”?

Dalk het ons hier met ʼn probleem te doen wat dieper as net die oppervlak strek. Die kultuurmens moet homself gedurig afvra wat hy/sy kan doen om sy gemeenskap se geheue deur middel van museums te kan help bewaar. Maar dan nie ter wille van bewaring nie. Museums voorkom dat ons aan “geheueverlies” ly en gee ons juis energie vir die toekoms. Hoe kan gemeenskappe verantwoordelikheid begin neem vir hierdie “onthou” wat besig is om “vergeet” te word? Die inhoud van ʼn museum vertel ʼn storie. Hierdie storie is, baie eenvoudige gestel, die verhale van mense en die omgewing waarbinne hulle as gemeenskappe gefunksioneer het en steeds funksioneer. Beide orale, skriftelike en ander weergawes van die verlede (soos artefakte) het elk ʼn unieke storie om te vertel. Maar dan sal kultuurgemeenskappe baie groter verantwoordelikheid moet begin neem hiervoor. Hulle sal opnuut “Mouseions” moet oprig waarin dit wat vir hulle waardevol is, bewaar, onthou en waardeer kan word – “mouseions van die gees”. NP van Wyk Louw se siening oor die “kultuurmens” sê miskien iets hiervan : “…die werklike geesteslewe van die volk bestaan enkel en alleen in hom (die “kultuurmens”) in sy bewussyn, in sy gedurige herskep van die kultuur. Die dooie pakke papier en ink wat houtrakke vul, word lewende skoonheid en waarheid deur hom omdat hy die boeke lees; die swart stippels op wit velle wat die mensdom bymekaargemaak het, word musiek omdat hy dit hoor; doek en verf word beelde deur sy oog en al die groot denkers van die wêreld herleef deur hom omdat hy hulle gedagtes weer herdink”. Laat ons opnuut ons verantwoordelikheid as kultuurmense in die ware sin opneem.


Bronne:

  1. Gesprek rakende die stand van Westerse kultuurgoedere in Suid-Afrika (SA Akademie vir Wetenskap en Kuns 21 Maart 2018).
  2. Van Wyk Louw, NP: Lojale Verset.
  3. Vergo, P: The New Museology.
  4. https://en.wikipedia.org/wiki/Library_of_Alexandria
  5. https://en.wikipedia.org/wiki/Musaeum
No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.