Nasionalisme in Afrika: ons ondergang of uitkoms?

deur Carel Boshoff IV 

Nasionalisme in Afrika ons ondergang of uitkoms


Soos in die verlede is dit ook tans nie moeilik om uit ‘n liberaal Westerse oogpunt in Afrika-nasionalisme ‘n gevaarlike en afbrekende politieke en ekonomiese krag te sien nie. Vir wie in elk geval skepties staan teenoor identiteitspolitiek in die algemeen en nasionalisme in besonder, is dit eenvoudig duidelik dat sulke groepsdenke die vaste grondslag vir ontwikkeling en vooruitgang wat die vrye mark bied, tot niet maak. Veral as sulke nasionaliste boonop klokslag by minder of meer radikale vorme van sosialisme aansluiting soek. En Afrikaners, wat hulle nasionalistiese verlede nie meer as ‘n bate nie, maar as ‘n las beskou, vind vanselfsprekend by dié soort denke aansluiting.

Die prentjie van Suid-Afrikaanse parlementslede met rooi oorpakke wat in die eerste plek op grond van ekstremisme en haatspraak verkies is en dan die werking van daardie bastion van demokrasie in die naam van hulle nasionalisme en sosialisme ontwrig, skep by die Blanke middelklas, waartoe Afrikaners oorwegend behoort, nie juis vertroue nie. Inteendeel, mens kan uit dié oogpunt kwalik anders as om bedreig te voel en selfs die ANC-regering, wat ten minste ook belang by stabiliteit het, met meer begrip te bejeën. Of ten minste diegene binne die ANC wat nie probeer om hulle staanplek te beveilig deur ekstremisme met ekstremisme te oortref nie.

Die vraag is egter of Afrikaners, wat self hulle middelklas-status byna sonder uitsondering aan ‘n geslaagde nasionalisme te danke het, eerlik is om hulle van so ‘n liberale kritiek op Afrika-nasionalisme in die algemeen te bedien. Is dit nie ‘n tipies ideologiese eerder as ‘n konserwatief-realistiese werkswyse om een omvattende oordeel oor iets so kompleks as nasionalisme in Afrika te fel nie? Kan ons ons naamlik indink dat suksesvolle ontwikkeling in Afrika (of op enige ander plek in die wêreld) sonder ‘n sterk sin vir groepsolidariteit kan of kon posvat? Is die vrye mark en kapitalisme in abstracto die antwoord op alle ontwikkelingsvrae? Is dit nie die punt waarop daar van ‘n goeie meganisme ‘n slegte ideologie gemaak word nie?

Op vrae soos hierdie moet geantwoord word voordat ons die selfvertroue kan hê om in die uiters noodsaaklike, kritiese debat met “Afrika-nasionalisme” te tree. Laat ek dus tot oormaat van duidelikheid aanvoer dat nasionalisme, wat as die politieke aansluiting tussen etniese bewussyn en staatsmag beskryf kan word, kwalik op twee plekke of tye dieselfde kan lyk. Baie minder as in die geval van die ander twee moderniseringsideologieë, naamlik liberalisme/kapitalisme en sosialisme, kan nasionalisme as ‘n bloudruk beskou word wat ten spyte van besondere omstandighede toegepas moet word. Inteendeel, nasionalisme is dikwels juis “besondere omstandighede”.

Verder stel suksesvolle ontwikkeling ongetwyfeld eise soos eiendomreg en -sekerheid, dus ‘n stabiele wetlike en politieke orde. Dit vereis ook ‘n funksionele markmeganisme waarsonder verhandeling van eiendom, klein of groot, nie kan plaasvind nie. Ook ‘n bepaalde sin vir individuele handelingsbevoegdheid waarsonder ondernemingsgees in die slag bly. Maar dit alles word nie deur groepsbewussyn of nasionalisme onmoontlik gemaak nie, om die waarheid te sê, in Afrikaners se geval het nasionalisme dit bevorder. Ook ander voorbeelde kan genoem en ondersoek word, maar vir die doel van die argument maak ek die algemene stelling dat ontwikkeling – ekonomies, polities, kultureel, ens. – by uitstek aantoon hoe die suksesvolle individu nie ten spyte van nie, maar danksy ‘n funksionele gemeenskap in sy/haar ondernemings slaag.

Die vrye mark en toegang tot kapitaal kan ook geen abstrakte, ideologiese voorwaardes vir suksesvolle ontwikkeling wees nie. Veel eerder is dit konkrete voorwaardes vir ‘n kultuur van ontwikkeling wat net soveel of meer van die verbande en verwagtings tussen individuele rolspelers as van die instrumente tot hulle beskikking afhang. Suksesvolle ontwikkeling het al met meer én minder staatsinmenging saamgeval, in die Skandinawiese lande het dit al met die nasionalisering van natuurlike hulpbronne saamgeval; dit is eerder ‘n kombinasie van faktore as een silwer koeël wat die teiken tref.

Sover dit Afrika aangaan – dié begraafplaas van ontwikkelingshulp en -projekte – moet mens versigtig wees om enkelvoudige verklarings vir mislukking te vind. Dit geld natuurlik net soseer vir die liberaal individualistiese kritici van Afrika se kollektivistiese kultuur en nasionalistiese politiek as vir die pan-Afrikaniste se wrewel teen kolonialisme en neo-kolonialisme, hulle “wortel van al die kwaad”. Om die waarheid te sê, in soverre mens van ‘n enkele Afrika-nasionalisme kan praat, is dit sy eie grootste reputasie-risiko juis omdat enkelvoudige ideologiese denkbeelde en voorkeure al tot soveel politieke en ekonomiese flaters gelei het. Soveel so dat daar al ‘n woord uit gebore is: Afro-pessimisme. En dit is juis die punt: hoe om nié in dié negatiewe stemming te verval nie.

As en in soverre Afrikaners weer die selfvertroue kan monster om in hulle eie nasionalisme te delf, sal hulle daarin die voorwaarde by uitstek vind wat van Suid-Afrika die sterkste ekonomie in Afrika gemaak het. Dit was naamlik nie diamante of goud nie – waarvan nie een ooit oorwegend in Afrikanerhande was nie – maar ‘n sin vir die self wat in slagspreuke soos “Suid-Afrika eerste” verwoord is. Dit was die stemming wat skouspelagtige projekte van selfvoorsiening en waardetoevoeging soos EVKOM en YSKOR onderlê het. Nie te veel nasionalisme nie, maar te min daarvan het tot die ondergang van dié twee Suid-Afrikaanse reuse gelei. Meer voorbeelde kan genoem word: wapenvervaardiging, uraanverryking, mediese praktyk en tegnologie, ens.

Soveel as wat Afrikaners vandag nie sonder voorbehoud “Suid-Afrika eerste!” kan uitroep nie, soveel behoort ons te kan insien dat hierdie ryk kontinent Afrika net aan haar eie ondergang kan ontsnap as haar inwoners ‘n nugtere sin vir “Afrika eerste”, vir interne en onderlinge selfvoorsiening en plaaslike waarde-toevoeging openbaar. Natuurlik is dit ‘n lang pad van die heersende denke en voorkeure wat tans onder baie van Afrika se elites heers, maar ek weet vir seker dat daar ook diegene is, dalk meer buite Suid-Afrika as daarbinne, by wie hierdie denkbeelde byval sal vind en met wie ons dié gesprek moet aanknoop.

Daarom kan ons nie bekostig om Afrikaners van hierdie noodsaaklike Afrika-diskoers te isoleer deur stereotipes van Afrika te bevestig en te versprei nie.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.