’N AFRIKANERSTAD – NOODSAAKLIK VIR AFRIKANERS EN VIR DIE KONSTITUSIONELE IDEAAL – Prof. Koos Malan


Toespraak gelewer deur prof. Koos Malan tydens die Orania Beweging se Stadskonferensie wat op 31 Mei 2016 by die Voortrekkermonument aangebied is.


1. Inleiding

Hierdie bespreking wentel rondom twee stellings. Die eerste is dat ’n outonome Afrikanerstad of -stede absoluut noodsaaklik is as waarborg vir die blywende fisieke, ekonomiese, kulturele en politieke heil van die Afrikaner. Dit kan terselfdertyd ’n wesenlike bydrae lewer tot die algemene verbetering van Suid-Afrika se gebrekkige konstitusionele ideaal.

 

2. ’n Outonome Afrikanerstad of -stede is die noodsaaklike Afrikaners se blywende heil

2.1       Die (her)ontdekking

Carel Boshoff wys onlangs daarop dat die groot Afrikanerdenker, NP van Wyk Louw, die belang van die stad vir die Afrikaner beklemtoon het, iets wat Boshoff tot sy eie verbasing erken hy nooit behoorlik in Van Wyk Louw raak gelees het nie,[1] ondanks die feit dat hy deeglik met Louw se werk vertroud is. Flip Buys wy onlangs ook uit oor die noodsaak dat Afrikaners hulle vir die vestiging van ’n outonome stad moet beywer,[2] iets wat Buys trouens reeds by etlike vorige geleenthede gedoen het. Enkele jaar gelede het ekself ook breedvoerig die noodsaak en die algemene deug van outonome stede as die versinnebeelding van die mees basiese boublokke van ’n regverdige en konstitusionele orde verduidelik.[3]

2.2       Afrikaners se verknogtheid aan die territoriale staat

Hoekom is dit so dat ons Afrikaners die belang van die stad vir so lank gemis het en gebeur dit nou eers dat die belang van die stad op ons neerdaal? Twee redes kan hiervoor aangevoer word. Die eerste is dat Afrikaners vir bykans ’n eeu, ten minste vanaf 1910 tot 1994, heg aan die staat – die Suid-Afrikaanse staat – gebonde was. Daardie gebondenheid het hegter geword vanweë die feit dat Afrikaners bowendien na 1948 die Suid-Afrikaanse staat gedomineer het en bowendien suksesvolle staatsbouers was. Die tweede rede is dat Afrikaners hulself vir so lank as plattelanders – as mense met ’n hegte band met die uitgestrekte ruimtes – beleef het en dus juis nie as stedelinge nie. Die stad was per slot van sake tradisioneel die speelplek van die Engelse en nie van die Boere nie.

Die objektiewe voorwaardes vir albei dié beskouings het nou verval. Eerstens het ons reeds meer as twee dekades gelede beheer oor die Suid-Afrikaanse staat verloor. Tweedens, is Afrikaners nou grootliks verstedelik, en het slegs ’n klein persentasie op die platteland oorgebly. Desondanks is daar steeds ’n buitensporige verbintenis met die staat, en word die noodsaak vir die stad as voorwaarde vir Afrikanerheil nog nie naastenby so skerp ingesien as wat nodig is nie. Die belangrikste rede hiervoor is dat die terme van die grondwetlike skikking soos vervat in die Suid-Afrikaanse grondwet, Afrikaners wysgemaak het dat al hul belange by wyse van grondwetlike regte ten volle gewaarborg is, met die gevolg dat die verbintenis met die staat volledig net so sterk behoue kon bly as voor 1994. Dit is natuurlik ’n ongegronde mite aangesien regte alleen nie belange kan waarborg nie. Die waarborg vir die beskerming van eie belange lê primêr in outonome magte.

2.3       Die verlies aan die staat

In 1994 het Afrikaners hul politieke mag prysgegee. Dit is egter nie as ’n staatsverlies beskou en voorgehou nie, omdat oortuigend geglo is dat alle belange van Afrikaners volledig in die liberale regstaat verskans is waarin die onafhanklike en onpartydige howe ons individuele regte sou waarborg.

Intussen het die geloof homself as vals bewys. Afrikaners se belange is inderdaad oor ’n breë spektrum ernstig in die gedrang, in dié mate dat slegs ’n handjievol Afrikaanse skole nie eers meer gewaarborg is nie. Dit blyk duidelik uit die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof, waarin beslis is dat die plasing van leerlinge in die finale instansie nie by skoolbeheerliggame berus nie, maar by die provinsiale regering (die lid van die uitvoerende komitee belas met onderwys), in wie se mag dit derhalwe lê om die oorblywende Afrikaanse skole te verengels.[4] Dié uitspraak is deel van ’n patroon van regspraak waarin die hoogste hof hom konsekwent as regverdiger van die homogeniserende transformasie-ideologie gedra.

In die lig van die feit dat die staat en sy instellings, met inbegrip van die howe, Afrikaners se belange nie dien nie, is dit duidelik dat Afrikaners inderdaad uit die staat uitgesluit is. Die indruk wat die vermeende gewaarborgde regte skep, asof die staat steeds Afrikaners s’n is net soos wat dit die staat van die meerderheid is, is vals. Afrikaners het inderdaad die staat verloor.

2.4       Die verlies van die stede

Afrikaners kon ten spyte van die staatsverlies egter steeds voldoende daaraan toe gewees het indien hulle oor enkele stede beskik het. Afrikaners het inderdaad oor stedelike basisse beskik. Hierdie stedelike basisse was vir Afrikaners in werklikheid belangriker as die staat. In die huidige tydsgewrig is Afrikaners egter ook besig om finaal stadverliese te ly aangesien  Afrikaners die stedelike sentra verloor, waaroor dit vir ’n lang tyd ten minste deels, ofskoon nooit volledig nie, beskik het.

Ek verduidelik. Afrikaners het oor etlike dekades, in sommige gevalle vir rondom ’n eeu, deels oor stedelike sentra beskik, wat die waarborg vir Afrikaners se kulturele heil was. Pretoria was die belangrikste Afrikaner- stedelike sentrum. Ofskoon Pretoria nooit uitsluitlik ’n Afrikanerstad was nie, was die Afrikanerkragte wat in die stad teenwoordig was, voldoende om ’n beslissende bydra te lewer om die kulturele welstand van die Afrikaner te verseker.

Eerstens was daar in Pretoria en sy omliggende Afrikaner-hinterland ’n kritiese massa van Afrikaners saamgetrek om aan die stad ’n grootliks Afrikaner-karakter te verleen. Tweedens het die Afrikaners van die stad en sy hinterland, danksy hul republikeinse geskiedenis oor ’n genoegsame selfvertroue en sin vir selfstandigheid beskik om hulself nie as minderwaardig teenoor die Brits-Engelse kultuur te beskou nie, maar as ’n gelyke deelnemer aan die universele humaniteit. Hierdie Afrikaners was daarvan oortuig dat die besondere Afrikaner-kultuurprodukte wat die Afrikaner kon lewer, aan die Afrikaner ’n eiesoortige en onmisbare plek in die universele humaniteit besorg het.

Die belangrikste gevolg van die twee kragte was dat Afrikaners Afrikaanse opvoedkundige instellings opgerig het, wat Afrikaners in staat gestel het om volledig in Afrikaans te moderniseer en kultureel, ekonomies en intellektueel te floreer. Op skoolvlak is die oprigting van die Afrikaanse Hoër Meisieskool en die Afrikaanse Hoër Seunskool (naas hulle Engelse eweknieë), en honderde ander Afrikaanse skole, treffende bewys hiervan. Op universiteitsvlak getuig die verafrikaansing van die Universiteit van Pretoria van hierdie kulturele lewenskrag. Ander stedelike en semi-stedelike sentra lewer natuurlik ook getuienis van hierdie kulturele lewenskrag: Stellenbosch, Bloemfontein en Potchefstroom – almal Afrikaanse universitêre sentra – meld hulself as voorbeelde hiervan aan. Selfs Johannesburg en die Rand het ten dele daarna gevolg, soos wat blyk uit die stigting van die Randse Afrikaanse Universiteit in 1967. Hierdie Afrikaanse instellings kon natuurlik alleenlik suksesvol wees indien die omgewings waarin hulle gevestig was in beduidende mate Afrikaans was. Dié omgewings was ’n sterk motivering aan leerlinge en studente (en hul ouers) om hulself in Afrikaans te bekwaam. Dit het sin gemaak om dit te doen, aangesien hulle daarvan gewaarborg was dat hulle daarna hul professies ten minste in beduidende mate in Afrikaans sou kon beoefen.

Die platteland kan nie hierdie kulturele waarborg aan ’n gemeenskap verleen nie – in elk geval nie alleen nie. Slegs die stad kan. Slegs ’n stad met sy gedifferensieerde ekonomie bied die moontlikheid vir die beoefening van alle professies, ambagte en dergelike nerings. Gevolglik is dit slegs in die stad wat daar ’n vraag bestaan na opvoedkundige instellings wat mense in die volle spektrum van professies, ambagte en dergelike rigtings kan oplei en slegs in die stad waar deur middel van opvoedkundige instellings aan hierdie vraag voldoen kan word. Die platteland is vanweë die verspreidheid van die bevolking en vanweë die feit dat die volle spektrum van menslike aktiwiteit, anders as in die stad nie daar (in die platteland) beoefen kan word nie, nie daartoe in staat nie. Die platteland is ondersteunend vir die stad – ’n hinterland. Die stad is egter die kern – en noodsaaklik.

Die Afrikaner- stedelike sentra was egter nooit volledig Afrikaans nie. Daar was altyd ’n geforseerde kunsmatige element wat dit in stand gehou het. Die belangrike hiervan was apartheidsmaatreëls, wat in weerwil van beduidende ekonomiese rasse-integrasie swart mense, wat onderrig in Engels wou hê, uit Afrikaanse instellings gehou het, en sodoende die Afrikaanse karakter van Afrikaanse opvoedkundige instellings in stand gehou het.

Die oopstel – de-rassifikasie – van opvoedkundige instellings sedert die 1980’s het egter die begin van die einde van hierdie (nou eertydse) Afrikaanse instellings ingelui. Groot getalle swart studente het byvoorbeeld aan toenmalige Afrikaanse instellings soos die RAU begin studeer. Wit Engelssprekendes het ook in groot getalle ou Engelstalige instellings soos die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) verlaat en studente van RAU (nou UJ) geword en daarna ook op groot skaal die Gautrein na die Universiteit van Pretoria gehaal. (Vanweë die vertrek van blanke studente uit Wits is dit inderdaad as ’n swart instelling geherrasifiseer.)

Intussen het die staatsdiens volledig verengels, wat ’n groot invloed op die eertyds beduidende Afrikaanse ekonomie van Pretoria gehad het. Soortgelyke prosesse het hulself by al die ander sterk Afrikaanse stedelike en semi-stedelike sentra, wat hierbo genoem is, nl. Bloemfontein, Stellenbosch en Potchefstroom voltrek. (In Port Elizabeth het dit lank gelede reeds gebeur.)

Die slotsom is dat Afrikaners tans in ’n gevorderde fase is om sy stedelike basisse, en daarmee gepaardgaande sy eertydse Afrikaanse opvoedkundige instellings te verloor. Daar is natuurlik steeds beduidende lewenskrag in van hierdie eertydse Afrikanersentra. Groot getalle Afrikaanse studente trek byvoorbeeld tans in Potchefstroom saam. Die ekonomie van daardie omgewing is egter te klein om ’n heenkome vir die afgestudeerde Afrikaanse studente te bied, meer bepaald om hulle werk na afhandeling van hul studie in Afrikaans te kan doen.

Daar is ook steeds ’n beduidende aantal goeie Afrikaanse skole. Hulle word egter deur die huidige regering se beleid van homogenisering geteister, wat min verdraagsaamheid vir kulturele en taalkundige diversiteit het, en daarop gemik is om algemene Engelse eenvormigheid op almal af te dwing. Die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof, waarna hierbo verwys is, het die regering se hand verder versterk om hierdie homogenisering af te dwing.

Die grootste drukfaktor op Afrikaanse opvoedkundige instellings is dat hulle nie meer in ’n Afrikaanse omgewing bestaan nie. Daar is nie meer Afrikaanse stedelike omgewings nie. Die Afrikaanse omgewings, meer bepaald die Afrikaanse stede, wat die lewensbron van Afrikaanse opvoedkundige instellings was, het verdwyn of is vinnig besig om te kwyn. Die lewensvatbaarheid van Afrikaanse opvoedkundige instellings is in dié omstandighede wesenlik in die gedrang. Baie van hulle het reeds in die slag gebly en baie ander is op dieselfde pad.

Waarskynlik die belangrikste krag wat hiertoe bydra, is Afrikaanse ouers wat hulle kinders na Engelse skole stuur en Afrikaanse studente wat dikwels met hulle ouers se aanmoediging in Engels studeer. Die belangrikste rede vir hierdie keuse is die persepsie dat die ekonomie – meer bepaald die stede – waar die meeste ekonomiese bedrywighede plaasvind, Engels is, en dat dit net rasioneel is om Engelse onderrig bo Afrikaanse onderrig te verkies. Die keuse vir Engels, eerder as Afrikaanse onderrig is myns insiens geheel en al verkeerd, eerstens omdat hedendaagse Afrikaanse kinders in elk geval Engels oor die algemeen uitstekend magtig is, en tweedens omdat alle Engelse vaktaal ook in Afrikaanse klasse aangeleer kan word. Dié rasionale argument is egter nie bestand teen die persepsie van die Engelse ekonomie, en die realiteit van wesenlik Engelse stede nie.

Die persepsie kan nie met ’n argument tegemoet gegaan word nie, maar wel alleenlik met ’n feit. Die feit is ’n nuwe Afrikaanse ekonomiese omgewing, wat gestalte vind in ’n Afrikanerstad- of stede. Dit beteken dat daar ’n dwingende noodsaak vir die totstandkoming van een of meer Afrikanerstede bestaan.

2.5       ’n Afrikanerstad of stede

In ’n gemoderniseerde opset is ’n stedelike basis die noodsaaklike voorwaarde vir alle taal-kulturele gemeenskappe. Dié wat oor ’n stad beskik se toekoms is verseker. Dié daarsonder se kreeftegang en na uiteindelike verdwyning is verseker. Die Bretone en hulle taal het nie ’n stedelike basis nie en daarom word die Bertoonse gemeenskap in die groter Franse wêreld geassimileer. Die Katalane daarenteen het in Barcelona ’n sterk stedelike basis en daarom gedy Katalaans en die Katalaanse gemeenskap. Die gemeenskap Galicië en die Galiciese taal in noordwes Spanje was op sterwe na dood. Aanduidings is dat dit nuwe lewe kry danksy die feit dat dit in Santiago de Compostela ’n stedelike basis het.

In Suid-Afrika is daar ten minste drie bykomstige redes waarom Afrikaners in ’n stedelike basis moet konsentreer. Die eerste is veiligheidsoorwegings. Suid-Afrika is ’n gevaarlike plek waar gewapende roof, moord, huisbraak met gepaardgaande geweld hoogty vier en talle mense reeds die tragiese slagoffers daarvan was. Daarom trek mense hulle terug in veiligheidskomplekse en omheinde buurte. Die tweede is grondonteiening. Talle landbouers, van wie ’n beduidende persentasie Afrikaners is, moet vanweë grondhervorming en onteiening hulle grond verlaat en noodgedwonge ’n ander heenkome vind. Die derde is regstellende aksie, wat soms die gevolg het dat blankes, meer bepaald Afrikaners, in ekonomiese nood gedompel word. In die algemeen is daar in elk geval groeiende ekonomiese nood vanweë roekelose ekonomie wanadministrasie.

’n Afrikanerstad is die antwoord op al hierdie vraagstukke: die Afrikanerstad in plaas van bakhand in die straat of bakhand voor die staat, in plaas van Australië of dergelike uithoek van die Engelse wêreld (wat sy beurt op Chinese of dergelike Oosterse kolonisasie afwag), ’n Afrikanerstad in plaas van die sekuriteitskompleks wat veiligheid verseker, maar nie op die noodsaak vir kulturele welstand antwoord nie.

2.6       Vir wie is ’n Afrikanerstad?

Die Afrikanerstad is vir die Afrikanervolk. Dis vir alle Afrikaners. Dis nie vir die regses, linkses, goeies, slegtes, dapperes, lafaards, presteerders of wanpresteerders, slimmes of dommes, smalweg-wandelaars of afvalliges, vromes of sondaars …. nie. Dit is vir ons almal. Ekself het breedvoerig probeer verduidelik dat sodanige stad – so ’n tuistelike gemeenskap, nie ’n ideologiese, teologiese of dergelike seksionele gemeenskap is nie, maar daarenteen juis ’n kultuurgemeenskap vir almal in daardie kultuurgemeenskap.[5] Laat ek egter eerder vir Van Wyk Louw hieroor aan die woord stel. ’n Volk het hy verduidelik, is ’n geheelgemeenskap; dis is ’n allesinsluitende kultuurgemeenskap, of soos hy verduidelik het:

’n Volk is nie ’n sekte nie; of ’n kliek; of ’n vereniging met ’n program nie. ’n Volk is ’n bepaalde soort skepping, so ingewikkeld soos elke skepping van God; ’n veld waarop daar met goddelike lankmoedigheid onkruid solank sowel as koring geduld word tot die laaste dag toe.

En van die grootste vyande van ons volk is dié soort mens wat in ’n geestelike eenrigtingverkeer lewe, en wat aan die volk sy eie klein visie op tyd en ewigheid wil opdring … wat deur een slootjie of voortjie wil laat vloei iets wat deur God so wyd soos die see gemaak is.[6]

2.7       Wat is die verhouding van die Afrikanerstad / met diegene en die strukture daarbuite

Die Afrikanerstad huisves ’n deel van die Afrikanervolk, nie die geheel nie, want daar sal uiteraard nog altyd Afrikaners daarbuite wees – in Pretoria, Johannesburg, Kaapstad, Wellington, Kaap of Wellington, Nieu-Seeland, De Aar of Perth, wat nie daarin woon of werk nie. Die stad sny hom egter nie van diegene af nie. Saam met Afrikaners waar hulle ook al mag wees, is dit deel van die geheel van die Afrikanervolk en lewer dit saam met alle ander waar ook al, sy bydra tot die heil van die Afrikaner. Potensieel bied dit uiteraard die tuiste ook vir alle Afrikaners wat nie daar is nie.

Net soos die Afrikanerstad nie in isolasie van ander Afrikaners staan nie, verkeer hy ook nie in isolasie met nie-Afrikanergemeenskappe nie. Inteendeel, hy bou en onderhou juis gesonde betrekkinge met alle ander gemeenskappe, soos wat Orania reeds geruime tyd met ander gemeenskappe, onder meer die Xhosa-gemeenskap van Mnyameni handhaaf. Die Afrikanerstad se verstekposisie, sy normaalposisie, soos die verstekposisie van die Afrikaner in die geheel, is goeie betrekkinge en samewerking is nie spanning en stryd nie.

Die Afrikanerstad maak hom nie los van Suid-Afrika – die Suid-Afrikaanse staat – nie. Dis nie die beliggaming van afskeiding nie. Dit is daarenteen eerder ’n outonome tuiste vir Afrikaners binne Suid-Afrika en binne ons subkontinent. Dit is nie die vergestalting van sesessie en soewereiniteit nie, maar wel van outonome gesag oor dinge wat Afrikaners ten diepste raak en van ons gelyktydige deelagtigheid aan die groter wêreld waarin ons verkeer.

 

3. Die Afrikanerstad ter wille van die verbetering van die konstitusionele orde

’n Konstitusionele bedeling moet aan die idee van konstitusionalisme uitdrukking gee. Die konstitusionele idee staan op twee bene: ’n ideële en ’n reële. Eersgenoemde veronderstel ’n verbintenis tot geregtigheid met die oog op die geluk van die burgery. Laasgenoemde, die reële, het daarop betrekking dat ’n konstitusionele orde vir meganismes moet voorsiening maak, wat mag in der mate verdeel en beperk dat geen persoon, of groep soveel mag bekom dat dit in staat is vir slegs eiebelang en teen ’n ander segment van die burgery kan regeer nie. Magsverdeling en magsewewig moet derhalwe regering in belang van die geheel in plaas van partydige regering tot die voordeel van slegs ’n deel verhoed. Daarom moet daar verdeling van gesag en wedersydse remme en teenwigte (“checks and balances”) wees.

Die eerste been van die konstitusionele idee, naamlik geregtigheid, vereis dat alle mense binne ’n grondwetlike orde oor die vryheid beskik om hulself te wees en derhalwe om geluk te verwesenlik. Elke mens beteken terselfdertyd ook elke gemeenskap, aangesien mense nie as losstaande individue nie, maar juis in gemeenskapsverbande leef. Geregtigheid slaan derhalwe gelyktydig op individue en gemeenskappe. Dit is dus noodsaaklik om te beklemtoon dat konstitusionalisme veral op geregtigheid vir alle gemeenskappe betrekking het. Die konstitusionele diskoers in Suid-Afrika is wat betref hierdie aspek om twee redes gebrekkig. Eerstens is die klem met verwysing na die handves van regte bykans uitsluitlik op individue tot nadeel van gemeenskappe. Tweedens, vir sover as wat gemeenskappe wel ter sprake kom, is die bevoordeeldes met verwysing van regstellende aksie, BEEE en dergelike maatreëls slegs die meerderheid en juis nooit die minderhede nie, in weerwil van die feit dat minderhede in beginsel juis op groter beskerming teen ’n meerderheidsmag geregtig is.

Wat betref die tweede been, naamlik die verdeling van gesag en doeltreffende remme en teenwigte, het ons in Suid-Afrika eweneens ’n gebrekkige diskoers. Verdeling van gesag en remme en teenwigte word vereng tot die verdeling van gesag tussen die wetgewer, die uitvoerende gesag en die regbank ondersteun deur, wat in Suid-Afrika genoem word, onafhanklike meganismes ter ondersteuning van konstitusionele demokrasie soos die menseregtekommissie, openbare beskermer en dergelike liggame, soos beoog in hoofstuk 9 van die Grondwet.

Die reëlings is noodsaaklik maar steeds heeltemal ontoereikend. Die remme en teenwigte voortspruitend uit hierdie reëlings is nie in staat om oormatige magskonsentrasie te verhoed nie. Die wetgewer is nie in staat om die uitvoerende gesag te kontroleer nie omdat dieselfde party albei vertakkinge oorheers. Die hoofstuk 9-instellings kan nie die parlement en die uitvoerende gesag in bedwang hou nie, omdat die aanstellings vir hierdie liggame deur dieselfde dominante party in die uitvoerende gesag en die wetgewer beheer word, en omdat die bevindings van hierdie instellings deur die einste dominante party geïgnoreer en ongedaan gemaak kan word nie. Die howe kan nie as doeltreffende rem of teenwig dien nie en wel om die volgende drie redes: (1) Die aanstellings op die regbank word deur die dominante party in die wetgewende en uitvoerende gesag beheer. (2) Die regbank is van die uitvoerende gesag en van die parlement afhanklik om uitvoering aan sy bevele te gee. As hulle nie wil nie, is die bevele wense eerder as bevele.[7] (3) Die regbank is in elk geval altyd saam met die regerende party in die wetgewer en die uitvoerende gesag deel van een en dieselfde regerende elite, gevoed deur dieselfde opvattings en verbind tot dieselfde ideologiese doelwitte.[8] In Suid-Afrika staan dit as transformasie bekend. Die howe in Suid-Afrika kan nie, wil nie en het nog nooit uitsprake gegee wat hierdie ideologiese doelwit verongeluk, of enigsins in gedrang bring nie. Inteendeel, die regbank is verbind tot die fasilitering van hierdie ideologiese projek.[9] Die vraag mag gevra word, wat dan van die Grondwet – die woorde, die bepalings van die Grondwet. Speel dit dan geen rol nie. Die bondige antwoord hierop is dat grondwetlike bepalings geen inherente betekenis het nie. Dit verkry alleenlik betekenis na mate dit vertolk word en dit word altyd binne ’n konteks en in die lig van bepaalde ideologiese uitgangspunte vertolk.

Hierdie uiteensetting in ag geneem, behoort dit myns insiens duidelik te wees dat die verdeling van gesag en remme en teenwigte kragtens die Suid-Afrikaanse grondwet ontoereikend is. Dit het tot gevolg dat geregtigheid – die eerste been van die konstitusionele idee – inderdaad ook ernstig in die gedrang is. Die Suid-Afrikaanse konstitusionele orde het derhalwe ’n dringende behoefte aan sterker magsverdeling en verbeterde remme en teenwigte ten einde geregtigheid te bevorder en die konstitusionele orde ten slotte meer konstitusioneel te maak as die gebrekkige konstitusionele bedeling wat dit tans is.

’n Mens mag hierteen opwerp dat ofskoon dit waar is, dit tog nie gedoen kan word nie. Die Grondwet moet tog gewysig word alvorens dit kan gebeur, waarvoor ’n parlementêre tweederdemeerderheid benodig word, waaroor Afrikaners natuurlik nie beskik nie. Dit is egter net deels waar, want die konstitusionele orde verander ook op ander wyses, naamlik deur praktyke. Trouens, dit verander selfs meer grondig op hierdie informele wyses as op die formele wyse soos deur die grondwet voorgeskryf.[10] Die opkoms en versterking van nie-regeringsorganisasies, burgerlike bewegings en die media is tekenend hiervan. Dit word uiteindelik van die heel belangrikste konstitusionele meganismes, belangriker as die meganismes waarvan uitdruklik in die grondwetlike teks voorsiening gemaak word. Dit het, en is ook in Suid-Afrika aan die gebeur, waar die media en die burgerlike organisasies veral in die aangesig van die vervallende staat ’n toenemend belangrike rol speel. Dit word volskaalse konstitusionele meganismes, wat gesag beïnvloed, vermoë en gesag versamel en uitoefen, en wat as toenemend belangrike remme en teenwigte dien en geregtigheid en derhalwe konstitusionalisme bevorder.

Dit is in hierdie konteks wat die Afrikanerstad inpas. Dit is ’n volgende stap, toegegee ’n groot stap, vir verbeterde gesagsverdeling, doeltreffender remme en teenwigte en geregtigheid vir Afrikaners in samehang met die ander inwoners van die land. Sou die Afrikanerstad ’n werklikheid word, is dit ’n klinkende daad en blywende oefening van konstitusionalisme.

 

4. Kan ’n Afrikanerstad tot stand gebring word?

Daar is mense met kennis en insig oor talle tersaaklike vakgebiede, waaroor ek nie beskik nie, soos die ekonomie, finansiële bestuur, stads- en ruimtelike beplanning, stadsbestuur en dergelike ander vakgebiede, wat veel kundiger as ek is en in groter besonderhede as ek hierdie vraag kan beantwoord. Ek volstaan hieroor by slegs drie stellings.

Eerstens: Afrikaners is goed opgeleide, energieke en vindingryke mense met ’n gedugte kompleks van vaardigheid en ervaring, en myns insiens die vermoë om inderdaad ’n veilige heenkome vir hulself tot stand te bring. Dit is herhaaldelik in die verlede gedoen en kan weer gedoen word. Die potensiële vermoë wat daar wel is, moet net gemobiliseer en gefokus aangewend word. Afrikaners beskik reeds oor besonder gedugte organisasies in die Solidariteit Beweging onder bekwame en verantwoordelike leierskap om dit te vermag.

Tweedens, ’n klein klompie Afrikaners het daarin geslaag om ’n dorp – Orania – tot stand te bring en bou dit tans met groot vaardigheid uit. Op ’n dorp volg ’n stad.

Derdens, waar daar ’n wil is, is daar ’n weg. ’n Boer maak ’n plan.

 


[1] Boshoff, Carel VI. “Agtergrond: Stad en land”. Voorgrond 2016 2/6 25-27 op 26.

[2] Buys, Flip. “Vrystede as deel van die oplossing”. Forum (AfriforumTydskrif) Maart 2016 46-47.

[3] Malan, Koos. 2011 Politokrasie: ’n peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ’n antwoord daarop. Pretiria: PULP, veral 312-316.

[4] Foundation of Governing Bodies for SA Schools v MEC for Education, Gauteng and Another (CC) Saakno 209/15, gelewer op 20 Mei 2016.

[5] Malan, K. 2011. Politokrasie Pretoria PULP 298-301; 303-311.

[6] Van Wyk Louw, NP. 1968. Versamelde Prosa Deel 2. Kaapstad: Human & Rousseau, 382-3.

[7] Sien in hierdie verband die opmerking van politieke wetenskaplike Francis Fukuyama, wat opmerk dat die drieledige verdeling van staatsgesag eintlik net metafories is. Fukuyama, F. 2011. The Origins of Political Order from Prehuman Times to the French Revolution. Londen: Profile Books, 282. Fukuyama se opmerkings stem ooreen met die waarnemings van Alexander Bickel dat die hof slegs op sy mistiek kan steun in die hoof dat daar aan sy bevele gestand gedoen sal word. Bickel, A.M. 1962. The Least Dangerous Branch: The Supreme Court at the Bar of Politics. Indianapolis: Bobbs-Merill, 252.

[8] Hierdie kwessie is breedvoerig uitgepluis in Malan, K. “Reassessment of judicial independence and impartiality against the bacdrop of judicial appointments in South Africa Potchefstroom Electronic Law Lournal (PER) 2014 (17) 1965-2040 http://dspace.nwu.ac.za/handle/10394/13310

[9] Daar is al oortuigend aangevoer dat die howe strategieë behoort te ontwikkel om die gevolge van eenpartydominasie teen te werk. Sien byvoorbeeld die deeglike uiteensetting van Choudhry Sujit: “‘He had a mandate’: The South African Constitutional Court and the African national Congress in a dominant party democracy” Constitutional Court Review 2009 (2) 1-86. http://www.pulp.up.ac.za/pdf/2011_03/2011_03_b_sec1_1.pdf

[10] Sien hieroor byvoorbeeld Ackermann, “Oliver Wendell Holmes Lectures: The living constitution”, 2007 Harvard  LR 1738 ev; Griffin “Constitutionalism in the United States: From theory to politics” in Levinson (red) Responding  to  imperfection: The  theory and practice of  constitutional amendment (1996); Tushnet The Constitution of the United States of America – A  contextual analysis  (2009) hfst 7; Van der Hoeven De  plaats  van de  grondwet  in  het constitutionele recht (1958), die hoofstukke van verskeie skrywers in Mclouglin en Walker (reds) The  paradox  of  constitutionalism:  Constituent  power  and  the  constitutional  form (2007) en laastens Malan, K. “Deliberating the rule of law and constitutional supremacy from the perspective of the factual perspective of law” PER/PELJ 2015/4 Vol 18 1205-1250 http://www.nwu.ac.za/sites/www.nwu.ac.za/files/files/p-per/issuepages/2015volume18no4/2015%2818%294Malan.pdf

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.