’n Voordeel wat ons nie mag prysgee nie – Christoff van Wyk

’n Boer maak ’n plan. Dié gesegde word al vir dekades lank van geslag tot geslag oorgedra en spruit voort uit die vindingrykheid wat Afrikaners al aan die dag moes lê om uitdagings in Suid-Afrika te oorkom om hier te oorleef. Kreatiewe denke en probleemoplossing is ’n kenmerk van Afrikaners se denkraamwerk en algemene mondering en dit is definitief ’n voordeel wat ons nooit moet prysgee nie.

Brand Pretorius skryf in sy boek, Aan die stuur, dat “ … ’n sleutel tot volhoubare sukses in die vinnig veranderende wêreld sal sprankelende kreatiwiteit en meedoënlose innovasie wees.” Hy skryf selfs verder dat indien hy sy loopbaan kon oorhê, hy baie meer doelgerigte pogings sou aanwend om ‘laterale denke’ aan te moedig en die persone wat uitblink hierin, die ‘helde’ binne die maatskappy te maak.

Die term ‘laterale denke’ is deur prof. Edward de Bono neergepen. Hy is ’n mediese doktor wat veral bekendheid verwerf het vir sy studies in denke en veral kreatiwiteit en ook hoe hierdie vaardighede aangeleer kan word. De Bono skryf dat daar by hom geen twyfel daaroor bestaan dat kreatiwiteit die belangrikste menslike hulpbron van almal is nie. “Sonder kreatiwiteit sou daar geen vooruitgang wees nie en sal ons vir altyd net dieselfde patrone herhaal.”

Dit wil soms blyk dat ons in Suid-Afrika ook aanhoudend besig is om sekere negatiewe patrone te herhaal en dat die resultate altyd dieselfde bly. Die wyse waarop jy jouself egter uit hierdie patrone uit kan ‘dink’, is ’n proses wat aangeleer kan word en soos Brand Pretorius tereg opmerk, die sleutel kan wees tot volhoubare sukses in ons veranderende wêreld.

Die wyse waarop laterale denke toegepas word, word deur de Bono beskryf as “… the creativity concerned with changing ideas, perceptions and concepts. Instead of working harder with the same ideas, perceptions and concepts, we seek to change them.”

Dié proses is ontwikkel na aanleiding van sy teorie oor die werking van die menslike brein en die selforganiserende stelsels. Hiervolgens kan ’n mens se brein vergelyk word met iets soos ’n landskap met ’n rivier wat daaroor vloei. Denkpatrone word op hierdie wyse, net soos ’n rivier se loop, gevestig en hoewel hierdie gevestigde patrone ’n mens se brein in staat stel om blitsvinnig te reageer, is dit terselfdertyd ook geneig om ’n mens te kortwiek in die ontwikkeling van nuwe idees. De Bono se tegnieke is dus juis daarop gemik om hierdie spreekwoordelike rivier te forseer om sy normale loop te verlaat en oor nuwe terreine te vloei. Om dit egter te bewerkstellig, het hy sekere tegnieke ontwikkel wat spesifiek daarop gemik is om provokasie tot die normale gedagtevloei te bewerkstellig. Die tegnieke fokus dus sterk daarop om in te speel op die menslike persepsie van realiteit en die handelinge wat oor tyd die ‘norm’ geword het.

Een van die tegnieke wat De Bono ontwikkel het om hierdie tipe denke te stimuleer, noem hy ‘challenge’, oftewel uitdaag. Hy beskryf hierdie tegniek as die sleutel tot daaglikse kreatiwiteit. Hy gebruik vrae soos, “Moet ons dinge op hierdie manier doen?” of “Is hierdie die beste manier om dinge te doen?” om die proses aan die gang te sit. Die bedoeling van hierdie vrae is nie om krities te wees nie omrede kritiek nie as kreatiwiteit beskou word nie. Dit bevorder egter die gewilligheid tot kreatiewe denke deur die huidige manier van doen uit te daag.

Die doel van hierdie uitdaging is om uit te vind of die manier van doen bloot gewoonte geword het, en of dit dalk net gebeur om aan die verwagtinge van ander mense te voldoen. Die uitdaagproses kan beskryf word as ’n subtiele, maar tog doelbewuste ontevredenheid en die wete dat daar ’n moontlikheid bestaan om te verbeter. Die waarde wat die toepassing van hierdie tegniek meebring, word gevind in die geleentheid wat geskep word om na te dink oor spesifieke handelinge asook die doelbewuste ontsluiting van kreatiewe moontlikhede. Gewoontes wat as vanselfsprekend herhaal word, word pertinent deur hierdie proses uitgedaag.

Dikwels is die redes waarom sekere handelinge as herhalende gewoontes gevestig word, bloot omrede daar nog nie ’n behoefte aan iets anders geïdentifiseer is nie of dat die huidige manier van doen voldoende is en daar geglo word dat jy nie peuter met iets wat werk nie.

De Bono gee vier redes oor waarom ons dikwels in herhalende denkpatrone vasgevang word:

  1. The continuity of neglect – Hiervolgens word ’n bepaalde produk of handeling as probleemvry beskou en gevolglik dink niemand meer oor die spesifieke gebeure of handelinge nie. Dinge word outomaties op ’n bepaalde manier gedoen.
  2. The continuity of lock-in – Hiervolgens is daar sekere omstandighede of reëls wat bepaal dat ’n handeling op ’n bepaalde manier uitgevoer moet word en daarom word dit eenvoudig aanvaar en so gedoen.
  3. The continuity of complacency – Indien sukses behaal word met ’n handeling verhinder dit dikwels enige verdere nadenke oor die handeling omrede daar geglo word dat dinge vir altyd op dieselfde manier sal werk. “Waarom moet iets wat werk, verander word?”
  4. The continuity of time-sequence – Hiervolgens word sekere handelinge vasgevang en dikteer deur die wyse waarop die handelinge wat die huidige voorafgegaan het, gebeur het. ’n Voorbeeld wat hier gebruik kan word, is die ontwerpkonsepte wat in die spoorvervoer-omgewing ontwikkel is, wat oorgedra is na die lugvervoer-omgewing, bloot omdat spoorvervoer ’n gevestigde praktyk was voor die aanbreek van die era van lugvervoer.

Die waarde van ‘uitdaag’ as kreatiewe tegniek is daarin geleë dat stagnering in die uitvoering van take, of in die denke oor algemene verskynsels, voorkom word. Die gereelde toepassing van hierdie tegniek skep die ruimte vir innovering en verandering van praktyk en gewoontes.

Alhoewel ons in vandag se tye eintlik nie meer kan funksioneer sonder die daaglikse toepassing van kreatiewe denke nie, skep dit tog ook probleme. Menslike natuur dikteer dat ons gekant is teen verandering omrede dit onsekerheid skep, veral as die verandering op die oog af nie voordelig is vir ons nie. Dus moet die weerstand teen verandering ook as ’n kragtige faktor in berekening gebring word wanneer daar besin word oor oplossings vir bestaande probleme of die verandering van gevestigde denkpatrone.

Die oplossings vir ons probleme lê binne ons bereik, maar dan sal ons moet besef dat ons nie kan staatmaak op gevestigde ou denkpatrone nie. ’n Boer maak ’n plan en een van die Afrikaner se beste oplossings om die talle probleme wat ons tans in die gesig staar te bowe te kom, is ons vermoë om kreatief en innoverend te dink. Laat ons hierdie karaktereienskap koester en nooit verlore laat gaan nie.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.