Ons Westerse kultuurerfenis

 deur Flip Buys 

Ons Westerse kultuurerfenis


  1. Inleiding

 Die Weste en Westerlinge is mense wat hulle vereenselwig met die waardes, instellings, geskiedenis, tradisies en kultuurerfenis van die Westerse beskawing. Die “Weste” is nie ‘n geografiese gebied, Europese lande, ‘n rassegroep, of ‘n taalgemeenskap nie. Westerlinge ook nie. Dit beteken nie dat Westerlinge met alles van hulle Westerse erfenis hoef saam te stem nie. Soos alle ander beskawings, het die Weste die beste en die slegste in die mens na vore gebring.

Die wêreld bestaan uit verskillende beskawings of kultuurblokke, wat histories met mekaar en onderling meegeding én saamgewerk het. Daar word breedweg tussen sewe beskawings onderskei, te wete die Weste, China, Japan, Indië, die Moslemstate, Afrika, en die Ortodokse wêreld met Rusland as sy grootste staat.

Die val van die Kommunisme het die eertydse ideologiese indeling van die wêreld tussen die Weste en die Ooste beëindig, en kultuur in sy wydste sin het weer na vore getree as ‘n manier om globale groeperingslyne te beskryf. Hierdie indeling is vanselfsprekend nie waterdig of onveranderlik nie. Daar is baie verskille, maar ook baie ooreenkomste tussen hierdie globale kultuurblokke.

Daar is veral twee sienings oor die toekoms van die wêreld. Die eerste siening word ten beste verwoord deur Professor Samuel Huntington, eertydse Harvard akademikus. Hy het in sy boek “The Clash of Civilizations”, geskryf het dat die toekoms bepaal gaan word deur die interaksie tussen hierdie globale kultuurblokke. Hy het gemaan dat die Weste nie moet probeer om die res van die wêreld te oorheers nie, maar eerder probeer herleef. Sy standpunt was dat die Westerse waardes uniek is, maar nie universeel op ander kulture van toepassing is nie. Hoewel hy gewaarsku het dat die botsings van die toekoms eerder kultureel as ideologies gaan wees, het hy gemeen dat wêreldvrede moontlik is as hierdie beskawings met mekaar saamwerk om globale vraagstukke soos vrede, voorspoed en die omgewing te oorkom.

Huntington het voorspel dat die spanningsvelde van die toekoms in gebiede gaan wees waar die verskillende beskawings bymekaar kom. Hy was waarskynlik die eerste persoon wat voorspel het dat die voormalige Joego-Slawië uiters plofbaar is, omdat die Ortodokse-, Moslem-, en Katolieke beskawings daar bymekaarkom. Maar Huntington se waarskuwing geld natuurlik nie net vir moontlike konflik tussen state nie, maar ook tussen verskillende groepe binne state, soos hier in Suid-Afrika.

Die ander siening word verwoord deur Professor Francis Fukuyama, een van Huntington se leerlinge. In sy boek “The End of History”, beweer hy dat die Westerse liberale kapitalistiese waardestelsel met die val van die Kommunisme nou universeel geword het. Hy glo dus dat die historiese ideologiese wedywering met die oorwinning van die Weste nou finaal verby is, en beslis is in die guns van die liberale kapitalisme.

Die probleem is dat die geskiedenis toe nie in 1990 verby is nie. Waar die VSA met die val van die Kommunisme die enigste oorblywende supermoondheid was, is ander beskawings soos China, Indië en Brasilië nou aan die opkom, terwyl die Weste ‘n ekonomiese krisis beleef.

Afrikaners en ander Westerlinge wat in Suid-Afrika bly, behoort deeglik kennis te neem van hierdie ontwikkelings, omdat die veranderings in die wêreld wat in ons land weerspieël word ons direk raak.

Daarom is dit belangrik om ‘n breë begrip en ooreenstemming te vorm oor wat ons Westerse kultuurerfenis behels, en daarmee saam ons Afrikaner identiteit en die Afrika invloede wat ons onderskei van ander Westerse kulture. Dit sal ‘n gedeelde beginselgrondslag daarstel wat ons in staat sal stel om onsself beter te leer ken, met die doel om onderlinge samehorigheid te bevorder en beter met mense van ander kultuurgroepe saam te werk.

Daarom is die doel van hierdie memorandum om eerstens op ons Westerse beskawingskarakter te fokus, waarna die Afrikaner se identiteit en strewes behandel sal word. Laastens sal gekyk word na die gedeelde waardes wat ons met ander kultuurgroepe deel, met die oog om terreine vir samewerking te bepaal.

  1. Die Westerse Beskawing

Die Westerse Beskawing, ook genoem die Westerse Christendom, het die wêreld vir die afgelope vyf eeue oorheers. Omdat mag en waardes saamloop, was Westerse waardes in die Westerse era ook die heersende waardes en standaarde waarteen beskawing gemeet is. Hierdie oorheersing word nou bedreig deur die opkoms van nie-Westerse state soos China, Indië en Brasilië, gelyktydig met ‘n omvattende krisis in die Weste.

Dit is opmerklik dat die Afrikaner en Suid-Afrika ‘n soort mikrokosmos is van wat in die Wêreld en met die Weste gebeur. Die Afrikaner en die Westerse beskawing was vir baie jare die oorheersende mag en –stelsel in Suid-Afrika, en wat met die land en die Afrikaner gebeur kan ‘n belangrike voorteken wees van wat met die wêreld en die Weste gaan gebeur.

Die historiese vraag waarmee staatsmanne en geskiedkundiges worstel, is hoe en waarom die Weste dit reggekry het om sedert vyfhonderd jaar gelede die oorheersende mag te word? Indien hierdie Westerse suksesresep ontrafel kan word, kan dit moontlik help om die Westerse beskawing te help om weer te herleef en homself te verdedig en te handhaaf teen opkomende aggressiewe beskawings- en teen sy eie selftwyfel en die selfhaat van anti-Westerse Westerlinge. Dieselfde geld vir die Afrikaner in Suid-Afrika. Die Afrikaner het die leidende rol gespeel in die ontwikkeling van die suksesvolste beskawing in Afrika se geskiedenis. Die Afrikaner en die Westerse beskawing wat opgebou is, word tans deur die grootste bestaansbedreiging in sy geskiedenis in die gesig gestaar. Die vraag is of en hoe die historiese suksesresep waarmee hierdie Westerse ‘eiland” in Afrika opgebou is, weer gebruik sal kan word om te herleef en ons voortbestaan te verseker? Die bepaling van wat die Weste en die Afrikaner uniek maak, is die voorwaarde vir die suksesvolle verdediging en bewaring van ons unieke kultuurerfenis- en van ons voortbestaan in Suid-Afrika.

Die feit is dat demografiese-, politieke-, strategiese- en ander werklikhede, dit vereis dat die Weste en die Afrikaner hul energie moet fokus om te herleef, en nie om te probeer oorheers nie. Die wil en vermoë daarvoor bestaan nie meer nie.

  1. Die Aard van die Westerse beskawing

Die Weste het nie die wêreld se leiersbeskawing geword omdat Westerlinge innerlik beter of meerderwaardig is nie. As daar nog twyfel hiervoor was, het die modernisering van Japan honderd en vyftig jaar gelede, die opkoms van die “Oosterse Tiere” (Taiwan, Singapoer, Suid-Korea en Hongkong) die afgelope vier dekades, en die verbysterende ontwikkeling in China die nodige bewyse verskaf.

Dit is belangrik om te besef dat die Weste Westers was voordat dit modern was. Dit was dus nie omdat die Weste die eerste beskawing was wat suksesvol moderniseer het, wat dit Westers gemaak het nie. Dit was veel eerder ‘n unieke stel kenmerkende eienskappe soos Godsdiens, Kultuur, Stelsels, Instellings en Praktyke wat die Weste in staat gestel het om eerste suksesvol te moderniseer en so die oorheersende wêreldmag te word. Van hierdie eienskappe het ook in ander beskawings voorgekom, maar die kombinasie van hierdie eienskappe was uniek tot die Weste. Hoewel hedendaagse liberale Westerlinge die Westerse beskawing probeer afwater tot ‘n blote universele liberale beskawing, kan daar volgens die historiese Westerse selfsiening wel bepaalde kenmerkende Westerse tradisies uitgewys word wat die wesensaard van ons beskawing uitmaak.

Daar kan veral vier historiese wortels van die Westerse beskawing uitgewys word:

  • Jerusalem as die bron van die Weste se religieuse tradisie;
  • Athene as die bron van die Weste se filosofiese wortels;
  • Rome as die bron van die Weste se juridiese grondslag;
  • Duitsland en in die besonder die Germane se vryheidsgees.

Maar kom ons kyk in meer besonderhede na die historiese Westerse waardes wat die hart van ons beskawing se karakter bepaal:

  • Die Westerse Christendom

Die Westerse Christendom is die enkel belangrikste historiese kenmerk van die Westerse beskawing. Die Duitse skrywer Goethe het gesê dat die Christendom die “moedertaal” van Europa is. Tot betreklik onlangs is die Westerse Christendom nog as ‘n sinoniem vir die Westerse beskawing gebruik. Daar was nog altyd ‘n gedeelde sin van gemeenskaplikheid onder Westerse state, wat versterk is deur konflikte soos die Koue Oorlog. Na die Protestantse hervorming het die Protestantse lande die Katolieke lande begin uitpresteer, en so die oorheersende Westerse groepering geword. Hoewel veral Europa al meer in ‘n post-Christelike era inbeweeg, het Christelike waardes oor die eeue so deel van Europese waardes geword dat dit nie meer onderskei kan word van hulle Christelike oorsprong nie. Daarom is die Christelike waardestelsel histories die morele kompas en gedragskode van die Westerse beskawing.

Soos alle ander beskawings, het die Weste homself ook skuldig gemaak aan die gruwel van slawerny, maar was die Weste ook die eerste beskawing wat dit afgeskaf en sy koloniale oorheersing gebruik het om dit uit te roei.

  • Die Klassieke tradisie

Antieke Griekeland word histories as die eerste Westerse beskawing gesien. Die Griekse filosofie en rasionalisme, saam met die Romeinse reg en -beskawing, Latyn en die geskiedenis van die antieke Christendom, is deel van die Klassieke Erfenis van die Westerse beskawing.

  • Europese tale

Naas Godsdiens is taal die belangrikste merkteken van ‘n kultuurgroep. Die veelheid van Westerse tale maak die Westerse beskawing anders as die Russiese, Chinese, Japanse, Arabiese en Indiese beskawings wat meestal deur enkele hooftale gekenmerk word.

  • Skeiding tussen staat en kerk

Die skeiding tussen staat en kerk is uniek aan die Weste, en het ‘n groot bydrae gelewer tot die ontwikkeling van persoonlike, institusionele en nasionale vryheid in die Weste- wat die grondslag van Westerse en veral Protestantse prestasie was.

  • Die Oppergesag van die Reg (Regering deur die Reg)

Die sentrale rol van die Reg is ‘n erfenis van die Romeine, en het die grondslag gelê vir die beperking van die absolute mag van heersers, asook vir Konstitusionalisme en die beskerming van menseregte soos eiendomsreg.

  • Burgerlike gemeenskap en pluralisme

Die ontstaan en voortbestaan van ‘n burgerlike gemeenskap en plurale samelewing was kenmerkend aan die Weste, en het ‘n belangrike rol gespeel om te keer dat Westerse state nie gesentraliseerde en vryheidslose burokratiese ryke word wat stagneer en vooruitgang gestrem het nie. Hieronder tel uiteenlopende vrywillige groeperings, vanaf gildes tot klasse, kultuur- en gemeenskapsorganisasies, kloosterordes en handelaars. Die sleutelrol van die kerngesin was ook ‘n belangrike rede vir die gesondheid van die Westerse samelewing.

  • Verteenwoordigende instellings

Die Westerse pluralisme het mettertyd tot verteenwoordigende instellings soos die eerste Parlemente gelei wat met verloop van tyd tot die moderne demokrasie ontwikkel het. Plaaslike selfregering wat tot outonome dorpe en stede ontwikkel het, was ook ‘n unieke Westerse verskynsel. Hierdie stede het die val van ryke en state oorleef, en was een van die redes hoekom die Westerse beskawing deur die eeue bly voortbestaan het.

Die Britse historikus Niall Ferguson, kom in sy trefferboek “Civilization”- The West and the Rest- tot die gevolgtrekking dat die Weste se kenmerkende instellings die hoofrede vir die Westerse sukses was. Die Weste het bloot meer doeltreffende politieke-, ekonomiese-, wetenskaplike-, militêre- en burgerlike instellings gehad wat die onderliggende oorsaak van die Westerse uitprestering van ander beskawings was. Ander geleerdes wys daarop dat elke kultuur sy eie instellings voortbring. Kultuur is dus die “moeder”, en die instellings die “kinders.” Daarom werk sommige instellings soos die demokrasie nie in kulture wat nie met die demokrasie as instelling versoenbaar is nie.

  • Persoonlike vryheid

Individualisme en persoonlike vryheid word vandag gesien as een van die belangrikste kenmerke wat die Weste onderskei van die kollektivisme van die meeste ander beskawings. Dit het veral in Protestantse lande gelei tot ‘n tradisie van persoonlike regte en vryhede, spesialisasie, mededinging, gevolg deur histories ongekende ekonomiese groei en menslike ontwikkeling. Die gelyker rol van die vrou in die Protestantse Weste het ook ‘n deurslaggewende rol in die opkoms van die Weste gespeel. Kulturele vryheid is ook ‘n kenmerkende Westerse erfenis.

  • Kapitalisme en die Wetenskap

Protestantse leerstellings het mettertyd tot die opkoms van die wetenskap, die kapitalisme en waardes soos spaarsamigheid, die Calvinistiese werksetiek en produktiwiteit, roepingsvervulling en mededinging gelei. Saam met groot verbeterings in gesondheidsorg, was dit die resep vir ongekende ekonomiese, intellektuele en kulturele groei en ontwikkeling. Dit was die dryfkrag agter die kragtige ekonomiese prestasies van Protestantse lande, wat mettertyd tot hierdie lande se demografiese-, militêre-, politieke-, wetenskaplike-, tegnologiese- en ekonomiese mag en oorheersing gelei het, as gevolg van die nuwe uitvindings en ontdekkings wat hieruit voortgespruit het.

  • Die Verbruikersamelewing

Die Verbruikersamelewing met sy klem op ekonomiese en tegnologiese mededinging, lewensstandaard en lewensgehalte, het gehelp om die groot meerderheid mense in Westerse state se lewens te verbeter en om voorspoedige samelewings te skep waarin almal ‘n belang gehad het. Dit was ook die dryfkrag agter die blywende ekonomiese groei en ontwikkeling in die Weste.

  • Werksetiek

Die Duitse Sosioloog Max Weber het geskryf dat die Protestantse werksetiek, gedryf deur ‘n roepingsbesef, ‘n groot rol in die Westerse ontwikkeling gespeel het. Hy het hierdie werksetiek treffend beskryf as “leef om te werk, en nie net werk om te leef” nie. Dit het nie ‘n ongebalanseerde lewensstyl beteken nie, maar bloot ‘n persoonlike verantwoordelikheidsbesef om jou roeping uit te voer en jou plig te doen.

  • Samevatting

Die suksesverhaal van ons Westerse erfenis kan in moderne taal opgesom word as ‘n mengsel van “harde- en sagteware.” Die hardeware is die kenmerkende Westerse stelsels en instellings wat hierbo bespreek is, en die sagteware is die godsdiens, kultuur en waardes wat inhoud daaraan gee. Die hardeware vloei egter uit die sagteware voort, en moet versoenbaar wees om te kan werk. Daarom kan Westerse stelsels nie goedsmoeds uitgevoer word na kulture waar dit nie inpas nie. Hierdie reël geld natuurlik andersom ook.

  1. Die Westerse krisis en die opkoms van nie-Westerse beskawings

Die nie-Westerse wêreld het oor die jare met aandag ‘n studie gemaak van hoe die Weste dit reggekry het om so sterk te word dat hulle die wêreld kon oorheers. Tipies hiervan, is ‘n Chinese geleerde wat tot die gevolgtrekking gekom het dat die Westerse opkoms onafskeidbaar gekoppel is aan die Protestantse Christendom:

“One of the things we were asked to look into was what accounted for the success, in fact the pre-eminence of the West all over the world. We studied everything we could from the historical, political, economic, and cultural perspective. At first, we thought it was because you had more powerful guns than we had. Then we thought it was because you had the best political system. Next we focused on your economic system. But in the past twenty years, we have realized that the heart of your culture is your religion: Christianity. That is why the West is so powerful. The Christian moral foundation of social and cultural life was what made possible the emergence of capitalism and then the successful transition to democratic politics. We don’t have any doubt about this.”[i]

Die hoofrede vir die opkoms van die nie-Westerse state, is dat hulle oor die jare van die Weste geleer het, en baie van die Westerse suksesresepte begin toepas het. Daarmee het baie van hulle suksesvol moderniseer, maar nie terselfdertyd verwesters nie, soos liberale Westerlinge geglo het. Daar was veral twee kenmerkende wyses waarop die nie-Westerse lande te werk gegaan het hiermee. Die eerste strategie was om selektief net die Westerse stelsels en instellings oor te neem wat kultureel aanpasbaar was. Die tweede was om Westerse stelsels soos demokrasie wat die wêreldstandaard geword het net na te boots of oppervlakkig toe te pas. China het die afgelope dekades byvoorbeeld meer kapitalisties begin raak, en ook die Westerse tegnologie, wetenskap, medisyne, industrialisasie en stedelike beplanning gebruik om hulself te moderniseer. Saam met hulle eie kulturele gebruike en werksetiek, was dit ‘n suksesverhaal. Talle ander Westerse stelsels, instellings en gebruike word steeds teengestaan, soos demokrasie, liberale sosiale waardes, persoonlike Vryheid en die Oppergesag van die Reg. Japan het weer die wetenskap, tegnologie, kapitalisme, demokrasie en die verbruikersamelewing oorgeneem, maar nie die Westerse populêre kultuur en individualisme nie. Rusland gebruik ‘n vorm van demokratiese kapitalisme, maar staan ook ander Westerse stelsels soos liberale sosiale waardes, persoonlike Vryheid en die oppergesag van die Reg teen. Indië is demokraties, maar het onlangs eers ekonomiese Vryheid begin instel, terwyl eiendomsreg, individualisme en liberale sosiale waardes sterk teengestaan word. Die Moslemlande gebruik Westerse tegnologie en ontwikkel hul ekonomieë deur handel met die Weste te dryf, maar beveg Westerse stelsels soos die demokrasie, skeiding tussen staat en kerk, liberale sosiale waardes en die populêre Westerse kultuur. Die meeste Afrikastate het Westerse stelsels soos demokrasie nageboots en oppervlakkig toegepas om Westerse hulp te bekom, en het die koloniale tale behou in vergeefse pogings om nasionale eenheid te skep en hulle bevolkings op te voed. Terselfdertyd is kapitalisme, demokratiese Vryheid, eiendomsreg en industrialisering teengestaan of net nie uitgevoer nie. Die Nigeriese intellektueel Ali Mazrui, het dit sinies as volg gestel : “Africa as a whole borrowed the wrong things from the West – even the wrong components of capitalism. We borrowed the profit motive, but not the entrepreneurial spirit. We borrowed the acquisitive appetites of Capitalism, but not he creative risk taking.” Aan die ander kant het Afrika oor die algemeen nog uiters konserwatiewe sosiale waardes, wat Afrikaleiers toenemend in konflik met liberale Westerlinge bring. Tog bied dit ‘n moontlike aanknopingspunt tussen Afrikaners en Afrikane.

Die gedeeltelike oorname van Westerse stelsels, instellings en gebruike was in kulture soos Japan, Suid-Korea, Taiwan en China uiters suksesvol, en begin ook vinnig vrugte afwerp in Indië, Brasilië en Rusland. Aan die kant is daar ten spyte van die huidige goeie ekonomiese groei nog nie oortuigende tekens dat Afrika al ‘n suksesvolle moderniseringsmodel ontwikkel het nie. Dit is veral kommerwekkend in die lig van die reuse bevolkingsgroei wat die Kontinent tans ondervind- veral in Afrika suid van die Sahara.

Terselfdertyd het talle liberale en Marxistiese intellektueles in die Weste bykans ‘n selfhaat in die Weste ontwikkel, en twyfel miljoene Westerlinge aan hulle eie voortreflike kultuurerfenis. Hierdie proses het so ver gegaan dat die Weste teen kerndele van hul eie suksesresepte draai, met die gevolg dat die Weste in ‘n krisis verkeer. Die belangrikste hiervan is die proses van ontkerstening in Europa, die instelling van Westerse Sosialisme, onbeperkte materialisme, vermaakgedrewe gemeenskappe, individualisering, liberale sosiale waardes wat die tradisionele gesin ondermyn en kinders strem, waardes wat geboortekoerse laat daal, die afname in werksetiek en spaarsin, die beperking van persoonlike Vryheid en die verlies van kulturele selfvertroue. Die gevolg van al hierdie ontwikkelings is die huidige Westerse krisis wat nog ver van verby is en wat die wêreld soos ons dit ken totaal kan verander.

Twintig jaar gelede het die Kommunisme met ʼn groot gedruis op homself ingeplof. Die Westerse “goue tweeling” ‒ die Amerikaanse demokratiese kapitalisme ‒ het die algemene wêreldstandaard geword waaraan almal moes voldoen. Maar die wêreldwinde van verandering waai intussen weer stormsterk. Hierdie keer is die Weste in ʼn krisis en nuwe reuse soos China, Indië en Brasilië begin opstaan. Dit bring die ondenkbare vraag na vore: Wat as die Weste hierdie keer “val”, soos al tevore met die val van die Romeinse Ryk gebeur het? Anders gestel: Kan die globale magsverskuiwing weg van die Weste lei tot die val van die Amerikaanse demokratiese kapitalisme as wêreldstandaard?

Suid-Afrika is ʼn mikrokosmos van wêreldgebeure wat nou in die groter geskiedenis afspeel. Die einde van die plaaslike Westerse oorheersing in 1994 en die Afrikanisering wat homself sedertdien voltrek, open ʼn venster op die toekoms van die wyer ontluikende post-Westerse wêreld. Die Westerse “wêreldaandeel” in bevolkingsgetalle, politieke, ekonomiese en militêre mag neem betreklik vinnig af en die huidige wêreldkrisis kan hierdie magsverskuiwing versnel. Dit is onafwendbaar dat (Westerse) wêreldwaardes gaandeweg daarmee saam ʼn grondverskuiwing sal ondergaan, wat mettertyd die heersende liberaal-kapitalistiese model gaan uitdaag. Die Weste beskik eenvoudig nie meer oor die mag om hulle waardeheerskappy te rugsteun nie en die nuwe moondhede gaan hulself al hoe meer laat geld. Daarom sal die Weste moet aanpas by die nuwe Wêreld, en eerder probeer herleef as te oorheers.

Indien die Weste soos in Libië en Sirië gaan aanhou probeer om sy modelle en standaarde op die wêreld af te dwing, gaan hulle onvermydelik op al groter botsings met die nuwe globale uitdagers afstuur. Sulke konflik kan net een gevolg hê: Die versnelling van die afgang van die Weste. Kyk maar hoe die oorwinning van die Britte in die Wêreldoorloë terselfdertyd hulle supermagstatus beëindig het. In belang van wêreldvrede en die selfbehoud van die Weste, sal die Weste die kuns moet aanleer om nie die magsverskuiwing te probeer keer nie, maar om daarmee te leer saamleef. Ondenkbaar miskien, maar onkeerbaar beslis. Dit sal ʼn wêreld moet wees waar kultuur die Amerikaans geleide Westerse liberale ideologie, as bepaler van die wêreldorde vervang.

Hierdie gebeure is van groot betekenis vir Suid-Afrika. Die tekens wys dat hoe verder ons van die Westers-oorheersde negentigs af beweeg, hoe verder beweeg die ANC weg van die oorspronklike Westers-liberale vertolking van die Grondwet. Die vraag is – soos elders in die wêreld ‒ of ʼn poging om die land se geskiedenis te probeer vashou in ʼn tydgleuf van Westerse waardes in ʼn post-Westerse era kan slaag? Die Afrikaner besef histories dat kultuur sterker is as ideologie. Daarom behoort ons te fokus op die bevordering van groter wedersydse erkenning en respek, eerder as om polities of met ander metodes weer die land te probeer oorheers. Ons benodig kulturele ruimtes om in groter verskeidenheid in Afrika met ons bure saam te leef, in plaas daarvan dat ons mekaar probeer oorheers.

  1. Die Afrikaner se unieke kulturele identiteit

Die Afrikaner is ‘n Westerse volk met tradisionele Westerse waardes, maar het dit in die unieke omstandighede en ervaring van Afrika verder verfyn en ontwikkel om die suksesvolste land op die kontinent te ontwikkel.

Die Afrikaner het egter in ‘n bestaanskrisis beland as gevolg van demografiese-, arbeids-, ekonomiese-, politieke en ander gebeure, saam met die Afrikaner elite se aanname van liberale Westerse waardes. Die feit dat die Afrikaner soveel Westerse waardes deel, bevat ook bepaalde nadele soos dat talle Afrikaners betreklik maklik na ander Westerse lande emigreer het in plaas van om hier ‘n staanplek te maak.

Daarom is dit in ons huidige krisis noodsaaklik dat die Afrikaner weer op ‘n “selfontdekkingstog’ gaan, om die bepalende bestanddele van ons kulturele identiteit wat ons oorlewing en sukses kan verseker te bepaal. Die herontdekking en bevordering hiervan, moet ons in staat stel om ons volk weer te laat herleef en ‘n toekoms te skep waarin ons blywend vry, veilig en voorspoedig kan voortbestaan.

Met die Westerse grondslag hierbo as basis, het die Afrikaner bepaalde instellings, waardes en oortuigings ontwikkel wat in belangrike opsigte verskil van die moderne liberale Westerse waardes.

Die belangrikste hiervan is die volgende:

  • Protestantse geloof en –waardes

Die Christelik-Protestantse geloof is vir die deursnee Afrikaner nog ‘n kernbelangrike deel van sy identiteit, ten spyte van ‘n groeiende god- en kerklosheid onder veral die Afrikaner-elite. Prof HG Stoker in sy bekende artikel, Die Calvinisme as wortel van ons volksbestaan, is van mening dat die Afrikaner uniek is in die sin dat hy vanuit die Calvinisme onstaan het. Die Afrikaner het ook sy Calvinistiese beskouings nie net in die private uitgeleef nie, en dit het die grondslag van sy instellings gevorm. Daar is egter deesdae ‘n sterk neiging om Christenskap meer privaat uit te leef – deels vanweë die grootste Afrikaanse kerke se wegbeweeg van ‘n verbintenis met die Afrikaner as gemeenskap.

  • Vryheidstrewe

Die Afrikaner se geskiedenis word gekenmerk deur sy vryheidstrewe as belangrikste historiese ideaal. Dit kom na vore in bykans al die Afrikaner se Stigtingsdokumente, gedigte en letterkunde. Hierdie Republikeinse strewe loop soos ‘n goue draad deur ons geskiedenis. Afrikaners was histories nie net met regverdige heersers tevrede nie, en het na vryheid gestreef. Hoewel dit nou op ‘n laagtepunt mag wees, is dit steeds ‘n belangrike onderliggende strewe wat weer kan opvlam as die omstandighede verander. ‘n Belangrike voorwaarde vir die herlewing hiervan is die hervertolking daarvan in ‘n idioom wat weer die verbeelding kan aangryp, gegrond op ‘n geloofwaardige uitvoerbare plan wat tegelykertyd idealisties en realisties is.

  • Sosiale waardes

Gesaghebbende opnames soos die ‘World Value Survey” het getoon dat Suid-Afrika in die algemeen en die Afrikaner in die besonder, die sosiale rewolusie wat die Weste in die Sestigerjare beleef het gemis het. Hierdie tradisionele- of konserwatiewe waardes, werk by die meeste Afrikaners ook deur na die politiek, ekonomie en ideologie.

  • Taal- en kultuur

Afrikaans is vir die meeste Afrikaners nie net ‘n kommunikasiemiddel nie, maar deel van ons identiteit. Die Afrikaner se gehegtheid aan sy taal- en kultuur is betreklik uniek in die Weste, met uitsonderings soos die Franse en die Vlaminge. Die hoofrede is moontlik dat die Weste uit groot kultuurgroepe bestaan wat vanweë hulle histories oorheersende rol nie voel dat hulle tale of kulture bedreig word nie. Die verwaandheid wat daaruit spruit is ‘n belangrike rede waarom hulle glo dat nuwe emigrante by hulle kulture sal inskakel. Daar is ook by baie Afrikaners ‘n rassebewustheid, moontlik as gevolg van die rassesamestelling van die land en kontinent, en die regering se beklemtoning van ras. Die Afrikaner het ook nog ‘n sterker bewustheid van sy geskiedenis en onderlinge lotsverbondenheid as ander Westerlinge.

  • Gelyke wegspring teenoor gelyk by die wenpaal

Die Afrikaner voel baie sterker oor die regverdigheid van ‘n gelyke wegspring as die geregtigheid van ‘n gelyke uitkoms. Daarmee saam is ons nie klasbewus nie, en lê meer klem op die belangrikheid van persoonlike prestasie as aan familiegeskiedenis.

  • Gemeenskap en gesin

Gesin, familie en gemeenskap (kerk, skool, gemeenskapsinstellings) is vir Afrikaners oor die algemeen belangriker as ander meer ontstamde Westerlinge. Ons is veral nie so afhanklik van die staat soos Europeërs nie.

  • Prakties teenoor teoreties

Die Afrikaner se eeuelange stryd om oorlewing en die feit dat ons op ons eie aangewese is, het ons meer vindingryk en prakties gemaak, maar ongelukkig ook minder strategies, -teoreties en -nadenkend. Daarom kon Afrikaners ook makliker aanpas sonder die staat as sentrale verwysingspunt. Ons historiese geheue is ook veel korter as gevolg van ons korter geskiedenis.

  • Veiligheid

Die Nederlandse skrywer Bob Goudzwaard het gesê dat die Afrikaner se geskiedenis nie ‘n stryd om oorheersing was nie, maar ‘n stryd om oorlewing. Hierdie bestaanskrisse waarin die Afrikaner telkemale verkeer het, het ‘n bepalende invloed om sy lewens- en wêreldbeskouing gehad.

  • Selfdefinisie

Soos die meeste ander kleiner groepe wat in die midde van ‘n meerderheid ‘n mate van bestaansangs beleef, definieer die meeste Afrikaners hulself etnies en kultureel eerder as polities of ideologies. Dit staan veral teenoor die Engelse wêreld se idee van “Civil Citizenship”, waar almal binne die grense van die land deel van die staatsnasie is. Westerlinge sien ons daarom as eksklusief en selfs rassisties, terwyl ons hulle beskou as kulturele imperialiste wat kleiner groepe by hulle wil inlyf. Die Weste het sedert WO2 ‘n afkeer aan etnisiteit in sy Westerse vorme as dit by groepslidmaatskap kom.

  • Die Weste is steeds die beste

Afrikaner identiteit staan tans onder groot druk, omdat die kernelemente daarvan as “voorregte van die vorige bestel” afgemaak word. Daarom sit baie Afrikaners met `n verskeurde identiteit. Hulle voel hul kan nie vreesloos opstaan vir sy kulturele identiteit en geskiedenis nie, want dit is deel van “Apartheid.” Die herstel van ‘n gesonde Afrikaner selfbeeld en -selfvertroue is daarom een van die grootste uitdagings vir moderne Afrikaners.

Nail Ferguson kom tot die gevolgtrekking dat sekere van die Westerse sukseswaardes nie uniek is nie en ook deur ander beskawings gedeel word. Maar hy beskou die Westerse waardestelsel in sy geheel as uniek, en nog steeds die beste wat die Weste aan die wêreld kan bied.

Die Afrikaners is Westerlinge met ‘n sterk verbintenis tot Afrika in die algemeen en Suid-Afrika in die besonder. Ons Westerse- en Afrikaner waardes is nog steeds toepaslik en onderliggend aan en belangrik vir ons toekomstige sukses in die na-Westerse era.

6.  Samewerking

Die World Value Survey het duidelik uitgewys dat behoudende sosiale waardes die grootste gemene deler tussen al die rassegroepe in die land is. Die enigste betekenisvolle uitsondering is die elites van hierdie groepe. Daarom is dit belangrik dat ‘n verstandige strategie uitgewerk word rondom hierdie gedeelde waardes, asook ‘n plan om botsende waardes te oorbrug.

Die uitgangspunt behoort gedeelde belange te wees, en nie gedeelde sienings nie. Die rede hiervoor is dat daar geweldige ideologiese, ekonomiese, kulturele en politieke verskille tussen politieke- en kultuurgroepe in die land is, maar dat dit in almal se gedeelde belang is om met mekaar saam te werk ter wille van vrede en voorspoed.

Die doel van hierdie artikel is egter nie om in besonderhede in te gaan op ‘n samewerkingstrategie tussen ons as Westerlinge in Afrika, met ander kulture of die regering nie. Maar die oorhoofse vertrekpunt hiervoor sal wees dat dit belangrik is dat ons wel ‘n strategiese samewerkende verhouding behoort na te streef, hoewel daar op taktiese vlak wel konflik sal wees as ons grondliggende regte en -belange aangetas word. Die taktiese konflik sal egter ten doel hê om die kanse op strategiese samewerking te versterk.

Geraadpleegde werke

Aikman, David. 2003. Jesus in Beijing: How Christianity Is Transforming China and Changing the Global Balance of Power. Washington, DC: Regnery.

Beinhocker, E.D. (2007). The Origin of Wealth: Evolution, Complexity, and the Radical Remaking of Economics. Random House, London.

Davidson, J.D. & Rees-Mogg, W. (1992). The Great Reckoning: How the World Will Change in the Depression of the 1990s. Sidgwick & Jackson, London.

Ferguson, N. (2011). Civilization: The West and the Rest. Penguin Books, London.

Ferguson, N. (2012). The Great Degeneration: How Institutions Decay and Economies Die. Penguin Group, London.

Fukuyama, F. (2012). The End of History and the Last Man. Twentieth Anniversary Edition. Penguin Books, London.

Frohnen, B., Beer, J & Nelson, J.O. (2006). American Conservatism: An Encyclopedia. ISI Books, Wilmington.

Giliomee, H. (2003). Die Afrikaners. Biografie van ‘n Volk. Tafelberg, Kaapstad.

Huntington, S.P. (1996). The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order. Simon & Schuster, New York.

Kennedy, P. (1994). Preparing for the Twenty-First Century. Fontana Press, London.

Kennedy, P. (1989). The Rise and Fall of the Great Powers: Economic Change and Military Conflict from 1500 to 2000. Fontana Press, London.

Kotzé, H. (2007). World Values Survey. Centre for International and Comparative Politics. University of Stellenbosch.

Landes, D.S. (2007). The Wealth and Poverty of Nations. Abacus, London.

Louw, N.P.v.W. (1986). Versamelde Prosa, 1 & 2. Human & Rousseau, Kaapstad.

Malan, K. 2011. Politokrasie. ‘n Peiling van die dwanglogika van die territoriale staat en gedagtes vir ‘n antwoord daarop. Pretoria University Law Press.

Naphy, W.G. (2008). The Protestant Revolution: From Martin Luther to Martin Luther King Jr. BBC Books, Random House, London.

Scholtz, G.D. (1978). Die Ontwikkeling van die Politieke Denke van die Afrikaner, Deel 5. Perskor Uitgewery, Johannesburg.

Sowell, T. (2006). Black Rednecks and White Liberals. Encounter Books, New York.

Stark, R. (2006). The Victory of Reason: How Christianity Led to Freedom, Capitalism, and Western Success. Random House, New York.

Tarnas, R. (2000). The Passion of the Western Mind: Understanding the Ideas that have shaped our World View. Pimlico, Random House, London.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.