Nasionalisme – Prof. Marinus Wiechers

1

Van Wyk Louw se denke staan in die oorheersende teken van die oop gesprek, ’n dialoog wat wydlopend en deurdag is en bowe-al nie deur selfgenoegsaamheid, vooropgestelde of eensydig-pouslike uitsprake gekenmerk word nie. ’n Gesprek wat teenspraak verwelkom en oop is vir oortuiging.

So ’n oop gesprek kry mens weer in sy briewe-wisseling in 1951 met ’n “liewe jong vriend” oor die onderwerp van nasionalisme. In ’n brief bevraagteken hierdie jong vriend Louw se siening dat nasionalisme met die dieselfde hartstog as godsdiens beoefen moet. Verder dat Louw se opvatting van nasionalisme tot eie-waan en engheid lei.

Met sy kenmerkende openhartigheid (want dit is die wese van die oop gesprek), pleit Van Wyk Louw mea culpa, dat dit verkeerd is om nasionalisme aan godsdiensywer gelyk te stel. Maar hy verset hom teen die gedagte dat nasionalisme tot meerderwaardigheid lei. Eerder dat dit uit ’n gevoel van nederige liefde vir die eie spruit. Met sy beroemde stelling: “’n Mens het ’n volk lief, nie omdat hy heerlik en die beste volk op aarde is nie; jy het hom lief oor sy ellende.” Ellende in die “pregnante sin van ’n diep gebrek.”

2

Nasionalisme, in teenstelling met chauvinisme, bring selfversekerdheid en trots, die moed om ander nasionalismes te verstaan, te ondersoek en te waardeer. Van engheid in die nasionalistiese strewe kan daar geen sprake wees nie. Hierdie siening strook met sy oortuiging dat mens nie sonder tradisie of in die tradisie moet lewe nie, maar “uit ’n tradisie”. Of anders gestel, soos pres. Kruger gesê het, neem uit die verlede alles wat goed en eerbaar is en bou daarop voort.

Hierdie gesprek met sy jong vriend, het Louw in 1951 gevoer. Alhoewel nie uitgesproke nie, is dit duidelik dat hy Afrikaner-nasionalisme verdedig, nie bloot goedpraat nie maar wys op die lewenskragtigheid daarvan as draer van waardes en eie trots. Dit is verstaanbaar in daardie tydsgewrig toe die Nasionale Party in 1948 die bewind oorgeneem het. ’n Reuse oorwinning van Afrikaner-nasionalisme.

Vandaar sy waarskuwing dat nasionalisme nie chauvinisme moet word nie (ophemeling van die eie ten koste van ander volkslojaliteite), of oorgaan tot arrogansie, of erger nog, in verlekkering in ’n nuutgevonde voorspoed en die najaag van materialisme.

Vandag, twintig jaar na ons nuwe demokrasie, kan mens na aanleiding van Louw se destydse gesprek vra wat van ons nasionalistiese strewes geword het. Veral Afrikaner-nasionalisme. Bestaan so iets nog? Of bestaan dit nog slegs onder die minderheid van regses en ver-regses wat steeds droom van selfbeskikking in ’n eie volkstaat, diegene wat nog in die eertydse tradisie leef, outydse volksliedere sing en (tereg) wroeg oor die onderploeging van hul taal en kultuur?

Mens kry die indruk dat die vroeëre volksnasionalisme nou ’n soort sport-nasionalisme geword het. Dat Afrikaners trots is op die prestasies van die Springbokke, die blits-Bokke en die Proteas, veral die Afrikaners wat in dié sportsoorte presteer. Kultuurbewuste Afrikaners is trots op die suksesse van Afrikaanse kultuurfeeste. Maar ‘n algemene Afrikaner- nasionalisme, ’n Afrikaner-trots het verlore gegaan. Baie Afrikaners voel dat die aandrang op taal, kultuur en Afrikaner-nasionalisme maar liewers nie hooggespeel moet word nie. As “Die Stem” op openbare verhoë gesing word, voel baie Afrikaners dat dit nie meer politiek-aanvaarbaar is nie en versoening onderploeg.

Het die eertydse Afrikaner-nasionalisme nou opgegaan in ’n groter Suid-Afrikaanse nasionalisme? Is die Afrikaner nou ten eerste trots om ’n Suid-Afrikaner te wees, en is sy Afrikaner-trots ondergeskik aan hierdie groter, omvangryker nasionalisme?

Het ons werklik ’n Suid-Afrikaanse nasionalisme ontwikkel? Of wat is die moontlikheid dat so ’n nasionalisme in die toekoms kan ontwikkel?

Die huidige Volkslied probeer hard om so ’n nasionalisme te inspireer. Maar weerbarstiges beweer dat insluiting van die eertydse volkslied ’n onwelkome reste van apartheid is en uitgewis moet word.

Aardbiskop Tutu se “reënboog-nasie” is ook ’n dapper poging om ons saam in ’n verenigde nasie te bind. Maar ons beleef soveel interne spanning en ras-onverdraagsaamheid dat die reënboog nog net ’n droom bly… Sinici beweer dat die reënboog eers sal kom ná die storms van korrupsie en wanbestuur, as dit ooit sal kom.

’n Nasionale geesdrif moet nou gekweek word deur alles as “trots Suid-Afrikaans” te bestempel. ’n Bankrot lugdiens, ’n vervalle kragtoevoer, ’n sukkelende en korrupte munisipaliteit, ’n gebrekkige staatsdiens, ’n deurmekaar-vervolgingsgesag, alles en almal word as “trots Suid-Afrikaans” opgehemel. Dit terwyl baie Suid-Afrikaners hul koppe in skaamte laat sak vir ons land. ’n Ander slagkreet is dié van “Suid-Afrika eerste”. Eerste van wat, vra mense. Eerste in ongelykhede, armoede en korrupsie?

Dit het al weliswaar gebeur dat ons nasie al een of twee keer vir ’n rukkie in ’n soort nasionale eensgesindheid verenig was. Toe ons die wêreld-rugbybeker verower het. Of met die oorlye van Madiba, alhoewel ons toe nie deur gevoel van nasionale trots nie maar ons eerder deur ’n gevoel nasionale rou en eerbied verbind is. Ongelukkig is hierdie gevoelens van oënskynlike nasionale eenheid nie baie standhoudend nie, ten spyte van die gedurige, dringende oproepe om “Madiba se nagedagtenis” te eerbiedig.

’n Suid-Afrikaanse nasionalisme en nasionale trots is nie bloot ’n wensdroom nie, alhoewel dit miskien nou nog nie bestaan nie. Ons het ’n Grondwet om trots op te wees, nieteenstaande die regering se vergrype. Ons land het die mooiste natuurskoon, wonderlike dierelewe, pragtige kulture en ongelooflike stede wat van vooruitgang en hoogs gevorderde wetenskap en tegnologie getuig.

Die lys van Suid-Afrikaanse prestasies en die dinge waarop ons tereg trots op kan wees, is baie lank. Maar al hierdie dinge het nog glad nie ’n algemeen Suid-Afrikaanse trots en nasionalisme gekweek nie.

Het dit nie nodig geword om soos Van Wyk Louw gesê het, om ons ellendes en gebreke lief te hê nie? Om nie in die ellendes vas te val nie of erger nog om hierdie ellendes aanmekaar met hooghartigheid te veroordeel, maar in stede daarvan met liefde en deernis ons gesamentlike ellendes aan te pak en op so ’n manier na ’n algemeen, groter Suid-Afrikaanse nasionalisme te streef?

Tags: , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.