Oor gemeenskap en ’n gemeenskapstrategie vir die toekoms

deur Prof. Danie Goosen 

Oor gemeenskap en ’n gemeenskapstrategie vir die toekoms


NP van Wyk Louw – Kultuuraand  

Bloemfontein  

11 Junie 2015

Dit is vir die FAK ’n voorreg om vanaand hier te kan wees en saam met die Bloemfonteinse Afrikaner-Kultuurraad hierdie geleentheid te kan aanbied. Dit is ’n geleentheid waar ons die nagedagtenis van een van ons grootste digters en denkers, NP van Wyk Louw, vier.

Ons gaan hieronder oor ‘gemeenskap’ en ’n ‘gemeenskapstrategie’ vir die toekoms praat. Alhoewel dit nie letterlik met Louw se hantering van hierdie sake ooreenstem nie, sal dit hopelik trou aan die gees van sy werk wees. Gemeenskap en ’n gemeenskapstrategie vir die toekoms was nie vreemd aan sy denke nie. Inteendeel, uit die grootse biografie van prof Jaap Steyn oor Louw word laasgenoemde aangehaal waar hy gesê het dat indien sy eie gemeenskap en in die besonder sy eie volk sou ondergaan, “sy hele lewe en werk sinledig” sou wees (Steyn 1998:976).

 In die eerste deel sal ons stilstaan by ons spesifieke konteks en die uitdaginge wat dit kenmerk. In die tweede deel staan ons stil by ’n antwoord daarop, naamlik ’n gemeenskapstrategie vir die toekoms.

DEEL EEN: KONTEKS EN UITDAGING

  1. Suid-Afrika se geskiedenis is die geskiedenis van haar gemeenskappe. As jy die gemeenskappe uit die geskiedenis haal, begryp jy eenvoudig nie die uitdagings waarvoor Suid-Afrika telkens weer te staan kom nie. Ook nie die uitdagings van vandag nie.

Hierdie onbegrip kom gereeld voor. Verskeie kommentators maak of die gemeenskappe nie bestaan nie. As hierdie onbegrip met iets vergelyk kan word, kan ons sê dit stem ooreen met ’n redakteur van ’n dagblad wat glad nie die hart en siel van die mense begryp vir wie hy elke dag skryf nie. Met hierdie voorbeeld verwys ek uiteraard nie na die Volksblad nie. Trouens, ons wil vanaand juis by hierdie luisteryke geleentheid vir die Volksblad bedank, omdat dit die idee van gemeenskap en die uitdaginge waarvoor gemeenskappe vandag te staan gekom het, kennelik baie goed begryp.

Die grootste uitdaging aan Suid-Afrika is nog altyd hoe om ruimtes vir haar veelheid van gemeenskappe te skep. Wat bedoel ons daarmee?

As ons dit in FAK-taal kan antwoord, kan ons sê dat die grootste uitdaging nog altyd is hoe om ’n toestand te skep waarin twee uiteenlopende dinge tegelyk waar kan wees: Die uitdaging is nog altyd hoe die gemeenskappe seker oor hulself kan wees en tegelyk goeie verhoudinge met ander gemeenskappe kan handhaaf. Hierin lê die sleutel tot ons ganse geskiedenis opgesluit.

Terloops, daar is min figure onder Afrikaners wat die waarheid van hierdie twee dinge so goed as NP van Wyk Louw begryp het. Louw het dikwels met intensiteit klem gelê op sowel die belangrikheid van die eie gemeenskap as goeie verhoudinge met ander gemeenskappe.

Hierdie twee dinge hou intiem met mekaar verband. Indien die eie gemeenskap onseker oor homself en sy toekoms is, lei dit bykans noodwendig tot slegte verhoudinge met ander gemeenskappe. Andersom geformuleer, indien die eie gemeenskap veilig en geborge voel, lei dit tot goeie verhoudinge met ander gemeenskappe.

Hierdie eenvoudige waarheid is geskoei op eeue se ervaring. Diegene onder ons wat meen dat dit juis die ontkenning van die eie gemeenskap is wat die voorwaarde vir goeie verhoudinge is, verstaan hierdie waarheid nie.

Verskillende soorte gemeenskappe word vandag aan ernstige vorme van druk onderwerp. Ek noem slegs drie voorbeelde.

i). Die ekonomiese ellende waarin miljoene mense hulself bevind, kan direk aan die verlies aan gemeenskapsinstellings soos gesinne, skole, toegang tot markte en gebrekkige plaaslike strukture toegeskryf word. Nog meer, dit kan ook toegeskryf word aan die verlies aan gemeenskapswaardes soos pligsgetrouheid, hardwerkendheid en die strewe na die voortreflike.

ii). Ook die skokkende misdaad wat Suid-Afrika teister kan direk na die krisis in gemeenskapsinstellings en gemeenskapswaardes teruggevoer word. Die waarheid is dat die misdaadprobleem nie opgelos gaan word as genoemde gemeenskapsinstellings en -waardes nie herstel word nie.

iii). Maar ook ons taal- en kultuurgemeenskap, naamlik die Afrikaners, bevind onsself vandag in engtes gedryf. Tekens hiervan is pogings om Afrikaans op Kovsies en ander kampusse te verwyder; die druk op Afrikaanse skole; pogings om Afrikanermonumente te verwyder; die feit dat Afrikaners en hulle geskiedenis toenemend gekriminaliseer en – soos met Jan van Riebeeck – tot sondebok uitgeroep word (so asof die uitdrywing van die sondebok die staatsverval en ekonomiese nood sal omkeer); en die feit dat kritiese stemme jeens die heersende orde sonder meer met die kwas van ‘rassis’ toegetakel word. Vra maar vir ’n baie onwaarskynlike rassis, naamlik Willem Boshoff, die Bloemfonteinse kunstenaar, wat onlangs met dié skeldwoord swartgesmeer is.

Een van die talle gevolge van die druk op ons gemeenskappe is presies wat ons hierbo gesê het, naamlik dat die verhoudinge tussen die verskillende gemeenskappe daaronder ly. Dit word toenemend gekenmerk deur stygende agterdog, die gewilligheid om andere as sondebokke te identifiseer, groeiende rassisme en selfs xenofobie.

Om te herhaal, hoe minder gemeenskapsgeborgenheid daar is, des te meer sal daar ook agterdog wees; maar omgekeer, hoe meer gemeenskapsgeborgenheid daar is, des te meer samewerking sal daar ook tussen gemeenskappe wees. Hierdie is ’n wet wat die geskiedenis van gemeenskappe kenmerk.

  1. Hoe moet die druk op ons gemeenskappe verstaan word? Tot wie se voordeel steek dit? Strek dit tot die voordeel van die gemeenskappe? Of strek dit eerder tot die voordeel van die staat? Soos in die geval van die Potchefstroom-kampus van die NWU, waar ’n kunsmatig geskepte krisis onder Afrikaanse studente ’n geleentheid vir die minister van hoër onderwys gebied het om sy staatsentralistiese idioom op die kampus af te dwing?

Ons kan natuurlik verskillende onmiddellike oorsake identifiseer wat vir die druk op gemeenskappe verantwoordelik is. Maar ek wil graag op ’n groter historiese oorsaak wys, naamlik die eeue-oue verhouding tussen staat en gemeenskap. Hierin lê ’n belangrike historiese perspektief vervat waarvan ook ons deeglik moet kennis neem.

In sy rigtinggewende boek, The Quest for Community, het die sosioloog, Robert Nisbet, reeds dekades gelede aangevoer dat moderne state vanaf die 17de eeu dikwels die veelheid van gemeenskappe in hul onderskeie grondgebiede as ’n probleem en selfs as ’n vyand ervaar het.

Hierdie waarheid is nie net van toepassing op talle moderne state in die algemeen nie, maar ook in vele opsigte op die Suid-Afrikaanse staat, dit alles in weerwil van die beskerming wat die bestaande grondwet vir gemeenskappe bied. Dit blyk onder meer uit die volgende voorbeelde:

i). Eerstens, moderne state poog dikwels om hul onderskeie grondgebiede aan één gryse standaard (soos onder meer uitgedruk in één standaardtaal) te onderwerp. Die noodwendige gevolg hiervan is dat state dikwels die veelheid van onder meer taal- en kultuurgemeenskappe aan ernstige druk onderwerp.

Wat in die moderne Frankryk gebeur het, is tipies hiervan. Nog tot so onlangs as 1820 kon tot 20% van die inwoners van die destydse Frankryk glad nie Frans verstaan nie. Toe het hulle nog ’n veelheid van ander tale gepraat. Vandag is dié tale bykans volledig uitgewis, alles vanweë ’n (noem dit) Jakobynse proses van taalstandaardisering. Dieselfde Jakobynse gees is ook in SA aan die werk, in weerwil van die goeie bedoelinge van ons grondwet.

ii). Tweedens en in aansluiting hierby: die staat se ongemak en selfs vyandskap jeens gemeenskappe kom ook tot uitdrukking in hul sentralisering van mag, dikwels in die hande van ’n minderheid (soos in die ou Suid-Afrika), of in die hande van die meerderheid (soos in die teenswoordige Suid-Afrika).

Hierdie sentralisering word onder meer gedoen deur die instellings van gemeenskappe, dit wil sê hulle gesinne, skole, besighede, markte, universiteite, kerke, ensovoorts, aan die gesag van die staat te onderwerp. In plaas daarvan dat die gesag, soos in moderne gemeenskapsfederasies, na die veelheid van gemeenskappe en hul instellings afgewentel word, word alles eerder binne die staat geabsorbeer.

Ons Afrikaanse skole is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ingevolge die Suid-Afrikaanse grondwet rus die gesag met betrekking tot openbare skole by die gemeenskappe en in die besonder by die beheerliggame. Hierdie gemeenskapsfederatiewe beginsel van die grondwet is so pas weer in die hof bevestig. Maar in die praktyk verloop dit dikwels anders. In die praktyk poog die staat eenvoudig onverpoosd om die meerderheidswil op die Afrikaanse skole af te dwing. Sentralisering van gesag in sy hande is belangriker as die afwenteling daarvan na die gemeenskappe toe. Hier volg die huidige staat die historiese voorbeeld van talle ander sentralistiese state.

Wat staan ons te doen? Ons staan in die tweede deel by enkele gedagtes hieroor stil.

DEEL TWEE: DIE OPLOSSING

Daar wag ’n groot en omvattende taak op ons. Bogenoemde uitdaginge moet beantwoord word. En dit kan gedoen word. Trouens, dit word reeds gedoen.

Vandag is daar wêreldwyd ’n groot hoeveelheid gemeenskappe wat vir hulself verantwoordelikheid aanvaar. In plaas daarvan dat hulle op die state wag, tree hulle eerder vir hulself in, dikwels met groot sukses.

In aansluiting hierby is ook Afrikaners vandag toenemend besig om – sonder dat ons dit altyd so verwoord – ’n gemeenskapsantwoord te gee. Dit is ’n antwoord wat nie vanuit die staatsentrum (dit wil sê van bo af) kom nie, maar eerder vanuit die gemeenskap (dit wil sê van onder af). Ons sou lank by die prestasies wat reeds hier onder en tussen ons behaal word, kon stilstaan.

Histories gesproke is die van-onder-af benadering (die gemeenskapsbenadering) nie vreemd aan Afrikaners nie. Anders as wat ons vanuit ’n staatsperspektief geleer is, het Afrikaners vir groot dele van hul geskiedenis nie hulself van die staatsentrum afhanklik gestel nie. Inteendeel, vir groot dele daarvan het ons vanuit die gemeenskap self gehandel.

’n Voorbeeld hiervan is die Groot Trek, een van die roemrykste gebeure in ons geskiedenis. Die Groot Trek was nie die prestasie van ’n staat nie, maar van die vroeë en ontluikende Afrikaners self. Trouens, dit het teen die wil van die destydse staat geskied. En dit was – laat ons dit met ’n vonkel in die oog vir mekaar sê – ’n reuse ekonomiese, militêre en politieke sukses. Die Groot Trek was ’n triomf vir die gemeenskapsgedagte.

Afrikaners het eers vanaf 1948 werklik verstaatlik. Van toe af was ons geneig om onsself van die staat afhanklik te stel, dikwels tot groot nadeel van ons eie sin vir selfstandige handeling. Vandag is daar, in weerwil van die feit dat dié staat lank reeds tot die verlede behoort, steeds talle onder ons wat binne die betowerende atmosfeer van die staatsgedagte vasgevang is. Hulle glo steeds dat ons heil vanuit ’n staatlike sentrum moet kom.

In die mate waarin ons deur dié atmosfeer betower word, is ons egter gedoem om in ’n spiraal van teleurgestelde verwagtinge vasgevang te bly. Die waarheid is dat die steeds verswakkende staat nie in staat is of dikwels – in aansluiting by die eeue-oue geskiedenis van die staat – ook onbereidwillig is om hom oor ’n gemeenskap soos die Afrikaners te ontferm.

Daarmee sê ek natuurlik nie dat Afrikaners nie goeie verhoudinge met die staat moet handhaaf nie. Kleiner volkere moet goeie betrekkinge met state kan handhaaf, ter wille van hulself, maar ook ter wille van die groter geheel. Ons kan egter nie ons toekoms daaraan toevertrou nie.

Afrikaners het vandag ’n kultuurstrategie nodig ingevolge waarvan steeds groter klem op die gemeenskapsbenadering geplaas word. Weg van staatsafhanklikheid na gemeenskapselfstandigheid; weg van die sindroom van wag op die sentrum na deelname aan eie gemeenskapsinstellings; weg van die (noodwendige) teleurstellings in die staat na ’n benadering wat self skep, self handel, self die toekoms oopmaak.

Alhoewel dié strategie nie direk uit die werk van NP van Wyk Louw afgelei kan word nie, is die oproep tot die herbesinning oor ons kultuurstrategiese keuses trou aan die gees van sy werk. Louw was telkens bedag daarop dat Afrikaners hulself nie strategies in ’n hoek moet vasdraai nie. Louw het ’n kultuurstrategiese verstarring gevrees. (Daarom ook sy skerp kritiek op die destydse kultuurorganisasies en hul toe reeds verstarde denke). Tegelyk het hy kultuurstrategiese vlugvoetigheid aangemoedig. (Daarom ook sy herhaalde oproepe tot dieper dink en ’n wegbytel aan uitgediende strategiese benaderinge).

TEN SLOTTE: LEWENSBESKOULIKE VOORWAARDES

As Afrikaners hulself in die toekoms steeds sterker tot ’n gemeenskapsbenadering verbind, is daar belangrike lewensbeskoulike voorwaardes aan verbonde. Ek beperk my tot slegs enkeles. Ons sluit ook daarmee af.

  1. Afrikaners sal met die oog op ’n suksesvolle gemeenskapstrategie ’n middelgrond moet opsoek vanwaaruit hulle vir hulself as kultuurgemeenskap kan intree. Afrikaners is nie ekstreme mense nie. Ons hou nie van uiterstes nie. Inteendeel, by verre die meeste Afrikaners vind hulle eerder in ’n lewensbeskoulike middelgrond tuis.

Om onsself in so ’n middelgrond tuis te maak, is nie ’n teken van swakheid nie. Inteendeel, ons as Afrikaners is nog altyd die sterkste wanneer ons vanuit so ’n middelgrond dink en handel. Tegelyk is ons op ons swakste wanneer ons deur ekstreme standpunte uitmekaar gedryf word. Die verlammende twiste tussen Afrikaners tydens die groot oorgang in die vroeë 90’er jare is die beste getuienis hiervan. In plaas daarvan dat ons toe eenheid rondom ’n middelgrond opgesoek het, was ons hopeloos verdeel. In menige opsigte is die krisisse waarmee Afrikaners vandag te doen het die gevolg hiervan, naamlik die gebrek aan ’n middelgrond.

NP van Wyk Louw het dié krisis bykans profeties geantisipeer toe hy reeds dekades voor die 90’er jare gepleit het dat ons oënskynlik uiteenlopende standpunte in hul samehang moet raaksien. “Ek glo … aan die nugter oordeel en die gematigdheid van die meerderheid van ons volk”, het hy geskryf (Aangehaal uit Steyn 1998: 991). Louw se destydse voorbeeld was natuurlik die oënskynlik uitsluitende begrippe ‘liberaal’ en ‘nasionaal’. Destyds wou hy hê dat ons ’n middelgrond in die ‘liberale nasionalisme’ moes vind. Daarmee wou hy voorkom dat ons in ekstreme standpunte uiteenval.

Vandag sal ons nie noodwendig soos Louw vir die liberale nasionalisme pleit nie, maar eerder vir die samehang tussen individu en gemeenskap; vir die samehang tussen ’n beskerming van die eie gemeenskap en samewerking met ander gemeenskappe; vir die samehang tussen ons tradisie en die moderne wêreld, verlede en hede; vir die samehang tussen ons eie gemeenskaplike strewe na die goeie en die grondwetlike klem op menseregte, ensovoorts. Maar hoe ons ook al die middelgrond formuleer, ten grondslag hiervan lê, soos by Louw, die soeke na daardie kragtige versamelpunt vanwaar ons met selfvertroue, ewewig en ’n gesonde toekomsvisie kan handel.

  1. In die hart van ’n kultuurstrategie wat op die gemeenskapsgedagte gegrond is, staan die idee van vryheid. Maar wat bedoel ons met vryheid?

Die vryheid wat ons tans binne die grondwetlike orde geniet (en wat teoreties gesproke deur die staat beskerm moet word), is die vryheid van keuse. Afrikaners se aandrang op hul vryheid van keuse is belangrik. Dit moet telkens weer deur ons opgeneem en – as dit moet – in die howe verdedig word.

Maar vir gemeenskappe is daar ook ’n ander en selfs belangriker vryheid wat nagestrewe moet word. Ons kan dit die vryheid van verwerkliking noem. Dit is ’n vryheid wat nie in en deur staatlike strukture tot sy reg kom nie, maar in en deur gemeenskapsinstellings, dit wil sê van onder af, vanuit die gemeenskap self. Wat word daarmee bedoel?

As ek as onderwyser op ’n voortreflike wyse klasgee, word ek as onderwyser verwerklik. Dieselfde is waar van ons musici, huisvroue, prokureurs, boere, dominees, skrywers, sportmense, ensovoorts. As ons hierdie dinge op ’n voortreflike wyse binne die veelheid van gemeenskapsforums doen, word ons verwerklik. En wanneer dit gebeur, so leer ons eeue-oue Westers-Christelike tradisie, kan geluk ons as gemeenskap te beurt val.

Vryheid van keuse is belangrik. Daarmee word ons in staat gestel om nee vir onnodige inmenging in ons lewe te sê. Maar die vryheid van verwerkliking is eweneens belangrik. Daarmee word ons in staat gestel om ja te sê vir geluk – nie net van ons as individue nie, maar ook vir ons as gemeenskap. Dwarsdeur ons tradisie is dié geluk as ’n hoë doelwit van die gemeenskapslewe ervaar. In en deur dié geluk kan ons as gemeenskappe floreer, ook ons as Afrikaners.

  1. State regeer oor groot ruimtes. Kyk maar na die landskaarte. Moderne state trek kaarte en gooi kunsmatige ruitpatrone oor groot en omvattende gebiede.

Gemeenskappe daarteenoor kom nie tot hul reg in groot ruimtes nie. Gemeenskappe soek eerder plekke op waar hulle veilig kan wees, waar hulle kan assosieer, waar hulle voortreflike kan handel en geluk kan ervaar.

Plekke is dinge soos gemeenskapsinstellings (d.w.s. gesinne, skole, universiteite, kultuurorganisasies, kunsterade, teaters, besighede, ensovoorts), maar ook historiese terreine, woonbuurtes, dorpe, lokale gebiede en selfs enkele stede met hul pleine, strate, restaurante en teaters.

Hier lê een van ons grootste uitdagings. Ons het nie groot staatlike ruimtes nodig nie. Trouens, wat wil Afrikaners met groot staatlike ruimtes maak? Ons het eerder konkrete plekke nodig waar ’n gemeenskaplike lewe tot haar reg kan kom.

Om ons plekke op te eis, is nie ’n onmoontlike opgawe wat – soos met onmoontlike eise – ons in ’n spiraal van teleurgestelde verwagtinge vasgevang hou nie. Dit is moontlik, uitvoerbaar, haalbaar. Trouens, Afrikaners is reeds besig om op ’n suksesvolle wyse konkrete beslag aan sodanige instellings en plekke te gee. Dit moet steeds verder uitgebou word.

  1. Moderne state gaan dikwels uit van die standpunt dat hulle godsdienstig gesproke neutraal moet wees. In plaas daarvan om in God geanker te wees, verkies hulle dikwels om vanuit ’n soort neutrale niks te vertrek. ’n Voorbeeld hiervan is die stille gebed wat by staatsgeleenthede gebruik word. Ten diepste rus dit op die gedagte van ’n neutrale werklikheid vanwaaruit die verhoudinge tussen verskillende godsdienstige tradisies onderling gereguleer word.

’n Gemeenskap soos die Afrikaners daarenteen het nog nooit anders gedoen as om hulself in die lewende God van die Bybel te anker nie. As ons vandag oor die toekoms van ons as gemeenskap nadink, kan dit ook nie anders wees nie. Ons kan dink, verbeel en handel soos ons wil, maar as dit nie in dié ewige Waarheid gegrond is nie, is dit alles tot niks gedoem.

NP van Wyk Louw het dit geglo. Ons sluit af met ’n aanhaling uit sy werk. Hy skryf dat die Afrikaners in die ewige waarheid van die geloof geanker moet bly. In sy eie woorde:

“Daar word ’n hoër standpunt vereis. Dit klink dapper om te roep: vertrou op God, en loop jou pad met eer! Maar dit is nie ons pad wat geloop en ons eer wat behou moet word nie. Dis God s’n. … Laat ons in ons krisis vandag eerder dink aan die grootste gebod: Jy moet God liefhê, en jou naaste soos jouself. Let op: nie ‘jou naaste méér as jouself nie’ … Jy moet hom liefhê soos jy deur ’n goddelike gebod jouself durf liefhê, maar nié minder nie” (Steyn 1998:973).

Daarmee het Louw, reeds dekades gelede, op ’n kernagtige wyse saamgevat wat nodig is om ’n gemeenskaplike toekoms te verwesenlik.

Bronne:

Nisbet, Robert. 2010. The Quest for Community. Wilmington: ISI Books.

Steyn, JC. 1998. Van Wyk Louw. ‘n Lewensverhaal. Deel II. Kaapstad: Tafelberg.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.