’n Sin vir plek

Die Carel Boshoff-gedenklesing

Orania, 15 Junie 2012

Die oogmerk van die lesing hieronder is om enkele belangrike onderskeidinge aan te lê. Dit is immers in en deur onderskeidinge dat ons die dinge beter verstaan. So byvoorbeeld kan ons die mens beter verstaan as ons hom of haar van dinge soos diere, plante en klippe onderskei. Hierdie waarheid is ook op die nalatenskap van Prof Carel Boshoff van toepassing. In en deur enkele onderskeidinge kan hierdie nalatenskap helderder aan die lig tree. In die hart van hierdie nalatenskap staan die idee van “plek”. Ons sal telkens hieronder daarna terugkeer.

A. Die eerste onderskeid wat ons kan help om dié nalatenskap te begryp, is die onderskeid tussen ‘land’ en ‘see’. Ek sluit in hierdie verband losweg aan by Carel Schmitt se pragtige boek, Land en See. Mense, kulture, tydperke en idees kan in ooreenstemming met die onderskeid tussen land en see ingedeel word. Engeland en Nederland is op die see gerig, Duitsland en Rusland is/was op die binneland gerig; die pre-moderne wêreld is land-gerig, die moderne wêreld is see-gerig; konserwatiewes is land-gerig, liberales hou van die see. Suidelike Afrikaners is daartoe geneig om meer see-gerig te wees, noordelike Afrikaners is sterker op die land gefokus. Prof Carel Boshoff was land-gerig. Wat word daarmee bedoel?

(i). Die see is ’n metafoor van onbegrensdheid. Kulture wat deur die see gekenmerk word, ervaar grense as ’n hindernis. Hulle verkies die onsekerheid en beweeglikheid eie aan die see.

(ii). Die land daarenteen is ’n metafoor van begrensing. En die wil om dit in beskerming te neem. Tipies hiervan is die verskynsel van die kasteel, waar grense getrek word. Vir landkulture is grense ’n redding, sekerheid is hulle element. Volgens hulle maak grense ’n woning, ’n egte tuiste, moontlik.

Prof Carel Boshoff. Die sentrale metafore wat sy wêreld kenmerk, is grond, land, grense en woning. Afrikaners lê vandag oormatig klem op die see. Ons word eensydig see-mense, ons gaan oorsee en emigreer, ons beweeg, ons skud grense af, ons raak tuisteloos. Ons staan voor die uitdaging om weer ons sin vir grond, land, grens en tuiste te herwin. Die voorbeeld van Carel Boshoff is van iemand wat keerwalle opgerig, grense aangelê en ’n vesting gebou het. As prof. Boshoff gesê het dat die vraag na grond die grondvraag is, het hy by implikasie kritiek uitgespreek teen die verabsolutering van die see as leidende beeld vir ons mense. Nie die see nie, maar grond en die begrensinge wat dit moontlik maak, skep ’n tuiste.

B. Die onderskeid tussen see en land gaan met twee radikaal uiteenlopende idees van vryheid gepaard. Dit hou verband met die verskil tussen ’n liberale en ’n konserwatiewe idee van vryheid.

(i). Op die see is ek in die eerste plek vry omdat ek “vry is van”. Van wat? Van die grense wat die land en sy ordes aan ons oplê. Die Europese proses van kolonisering is deur hierdie idee van vryheid onderlê. Koloniste was vry omdat hulle vry gekom het van die ou Europese wêreld met sy grense, sy sekerhede, sy tuistelikheid. Vandag is hierdie idee van vryheid miskien die dominante een. Die heersende liberale orde dwarsoor die Westerse wêreld is op die beeld van die see “gegrond.” Die “see” dikteer ons politieke verbeelding.

Laasgenoemde kom veral tot uitdrukking in die liberale opvatting van die mens (en in die besonder in die idee dat ons as mense bloot individue is): Vandag beteken vryheid om vry te wees van die gesag van ons kulture, van ons volke, van ons gemeenskappe, van ons gesinne, sodat ons self as individue kan besluit oor hoe ons ons lewe wil inrig. “Keusevryheid” is daarom ook die sleutelwoord tot die verstaan van ons ganse orde. Of soos James Kalb dit in sy belangrike kritiek op die liberalisme stel, die woord “keuse” is sy slagspreuk, sy bemarkingscliché.

(ii). Vanuit die beeld van die land gesproke is ’n ander idee van vryheid aan die werk. Op die land is ek nie “vry van” nie, maar “vry vir”. Maar vry vir wat? kan mens vra. Vry in die eerste plek om grense om jou te trek en jou veiligheid na te jaag; maar tweedens ook vry om binne daardie grense gemeenskap te stig; derdens vry om geregtigheid na te jaag en so te sorg dat almal toekom wat hulle verdien; en laastens vry om die hoogste na te strewe.

(iii). Afrikaners was vanaf hulle eerste oomblikke deur beide gekenmerk. Ons voorouers wou “vry kom van” die ou wêreld (en in die binneland vry van die gesag van die Hollandse administrateurs aan die Kaap, die Britse Empaaier, ensovoorts), maar (en dit was die belangriker motief) ons wou veral “vry wees vir” ’n lewe in veiligheid, vry vir ’n lewe in gemeenskap met ons eie, vry om ons sin vir geregtigheid na te jaag, en uiteindelik vry om in ooreenstemming met ons hoogste ideale te lewe.

Vandag bestaan die neiging om te veel klem op vryheid as “vry van” in die individualistiese sin van die woord te verstaan. Ons loop die gevaar om ’n losse versameling van individue te word wat slegs vry is wanneer hulle hul eie private agendas kan najaag. Prof. Carel Boshoff? Is beide by hom aanwesig? Hy het nie onbegrip vir vryheid in eersgenoemde sin getoon nie. ‘Vryheid vir’ voer egter by hom die botoon. Sy republikanisme word by uitstek daardeur gekenmerk: Hy het ’n toestand nagestrewe waar ons as volk vry kan wees vir

C. Dit bring ons by ’n volgende onderskeid. In die verlengde van die onderskeid tussen see en land kan ons ook ’n onderskeid maak tussen ruimte en plek. Ook hierdie onderskeid help ons om die werk en nalatenskap van Prof Boshoff duideliker te verwoord.

(i). Die beeld van die see is ’n “ruimtelike” metafoor, die beeld van die land is ’n metafoor van “plek”. Wat word met die onderskeid tussen ruimte en plek bedoel?

(ii). Die moderne wêreld word geregeer deur die gedagte van ruimte. Dit vind onder meer uitdrukking in die wyse waarop die moderne mens oor die denke self nadink. Die moderne mens gaan uit van die gedagte dat die denke by uitstek te doen het met die poging om ’n soort geometriese ruit op alle dinge neer te lê. As ons die koördinate van die geometriese ruit wiskundig kan bereken, sê die moderne mens, kan ons die dinge ken en – belangriker nog – kan ons dit ook beheer.

Die idee dat ons denke die werklikheid ruimtelik kan vasvat, vind in die moderne wêreld veral uitdrukking in die moderne territoriale staat, wat ’n geometriese ruit op natuurlike landskappe en inheemse kulture neerlê, met die doel om dit te beheer. Die state in Afrika is ’n tipiese voorbeeld hiervan: Geometriese ruite is daarop neergelê. In die proses is natuurlike landskappe en inheemse kultuur-gemeenskappe of etnisiteite op ’n omvattende wyse kunsmatig ingedeel en bykans na willekeur rondgeskuif.

Apartheid is ’n dubbelsinnige manifestasie van dieselfde verskynsel. Enersyds is apartheid sterk deur ’n sin vir plek gemotiveer. Maar andersyds het apartheid rondom dinge soos trekarbeid, instromingsbeheer en die gedwonge verskuiwing van mense ook gesteun op die metafoor van ruimte as geometriese ruit. In hierdie sin was apartheid ’n tipiese moderne verskynsel. Vandag vind die voorkeur vir ruimtelikheid veral uitdrukking in die globale ekonomie, wat die wêreld ervaar as ’n geometriese ruit waarop arbeid en kapitaal vanuit die lokale verbintenisse losgemaak en na willekeur rondgeskuif kan word. So asof arbeid en kapitaal nie ook plekgebonde is nie. Miskien is die era van globalisering self ’n era waar die “see” as metafoor met die metafoor van “elektrisiteit” opgevolg word. In en deur die globale netwerke laat elektrisiteit immers ’n nog groter vorm van onbegrensdheid en ’n nog groter vorm van beweeglikheid toe.

(iii). Maar dit bring ons juis by die verskynsel van plek. As die moderne wêreld toenemend in ons denke, ons staatlike strukture en ekonomiese ordes deur die metafoor van ruimte geregeer word, was die ou wêreld ’n wêreld wat ’n sin vir “plek” gehad het. Wat beteken dit?

Plekke is dinge waaraan ’n mens geheg is. Waarom? Omdat plek in die egte sin van die woord ’n besondere en dikwels selfs ’n heilige betekenis vir ’n mens het. In ’n era van onbegrensdheid en hoë beweeglikheid verdwyn betekenisvolle of selfs heilige plekke. Maar in die ou tyd is plekke geëer, gevier en beskerm. ’n Mens dink hier aan natuurlike landskappe soos riviere, berge, woude, woestyne, ensovoorts, maar ook aan kulturele plekke soos jou geboortehuis en -grond, jou moederland, jou eie stad met sy kerke, sy raadsale, regbanke, pleine, teaters, skole, universiteite, kuierplekke en stadions. Aan hierdie dinge is jy geheg.

Wendell Berry, bekende Amerikaanse skrywer, verwys in sy onlangse Jefferson-lesing dat ’n plek-mens ’n “sticker” is, dit wil sê iemand wat aan plekke vasgeheg is. Daarenteen is ruimtelike mense, dit wil sê mense wat onbegrens beweeg en geen besondere lojaliteit teenoor enige plek ken nie, “boomers”. Laasgenoemde ken nie ’n lojaliteit teenoor plek nie, nee, hulle vra eerder watter wins hulle daaruit kan maak alvorens hulle weer verder beweeg.

Prof Carel Boshoff was nie ’n “boomer” nie, maar ’n “sticker”. Hy was iemand wat aan plek geheg was. ’n Gehegte mens is iemand wat in en deur sy hegtinge lewe. Daarsonder is die lewe nie moontlik nie. Plek gee aan jou wortels, ’n staanplek, ’n vaste oriënteringspunt, ’n gevoel dat ek behoort. Sonder hierdie hegting is ons nie net ontwortel, vryswewend en sonder lojaliteit nie, maar uiteindelik ook sonder die bereidheid om jouself vir jou gemeenskap, jou volk of jou kultuur op te offer.

Tipies van plekke is dat hulle in die lokale en die besondere aangetref word. ’n Plek is nooit in die abstrakte aan te tref nie, maar is altyd hierdie of daardie waterval, hierdie of daardie bergpiek, kerkgebou, stadsplein of huis. Anders as ruimtes (en geld) is plekke nie abstrak en daarom ook uitwisselbaar nie. Plekke is nie soos die kitskosrestaurante op ons hoofweë nie. Laasgenoemde is abstrakte ruimtes. Daarom lyk en voel hulle presies dieselfde lyk. En stel hulle ons bykans sonder uitsondering teleur.

Plekke daarenteen maak ons verbeelding los, hulle herinner ons aan oertye, aan die heilige, aan die feit dat die sigbare nie die laaste woord het nie. ’n Plek soos ’n rivier is daarom ook nie net ’n rivier nie, maar ’n plek waar ons die stem van oertye hoor, ’n berg die woonplek van die gode, woestyne plekke waar God sy wil bekendmaak en Christus deur die bose uitgedaag word. Ruimtes daarenteen is volledig sekulêre plekke, sonder verbeelding, sonder engele en God. Hulle laat ons diep onvergenoegd.

Kortom, plekke heg. Abstrakte ruimtes daarenteen laat ons onverskillig. Plekke ontlok by ons sorg, ruimtes gaan argeloos by ons verby. Plekke lok ons aandag die dieptes in, ruimtes hou ons blik op die horisontale vasgepen.

Afrikaners is grotendeels plekgebonde mense. Verstommend gou nadat ons die binneland ingetrek het, het ons begin om vir die land te sorg. Dit getuig van ’n diepe sin vir gehegtheid. Lenie Retief, vrou van Piet Retief, is hiervan sekerlik ’n tipiese uitdrukking. Kort na die moord op haar man, haar twee seuns en skoonseun, skryf sy aan haar broer: “Stuur vir my ’n kissie vrugtebome, want ek wil plant in die nuwe land”.

Dieselfde boodskap blyk uit die brief van ’n onbekende vrou kort na die Tweede Vryheidsoorlog. Sy skryf op 4 Augustus 1902 as volg:

Daar is nou vrede in die land, maar nie soos ons verwag het nie. Die twee klein Republieke bestaan nie meer nie. Almal van ons het ons wapens verloor. Maar ons moenie treur soos een wat geen hoop het nie. Ons moet glo en hoop en vertrou. Ons besit op die oomblik vier perde, twee muile en ’n paar skape. Gister het ek ’n emmer koring gesaai. Sodra ek kan, sal ek nog saai en plant. As Pa van Ceylon af terugkom, sal ons spoedig weer ’n boerdery op die been kan bring.

Vanaf ons eerste oomblikke word ons verbeelding deur ons landskappe aangegryp. Gaan lees ons groot skrywers, wat dikwels verbeeldingryke lofliedere daarop sing. Maar ons verbeelding word ook deur die plekke waar ons geskiedenis gemaak het, aangegryp. Gaan lees ons heroïese verhale – dit getuig van plekke wat vir ons heilige betekenis gekry het. Die Vrouemonument in Bloemfontein is hiervan die mees uitnemende voorbeeld: dit is heilige grond.

Afrikaners lê vandag te veel klem op ruimte en beweeglikheid. Diegene wat dié klem plaas, dink ons kan sonder meer ons tentpenne uittrek, ons wortels afkap en onsself moeiteloos verplaas. Ons plek-bewussyn gaan so verlore. Die erfenis van prof. Carel Boshoff is by uitstek ’n erfenis wat draai rondom ’n sorg vir plek. Reeds verstommend gou na vestiging op Orania het hy diep geheg daaraan geraak. Daarom het hy homself ook – in ’n grootse akte van selfopoffering – daarvoor gegee.

’n Sentrale motief in Prof Boshoff se nalatenskap is die motief van selfopoffering. Gemeenskap, volk en kultuur word deur hierdie motief gevoed. Ook Orania word deur hierdie motief gevoed. Orania bestaan by grasie van die bereidheid om op te offer. Maar, en dit is die belangrike punt, hierdie motief word ten diepste deur ’n gehegtheid aan plek moontlik gemaak. ’n Mens is bereid om alles vir ’n plek te gee. Abstrakte ruimtes daarenteen ontlok nie selfopoffering nie. Nee, hierdie ruimtes ontlok eerder onverskilligheid en ’n verbyry, ’n verbygaan en ’n vergeet.

Sonder die gehegtheid aan plekke en die bereidwilligheid om daarvoor op te offer, is gemeenskappe, volke en kulture nie moontlik nie. Prof Boshoff is die mees uitnemende voorbeeld van selfopoffering in die resente geskiedenis van die Afrikaners. In ’n tyd wat aan plek-vergetelheid ly, eer ons hom daarvoor.

D. Bogenoemde onderskeiding tussen ruimte en plek bring ons by die staatkundige implikasies hiervan. Ruimte en plek roep verskillende opvattinge van die staat op. Ons het reeds hierbo inleidend daarna verwys.

(i). Die moderne staat is ’n staat van ruimtelikheid. Moderne state strewe daarna om hulle onderskeie landskappe aan sy burokratiese masjinerie te onderwerp. Hulle doen dit deur ’n geometriese ruitpatroon op alles en almal af te dwing. Die prys wat daarvoor betaal word, is om kulturele gemeenskappe binne hulle territoriums te vernietig. Die burokratiese masjinerie van die staat ken net gelykstelling, nie die erkenning van die unieke en die sonderlinge nie. As daar ’n gemeenskap is wat hulle dien, is dit bykans sonder uitsondering die meerderheid, dikwels met tragiese gevolge vir minderhede. ’n Tipiese voorbeeld hiervan is die wyse waarom die moderne Franse territoriale staat die veelheid van taal- en kultuurgemeenskappe aan sy burokratiese masjinerie onderwerp het. Vandag is nog slegs die reste van hierdie gemeenskappe sigbaar.

(ii). Maar hoe lyk ’n ‘staat’ wat ’n sin vir plek het? Histories gesproke was die Klassieke stadstaat of polis ’n politieke orde wat ’n sin vir plek gehad het. Plato se Republiek, ’n drama oor die Klassieke stadstaat, kan kwalik sonder die verwysing na betekenisvolle plekke soos die plek van aanbidding buite die stadsgrense, die feestelike optog in hierdie of daardie straat, die markplein, ensovoorts, verstaan word nie. Uit hierdie werk kan afgelei word die stadstaat by uitstek ’n republiek van plek genoem kan word. Sy wil om alles ruimtelik te organiseer en burokraties te beheer, was – in vergelyking met die moderne territoriale staat – uiters gering. Nog voorbeelde hiervan is die ryk vanuit die Middeleeue en die moderne federale staat wat by dié erfenis aansluit. Dit is ordes wat die partikuliere minderhede toelaat om ’n eie plek in te neem.

(iii). Waarskynlik is daar nie ’n gedagte wat so direk met die erfenis van Prof Boshoff verbind word as die gedagte van die volkstaat nie. Maar wat is, veral gesien teen die agtergrond van bogenoemde verskil tussen ruimte en plek, daarmee bedoel? Alhoewel Prof Boshoff in sy nadenke oor die volkstaat homself op die voorbeeld van die moderne territoriale staat beroep het, was hier veel meer op die spel. Anders as wat gewoonlik met die woord ‘volkstaat’ bedoel word, was plek eerder as ruimte by hom die dominante motief. Sy politieke verbeelding is deur plek oorheers. Dit is daarom ook geen wonder nie dat Prof Boshoff, in weerwil van sy aansluiting by apartheid, tegelyk ’n kritiek daarop ontwikkel het nie. Sy kritiek het ten diepste gedraai rondom sy afwysing van die begrip ‘ruimte’ en die krisis waartoe laasgenoemde aanleiding gee. Prof Boshoff het besef dat die apartheidstaat sy ruimtelike beheer oor die ganse Suid-Afrika sal moet prysgee. Ruimtelike beheer in die vorm van dinge soos gedwonge verskuiwing en instromingsbeheer lei tot onreg, was die stemming ten grondslag van sy werk. Daarom moes die land radikaal verdeel word.

Maar verdeel in terme van wat? In aansluiting by die gesprek hierbo, die land moes so verdeel word dat die volke hulle plek kon vind. In hierdie sin adem die ‘volkstaat’ die gees wat die stadstaat uit die Klassieke en die federale state uit die moderne wêreld deurtrek. Kortom, in die mate waarin die ‘volkstaat’ aansluiting soek by die gedagte van plek (en nie by die gedagte van ruimte nie), in daardie mate verteenwoordig dit ’n radikale alternatief op die staatlike obsessie met ruimtelike beheer waarmee ons vandag ook in Suid-Afrika te doen het.

Soos geen ander Afrikaner in die resente geskiedenis van ons volk nie, het Prof Boshoff rondom hierdie idee die weg na die toekoms gewys: Weg uit die tirannie van ruimtelike beheer en terug na die tuistelike plek, daar waar ons eg kan woon, en vry kan wees.

E. Dit bring ons by die volgende en voorlaaste onderskeid. Alhoewel Prof Boshoff dit na my wete nooit in hierdie terme geformuleer het nie, staan die onderskeid tussen ‘instellings’ en ‘praktyke’ (sowel as die oogmerke ten grondslag van elkeen) sentraal in sy lewe en werk. Wat word daarmee bedoel? Wat lê opgesluit in die onderskeid tussen instellings en praktyke? Ons sluit in hierdie verband ten nouste aan by die grootste gemeenskapsdenker van lons tyd, Alasdair MacIntyre. Instellings is dinge soos skaakklubs, universiteite en (om ’n belangrike voorbeeld uit die Klassieke tyd te noem) die stadstaat.

En praktyke? Praktyke is daardie dinge wat deur instellings moontlik gemaak word, soos – om by die voorbeelde te hou – die praktyk van skaakspel, die praktyk van dosering en navorsing, asook die praktyk van deelname aan die politieke lewe. Nou, die kenmerkende van instellings is dat hulle doel nie in hulle self opgesluit lê nie, maar in die praktyke wat hulle moontlik maak. Byvoorbeeld, ’n instelling soos ’n skaakklub bestaan nie ter wille van homself nie, maar ter wille daarvan om goeie skaakspel moontlik te maak. Net so bestaan die instelling van die universiteit nie ter wille van homself nie, maar om goeie dosering en navorsing moontlik te maak; terwyl die stadstaat op sy beurt nie ter wille van homself bestaan nie, maar ter wille daarvan om goeie deelname – of die verwesenliking van die gemeenskaplike goed – moontlik te maak.

Anders as met instellings lê die doel van praktyke in hulself opgesluit. Ons speel skaak ter wille daarvan om in die eerste plek goed skaak te speel; ons doseer en doen navorsing om in die eerste plek goeie dosering en navorsing te doen; ons neem in die eerste plek aan die sake van die stadstaat deel ter wille van ’n goeie deelnemende politieke lewe.

Kortom, instellings maak praktyke moontlik waarin die goed eie aan elkeen van hierdie praktyke (die goed eie aan skaakspel, die goed eie aan dosering en navorsing, die goed eie aan politieke deelname op die stadspleine van die stadstaat) aangemoedig word.

U sou vir my kon vra wat dit alles met die nalatenskap van Prof Carel Boshoff te doen het. My antwoord daarop is kort, naamlik ‘alles.’ Die rede daarvoor blyk die beste as ons in ag neem wat gebeur wanneer daar krisisse in die onderskeid tussen instellings en praktyke na vore tree.

Ons lewe vandag in ’n tyd waarin die wêreld van praktyke soos wat dit hierbo omskryf is nie meer noodwendig met die oog op die voortreflike beoefening van die praktyke self nagejaag word nie. So beoefen ons nie meer noodwendig die akademie ter wille van die goeie akademiese lewe nie, maar eerder om in en deur my akademiese doenigheid roem, aansien en rykdom buite-om die universiteitswese te verwerf. Dieselfde is waar van ’n praktyk soos die politieke lewe. Laasgenoemde word toenemend instrumenteel ingespan om oogmerke buite-om die praktyk van die politieke na te jaag.

Dit bring my by Prof Boshoff. As ’n mens tussen die lyne lees, is ’n deurlopende tema by hom ’n diepliggende kritiek op die tendens in ons politieke lewe om laasgenoemde bloot as instrument ter bevordering van ’n eie private loopbaan in te span. Vanaf ten minste die 70’er jare van die vorige eeu was laasgenoemde ongelukkig ’n sterk tendens onder Afrikaners.

Andersom geformuleer, ’n deurlopende tema in Prof Boshoff se denke is ’n diepliggende kritiek op die feit dat Afrikaners daartoe neig om te vergeet dat die praktyk van die politieke oor voortreflike deelname met die oog op die verwesenliking van iets soos die gemeenskaplike goed gaan. Hoe kan ons Orania vanuit hierdie oogpunt beskou? Orania word tereg – en dit is wonderlik so – ’n groeiende instelling. Prof Boshoff was buitengewoon trots daarop. Trouens, ons almal is trots daarop. Alhoewel dit nie sy presiese woorde is nie, het Prof Boshoff nogtans Orania altyd weer aan die volgende herinner: Orania as instelling bestaan nie ter wille van homself as instelling nie, maar ter wille van die praktyk van voortreflike politieke deelname met die oog op die verwesenliking van die gemeenskaplike goed. In aansluiting by die republikeinse tradisie het hy dit as ‘vryheid’ ervaar: Vry is hy of sy wat deur hulle deelname aan die politieke lewe daartoe bydra dat die gemeenskaplike goed verwesenlik word. En juis dit is die grootste opdrag van Orania. Ook in hierdie herinnering aan die dieper motiewe ten grondslag van die politieke lewe lê die grootsheid van die Boshoff-erfenis opgesluit. Ons eer sy nagedagtenis daarvoor.

F. Dit bring ons by die laaste en belangrikste onderskeid. Die onderskeidinge waarna hierbo verwys is, moet in die lig daarvan beoordeel word.

Ons verwys na die onderskeid tussen God en mens. In en deur hierdie onderskeid word al die onderskeidinge waarna hierbo verwys is, verstaanbaar. Soos Prof Boshoff se voorkeur vir die kleiner wêreld van die begrensde, sy voorkeur vir plek, sy voorkeur vir die spesifieke opvatting van vryheid waarna hierbo verwys is, sy voorspraak vir die politieke lewe in diens van die goeie, sy opvatting van die volkstaat. Hierdie dinge maak slegs in die lig van die onderskeid tussen God en mens sin.

Waarom? Ek antwoord met ’n omweg.

Die geskiedenis van die republikeinse beweging is ’n geskiedenis vol spanninge en teenstrydighede. Eintlik is daar nie so iets soos dié republikeinse beweging nie. In werklikheid is daar slegs ’n veelheid van republikeinse bewegings. As ons dit kan vereenvoudig, kan gesê word dat die republikeinse beweging tussen ‘arrogante’ en ‘nederige’ republikeine verdeel kan word.

Die Franse rewolusionêres en in die besonder die Jakobyne is ’n voorbeeld van dié stroming in die republikanisme wat as arrogant beskryf kan word. ‘Arrogant’, omdat hulle uitgegaan het van die standpunt dat hulle rewolusionêre republiek nie net met die ganse verlede gaan wegdoen nie, maar dat hulle ook in staat sal wees om ’n nuwe era in te lei, ’n era waarin die mens voortaan self (dit wil sê as volledig outonome wese) sy eie toekoms sal bepaal.

Prof Boshoff se republikanisme, soos wat dit in sy volkstaatgedagte neerslag gevind het, verskil in ’n wesenlike opsig hiervan. Sy republiek is ’n nederige republiek. Dit is nie ’n republiek wat op ’n wêreldmissie uit is nie, dit is nie ’n republiek wat arrogant sy oppergesag oor alles en almal uitroep nie, dit is nie ’n republiek wat volledige beheer oor sy ruimte neem en almal aan die tirannieke wil van die meerderheid onderwerp nie. Nee, sy republiek is gerig op ’n sorg vir die kleine, die breekbare, die spesifieke kulturele erfenis, die eie lokale idioom, die unieke vertelling, die besondere geskiedenis. Sy republiek is ’n nederige republiek.

Waarom? Die arrogante republiek wil ten diepste met elke beroep op ’n transendente krag en in die besonder met die gesag van God wegdoen. God staan in die pad van sy strewe na volle outonomie. Elke mag wat sy eie aansprake relativeer, moet opgehef word. Die republiek van Prof Boshoff daarenteen is nederig, omdat hy homself ten diepste as afhanklik van ’n kragte buite-om sy eie inspanning, sy eie mobilisering, sy eie toekomsplanne en projeksies stel. Watter krag? Sy ganse lewe getuig tot in die fynste detail daarvan: Van God, dié krag wat volgens ons tradisie alles geskep het en ook alles onderhou.

Die arrogante republiek is ’n onmenslike republiek. Waarom? Omdat die mens homself as oppergesag uitroep. In die nederige republiek daarenteen kom die menslike ironies genoeg tot sy reg, juis omdat die mens homself afhanklik van God stel. So ’n republiek het Prof Boshoff in die vooruitsig gestel. Sy volkstaat is ’n menslike staat omdat hy sy afhanklikheid kan bely.

Soos enige ander selfrespekterende volk ter wêreld beskik die Afrikaners ook oor ’n eie helde-galery. In daardie galery is daar figure soos presidente Kruger en Steyn, generaals De Wet en De la Rey, staatsmanne soos genl. Hertzog en dr. Verwoerd, skrywers soos Eugène Marais, NP van Wyk Louw en M.E.R. Hulle voorbeeld is vandag steeds rigtinggewend.

As ons ’n Afrikaner vanuit die laaste drie tot vier dekades moet uitsonder wat ook in daardie helde-galery opgeneem sal word, is dit Prof Carel Boshoff. Hy het hom onder sy tydgenote uitgesonder as dié Afrikaner wat die idee van Afrikanerskap op die mees uitsonderlike wyse beliggaam en verteenwoordig het. Soos ons ander helde is ook sy voorbeeld vandag op ’n buitengewone wyse vir ons rigtinggewend. Ons eers sy nagedagtenis.

Tags: , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.