‘n Peiling van sleuteltendense in die Suid-Afrikaanse politiek

1. Inleiding

Peilings van die Suid-Afrikaanse politieke situasie neig om tussen twee uiterstes te wissel. Aan die een kant is daar ’n tendens om die politiek aan die hand van ʼn enkele faktor te beskryf en te verklaar. Die grondwetlike oorgang in 1994 het ʼn tydperk ingelui waartydens bykans alle politieke gebeure aan die hand van die grondwet en grondwetlike denkbeelde soos regstaatlikheid verduidelik is. Die huidige grondwet van 1996, net soos sy voorganger, die tussentydse grondwet van 1993, verklaar sy eie oppergesag en vereis voortspruitend daaruit dat alle handelinge aan die bepalings van die grondwet moet beantwoord. Grondwetlike oppergesag en sy verwant, regstaatlikheid, is albei grondwetlike beginsels wat vereis dat staatsorgane en watter ander persone ook al moet voldoen aan die bepalings wat in die grondwet en die reg in die breë vervat is. Dit is normatief van aard en juis nie beskrywend nie. ‘n Sterk neiging het egter posgevat om ʼn beskrywende kwaliteit aan die grondwet toe te dig. Daarvolgens is die grondwet nie slegs, en primêr, ʼn stel norme nie, maar bied dit daarenteen ʼn getroue beskrywing van die Suid-Afrikaanse situasie. Hierdie neiging, tipies van regsgeleerdes, het ongelukkig ook onder politieke kommentators en politieke wetenskaplikes versprei en het sodoende ook gedeeltelik ʼn eienskap van die populêre kultuur in Suid-Afrika geword. ‘n Getroue peiling van die politiek vereis juis die teenoorgestelde ingesteldheid. ʼn Grondwet, hoe oortuigend hy ook al sy eie oppergesag verklaar, bied nie ʼn beslissend getroue weerspieëling van die politieke gebeure nie. Daar kan trouens areas wees waar die grondwet vanweë wanfunksionerende staatsorgane eenvoudig nie meer rigting aan die daadwerklike gebeure verskaf nie en waar daar gevolglik grondwetlike niemandslande onstaan, waar kragte buite om die grondwet en die reg die daadwerklike stand van sake rig en bepaal. Terselfdertyd is ’n oppermagtige grondwet ʼn funksie van interpretasie deur howe, politici en in die besonder staatsamptenare, wat onverwagse, onvoorspelbare en uiteenlopende betekenisse daaraan kan verleen, waarvan die gevolg is dat die grondwet ’n geheel ander betekenis kan verwerf as wat voorsien is.

Die beslissende betekenis wat aan die grondwet verleen is, het in onlangse tye egter beduidend agteruit gegaan. Dit is vervang deur ʼn nuwe maar soortgelyke neiging, naamlik om die rigting van die politiek weereens grootliks aan ʼn enkele faktor te koppel. Nou is die regerende African National Congress se ideologiese projek, bekend as die nasionaal-demokratiese rewolusie (NDR), op die voorgrond en dit word beskou as die eintlike aandrywende krag van die Suid-Afrikaanse politiek. Die ironie kom nou voor dat die einste kommentators wat eens, en trouens nog steeds, die oppernmagtige aansprake van die grondwet as beslissend beskou het, juis nou die NDR as toonaangewend voorhou. Hierin is natuurlik ʼn klaarblyklike teenstrydigheid geleë want as die grondwet inderdaad oppermagtig is, is daar per slot van sake nie ruimte om soveel gewig aan die NDR toe te ken as wat inderdaad gedoen word nie.

Die verskynsel om gelyktydig en afwisselend soveel gewig aan sowel die grondwet as die NDR toe te ken, gaan ook gepaard met oproepe om die grondwet teen die aanslag van die NDR te beskerm. Hierdie oproep impliseer uiteraard dat die aanspraak op die grondwet as beslissende faktor vir die politieke gebeure laat vaar word want as die grondwet inderdaad sy oppermatige en derhalwe beslissende aansprake gestand kon doen, behoef dit natuurlik nie verdediging teen ʼn krag (soos die NDR) wat die belang van die grondwet moontlik kan troef nie.

Dit is onvanpas, onrealisties en veral misleidend om die grondwet as beslissend voor te hou soos die afgelope meer as ʼn dekade gebeur het. Grondwetlikheid, regstaatlikheid, grondwetlike oppergesag en dergelike denkbeelde van die publiekreg is van die grootste belang vir ’n helder begrip van die reg. Dit bied dikwels egter geen insig in die politieke werklikheid nie. Dit is ʼn faktor en, afhangende van die teenwoordigheid en die relatiewe gewig van ander kragte wat op die politiek inwerk, moontlik ʼn belangrike faktor. Die blote feit dat die grondwet sy eie oppergesag verklaar, beteken egter nie dat dit deurslaggewend is nie.

Teenoor die neiging om ʼn enkele faktor, soos die grondwet of die NDR, as deurslaggewend te beskou, is daar die dramatiese, dikwels buitensporige, politieke gebeurein Suid-Afrika, wat haastig op mekaar volg na mate die dikwels wanordelike sage van heftige twiste in die ANC, wegholkorrupsie, ampstrydige optrede van hoë staatsamptenare en polisie-offisiere en dergelike gebeure hulself voltrek. Dié drama lei dikwels daartoe dat ons aandag deurlopend deur vinnig afwisselende gebeure in beslag geneem word en moontlike breër tendense miskyk. Dit is die teenoorgestelde van die eerste – die enkelfaktorneiging – maar het dieselfde nadelige uitwerking, naamlik om insig in die daadwerklike dog wisselende tendense van die politiek te verhoed.

2. Tien algemene tendense

In hierdie dokument word aan die hand gedoen dat daar inderdaad ʼn aantal algemene tendense bestaan wat die eintlike aard en rigting van die politiek van die nuwe Suid-Afrika onder die ANC en sy alliansievennote bepaal. Hieronder word ʼn tiental van die belangrikste tendense bondig toegelig. Dié tien is natuurlik nie die enigste bepalers van die Suid-Afrikaanse politiek nie. Trouens, in hierdie bespreking is die fokus meer spesifiek op die regerende alliansie en die gepaardgaande stand van die staat. Die stand van die partypolitieke opposisie en skynbaar toenemend groeiende krag en toenemende rol van burgerlike organisasies, ook onder Afrikaners, word nie hier behandel nie.

Hoewel die tien tendense dus nie die enigstes is nie, verskaf hulle nogtans in beduidende mate insig in die Suid-Afrikaanse politiek. Die tendense is heg verweef en hulle versterk mekaar. ʼn Opvallende eienskap van bykans elkeen is hulle paradoksale aard. Hulle word naamlik telkens gekenmerk deur ʼn inherente teenstrydigheid. Die eerste tendens is toonaangewend en lei tot verskeie van dié wat daaropvolgend behandel word. Die tendense is:

1. Totalitêre drang te midde van staatsverval
2. Siek staatskern met ʼn gesonde rand
3. Prestasie waar dit onnodig is teenoor wanprestasie waar prestasie noodsaaklik is
4. Drang na beheer in weerwil van die mislukking daarvan
5. Skouspelagtige voornemens teenoor onverskilligheid met betrekking tot die uitvoering daarvan
6. Die groot nuwe begin teenoor die onverskilligheid om in stand te hou en te onderhou
7. Aan bewind maar onmagtig (in office but not in power), onseker en wantrouig
8. Ongemak met dít wat goed funksioneer (op die gebied van strafregpleging)
9 Ideologiese teenoor vrybuiterpolitiek
10. Die drang na aansien teenoor die selfvernietiging van eie reputasie

2.1. Totalitêre drang te midde van staatsverval

Die ANC doen hom voor as een van wêreld se mees ideologies gedrewe bewegings met uitgesproke totalitêre aspirasies. Die ANC, geformuleer in eertydse kommunistiese jargon waaraan hy oor dekades heen verknog is, dryf ʼn sogenaamde “nasionaal demokratiese rewolusie” (NDR) wat ʼn nie-rassige, nieseksistiese nasie met ʼn enkele party-voorgeskrewe Suid-Afrikaanse kulturele identiteit ten doel het. Om dít te bewerkstellig, soos die ANC se talle strategiese en beleidsdokumente dit al dekades lank beklemtoon, moet alle sfere van die samelewing en elke hefboom van mag en invloed onder partybeheer wees en elkeen op sy besondere terrein ter voltrekking van die party se program gemobiliseer word. Nie net die wetgewer, uitvoerende gesag, howe, weermag, polisie en die reserwebank nie, maar ook die onderwys, media, burgerlike samelewing, professies, privaat ekonomiese sektor, georganiseerde sport, ens. moet derhalwe onder partybeheer geplaas word of ten minste in gelid met die party ( en die alliansie in die breë) wees.

ʼn Ambisieuse totalitêre projek van hierdie aard vereis egter die gladde funksionering van alle staatsorgane met bevoegde funksionarisse wat elkeen deur behoorlike administrasie die staat doeltreffend moet laat funksioneer om sodoende die rewolusie oral deur te voer. Dis presies hier waar die teenstrydigheid opdoem want lojale partykaders moet noodwendig in die onderskeie staatsorgane en elders ontplooi word om partybeheer te verseker. Synde partykaders in plaas van toegewyde professionele ampsbekleërs en amptenare met tersaaklike kundigheid en ervaring wat vir die behoorlike funksionering van die betrokke staatsorgaan vereis word, is hulle egter oorwegend nie by magte om die staatsorgane te bestuur nie, met die gevolg dat die staat konstant agteruitgaan.

Eerstens is kaders wat senior posisies in staatsorgane beklee maar nie behoorlik met die werk van die betrokke staatsorgaan vertroud is nie, nie in staat om behoorlike kontrole oor juniors uit te oefen nie, met die gevolg dat swak werk nooit aan die lig kom nie. As dit wel aan die lig kom, weet die seniors vanweë onkunde op die gebied van die werksaamhede van die betrokke staatsorgaan nie hoe om dit reg te stel nie.

Tweedens is kaders primêr aan die partyleiding lojaal en aanspreeklik en nie aan die orgaan waarin hulle ontplooi is nie. Die openbaarmaking van onderprestasie en korrupsie deur kaders moet derhalwe eerder verhoed word aangesien openbaarmaking die party in die verleentheid kan stel. As amptenare wel vanweë swak prestasie en korrupsie vervang moet word, word daar in die belang van die totalitêre projek weereens lojale kaders in hulle plek geplaas, wat eweneens nie noodwendig die professionele amptenare is wat vir die goeie funksionering van die betrokke staatsorgaan vereis word nie.

Derdens word openbare ampsbekleding in Suid-Afrika onder die ANC grootskaals as ʼn vorm van privaat eiendom beskou wat die ampsbekleër toelaat om sy pos vir persoonlike en nepotistiese gewin te gebruik in plaas daarvan om die algemene openbare belang te dien. Die wanopvatting is eweneens herleibaar na die feit dat die amptenare wat ontplooi word kaders is wat, anders as die tipiese professionele staatsamptenaar, nie met die onderskeid tussen private gewin (en partyvoordeel) en die openbare belang vertroud is nie.

Vierdens kontrakteer die staat kragtens die beleid van swart ekonomiese bemagtiging (BEE) dikwels kaderfirmas wat swak goedere en dienste lewer en sodoende die staatskas verder uitput sonder dat daar ʼn behoorlike teenprestasie gelewer word.

Die noodwendige gevolg hiervan is ʼn groeiende en skynbaar bykans onherstelbare wanfunksionering van die openbare sektor vanaf die verinneweerde munisipale regering tot die wanordelike nasionale staatsdepartemente, polisie en die weermag. Die ideologiese gedrewenheid van die ANC kweek derhalwe by wyse van kaderontplooiing sy eie teenstrydige strukturele swakheid in die vorm van die swak staat, waardeur die uitvoering van die totalitêre ideaal om alles te oorheers juis gekortwiek word.

2.2. Siek staatskern met ʼn gesonde rand

By die kernstaatsfunksies, dit wil sê die funksies waar nougesette staatsbeheer die noodsaaklikste is, is mislukking en wanfunksionering op sy ergste. Die polisie word geteister deur onbekwaamheid, korrupsie en betrokkenheid by geweldsmisdaad. Die regsadministrasie is erg verswak en die weermag en intelligensiedienste ly aan wisselende grade van disfunksionaliteit, die Padongelukfonds is vanweë volgehoue plundering omtrent onredbaar geruïneer. Noodsaaklike infrastruktuur, hetsy elektrisiteit, paaie of waterkwaliteit en -voorsiening, riolering en basiese gesondheidsienste, is gruwelik verwaarloos. Skoolonderwys is ondanks enorme staatsbesteding grotendeels ʼn gemors.

In teenstelling hiermee funksioneer sektore wat die verste van die staat verwyder staan en waar staatsbeheer die geringste is, opvallend glad. So presteer sakeondernemings van groot maatskappye tot klein besighede goed, die bankwese is gesond en landbou is in weerwil van die enorme misdaad en regeringsafknouery ʼn juweel van prestasie. Die universiteite, wat tot dusver nog redelike outonomie geniet, is steeds van goeie gehalte en presteer plek-plek uitstekend. Afrikaanse skole met baie ouerbetrokkenheid, bekwame beheerliggame (saamgestel vanuit die burgerlike gemeenskap) en ʼn toegewyde onderwyserskorps is die beste skole in die land. Die professies en die media buite die beheer van die staat is oor die algemeen gesond en van hoë gehalte en word gekenmerk deur bekwaamheid, energie en professionaliteit.
Die belangrikste rede vir dié en ander kerngesonde private en burgerlike sfere is dat dit grotendeels self regulerend is deur mense met kundigheid en ervaring op elk van die tersaaklike gebiede. Dit funksioneer dus betreklik vry van partyvoorskrifte en die vergiftiging van kaderontplooiing en –beheer. Presies hierdie kaderontplooiing in die organe wat vir die behartiging van die kernstaatsfunksies verantwoordelikheid moet aanvaar, is op sy beurt juis die rede vir die aftakeling van hierdie funksies.

2.3. Prestasie waar dit onnodig is teenoor wanprestasie waar prestasie noodsaaklik is

Nou gekoppel hieraan is die derde tendens met sy eie teenstrydigheid: Hoe meer wesenlik ʼn staatsfunksie is, hoe erger die staat na wanprestasie neig en hoe noodsaakliker dit is dat die staat hom juis van ‘n terrein moet onthou, des te groter sy onvanpaste “prestasie”. Dienooreenkomstig verbrou die staat met die polisie, weermag, regsadministrasie, infrastruktuur, gesondheid, ens. maar “oorpresteer” met vergrype soos die verandering van plek- en straatname, voorskrifte vir die samestelling van sportspanne, die dwing van goed funksionerende Afrikaanse skole om te verengels en dergelike sake waar geen of min staatsbetrokkenheid vereis word.
Die rede vir hierdie teenstrydigheid is dat die kernstaatsfunksies volgehoue aandagbesteding van bekwame ampsbekleërs vereis, en hieraan kan die ANC-regering vanweë kaderontplooiing nie voldoen nie. Daarenteen vereis die vergrype op die genoemde terreine nie professionele bekwaamheid en toewyding nie maar slegs aggressiewe inmenging van ideologies gedrewe kaders. Laasgenoemde kwaliteit is in oormaat beskikbaar.

2.4. Drang na beheer in weerwil van die mislukking daarvan

In die lig van die staat se wanprestasie, teenoor die private sektor en burgerlike gemeenskap se prestasie, is dit redelik om te verwag dat daar ʼn algemene strewe na groter burgerlike selfbeheer en die vermindering van staatsbeheer (en dus partybeheer) sal wees. Helaas, hier duik die vierde teenstrydigheid op, want die ANC-beheerde regering se drang na beheer is onversadigbaar. Daar is knaende planne om die media en die professies – mees onlangs die regsprofessie – onder strenger partybeheer te plaas. Die oorblywende outonomie van die universiteite word geteiken en landbou, mynbou en dergelike ander sektore van die ekonomie moet deur ʼn verskeidenheid skemas onder staats-/partybeheer geplaas word, telkens ongeag die droewige agteruitgang wat dit tot gevolg kan hê.

Waarom wil die ANC, ʼn party met die oorweldigende kiesersteun wat hy reeds het, alles beheer al behoort hy vooraf te weet dat verdere verval gaan volg? Die belangrikste rede is die ideologiese verbintenis waaraan die ANC en die alliansie homself oor dekades heen met sy verbintenis met Marxistiese denkbeelde en slagspreuke vasgeknoop het. Daarvolgens glo die ANC, in weerwil van die afwesigheid van getuienis daarvoor, dat hy in ʼn ongunstige balance of forces gewikkel is. Dodelike teenrewolusionêre magte, wat hy dringend moet afweer, bedreig hom. Hy sien hulle in die media, professies, sakewêreld, howe, universiteite, nieregeringsorganisasies, minderhede, oral, besig om bose planne te smee om hom omver te werp. Die enigste uitweg is kaderbeheer in elkeen van hierdie sfere. As dit staatsverval meebring, is die verval ten minste ons staatsverval. Dis te verkies bo die bose magte wat buite die beheer van die party staan. Dit is waar hierdie teenstrydigheid vandaan kom.

Regstellende aksie behoort ook teen hierdie agtergrond verstaan te word. Soos die benaming regstellende aksie aandui, gee dit voor om op ʼn morele grondslag gebaseer te wees. Dit word aangebied as ʼn remediërende middel wat daarop gemik is om die nadele van eertydse onbillike diskriminasie uit die weg te ruim en gelykheid te bewerkstellig.

Regstellende aksie verleen egter tegelykertyd die morele verskoning en die juridiese grondslag aan die regering om kaderontplooiing deur te voer en af te dwing en sodoende veral sleutelposisies met getroue partylojaliste (of dan ten minste persone komende uit die heersende faksie in die alliansie) te beman en opposisie te neutraliseer. Regstellende aksie bied sigself dus as ʼn uiters bruikbare werktuig aan wat aangewend word nie om die doel waarvoor dit daargestel is te verwesenlik nie maar as ʼn strategie van magsverskansing en –uitoefening. Dit is dikwels in individuele gevalle moeilik om daartussen te onderskei en derhalwe moeilik om die aanwending daarvan (as strategie van magsverskansing en –uitoefening) teë te werk.

In Suid-Afrika is die regstellendeaksie-bepaling in die grondwet, in teenstelling met soortgelyke bepalings van die Internasionale Arbeidsorganisasies (IAO) en talle nasionale bepalings van hierdie aard, nie ʼn tydelike nie maar ʼn permanente maatreël, wat die aanwending daarvan om mag te verskans uiteraard verder onderskraag.

2.5. Skouspelagtige voornemens teenoor onverskilligheid met betrekking tot die uitvoering daarvan

Suid-Afrika onder die ANC is die land van die dramatiese aankondiging van lofwaardige voornemens, opgevolg deur die versuim om dit uit te voer. Die aankondiging van opsienbarende skemas van misdaadbekamping, die regruk van die regspleging, werkskepping, korrupsiebekamping, ens. bly by aankondigings en word glad nie of slegs in geringe mate uitgevoer. In sommige gevalle word die aankondiging met die teenoorgestelde opgevolg as dít wat aangekondig is. Die herhaalde voorneme om verhoudings met die Afrikaner te verbeter, word afgewissel met ondersteuning in die hof van Malema in sy haatkrete teen die Afrikanes, die verandering van nog Afrikaanse plek- en straatname, nog ʼn Afrikaanse skool wat afgeknou word. Die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC se aankondiging dat niemand met ʼn niepolitiekverwante kriminele rekord in ʼn openbare amp toegelaat sal word nie, word afgewissel met die warm terugverwelkoming van Tony Yengeni nadat hy aan omkopery skuldig bevind is (en net vier maande van sy vier jaar tronkstraf uitgedien het) en van Allan Boesak na sy skuldigbevinding aan geldverduistering waarvoor hy slegs een derde van sy vonnis van drie jaar in die tronk deurgebring het.

Die redes vir die teenstrydigheid is veelvuldig. Een belangrike rede is dat die aankondiging maklik en genotvol is en applous en goedkeuring uitlok . Dit verg beswaarlik meer as ʼn klompie woorde in die teenwoordigheid van die media. Die uitvoering, daarenteen, verg erns, selfondersoek en bowenal natuurlik genoeg toegewyde en ervare amptenare. Vanweë kaderontplooiing ontbreek dit.

2.6. Die groot nuwe begin teenoor die onverskilligheid om in stand te hou en te onderhou

In aansluiting hierby openbaar die staat onder ANC-beheer die deurlopende neiging om alles van nuuts af te begin, gepaard met versuim om dít wat reeds bestaan in stand te hou. Dié verskynsel is die ewige swakheid van die (adolessente) revolusionêre mentaliteit, waaraan ook die alliansie ly wat homself juis as ‘n rewolusionêre organisasie beskou. Asof onbewus van die goed onderhoue en funksionerende staat met sy werkende infrastruktuur wat hy in 1994 van die blanke minderheidsbewind (in weerwil van dekades-lange sanksies) geërf het, het hy dadelik, asof daar niks was nie, met die “Groot Begin” van Herkonstruksie en Ontwikkeling (HOP) weggespring. Met Transformasie pak hy sedertdien steeds alles van nuuts af aan. Terselfdertyd laat hy na om dít wat daar is in stand te hou, net om deur slaggate in die paaie, giftige water, skielike kragonderbrekings, onnodige sterftes in staatshospitale, ens. herinner te word aan die dwaasheid van die jarelange versuim om die bestaande in stand te hou en geleidelik te verbeter. Dié gebrek aan instandhouding is die herhalende verhaal van talle sektore van die staat sedert die ANC-bewindsoorname agtien jaar gelede. Die reaksie wanneer die gevolge van die versuim om in stand te hou aan die lig kom, is betekenisvol. Met die eerste kragonderbrekings in 2008 het die verantwoordelike minister, Alec Irwin, dit aan sabotasie gewyt. Dit was nie die regering se skuld nie maar iemand anders sʼn.

Behalwe dat hierdie tendens aan die rewolusionêre mentaliteit gewyt moet word, is dit terselfdertyd weereens die gevolg van kaderontplooiing en kaderbevoordeling: onbekwame en onervare kaderamptenare en onbevoegde kaderkontrakteurs.

Die aansluitende rede is dat die ANC oor dekades heen in sy eie absolute (morele) voortreflikheid glo, in teenstelling met die boosheid van die eertydse koloniale en apartheidsvyand, wat natuurlik tot niks goed in staat is nie. Daarom is niks wat die bose vyand agtergelaat het die moeite werd om in stand te hou en uit te bou nie.

2.7. Aan bewind maar onmagtig (in office but not in power), onseker en wantrouig

Na agtien jaar aan bewind met ʼn partygreep op soveel sfere van die samelewing, toon die ANC ʼn ongekende gebrek aan selfvertroue. Hy tree dikwels nie op asof hy in beheer is nie maar asof ander kragte hom troef en uitoorlê – asof hy weliswaar aan bewind is maar desondanks nie oor die nodige mag beskik nie. As sake skeefloop, neig hy derhalwe om dit aan onbeheerbare faktore buite homself te wyt: dis nie sy eie skuld nie maar iemand anders s’n. Toe die eerste kragonderbrekings voorgekom het, soos hierbo gemeld, is dit op die rekening van saboteurs geplaas; tans het die mislukte grondhervorming niks met sy eie beleid te doen nie maar is dit die skuld van wit boere wat die grond verwaarloos het. Die hopelose skoolonderwys is na agtien jaar van bewind steeds net soos talle ander mislukkings ten slotte apartheid se skuld. Selde is iets die ANC en die regering se skuld. Nooit rus die verantwoordelikheid by homself nie. Hy word knaend oorkom deur skaduagtige kragte buite homself. Dis ʼn vreemde teenstrydigheid want hoe meer hy self beheer, des te meer verwyt hy ander. Dié teenstrydigheid kweek vir die ANC ʼn selfvernietigende logika want hoe meer hy glo sake is buite sy beheer en ander daarvoor verwyt, hoe meer ervaar hy homself as ontmagtig en uitgelewer, in weerwil van al die beheer wat hy oor die afgelope agtien jaar met soveel ywer gevestig het.

Die bewindhebbers is nie net wantrouig teenoor kragte buite die ANC en die alliansie nie. Tewens, die akuutste wantrouigheid kom juis onderling binne die alliansie voor, waar twistende faksies in venynige magstryde teen mekaar optrek. Die magstryd tussen Thabo Mbeki en Jacob Zuma, ondersteun deur ʼn losse koalisie van anti-Mbeki kragte en persoonlikhede, het in Desember 2007 ’n hoogtepunt bereik toe Mbeki uit sy leierskapsposisie gedryf en uiteindelik ook as president van die land vervang is. Die faksiepolitiek binne die Alliansie is egter onverkwiklik en duur onverpoos en hewig voort. Tans is Zuma en sy volgelinge in ‘n hewige stryd met ʼn nuwe koalisie van teenstanders in aanloop na Mangaung gewikkel. Dis nog meer venynig as die eertydse stryd rondom Mbeki. Daar is geen redelike vooruitsig vir ʼn beëindiging van faksiegevegte nie. Die kritieke faktore wat die stryd tot ʼn einde kan bring, bestaan nie: daar is nie ʼn algemeen gesaghebbende en samebindende leierskap nie en ʼn samebindende ideologie ontbreek.

Die hewigheid waarmee die stryde gevoer word, betrek ook die staat se veiligheidsagentskappe, met bewese gevalle en andersins hardnekkige gerugte van senior polisie-offisiere wat teen politieke teenstanders ingespan word en senior funksionarisse in die nou ontbinde Skerpioene wat misbruik is om politieke teenstanders (Zuma in dié geval) uit te skakel. Die feit dat kaders ontplooi word in hierdie agentskappe wat nie die tipiese neutrale mentaliteit van die professionele staatsamptenaar het nie, maak die agentskappe natuurlik baie makliker bruikbaar vir interne politieke gevegte as wat dit andersins sou gewees het.

2.8. Ongemak met dít wat goed funksioneer (op die gebied van strafregpleging)

Op die keper beskou, is misdaad potensieel die grootse bedreiging vir die staat. Om daardie rede is glad funksionerende teenmisdaadagentskappe enige regering se hoogste prioriteit. Sodoende word die stabiliteit van die staat in stand gehou en plaaslike en buitelandse vertroue in die staat verseker, wat op sy beurt weer die voorwaarde vir belegging en ekonomiese groei is. Dit geld des te meer in Suid-Afrika, wat met ernstige misdaad worstel en waar internasionale misdaadsindikate veral sedert die grondwetlike oorgang van 1994 besonder bedrywig is.

Nogtans doen die teenoorgestelde hom soms onder die huidige bewind voor. Juis wanneer die betrokke agentskap sy doeltreffendheid bewys, onstaan daar ongemak daarmee en word die betrokke agentskap weggedoen. Dit is wat die Spesiale Ondersoekeenheid onder oudregter Heath (die Heathondersoekeenheid) sowel as die Direktoraat vir Spesiale Operasies (die Skerpioene) te beurt geval het. Die Heathondersoekeenheid het die staat miljarde gespaar danksy die besondere magte waaroor hy beskik het en die toegewyde amptenare wat betrokke was. Dit was ook die aangewese instelling om die bewerings van korrupsie te ondersoek rondom die wapentransaksie wat reeds meer as ʼn dekade gelede die rondte begin doen het en summier op te tree. In weerwil van die ondersoekeenheid se bewese doeltreffendheid het die regering, destyds nog onder Thabo Mbeki, daarenteen besluit om hom te ontbind. Die Skerpioene was eweneens, danksy sy onafhanklikheid, toegewyde amptenare en die breë magte waaroor hy beskik het, besonder suksesvol.

Juis dié doeltreffendheid het egter die ondergang van albei die instellings meegebring. Die belangrikste rede hiervoor was eenvoudig dat dié instellings in hul ondersoeke na korrupsie en dergelike witboordjiemisdaad ook senior figure in die regering (en die alliansie) self in die visier gekry het. Die ANC-leiding het hierdie soort konsekwente doeltreffendheid onhoubaar gevind. Gevolglik moes dit uit die pad gekry word. Die Skerpioene is vervang deur die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (die Valke), wat, kragtens ʼn bevinding van die Konstitusionele Hof, nie die nodige onafhanklikheid het nie juis aangesien hy in die finale instansie verantwoording verskuldig is aan politieke hoofde in die uitvoerende gesag, wat self die onderwerp van ondersoeke kan wees.

‘n Bykomstige rede vir die ongemak met hierdie soort instellings is dat hulle ongelukkig ook by interne partystruwelinge betrokke raak en as instrument deur die een faksie teen die ander ingespan word. Dit was die geval met die Skerpioene, wat ʼn werktuig vir Thabo Mbeki teen Zuma (en sy volgelinge) geword het. Die verskynsel is deels te wyte aan die eerste verskynsel van kaderontplooiing wat hierbo bespreek is.

Die Parlementêre Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SKOOR) se vlerke is om dieselde rede geknip.

2.9. Ideologiese tweespalt teenoor die wedywering van die vrybuiterpolitiek

Die ANC word oor die afgelope dekade in toenemende mate deur sy eie interne teenstrydigheid gekenmerk na mate steeds verhewigende magstryde tussen faksies hulself voltrek. Die vegtende faksies binne die ANC word ondersteun deur strominge in die twee ander alliansievennote, Cosatu en die SAKP. In die laaste jare van die Mbeki-bewind het die onderlinge stryd konstant vererger totdat dit met Mbeki se ontseteling as partyleier en vervanging deur Jacob Zuma in Desember 2007 ʼn hoogtepunt bereik het. Die Polokwane-ontknoping en die nuwe leierskap kon egter nie blywende orde in die ANC en die alliansie meebring nie. In die aanloop na Mangaung in Desember 2012 het die temperatuur in die ANC vanweë nuwe tweespalt reeds weer so hoog soos in Polokwane gestyg.

Geanker in ʼn tradisie van ideologies ingeklede politiek, is die versoeking sterk om die ANC en die alliansie in die geheel inderdaad as ʼn (linkse) ideologiese beweging te takseer en daarmee saam ook die faksiegevegte in ideologiese terme te beoordeel. Onlangs, op 27 Februarie vanjaar, het die ANC juis weer ʼn lywige besprekingsdokument getitel The second transition? Building a national democratic society and the balance of forces in 2012 gepubliseer, wat weereens sterk ideologiese ingeklee is en opnuut stukrag verleen aan die neiging om gebeure rondom die ANC primêr ideologies te vertolk.

Die second transition is op sigself ʼn ideologiese eggo van die Oktober sosialistiese rewolusie van 1917 in Rusland na die eerste oorgang – die Februarie rewolusie (liberaal-demokratiese oorgang). Daarna volg ʼn dik waas van ideologiese taal, oorgeskryf en voorgeskryf uit woordeboeke van die ontbinde linkse beweging van die ou Sowjetunie en Mao Zedong: National democratic society, (global) balance of forces, radical conception of the NDR, the theory of transition (met ʼn tussenkomende tactical detour), ANC- a disciplined force of the left, motive forces, qualitative leap forward, contradictions that the NDR must resolve, unity and struggle of opposites, die ANC wat bydra tot die modern-day narrative of revolution, die noodsaak van ideological work en betrokkenheid in die battle of ideas.

Daar het onlangs ʼn stryd rondom die dokument ontbrand met adjunkpresident Kgalema Mothlante – ʼn moontlike aanspraakmaker op die partyleierskap – wat die paslikheid van die begrip tweede oorgang asook die ideologiese inkleding van die dokument bevraagteken het, terwyl dit daarenteen as die Zuma ideologiese platform beskou word. Dié nuwe stryd verskerp ook die indruk dat die ANC – en sy interne stryde – ideologies gedrewe is.

Teenoor, en onder die gewaad van, hierdie oënskynlike ideologiese gedrewenheid word gebeure in en rondom die ANC egter ook, en soms primêr, deur die politiek van naakte mag bepaal en moet die balance of forces eerder verstaan word as die wedywering tussen twistende politieke vrybuiters vir naakte mag en persoonlike gewin eerder as ideologiese oorwegings.

Die ANC in regering beliggaam ʼn aanloklike buit. ʼn Senior posisie in die regering voorsien naamlik nie net openbare aansien nie maar ook –
– die vermoë om kornuite in die party, staatsdiens, vervolgingsgesag, intelligensiediens, ens. aan te stel op wie se lojaliteit en beskerming daar as teenprestasie gereken kan word, wat jou onder andere teen vervolging kan beskerm en opponente kan uitknikker; en
– Die vermoë om deur die misbruik van openbare gesag in die praal van die rykmanslewe te kan blaak en boonop applous vir jou “sukses” te ontvang.

Hierdie perspektief van naakte mag en vrybuiting bring ʼn ander en waarskynlik meer realistiese insig in verskeie inisiatiewe deur, in en rondom die ANC. Wanneer die ANC die regbank se hersieningsmagte wil inkort, probeer hy nie daarmee om die deurvoer van sy ideologie van transformasie te vergemaklik nie. Daar is weliswaar verskeie uitsprake waarin wetgewing en uitvoerende besluite ongeldig verklaar en bepaalde staatsorgane tot optrede gelas is, wat lastig vir die ANC-leiding is (byvoorbeeld die Konstitusionele Hof se uitspraak oor die ongrondwetlikheid van die Valke; die Appèlhof se uitspraak oor die irrasionaliteit van die aanstelling van Menzi Simelane as hoof van die vervolgingsgesag; die Appèlhof se uitspraak waarin die vervolgingsgesag gelas is om inligting oor die korrupsiesaak teen Jacob Zuma aan die DA beskikbaar te stel). Daar is ook letterlik duisende hofbevele waardeur administratiewe besluite ongeldig bevind en staatsorgane tot alternatiewe optrede gelas is. Verskeie mense in en na aan die regering (byvoorbeeld Toni Yengeni en Allan Boesak) is ook vervolg en tronk toe gestuur. Hierdie uitsprake is egter in reaksie op klaarblyklik onbesonne wetgewende, uitvoerende en administratiewe besluite, korrupsie, administratiewe traagheid en misdaad. Dit gee egter geen blyke van ideologiese voorkeur aan die kant van die howe teen die ANC of die alliansie nie. Daar is ook geen teken dat die howe transformasie teenstaan nie. Inteendeel, in die mees sogenaamd “omstrede” uitsprake waarin die regering tot maatskaplike optrede tot voordeel van die kwesbaarste sektore in die samelewing gelas is en andersins beslis het oor die sosioekonomiese regte van kwesbare sektore in die samelewing (die Grootboomsaak, die Treatment Action Campaign-saak en verskeie ander oor die afdwing van sosio-ekonomiese regte) was die howe se ingesteldheid meer transformatief as die regering self, of was hulle daarop uit om beslissings te bereik wat sowel die aanspraakmakers van regte en die posisie van die betrokke staatsorgane in ag neem.

Boonop is die samestelling van die howe na agtien jaar van ANC-bewind per slot van rekening juis die produk van die transformasieprojek. Die werklike rede vir die frustrasie met die howe is dat die howe een soort instelling is wat die vrye gang van magsmisbruik en vrybuiterpolitiek kan belemmer. Hulle moet daarom geneutraliseer word. Beskou vanuit die oogpunt van ʼn vrybuiter moet daar wel howe wees, maar dan slegs vir die gewone mense en veral as ʼn nuttige werktuig om mededingers om die buit te neutraliseer. Daarom moet die howe met kaders met die regte partydige gesindheid beman word.

Dieselfde geld vir alle ander instellings – staatsorgane of andersins – wat ʼn stok in die speke van die politieke vrybuiters kan wees. In hierdie verband is daar reeds op die eertydse Skerpioene en die Heathondersoekeenheid gewys. Dieselfde houding geld ook met betrekking tot die polisie, die ouditeur-generaal, die media, ens. Die irritasie met mense verbonde aan hierdie instellings het eweneens beswaarlik enige ideologiese relevansie. Nie een van hulle is die ANC ideologies vyandiggesind of wil transformasie ontspoor nie. Die huidige openbare beskermer, Thuli Madonsela, se onderskrywing van transformasie staan bo verdenking. Die moeilikheid met Madonsela en haar kantoor is nie ideologies nie. Haar fout, net soos destyds in die geval van die Skerpioene en die Heatheenheid, is dat hulle hul ampspligte ernstig opneem en daarvolgens optree in plaas daarvan om vrybuiters van diens te wees. Daarom moet hulle vervang, beheer of die swye opgelê word. Om dieselfde rede is daar ongemak met sommige senior polisieoffisiere, ampsbekleërs van die vervolgingsgesag en ander instellings wat sonder aansien des persoons optree. Beskou vanuit die hoek van die vrybuiters, is die behoefte nie dat hierdie instellings professioneel en doeltreffend moet wees nie maar dat hulle die agenda van die betrokke vrybuiters moet bevorder. ʼn Korrupte of misdadige rekord van ʼn ampsbekleër in enigeen van hierdie instellings is vir hierdie doel irrelevant. Wat tel, is of die ampsbekleër die regte vrybuiteragenda dien.

ʼn Soortgelyke dinamika bepaal in beduidende mate ook die skuiwe rondom Malema. Wanneer Malema die myne wil nasionaliseer, grond wil konfiskeer en kla oor die lot van die armes, verwoord hy nie ʼn ideologiese linkse standpunt nie, soos dit dikwels vertolk word. Malema, soos talle ander tenderpreneurs, verwoord nie die belange van die armes nie. Inteendeel, vanuit die oogpunt van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party word Malema en die BEE-bevoordeelde tenderpreneurs juis as regsgesind beskou: as ʼn klein elite van kapitaliste wat hulle rykdom in ruime mate te danke het aan die projek van swart ekonomiese bemagtiging waarby net ʼn baie klein groepie swart mense gebaat het terwyl die grootste gros van swart mense daarvan uitgesluit is en steeds in armoede verkeer. In die finale instansie is die aanwending van ideologiese kategorieë in hierdie opsig nie van pas nie. Die logika van die vrybuiterpolitiek, waarin persoonlike gewin voorop staan, verskaf veel beter insig in die situasie. Malema wend bloot linksklinkende retoriek aan wat vir hom steun monster en sy posisie teen sy opponente versterk. Mathews Phosa, Tokyo Sexwale en (vir ʼn tyd lank) ook Kgalema Mothlante posisioneer hulself om dieselfde rede ook nie te ver van Malema nie. Dié posisionering het eweneens nouliks iets met ideologie te doen. Dit is eerder daarop gemik om die maksimum steun te monster na gelang van die uitkoms van die Malemasage ongeag enige ideologiese oorweging.

In die lig van die klaarblyklike afwesigheid van ideologiese samehang, ʼn gebrek aan morele leierskap en ʼn groot buit waaroor daar nog baklei kan word, is die vooruitsigte vir die bedaring van die vrybuiterpolitiek gering. Die kanse is eerder beter dat die vrybuiterpolitiek na die volgende en gevaarliker trap, die politiek van die krygshere, kan oorskakel – waarskynlik steeds ingeklee asof dit ʼn ideologiese stryd is.

2.10. Die drang na aansien teenoor die selfvernietiging van eie reputasie

Die tiende tendens met sy eie teenstrydigheid setel in die ANC se drang na internasionale aansien vir Suid-Afrika onder sy (die ANC se) beheer. Die land moet hiervolgens die gestalte aanneem van ʼn beduidende moondheid in die internasionale politiek – ʼn beskaafde, florerende land wat ekonomiese vertroue inboesem en groei, ʼn land wat moreel gegronde menseregtegegronde buitelandse beleid leiding gee en ʼn land onder die beheer van ʼn verantwoordelike regering wat met ʼn gesaghebbende stem praat. Om daardie rede het die regering die inisiatief met die (nou grootliks vergete) Afrikarenaissance en die meganisme vir onderlinge ewekniebeoordeling van Afrikastate geneem. Ook om daardie rede word besondere waarde geheg aan Suid-Afrika se (niepermanente) lidmaatskap, by twee geleenthede, van die VN se Veiligheidsraad, ʼn leidende rol in die Afrika-unie, Suid-Afrika se lidmaatskap van BRICS, ens.

Helaas, bykans asof dit opsetlik is, wissel die regering hierdie inisiatiewe om die land se internasionale rol en aansien te bevorder af met optrede wat die realisering van daardie strewe juis in die wiele ry. Hy bly noue bande behou met Kuba in weerwil van die land se isolasie en die feit dat die sosialisme daar klaarblyklik uitgedien is. Hy verkeer in ʼn onontstrengelbare omhelsing met Zanu-PF onder Robert Mugabe ten spyte daarvan dat hy die hoë ideale van die Afrikarenaissance verwoes het. Hy ondersteun Libië onder Muammar Gaddafi se lidmaatskap van die VN se Menseregteraad ten spyte van die feit dat dit Suid-Afrika se internasionale reputasie duur te staan kom. Vroeër, kort na sy bewindsoorname, het die ANC die Suhartoregering in Indonesië ondersteun in weerwil van dié se bedenklike menseregterekorden ten spyte van die feit dat dit die land se destyds glinsterende reputasie onder sy oral hoog aangekrewe regering in die gedrang gebring het. Tans maak hy homself verdag en ongewild in Afrika met wat Afrikastate dikwels as hovaardigheid en aanstellerigheid ervaar en met inisiatiewe waardeur hy homself in die oë van baie Afrikastate verdag maak, soos om die Sekretaris-Generaal van die Afrika Unie, Jean Ping, voorsitter van die Kommissie van die Afrika-unie deur sy eie kandidaat, Nkosazana Dlamini-Zuma, te vervang.
Met sy optrede binne Suid-Afrika takel die regering die land se aansien eweneens af. Knaende bespiegelinge oor nasionalisering skrik beleggers af en skaad plaaslike en buitelandse vertroue in die land onder ANC-beheer. Die regering onder die ANC is nie in staat om grensbeheer toe te pas nie, toon onvermoë om misdaad te bekamp en sy leiers tree op so ʼn manier op dat hy van homself ʼn onderwerp van afkeur en bespotting maak. Gedurende Februarie 2012 het verteenwoordigers van agt van die nege partygroepe in die Europese parlement ʼn verklaring uitgereik waarin die regering veroordeel is vanweë sy onvermoë om die slagting onder die land se boere tot ʼn einde te bring. Internasionale afkeur van hierdie aard was met die ANC se bewindsoorname heeltemal ondenkbaar. Die ANC se afknou van die media en sy poging om met die voorgenome Wet op die Beskerming van Inligting die vry vloei van inligting te keer en sodoende ook korrupsie te verberg, is selfvernietigend vir sy aansien. In Junie 2012 is hy in ʼn stap wat enkele jare eweneens heeltemal ondenkbaar sou wees deur ʼn groep Europese lande daaroor gekritiseer. Die ANC se onvermoë en onwilligheid om sy Youth League onder beheer te kry, verwoes eweneens sy buitelandse aansien. Die leierskap van die Youth League se gedrag het onder Malema en nou onder Lamola heeltemal buitensporig geraak. Die uitsprake met betrekking tot optrede teen Afrikaners (Boere) en die geweldadige afneem van grond onder blanke boere is niks minder nie as aanstigting tot kriminele geweld. Met die ondersteuning van Malema in die hof gedurende die veelbesproke haatspraaksaak na aanleiding van die Skiet die Boer-kreet, waarop reeds hierbo gewys is, is hierdie optrede uitdruklik ondersteun. Tans kondoneer die ANC-leiding met sy stilswye oor Lamola se stellings weereens hierdie aandrang op geweld. Die onderlinge magstryd binne die ANC en die alliansie is blykbaar so hewig dat geen leiersfiguur of groepering die risiko wil loop om dit af te keur en sodoende moontlik Lamola en die Youth League se steun te verbeur nie.

Vandag, agtien jaar na sy bewindsoorname, toe daar ʼn stralekrans rondom hom was, en in weerwil na die ANC se sug na internasionale aansien, het hy dus vanweë sy eie teenstrydige optrede in toenemende mate ‘n rara avis op die wêreldverhoog geword.

3. Ter afsluiting

Die tien behandelde tendense met hul gepaardgaande teenstrydighede is diep gewortelde eienskappe van die nou agtienjaaroue nuwe Suid-Afrika en is dus ook wesenlik tot die beantwoording van die vraag hoe Afrikaners hulle in Suid-Afrika onder die ANC moet inrig. Die ANC as regerende party is verdeeld en wantrouig maar om daardie rede juis onvoorspelbaar en tegelyk onbetroubaar en gevaarlik. Die land onder die ANC-bewind word gekenmerk deur een stel kragte wat die land afrem en ʼn ander stel kragte wat dit aandryf en wat teen mekaar wedywer, met eersgenoemde kragte wat die sterkste is. Die twee opponerende stelle kragte verhoed dat die land polities en ekonomies werklik suksesvol is en kan wees, maar vanweë die gunstige kragte, soos die gesonde private en burgerlike sektor, is die land terselfdertyd ook nie in ‘n vryval na benede nie. Die afremmende kragte is egter sterker as die gunstige kragte, met die gevolg dat die land in ʼn gestadigde dog konstante proses van agteruitgang verkeer, wat egter enige oomblik vinnig kan versnel indien die gunstige kragte meegee, waarna die land onbeheers in duie sal stort. Outonome instellings, los van die dinamika van die staat en die regerende alliansie, wat so spoedig as moontlik ten volle funksionerend moet wees, behoort in die lig hiervan die eerste prioriteit van die Afrikaner burgerlike samelewing te wees. In die uitbou van hierdie selfstandige instellings is die volgende drieledige ingesteldeheid vir Afrikaners noodsaaklik:

1. Afrikaners se ingesteldheid moet eerstens primêr selfverwysend wees, wat beteken dat daar na die eiebelang omgesien moet word aangesien daar geen ander kragte is wat na hierdie belange gaan omsien nie en aangesien Afrikaners as ʼn politiek onmagtige minderheid besonder kwesbaar is.

2. Tweedens moet ʼn negatiewe of vyandige ingesteldheid teenoor die staat of enige sektor van die staatsbevolking streng vermy word aangesien ongesonde intergemeenskapsbetrekkinge Afrikaners nog meer kwesbaar maak en daar bowendien geen besondere heil in ʼn vefvallende staat is nie – juis ook nie vir Afrikaners nie. Nogtans behoort Afrikaners nie primêr aan die staatsbelang aandag te gee nie, aangesien dit-
o skaars energie verspil;
o nouliks enige impak kan hê; en
o volgens alle aanduidings hulpaanbiedinge deur Afrikaners aan die staat oor die afgelope agtien jaar nie in regeringskringe as welkom nie maar eerder as ʼn onwelkome irritasie beskou word.

3. Derdens moet geen party, met inbegrip van die ANC, as strategiese opponent of vyand van die Afrikaner beskou en behandel word nie. Die rede hiervoor is dat Afrikaners hulself nie in die eerste plek (en in samewerking met ander kragte) opstel as ʼn faktor teen die ANC om regeringsmag in die Suid-Afrikaanse staat te verower nie, maar as ʼn selfstandige en outonoom funksionerende gemeenskap met sy eie veilige ruimtes.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.