‘n Demokratiese strategie vir Kulturele Vryheid: Voorstel 1

  1. Inleiding: die dubbele omwenteling na 1994

 

Die ANC se transformasie van Suid-Afrika na 1994 vanaf ‘n Afrikanerstaat na ‘n Afrikastaat, was die voorspel tot die stelselmatige verskuiwing vanaf ‘n liberale grondwetlike bedeling na ‘n linkse Afrikastaat.

Met hierdie dubbele omskepping waar so baie op die spel is, moes die ANC steeds versigtig te werk gaan, om te verseker dat hulle planne nie ontspoor nie. Die strategie was om dit stapsgewys en met klein treetjies te doen, sodat nie te veel teenstand gelyktydig kon ontstaan nie. Dit was veral so in die tydperk net na 1994 toe die ANC net aan bewind gekom het maar nog nie genoeg mag gehad het om hulle langtermyn agenda deur te dryf nie. Hulle stapsgewyse korttermyn strategie het goed gewerk, omdat daar wye begrip was vir die veranderinge weg van die ou Afrikanerstaat, en omdat aanvaar is dat hulle eindpunt die liberale bestel soos verwoord deur die Grondwet was.

Namate die veranderinge verder beweeg het as net die aftakeling van Apartheid van die eerste fase, het daar mettertyd kommer begin ontstaan dat hulle uiteindelike bloudruk nie die Grondwet was nie, maar die “Nasionaal demokratiese rewolusie.” Dit het volgens Professor Francois Venter later geblyk dat die ANC tydens die Kodesa onderhandelinge toegewings gemaak het om die mag te kry, net om die staatsmag na oorname te gebruik om hulle oorspronklike doelstellings te verwesenlik.

Hierdie stapsgewyse strategie was goed deurdag. Die stappies was op hul eie elkeen te klein om ‘n breë weerstand uit te lok, maar die gesamentlike uitwerking van almal was die totale omskepping van die land. Dit was nie maklik om aan die ontvangkant van die veranderings te sit en te besluit hoe dit hanteer moes word nie. Eerstens was sommige van veranderings begryplik, veral aan die begin. Die veranderings het later ‘n momentum van hul eie gekry, deurdat die een verandering tot die ander gelei het. Tweedens was daar nie ‘n sentrale Afrikaner “sentrum” wat die impak op die Afrikaner kultuurgemeenskap kon probeer bestuur nie. Derdens het die Afrikaner ook nie meer die mag gehad om die veranderings te keer nie. Vierdens was die verband tussen al die veranderings aanvanklik nie duidelik nie, en kon die kolletjies nie maklik verbind word om die groot prentjie te sien nie. Die ontwikkeling van ‘n gesamentlike strategie was gevolglik onmoontlik, en elkeen het onsuksesvol probeer om die betrokke verandering op sy terrein op sy eie te hanteer. Die onmoontlike daarvan om ‘n sentrale strategie wat met staatsmag en –hulpbronne uitgevoer word, sonder ‘n gesamentlike plan en op ‘n versplinterde manier te probeer hanteer, het gou geblyk. Die probleem was ook dat hoe meer stappies geduld en aanvaar word, hoe minder geregverdig het dit gevoel om oor ‘n enkele, oënskynlik geïsoleerde stap in “opstand” te kom, veral as daar reeds soveel in stilte verdra is. Laastens is alles bemoeilik omdat die ANC nou in beheer was, en hulle hele transformasieproses aangevul is met ‘n reuse staatspropaganda wat die verlede kriminaliseer en die veranderings verduidelik het.

Buitendien was en is dit nie werklikheidspolitiek om die omskepping van die land te probeer keer of omkeer nie. So ‘n onhaalbare doelwit was en is nie op die tafel van enige hoofstroom Afrikaner instelling nie. Die vraag is dus nie hoe die omskepping van die land gekeer word nie, maar hoe daar binne die werklikhede van die land daar steeds vir die Afrikaner ‘n toekoms verseker kan word. Dit moet gedoen word deur verbeeldingryke maar uitvoerbare planne te ontwikkel om die belange van die Afrikaner te beskerm en sy toekoms te verseker. Die doel moet wees om die omstandighede te skep waarbinne die Afrikaner blywend suksesvol in Afrika kan wees, sodat die Afrikaner ‘n blywende bydrae tot die sukses van die land en al sy mense sal kan maak.

  1. Impak van die dubbele omskepping op die Afrikaner

Die impak van die dubbele omwenteling is goed nagevors en opgesom in die ABN-Scenariobeplanning. Dit kom in kort daarop neer dat die Afrikaner na 1994 in sommige opsigte ‘n gewone minderheid geword het met die normale vraagstukke waarmee minderhede wêreldwyd worstel, soos die gebrek aan inspraak oor hulle eie toekoms, diskriminasie, demokratiese uitsluiting, gebrek aan staatsbronne en vervreemding. Maar vanweë die verlede en in die besonder die ANC se siening van Apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom, is die Afrikaner ‘n ongewilde minderheid wat kwalik geneem word vir bykans alles wat in die land verkeerd gegaan het. Dit beteken dat die Afrikaner, sy taal en sy instellings geteiken word ten spyte van luide ontkennings en versekerings tot die teendeel. Die toestand word vererger deurdat die ANC glo dat die Afrikaner in die lig van sy welvaart moontlik die mees bevoordeelde groep van die oorgangsproses die land was, en nog steeds die onderdrukker van arm swartmense is.

Daarby word die Afrikaner se belange verder geraak deurdat die ANC homself steeds sien as ‘n nasionale bevrydingsbeweging wat steeds na ‘n Marxisties-begronde Nasionale Demokratiese Rewolusie streef. Hierdie laaste verwikkeling was onverwags, omdat wyd aanvaar is dat die ANC na die aanvaarding van die Grondwet sosialisme en Marxisme afgesweer het en gewone sosiaal-demokrate geword het, veral na die mislukking van Sosialisme orals waar dit toegepas is.

Die huidige toestand word dus gekenmerk deur die volgende:

  • Afrikaners se regte word gereeld ignoreer en belange verwaarloos en selfs benadeel;
  • Die ANC se politieke oormag word misbruik om nie regte toe te staan nie;
  • Die “konstruktiewe dubbelsinnigheid” in die Grondwet word eensydig vertolk;
  • Baie Afrikaners dra swaar aan die las van die verlede, veral omdat die ANC se siening vandag algemeen as die enigste weergawe aanvaar word;
  • Die gevolg hiervan was ‘n verlies aan politieke selfvertroue en idee armoede;
  • Die staat word stelselmatig volgens die NDR-resep transformeer, en het die staat nou al so verswak dat van die demodernisering van die land gepraat kan word;
  • Die Grondwetlike instellings van Hoofstuk 9 was tot sover van min waarde;
  • Die ANC gebruik die staatsmag om sy staatsideologie te institusionaliseer.

Die vraag is hoe die Afrikaner in die toekoms hierop gaan reageer? Dr Jan van der Merwe van die Universiteit van die Vrystaat het in sy studies vir sy Doktorsgraad oor Afrikaners in ’n post-Apartheid Suid-Afrika, tot die gevolgtrekking gekom dat regeringsgedrewe prosesse soos Nasiebou en Transformasie juis tot ʼn herlewing in Afrikaner etnisiteit aanleiding gaan gee.

  1. Afrikaner na-1994 demokratiese reaksies en strategieë

Afrikaners het na 1994 op uiteenlopende maniere reageer op die probleme wat ervaar is. Die oorgrote meerderheid het opbouend en demokraties op die veranderings reageer, met slegs enkele randgroepe wat geweld as opsie probeer uitoefen het.

Hierdie demokratiese reaksies was wyd uiteenlopend, en behels sekerlik alle moontlikhede wat bestaan. Maar die oorheersende uitkoms van feitlik alle opsies wat uitgeoefen is, is dat dit benewens enkele kleiner suksesse strategies onsuksesvol was, omdat dit nie daarin kon slaag om die Afrikaner se toestand en omstandighede blywend te verbeter nie.

Hierdie na-’94 reaksies kan soos volg saamgevat word:

  • Party-politieke opposisie strategieë, soos die DA en VF+;
  • Party-politieke inlywing- of koöptering strategieë, soos die voormalige NNP;
  • Buite-parlementêre partypolitieke en burgerlike strategieë;
  • Gesprekke met die regering en regerende party;
  • Samewerkingspogings van Afrikaanse organisasies met die regering om

           byvoorbeeld die kundigheid van afgetredenes te gebruik om vervallende

           stadsrade by te staan;

  • Die gebruik van toepaslike grondwetlike kanale soos die Artikel 9 instellings

           waaronder:

  • Die Menseregtekommissie;
  • Kommissie vir die bevordering van die Regte van mense wat behoort aan

   Taal-, Kultuur en –Godsdiensgroepe;

  • Die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad, Pansat;
    • Die gebruik van die Howe om regte te beskerm of af te dwing;
    • Pogings om transformasie te steun om dit dan te bestuur;
    • Buite-parlementêre pogings om Afrikaners in ‘n eenheid te mobiliseer;
    • Burgerlike strategieë om demokratiese ruimtes te gebruik.

Die kenmerk van al hierdie strategieë was dat dit demokraties en opbouend was, op goeie betrekkinge en samewerking ingestel was, in goeie gees plaasgevind het, en daarop gerig was om die ANC en regering te vra om die land en Afrikaners goed te regeer.

Die enkele ondemokratiese strategieë soos geweld en onwettige weerhouding van belasting was ook onsuksesvol. Kleiner pogings soos die werf van buitelandse steun, openbare druk op die regering, en pogings om vennootskappe met ander groepe te sluit het ook nie die gewensde uitwerking gehad nie.

Die gevolge van al hierdie onsuksesvolle strategieë was dat die Afrikaner (en die land) se grondliggende regte en belange nog groter skade gelei het, dat talle Afrikaners emigreer het, dat die Afrikaners as kultuurgemeenskap verbrokkel het, dat Afrikaner instellings oor die algemeen verswak, self transformeer of verdwyn het, en dat hierdie ontoereikende strategieë die Afrikaner weerloos gelaat het. Die vlak van onverwerkte trauma en selfs rou oor die verlies van baie wat oor die verloop van meer as ‘n eeu opgebou is, gekoppel aan die ervaring van huidige verontregting en ‘n kommer oor die toekoms, bring bykans ‘n begryplike bestaansangs by groot dele van die Afrikanergemeenskap mee.

  1. Redes vir die gebrek aan sukses

Daar is talle redes wat aangevoer kan word vir hierdie gebrek aan sukses:

  • die nuwe werklikhede waarin Afrikaners hulle na 1994 bevind;
  • die getallewerklikhede en voortspruitende ANC oorheersing;
  • die ideologiese verskuiwing en verbrokkeling van Afrikaners;
  • die afwesigheid van ‘n samebindende droom onder Afrikaners;
  • die gebrek aan ‘n oorkoepelende strategie en struktuur;
  • die begeerte om nie te lyk of ons wil terugkeer na die verlede;
  • die verlies aan en gebrek aan sterk Afrikaner instellings;
  • die Grondwet se grondslag van individuele regte in ‘n groepsbaseerde land;
  • die feit dat die Grondwet nie magte aan groepe toeken om hulle regte op te neem

           nie;

  • die gebrek aan geld om werkbare planne uit te voer
  • tekort aan leiers wat in die nuwe werklikhede sukses kan behaal;
  • die emigrasie van ‘n groot groep Afrikaners.

Die meeste van hierdie redes kan teruggevoer word na die probleme van politieke magteloosheid, demokratiese uitsluiting, diskriminasie en ‘n regerende party met ‘n aggressiewe ideologie. Die lede van minderheidsgroepe onttrek in talle gevalle uit die openbare lewe en fokus op hul privaatlewe en -belange, omdat deelname nie tot politieke seggenskap of verandering kan lei nie.

  1. Ontleding van na-1994 gesprekke met die ANC

 

Tydens die Mandela era en in die besonder tydens die Regering van Nasionale Eenheid, het daar ‘n gees van grondwetlike optimisme geheers, en het die meeste Afrikaners nie gedink dat daar baie gaan verander nie. Namate die veranderings ‘n negatiewe invloed op Afrikanerbelange begin toon het, was daar talle gesprekke tussen verteenwoordigers van Afrikaanse organisasies met die ANC en die regering. Alhoewel die gesprekke in ‘n goeie gees en met goeie bedoelings plaasgevind het, het dit tot dusver bitter min aan die werklikhede verander. Voordat daar weer van nuwe gesprekke met die ANC, of van ‘n Opvolg- of Kulturele skikking gepraat word, moet daar eers besin word hoekom die gesprekke tot sover nie resultate opgelewer het nie.

5.1 Opsommende redes vir die onsuksesvolle uitkomste:

  • Die ANC het gemeen onderhandelinge is verby, en beleid word nou demokraties bepaal deur die meerderheidsparty;
  • Die ANC het met een stem volgens een plan en met een doel gepraat, terwyl uiteenlopende Afrikanergroepe met baie stemme en uit talle monde gepraat het. Afrikaners het nie uit een stem met “een” plan gepraat om “een” doel te bereik nie, en gevolglik is niks bereik nie;
  • Die ANC het dus as ‘n verenigde front op grond van regeringsbeleid gepraat, en weens versplintering en gebrek aan eenvormige standpunte kon Afrikaner instellings nie ‘n geloofwaardige gesamentlike standpunt inneem nie;
  • Die magsbalans het onherroeplik geskuif, Afrikaners het nie bedingingsmag gehad;
  • Dit was gesprekke, nie onderhandeling;
  • Afrikaner instellings het afstand van hul Afrikaner karakter geneem;
  • Ons “kry” nie, want ons “vra” nie. Daar was nie duidelike doelwitte gestel;
  • Die ANC se doel was om ons te oortuig, nie te akkommodeer;
  • Hulle sien ons as die bevoorregtes van die oorgangsproses;
  • Volgens die ANC wou Afrikaners net wit voorregte terug hê, en het nie geregverdigde kwellings en geldige aansprake;
  • Hulle het groter probleme as ons probleme;
  • Onderlinge mededinging tussen Afrikaanse organisasies het daartoe bygedra dat die ANC hulle teen mekaar afspeel;
  • Die ANC het mense laat voel dat “alles gaan regkom”;
  • Die politieke wil en staatsvermoë om iets te doen het ontbreek.
  • 2 Kenmerke van post-’94 gesprekke
  • Die ANC was volledig in beheer van die proses;
  • Die gesprekke was meestal met die ANC, en nie met regering se besluitnemers;
  • Vergaderings met Presidente was net simboliese insluiting;
  • Die doel was nie om ons aan die ANC te “verkoop” nie, maar hulle aan ons;
  • ANC het doel van gesprekke gesien as gerusstelling, oortuiging en

       steunwerwing;

  • ANC doel was nie om te luister en iets aan ons probleme te doen nie;
  • Hulle kon bekostig om met ons te praat, ons kon nie bekostig om nié te praat;
  • ANC politieke selfvertroue agv getalle, staatsmag en politiek/strategiese diepte;
  • Niemand het dit later baie ernstig opgeneem: ANC, leiers of Afrikaners.
  • 3 Hoekom het ANC met Afrikaner groepe gepraat?
  • Politieke beeldbou;
  • Morele hoë grond;
  • Verkiesingsteun probeer werf;
  • Koöptering en “inlywing”;
  • Neutralisering van moontlike teenstand;
  • Doel was nie ‘n ooreenkoms of verandering in beleid.
  • 4 Hoekom het en moes Afrikaners met die ANC praat?
  • Omdat ons wil saamwerk om SA suksesvol te maak;
  • Ons kan nie onsself isoleer nie;
  • Wil Afrikaner probleme met die regering “opvat en oplos”;
  • Wil gesien word as geloofwaardige organisasies wat rol speel en verskil maak;
  • Ooreenkomste oor knelpunte vereis gesprekke.
  • 5 Wat moet ons doel met die gesprekke wees?

 

  • Opvolgskikking of ʼn Kulturele skikking?
  • Kanaal om met regering te praat skep en oophou;
  • Knelpunte van gemeenskap opneem en oplos;
  • Wedersydse vervreemding teenwerk;
  • Politieke en demokratiese ruimte verbreed;
  • Steunwerwing (tweesnydende swaard).

5.6       Verdere oorwegings by gesprekvoering

* Daar moet goed besin word waaroor met die ANC en die regering gepraat word;

* Moet daar met die regering of met die ANC gepraat word?

* Moet almal gesamentlik of elkeen alleen met die ANC praat:

* Is dit moontlik om ooreenstemming oor ‘n standpunt dokument te kry?

* Hoe kan gesprekke in onderhandelinge omskep word?

* Wat moet die uitkoms van die gesprekke wees?

* Wat maak ons as daar steeds geen resultate is nie?

* Hoe werf ons ondersteuning vir die gesprekke onder Afrikaners?

* Wat is die pad en proses vorentoe?

Die vraag bly of die voorwaardes vir suksesvolle onderhandeling met die ANC en die regering bestaan of geskep kan word, en of Afrikaner organisasies gesamentlik kan beding byna soos verskillende vakbonde dit met ʼn maatskappybestuur doen?

Volgens Prof Pierre du Toit van Stellenbosch is sal dit uiters moeilik wees om die regering te beweeg om ʼn Opvolgskikking aan te gaan, maar kan die gevolge om dit nie te probeer nie veel erger wees. Hy meen dat die huidige vlak van staatsverval al so ver gegaan het dat die regering eenvoudig net tot die besef sal moet kom dat die ANC die land nie alleen suksesvol kan maak nie, en dat hulle ʼn opvolg ooreenkoms sal moet aangaan.

 

Die Kanadese filosoof Charles Taylor het gesê dat tussengroep vertroue in multi-etniese samelewings nie vanselfsprekend aanvaar kan word nie, maar as werk-in-proses gesien moet word. Dit is volgens hom baie belangrik dat dit gereeld hernuwe moet word, omdat vertroue na ʼn verloop van tyd begin taan en kwyn, met negatiewe gevolge vir die land en alle betrokkenes. Daarom het dit nou tyd geword om die vertroue tussen groepe in Suid-Afrika te hernuwe met iets soos ʼn Nasionale Dialoog, wat moet uitloop op ʼn Opvolgskikking of Kulturele Skikking.

 

 

Daar kan ongelukkig nie net op onderhandeling en ʼn Opvolgskikking staatgemaak word om die bestaansvraagstukke van die Afrikaner op te los nie. ʼn Opvolgskikking is tans net nie werklikheidspolitiek nie. Terwyl daar steeds moeite gedoen moet word om die ANC en regering te oorreed om na ons billike saak te luister, moet alternatiewe strategieë ook ontwikkel word.

 

  1. ABN-Scenario navorsing

Die ABN-Scenario navorsing spruit uit die Dinokeng scenario’s, wat bevind het dat die redes vir Suid-Afrika se huidige gevaar van staatsmislukking te wyte is aan die groeiende ondoeltreffendheid van die staat en die onbetrokkenheid en ondoeltreffendheid van die burgerlike samelewing.

Die demokratiese uitsluiting van die Afrikaner bring mee dat ons as gemeenskap nie ‘n wesenlike bydrae kan lewer om die staat doeltreffend te maak nie, alhoewel ‘n suksesvolle staat noodsaaklik en ook in ons belang sal wees.

Dit laat ons met die alternatief van burgerlike deelname, soos al voorheen in ons geskiedenis die geval was. Dit sluit goed aan by die raad om buite die partypolitiek op burgerlike gebied te organiseer, wat Professor Lawrence Schlemmer vir minderheidsgemeenskappe gee. Vir burgerlike deelname om doeltreffend te wees, is sterk gemeenskapsinstellings ‘n noodsaaklike voorwaarde. Die voordeel hiervan is dat Afrikaners daarmee in die huidige werklikheid van ANC-oorheersing op talle terreine steeds ‘n belangrike mate van selfstandigheid kan geniet. Die nadeel is dat dit nie net uiters moeilik is om burgerlike instellings in ‘n vyandelike omgewing op te rig nie, maar dat dit ook baie duur is om wat feitlik op alternatiewe strukture neerkom te befonds benewens die normale hoë belastings.

  1. Kulturele Vryheid

Die Scenario navorsing is opgevolg met ʼn strategie vir Kulturele Vryheid, gebaseer op ʼn VN Verslag oor die onderwerp, deur Professor Deon Geldenhuys. Die voordeel hiervan is dat dit ʼn venster bied op die internasionale standaarde en beste praktyke in die wêreld, en dat daar nie geldige beskuldigings kan wees van ʼn terugkeer na Apartheid nie.

Die doel van hierdie internasionale standaarde is om te sorg dat kultuurgemeenskappe se regte respekteer word, en dat hulle die nodige magte en hulpbronne kry om daardie regte te verwerklik. Anders bly dit net papierregte waaroor die meerderheid kan besluit. Dit beteken dat die grondwette en regerings voorsiening moet maak vir die kulturele vryheid van hierdie groepe, sodat almal tuis kan wees in ʼn multi-etniese land. Daarom het wenlande lankal ingesien dat hulle die inkoop en lojaliteit van kultuurgemeenskappe kan kry en hulle lande vir almal vry, veilig, vreedsaam en voorspoedig kan maak deur vir hierdie minderhede te gun wat die meerderhede vir hulleself opeis. ʼn Minderheid kan net tot sy reg kom indien hy ook oor ruimtes en instellings beskik waar hy ʼn meerderheid is.

Hierdie dokument behoort nou verder aangepas te word om vir die omstandighede van die Afrikaner en Suid-Afrika voorsiening te maak.

  1. Strategiese alternatiewe
  • Onderhandeling vir ʼn Opvolg- of Kulturele Skikking

Daar is reeds gesê dat dit nie maklik gaan wees om die ANC en regering te oorreed om deur middel van onderhandeling ʼn ooreenkoms of ooreenkomste met Afrikaners aan te gaan nie, ten spyte van die noodsaak daarvan. Dit beteken nie dat daar benewens onderhandelde skikkings ook ander strategieë ontwikkel moet word om Kulturele Vryheid vir die Afrikaner te verwerklik.

ʼn Opvolgskikking of ooreenkomste oor Kulturele Vryheid volgens Internasionale Regsstandaarde, berus op die veronderstelling dat die Reg aangepas moet word om daardeur die Praktyk te verander.

Die teenoorgestelde benadering is om eers die Praktyk te verander deur nuwe werklikhede op grondvlak te skep, waarna dit mettertyd juridiese erkenning kan verkry. Natuurlik kan beide benaderings aanvullend gebruik word.

8.2 ʼn Burgerlike Selfdoenstrategie

 

Die verhaal van die Afrikaner se selfhelpwonderwerk om binne een geslag vanaf ʼn verarmde en swak geskoolde plattelandse groep tot ʼn gemoderniseerde eerstewêreldgemeenskap te vorder, kry weens apartheid nie erkenning nie. Dít ten spyte van die feit dat dit ʼn rare Afrika-suksesverhaal was.

Die sleutelstrategie wat deur ons voorouers in hierdie moderniseringsproses gebruik is, was die skep van instellings of voertuie op alle belangrike terreine waar vordering noodsaaklik was. Daar is ʼn reeks voertuie geskep op kulturele, ekonomiese, politieke, maatskaplike, sake-, onderwys- en landbougebied waarmee Afrikaners hulself gemoderniseer het.

Die doel van hierdie organisasies was om die Afrikaner teen Britse oorheersing te beskerm, en om terselfdertyd homself op elke gebied op te hef. In die proses is Afrikaans ontwikkel, sakeryke gestig, skole en universiteite gevestig, die armblankevraagstuk opgelos en die land se infrastruktuur ontwikkel, terwyl Suid-Afrika ook onafhanklik van Brittanje geword het.

Nadat die Afrikaner met behulp van hierdie voertuie op bykans elke gebied suksesvol was, het die Groot Oorgang in Suid-Afrika aangebreek. Tydens en ná die oorgangstydperk het die voertuie bykans almal gekwyn en verdwyn. Party het totaal ontbind, soos die NP, talle ander het totaal getransformeer, soos die voormalige RAU, ander is oorgevat, soos die staatsinstellings, en die oorblywendes het feitlik almal totaal verswak. Die Afrikaner het dus sy doelwit van omvattende modernisering bereik, maar in die proses sy voertuie waarmee dit gedoen is, verloor. Daar is min oor van hierdie voertuie wat met harde werk en opoffering opgebou is en baie van dié wat nog staan, word afgebreek of verval weens verwaarlosing.

Normaalweg sou dit nie ʼn probleem wees nie, omdat ʼn voertuig nie meer nodig is nadat die bestemming bereik is nie. Maar dis nie so eenvoudig nie. Daar is weer ʼn onsimpatieke regering aan bewind, en die somtotaal van sy beleidsrigtings is besig om die land te demoderniseer. Sonder genoeg sterk burgerlike instellings kan die Afrikaner homself nie beskerm teen ʼn oorweldigende regering of keer dat hy saam met die land demoderniseer nie.

Daarom moet Afrikaners hulself weer in doeltreffende burgerlike instellings organiseer waarmee hulle hulself kan help, hul belange kan beskerm, grondwetlike regte kan verwerklik, en terselfdertyd met die owerhede in gesprek tree om, waar moontlik, ooreenkomste te sluit.

Hierdie strategie is ook ʼn voorwaarde vir suksesvolle onderhandeling met die regering, omdat bedingingsmag en steunbasisse ontwikkel moet word waarsonder onderhandelinge nie moontlik is nie. Die strategie het ook moeilike uitdagings wat oorkom moet word, soos ʼn skaarste aan doeltreffende bestuursleiers vir burgerlike instellings, befondsing, gevestigde belange wat ʼn organisatoriese herskikking kan bemoeilik, en die uitdaging om besige mense sinvol in gemeenskapsinstellings te betrek.

  

 

  1. Aanbevelings vir ʼn demokratiese strategie vir Kulturele Vryheid

Dit is nou nodig dat daar beweeg word na praktiese voorstelle vir ʼn strategie vir Kulturele Vryheid, gegrond op die Scenario navorsing, gesprekke en besluite by vorige ABN vergaderings, en Deon Geldenhuys se verslag oor die onderwerp. Die volgende voorstelle is bedoel om as ʼn vertrekpunt vir bespreking van ʼn strategie vir Kulturele Vryheid te dien. Daarom word die voorstelle in die vorm van aanbevelings aangebied:

  • Dat die VN verslag oor Kulturele Vryheid aanvaar word as die vertrekpunt van ‘n nuwe visie, en dat ‘n taakgroep aangewys word om dit verder te verwerk in pas met plaaslike omstandighede;
  • Dat inhoud aan Kulturele Vryheid gegee word in die vorm van ‘n Handves van Kultuurregte, met die doel om hierdie Handves in terme van die Grondwet deur die regering aanvaar te kry;
  • Dat ‘n Kultuurakkoord op ‘n deelnemende manier opgestel word om as grondslag van samewerking tussen Afrikaner organisasies of organisasies wat wesenlike getalle Afrikaners verteenwoordig te dien;
  • Dat tweeledige prosesse van gesamentlike bedinging deur Afrikaners en ʼn burgerlike Selfhelpstrategie gevolg word om die ideaal van Kulturele Vryheid te verwerklik, en nie ‘n pad van konfrontasie nie;
  • Dat die voorwaardes vir suksesvolle bedinging ondersoek en geskep word, soos die konstituering van die Afrikaner in ‘n geloofwaardige struktuur, ‘n samebindende visie van Kulturele Vryheid en strategie om dit te verwerklik, en die ontwikkeling van sterk ondersteuning, mandate en steunbasisse onder Afrikaners en ander belangegroepe te werf.
  • Dat verdere navorsing oor ‘n ideeraamwerk vir die Afrikaner gedoen word;
  • Dat die Afrikaner kultuurgroep op ʼn inklusiewe basis as vertrekpunt van die strategie gebruik word, in ooreenstemming met artikel 31 van die Grondwet, en dat nouer samewerking terselfdertyd met ander Afrikaanstaliges gesoek word;
  • Dat die ABN ‘n burgerlike benadering (civil society) as strategie aanvaar, sonder om ander geldige en wettige strategieë van ander instellings soos die party-politiek teen te gaan;
  • Dat ʼn demokratiese benadering as grondslag van die strategie aanvaar word;
  • Dat ondersoek gedoen word na die ontwikkeling van toepaslike oorhoofse, doelmatige en plaaslike strukture om die bogenoemde strategie uit te voer, sonder om die onafhanklikheid van die deelnemende instellings te beperk;
  • Dat die missie van hierdie struktuur moet wees om as ʼn knooppunt van Afrikanersake te dien, om met die regering in gesprek te tree, om ʼn Selfhelpstrategie te koördineer, om die Afrikaner se grondwetlike regte op te neem en waar nodig te beskerm, en om in die algemeen in belang van die Afrikaner op te tree;
  • Dat die moontlikheid van ʼn vrywillige “kultuurbelasting” ondersoek moet word om hierdie strategie en die oprigting van Afrikaner instellings te befonds;
  • Dat ruimte en onderlinge verdraagsaamheid vir verskille as vertrekpunt aanvaar word, dat saamgewerk word ten spyte van verskille, en dat dit waaroor verskil word nie tot verdeeldheid aanleiding moet gee nie;
  • Dat die doel van hierdie strategie nie is om die Afrikaner te onttrek of teen die owerheid op te probeer stel nie, maar juis is om die volle deelname van die Afrikaner in die land en in sake wat die groep raak te verseker, op die basis van ‘n veelvoud van identiteite wat almal belangrik is;
  • Dat terwyl daarna gestreef word om die omstandighede te skep waarbinne die Afrikaner blywend suksesvol in Afrika kan wees, die Afrikaner steeds tot die sukses van Suid-Afrika en al sy inwoners behoort mee te werk;
  • Dat taakgroepe en projekspanne aangestel word om oplossings te ontwikkel vir die knelpunte wat in die Scenario navorsing uitgelig is, en dat die positiewe Delarey scenario as mikpunt nagestreef word;
  • Dat die ABN dit moet oorweeg om die FAK te vra om die bestaande FAK-Kultuurforum te aktiveer, dit uit te bou tot ʼn verteenwoordigende liggaam, en om die ABN in geheel as ʼn komitee van die FAK te konstitueer ter wille van historiese kontinuiteit, naamherkenning en korporatiewe regering en –beheer, hoewel die Sekretariaat om praktiese redes steeds deur Solidariteit hanteer kan word;
  • Dat ʼn omvattende kommunikasie- en steunwerwingsplan ontwikkel moet word om wye steun en hulpbronne vir hierdie strategie te werf;
  • Dat spesiale projekte geloods word om die Afrikaner geskiedenis in perspektief te plaas en te normaliseer en ANC pogings om dit te kriminaliseer teen te werk, in die lig van die belangrikheid van die verlede vir die toekoms;
  • Dat die bestaande ruimtes ten volle benut en verruim moet word, soos die demokratiese stelsel, die bevordering van Afrikaans en die Taalwet, die handhawing van die Oppergesag van die Reg en die Grondwet, die bevordering van burgerregte en gesonde burgerskap, die bevordering van ʼn verantwoordelike markekonomie, kontak met die Afrikaners in Diaspora, en die aandrang op waarde vir belastinggeld en inspraak in die spandering daarvan.

 

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.