’n Plek onder die Afrika-son – Dr. Willa Boezak

 ’n Maand of wat gelede het die Menseregtekommissie ’n verslag die lig laat sien getitel: National Hearings Relating to the Human Rights Situation of Indigenous Peoples in South Africa. Dit het gedurende 2015 en 2016 plaasgevind en hoewel die titel wollerig is, het dit spesifiek oor die sorge en huidige situasie van die Khoi-San gegaan. Dit was dr. Danny Titus, toe nog ’n lid van hierdie kommissie, se inisiatief, en daarna het dit op die tafel van ’n nuutaangestelde kommissaris, eerw. Chris Nissen, beland. Hy het sowaar op nasionale televisie al die betrokke departemente, wat veronderstel is om die Khoi-San saak te bevorder, gewaarsku dat die MRK hieroor gaan wys dat hulle “byt” het. Na die verhore het hulle die verklarings in verskillende kategorieë opsommend verdeel en ten slotte duidelike aanbevelings gemaak. Wat verder uitstaan is dat die regsposisie van die Khoi-San binne die breër, internasionale raamwerk geplaas is, soos gesien deur bril van die Verenigde Nasies en die Afrikakommissie.

Hoewel hierdie hoëvlak-intervensie die Khoi-San met betrekking tot hul regte tans op ’n uitstekende plek plaas, is dit die kulminasie van baie jare se pogings, insluitend aktivisme, van ons land se eerste inheemse mense om hul plek in die nuwe demokratiese bedeling te verseker. Maklik was dit beslis nie omdat selfs ’n sterk Griekwaleier soos wyle Opperhoof A.A.S. le Fleur II destyds toegang tot die Kodesa-onderhandelinge geweier was. Dit beteken dat die Khoi-San reg van die begin af nie hul sorge en vrese ten opsigte van hul plek in die nuwe Suid-Afrika daar kon artikuleer nie. Sy Griekwa Nasionale Konferensie, en kort daarna die ǂKhomani-San, het hul toe genoop gevoel om hulle in 1995 tot die VN te wend – tot verleentheid van oudpres. Mandela. Laasgenoemde het dit ernstig genoeg geag en ’n reeks aksies tot voordeel van die Khoi-San geloods. Die eerste was om in 1997 plaasgrond aan die Boesmans te gee, nadat hul destydse leier, Oom Dawid Kruiper, honderde kilometers vêr vanaf die Kalahari na die parlement gestap het. Kruiper het later getuig: “My wraak-gevoelens het verdwyn toe ek die nat grond onder my voete voel.”

’n Raad vir die vyf hoofgroeperinge (t.w. die Griekwa, San/Boesmans, Kaapse Khoi, Nama en Korana) is daarna in 1999 daargestel om amptelik oor veral die grondwetlike erkenning van hul leiers en gemeenskappe te onderhandel. Dat dit tot vandag, ondanks vordering op hierdie gebied, nog nie afgehandel is nie, toon dat die regering met ’n kat-en-muis spel besig was. Die destydse Departement van Plaaslike Regering het bv. in 1999 ’n intensiewe ondersoek aangaande die tradisionele leierskapstrukture van die Khoi-San onder leiding van twee ervare historici, naamlik, profs. Henry Bredekamp en Nic Olivier van stapel gestuur. Ekself was verantwoordelik vir die Nama. Daarna is die sogenaamde Status Quo Report se bevindinge versmoor. Ons moet ook in gedagte hou dat dieselfde kulturele menseregte, gepaardgaande met allerlei finansiële voordele, reeds vanaf 2004 aan (swart) tradisionele leierskappe toegestaan is. Onse diepgaande gevoelens van uitsluiting en onreg moet dus nie onderskat word nie. Die VN se destydse hoëkommissaris vir inheemse regte, prof. Rodolfo Stavenhagen, het selfs in 2005 op die pleidooie van die Khoi-San gereageer deur self ons land te besoek en rigtinggewende aanbevelings gemaak. Hierdie lidland het hul egter nie daaraan gesteur nie.

Terug by die MRK se verslag van 2018. Daarin kry die identiteitskwessie pertinente aandag, naamlik, dat die term “Kleurling” verwerp word en dat die Khoi-San daarop aandring om as sodanig in sensusopnames en ander amptelike stukke aangedui te word; dat hul status as eerste nasie wetlik erken moet word en dat hul behoefte aan grond dringend aangespreek moet word. Die term “Kleurling” is natuurlik nie ’n apartheidskepping wat vir die eerste keer in die Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950 verskyn nie. Reeds na die afskaffing van slawerny in 1834-38 het die Britse koloniale regime die vryslawe en oorblywende Khoi-San saamgegooi as die nuwe werkersklas en people of colour genoem. Vêrregse Khoi-aktiviste eis nou groot dele van die land bv. “Van die Kaap tot by die Visrivier omdat óns die eerste bewoners en eienaars” is – ’n hopeloos onrealistiese verwagting. Die MRK, daarenteen, praat heel nugter van “toegang tot grond”. Wat my ontstel van die andersins uitstekende verslag is hul hantering van die taalkwessie.

In my vorige artikel, Afrikaans my hartstaal, vertel ek van die eerste inheemse mense se aandeel. Daarom kan Khoi-San-mense nie stilbly oor die afskaling van die taal soos bv. aan die Universiteit van Stellenbosch en die UV nie, omdat dit deel van ons kulturele erfenis is. Daaroor het ek spesifiek by die MRK-verhore uitgebrei. Tog, vreemd genoeg, ignoreer hulle dit toe heeltemal en weergee ’n eensydige siening van ons verhouding met Afrikaans. Terwyl die MRK-verslag deeglik deur navorsing onderskraag is met voetnote daarby, is dit bejammerenswaardig dat slegs ongenuanseerde menings soos aan Stavenhagen oorgedra (“Dis deur die koloniste op ons afgedwing”) beklemtoon word.  Dit, sonder melding van die deeglike taalkundige bevindings van prof. Christo van Rensburg, soos deur my by die verhore genoem. Ook word die vroeë, proaktiewe bevordering van Afrikaans deur groepe soos die Oorlamme en Griekwas, wat verwesters het, verswyg. Ja, dwang was wel betrokke, soos wat die Franse Hugenote ook gedwing was om te verhollands, maar die ontstaan van Khoi-Afrikaans as eerste vergestalting van die taal word heeltemal misken.

’n Geldige kwessie waaraan almal in die Afrikaanse taalgemeenskap toenemend sal moet werk, ook die FAK, is die verwydering van sienings oor die “meerder- en minderwaardige” gebruik daarvan. Die Khoi-San is ’n Afrikaanssprekende gemeenskap, punt. Ek luister nou die aand weer na die suiwer, pragtige Afrikaans wat mnr. Petrus Vaalbooi, nuutverkose leier van die ǂKhomani-San, praat, maar met ’n Kalahari-aksent. Hoekom sou dit as minderwaardig geag word teenoor die ronde ô-uitspraak vir ma en pa? Die MRK bevind dat “… the particular form of Afrikaans broadly spoken by indigenous peoples, are often side-lined, leaving indigenous peoples feeling excluded and isolated from mainstream society”. Hierdie soort taalklassisme verswak Afrikaans se posisie en dit hoef nie so te wees nie.

Al hierdie uitdagings, eise, woede en versugtinge van Suid-Afrika se Khoi-San laat my dink aan ’n brief van my aan Rapport (Metro), gepubliseer op 11 Julie 1999.

Quo Vadis, Kaapse Kleurling?

Gefabriseer oor drie eeue heen via koloniale geweld en landroof, breinspoeling en byna genetiese manipulasie, vreemde ideologieë en vreemde gelowe, ongedwonge liefde en opgedronge saad; vergete helde: uitgesproke Autshumao, verskeurde Krotoa, te vroeg gestorwe Ngonnemoa, groothart Stuurman; verset en vryheidsbloed 1510, 1659, 1673, 1799; magtelose weerloosheid teen Europese pokke; mengelmoes taal en bitter moedersmelk; Sara en Schmidt; mishandeling en onderdompeling; vrees en hoop; stempels van Verwoerd, papiergeweld, groepsgebiede en stootskrapers, swart bewussyn, Barbie-poppe en rooi gevaar, gryse identiteit; kultuurarmoede van snoek, patats en klawerjas; bergies en druggies, wella-straight en selfveragting; oerritmes van kannie-worry-nie en heerlike oorlewing; bruisende talente en verminkte selfbeeld; latente woede en wrange humor; dopstelsel en dronkverdriet, verwarde denke en sweefvlug genialiteit. Van Khoisan tot ‘Kleurling’ – ’n tragi-komedie. Dis nie ons skuld nie. Dis ook nie ’n skande om in onkunde gebore te word nie. Dis net ’n skande as ons daarin bly. Ons pragtige, ryk en outentieke geskiedenis, kultuur en taal is mettertyd afgemaak en afgebreek as barbaars, heidens en afgodies. Dood gewaan. Uitgewis gewens. Tot vergetelheid gedoem. Vervang met Eurosentriese individualisme en grypsug. Vriendelikheid is aangesien vir swakheid en deemoed vir stompsinnigheid. Maar God het nie Sy kinders vergeet nie, want Hy het hulle geskape as Khoi-Khoin: ménse-mense. Kinders van Afrika. Vir millennia al. Gebêre om in Thabo se droom van ’n Afrika Herlewing weer hul plek te vind. Amper pre-destinasie.

Willa Boezak,

Khoi-San navorser en skrywer.


Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.