Oor leierskap onder ons mense – Carel Boshoff IV

Die blote feit dat soveel gewone Afrikaners, “sout van die aarde” sou ‘n vriend van my gesê het – dat soveel gewone mense sê dat “ons ‘n leier nodig het”, of beter nog, dat “ons ‘n groot leier nodig het”, beteken nie noodwendig dat dit nie waar is nie. Die moeilikheid is: dit is nie waar in die sin wat hulle daaraan dink nie.

Dit is al meer male gesê – en ek gaan lesers se geduld nie so beproef as om dáárvan ‘n onderwerp te probeer maak nie – dat groot leierskap in die sin van “‘n man wat sy man kan staan en ‘n arm wat ‘n slag kan slaan”, voorwaardes veronderstel wat tans nie onder ons teenwoordig is nie. Dit het dekades geneem om onder vreemde Nederlandse en Britse beheer in die Kaap tot die punt te kom waar die leierskap wat die Groot Trek moontlik gemaak het, na vore kon tree. En dan kan mens maar wonder hoe gou hulle tydgenote hulle as “groot” beskou het.

Dieselfde geld vir die Boere-republieke: dit het dekades van vestiging geneem, in die Vrystaat gouer en anders as in die Transvaal, om die stabiliteit en samehang te verkry wat leierskap hoegenaamd moontlik gemaak het. Of die groot leierskap van die Tweede Vryheidsoorlog selfs net tien jaar tevore al denkbaar sou wees, is ‘n debatteerbare vraag. En die opkoms van Afrikanernasionalisme gedurende die vorige eeu was ook ‘n proses waarvan die werk deur meer as een geslag gedoen moes word.

Dat daar in elke geval die kroon van grootheid oor die leierskap wat na vore getree het, gespan is, is iets om op trots te wees en spreek van grootmoedigheid onder sowel leiers as volgelinge. Dit is dalk die belangrikste waarde om uit ons volk se leierskapsgeskiedenis te neem. Daarom dat ek uitdruklik oor leierskap onder ons mense skryf, en nie oor leierskap bo of voor ons mense nie. ‘n Redelik duidelike punt, dink ek, veral as mens Jesus se raad aan sy dissipels onthou toe hulle gestry het oor wie die belangrikste plek in die hemel gaan kry. Hy het gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor hulle baasspeel, en die maghebbers oor hulle gesag uitoefen. So mag dit nie by julle wees nie, maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, en wie eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees.”

Op ‘n belangrike manier hoort leierskap dus “onder ons mense”. Maar watse soort leiers is in ‘n tyd soos ons s’n nodig? In enige tyd is daar minstens van die volgende twee soorte leierskap sprake: dié wat vir mense wys wat om te doen en dié wat vir mense wys wat om te dink. Altwee is altyd alreeds teenwoordig, maar die tweede moet die eerste voorafgaan; as mense nie weet wat om te dink nie, help dit nie veel om te wys wat hulle moet doen nie, want hulle doen desnoods die regte ding verkeerd!

Maar wat bedoel ek met “wat om te dink”? Ek bedoel dat wanneer ons dink oor wat om te doen, ons dit alreeds met behulp van denkinstrumente doen. Woorde en frases is denkinstrumente, byvoorbeeld “‘n groot leier” veronderstel iets wat dalk of dalk nie bestaan nie, wat dalk soos ‘n plat skroewedraaier op ster-skroef se kop gaan pas. “Vryheid”, “volk”, “regverdigheid”, “versoening”, “onmisbaarheid”, “selfstandigheid”, “ondernemerskap”, “weerstand”, “moedertaal”, “gemeenskap”, “wêreld”, ens. is alles denkinstrumente wat ons inspan om te probeer verstaan voor watter uitdaging ons te staan kom en wat ons daaraan moet doen.

Toevallig geld wat vir tegnologie oor die laaste dekades waar is, ook vir ons kulturele, politieke, ekonomiese omgewing, in kort: vir ons lewensruimte, ons Afrikanerwêreld. Dit is dat dinge so vinnig en soveel verander het, dat jy nie met jou ou gereedskap al jou nuwe probleme opgelos kan kry nie. Dink maar terug, as jy oud genoeg is en oplettend genoeg was, hoe ‘n motorwerktuigkundige se werkswinkel dertig jaar gelede gelyk het en hoe dit vandag lyk. Natuurlik nog steeds ‘n klomp van dieselfde goed, skroewedraaiers en ringsleutels, hysers en hefbome, maar ook ‘n klomp ander goed, veral meetinstrumente. Dertig jaar gelede was ‘n draagbare rekenaar ‘n skaars verskynsel, beperk tot rekenmeesters en prokureurs; vandag prop ‘n plattelandse werktuigkundige een aan my kar om te sien wat fout is.

Dit is waarom ek, en ek vermoed baie ander wat dit bygewoon het, soveel waarde aan die FAK se leiersgesprek vroeër vanjaar geheg het. Dit het nie net gegaan oor wat ons moet doen nie, maar veral oor hoe ons moet dink; met watter gereedskap ons die uitdagings van ons tyd tegemoet moet gaan en hoe ons dit moet gebruik. Daaruit gaan groot leiers nog na vore tree.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.