Onderhoud met professor TT Cloete

1) Hoekom sou Prof sê dat Afrikaans as Universitêre/Tersiêre onderrigtaal nog van belang is?
Afikaans is ’n jong taal, waarskynlik die jongste taal van alle tale op aarde, en tog het dit al die ou tale ingehaal, want daar is niks in enige ander taal wat nie ook in Afrikaans gesê, gevoel, gedink of geskryf kan word nie. ’n Mens kan enige ander taal aanleer, maar ek glo dat jou moedertaal nuanses het wat jy nie in enige aangeleerde taal kan uitdruk nie. Ek luister graag na die taal van wetenskaplikes, en dit tref my dat natuurwetenskaplikes en byvoorbeeld regsgeleerdes en ekonome die mooiste Afrikaans praat, mooier as party kunstenaars, veral mooier as ons popliedjieskrywers en -sangers. As sterrekundiges en kosmoloë in verfynde taal oor hul vak kan praat, waarom kan rugbyspelers nie in goeie Afrikaans oor hul eenvoudige ou speletjie  praat nie. Krieket het vir ons ’n voorbeeld gestel van hoe Engelse krieketterme in mooi Afrikaans omgesit kan word.

2) Hoe lyk die toekoms vir Afrikaans oor die algemeen?
Ek is besorgd oor die toekoms van Afrikaans. Skrywers wat rondvertel dat Afrikaans nie ’n toekoms het nie, doen baie kwaad aan Afrikaans, want die liggelowiges  redeneer dat as skrywers dit beweer, kan hulle net so goed hul kinders maar na Engelse skole toe stuur. Na 1994 word Afrikaans op die agtergrond geskuif. Dis kulturele moord. Dis pure bog dat Afrikaans iets op sy gewete het. Geen volk het soveel ander tale onderdruk as die Engelse nie, tog praat almal graag Engels.

3) Hoekom dig Prof in Afrikaans?
Omdat gedigte by my opdaag in Afrikaans, en omdat ek die verfynde nuanses en details van my voel en dink en wil in geen ander taal so kan raakvat as in Afrikaans nie. Ek kan die bestaande Afrikaanse woordeskat uibrei. Dis byvoorbeeld vir my lekker om van die literatore etiketters te noem, wat digters graag etiketteer, ketters wat skrywers graag in hokkies plaas.

4) Wat beteken kultuur vir Prof?
Die mens is die enigste spesie wat die natuur in kultuur kan omsit. Die wreedheid van Hitler was nie alleen dat hy die Jode verbrand het nie, maar dat hy hul hele kultuur wou uitroei. Kultuur is ’n internasionale besit, maar elke volk moet ’n kulturele bydrae tot die geheel maak. Die hart van enige kultuur is sy kunste. Haal Shakespeare uit die Engelse kultuur, en wat bly oor. Milner? Conan Doyle? Twee mense waarvoor die Engelse hulle moet skaam. Haal Goethe uit die Duitse kultuur, en wat bly oor? Hitler?

5) Wat is volgens Prof die grootste persoonlike sukses of prestasie wat prof behaal het?
Nou maak jy my skaam. Ek wil myself nie prys nie, maar ek voel die beste wat ek bereik het, is my tien digbundels, my twee boekies kortverhale, my een dramatjie, en dan my lewensbeskoulike boek en agtergrond vir my gedigte, Die ander een is ek. Ek is nogal vreeslik dankbaar vir die kommentaar wat ek vir daardie boek kry. Dis nie aan my te danke dat ek op 90 nog skryf nie, maar ek het nog dinge waarna  ek uitsien, soos die voltooiing van die manuskripte vir twee digbundels wat nog op my rekenaar lê, en die briewe wat ek vir Anna geskryf het na haar dood  wat ek graag wil uitgee…

6) Wat doen Prof in u vrye tyd?
Ek begroot my tyd soos ek my maandelikse pensioen begroot. Ek het my lewe lank my tyd begroot, dan vir skryf, dan vir lees, dan vir oefen (as slagoffer van polio oefen ek gereeld by die PUK se biokinetika), dan tyd afsonder vir tuinmaak (ek kan tuinmaak in potplante, veral vetplante en kaktusse), dan tyd vir kuier, en ten slotte tyd vir niks doen nie, net op die stoep sit en koffie drink. En natuurlik tyd vir slaap, maar ek kom van kindsbeen af met min slaap klaar. Ek het beslis nie ’n derde van my lewe soos die gewone mens omgeslaap nie!

7) Watter drie woorde dink Prof beskryf die Afrikaner soos u dit sien?
Kwesbaar, onseker, maar taai.

8) Hoe ervaar Prof die nuwe Afrikaanse films en watter een is tot dusver u gunsteling?
Nou stel jy my bloot. Ek kyk nie graag films nie. Niemand het my ooit in ’n teater op my dorp gesien nie, maar ek is lief vir dokumentêre films, soos byvoorbeeld Dave Pepler se Groenfilms, sover dit Afrikaans betref.

9) Volgens Prof, wie is die “Marilyn Monroe” en “Elvis” van Afrikaans?
Sandra Prinsloo en Steve Hofmeyr

10) Wat is prof se gunsteling Afrikaanse kinderliedjie?
Hansie slim, omdat een van my kinders altyd die ‘g’ as ’n ‘f’ uitgespreek het: “Hansie slim het berf faan klim… Hansie kom tof foufou truf.”

11) Wat is prof se gunsteling Afrikaanse nagereg?
Roomys met ingelegde aarbeie.

12) Wat is Prof se gunsteling Afrikaanse sêding of frase?
Ek is so styf soos ’n transportos.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.