Oor taal, gemeenskap, en die individu

As vandag oor die toekoms van Afrikaans of Nederlands gepraat word, word ’n tema hanteer wat die mensdom as sodanig betrek. Want dit is vandag nie net die toekoms van Afrikaans of Nederlands wat ter diskussie staan nie. Dit is die tale van die mensdom wat op die spel is.

 

Dit is nou reeds vir ’n geruime tyd dat daar ’n verband getrek word tussen die ekologiese vrae waarvoor die mensdom vandag te staan gekom het, en die toestand van ons tale. Net soos met die ekologiese diversiteit gaan ons talige diversiteit agteruit, word gesê.Ek dink hierdie verband is steeds geldig. Trouens, vandat hierdie verband sowat twee dekades gelede vir die eerste keer deur taal-sosioloë gebruik is, het alles wat sedertdien gebeur het die waarheid hiervan bevestig.

 

Nou, gelukkig rus daar nie op ons die verantwoordelikheid om vandag ’n volledige antwoord op hierdie omvangryke kwessie te gee nie. Ons sal hieronder slegs inleidend oor enkele belangrike uitdagings met betrekking tot die toekoms van slegs een so ’n taal, naamlik Afrikaans, praat.

 

Ons staan in die eerste afdeling by die verband tussen taal en gemeenskap stil, waarna ons in die tweede afdeling spesifiek na Afrikaans sal verwys.

 

 

  1. Taal en Gemeenskap

 

As ’n mens oor die toekoms van ons tale praat, word tegelyk oor die toekoms van spesifieke taal- en kultuurgemeenskappe gepraat. Tale bestaan nie buite-om hierdie gemeenskappe in ’n soort abstrakte ruimte nie. Inteendeel, tale bestaan slegs in die mate waarin hulle deur spesifieke gemeenskappe gepraat, geskryf, gedroom en gedink word.

 

Nou ja, dit alles klink na ’n heel vanselfsprekende feit. Dit is tog vanselfsprekend dat ons kwalik oor die toekoms van ’n taal soos Zoeloe kan praat sonder om tegelyk ook oor die Zoeloes as ’n kultuur-gemeenskappe te praat. Waarom dit dus hoegenaamd nodig om die band tussen taal en gemeenskap te beklemtoon?

 

Die antwoord daarop lui dat die krisis waarin die tale van die mensdom hulself vandag in bevind, terug herlei kan word na die krisis waarin ons gemeenskappe hulself bevind. Tale is in ’n krisis omdat ons gemeenskappe in ’n krisis is. Indien ons dus slegs op die tale fokus sonder om ook ons gemeenskappe onder oë te kry, gaan ons slegs die simptome en nie die oorsake daarvan hanteer nie.

 

Maar waarom is ons gemeenskappe vandag in ’n krisis? Alvorens hierop geantwoord word, wil ek slegs ’n belangrike uitgangspunt verduidelik. Want die krisis waarvan hier sprake is, hou direk met hierdie uitgangspunt verband.

 

Dit handel oor die aard en wese van die mens. Ons gaan uit van die standpunt dat die mens ’n gemeenskapswese is. Om mens te wees, is om tussen en saam met andere te wees. Ons verskyning in die wêreld is altyd mede-verskyning. As mense is ons altyd alreeds opgeneem in en deelgenote van ’n veelheid van gemeenskappe, soos ons gesinne en families, ons verskillende lokale gemeenskappe, ons dorps- en stadgemeenskappe, ons taal- en kultuurgemeenskappe, ons nasionale gemeenskappe, ensovoorts. Hierdie verbintenisse is nie dinge wat ons uit vrye wil kies nie, maar eerder dinge wat ons in ontvangs neem.

 

Hierdie feit word onder meer geïllustreer deur die verskynsel dat ek as individu, selfs nadat ek besluit het om my gemeenskap vaarwel te roep (en uiteraard gebeur dit dikwels), altyd weer by ’n ander gemeenskap aansluiting soek. In hierdie sin is iets soos ‘alleenloperskap’, in weerwil van die mode wat dit geword het, ’n volledige fiksie. Ons is altyd weer deel van ’n gemeenskap(pe). Dit is ook waar van die sogenaamde alleenlopers.

 

Dit beteken natuurlik nie dat ons die bestaan en ook die noodsaak van die individu ontken nie. Inteendeel, ons wil juis ’n voorspraak vir die sogenaamde egte individu maak. Maar wat is die egte individu? O.i. tree die egte individu daar na vore waar hy of sy hulle oorsprong in die gemeenskap erken en ’n skeppende verhouding daarmee aanknoop. En met ‘skeppende’ verhouding kan ook ’n kritiese verhouding bedoel word. Sonder hierdie verhouding kan daar nier iets soos ’n skeppende individu wees nie.

 

Die krisis waarin gemeenskappe hulself vandag bevind, hou direk verband met die feit dat hierdie uitgangspunt – naamlik dat die mens ’n gemeenskapswese is – aan ’n ernstige spanning onderwerp word. In ooreenstemming met ’n sekere ideologiese konsensus wat nou reeds vir etlike dekades ons wêreld regeer, word die mens toenemend in hiper-individualistiese terme verstaan. Hiervolgens is die mens nie in die eerste plek ’n gemeenskapswese nie, maar ’n alleenloper, ’n hiper-individu of ’n vryswewende enkeling. As ons in terme van hierdie uitgangspunt nog iets soos gemeenskapswesens is, is dit bloot omdat ons dit agterna tot ons reeds bestaande individualiteit bygevoeg het, dit is nou as ons dit so sou verkies.

 

Na watter ideologiese konsensus verwys ek? Ek verwys na die neo-liberale konsensus wat ten minste vanaf die 60’er jare van die vorige eeu die ideologiese raamwerk bied in terme waarvan vandag dikwels onbewus na die werklikheid gekyk word. Dit is ’n konsensus wat vir ons voorskryf wat die aard en wese van die mens is; hoe ons oor die verlede moet nadink (“in die verlede was ons onderwerp aan die voorskrifte van tradisie en gemeenskap”); met watter verwagtinge ons die toekoms moet benader (“in die toekoms sal ons self kan besluit hoe ons ons lewe wil inrig”), ensovoorts. Dit is ’n konsensus – die neo-liberale konsensus – wat per definisie in spanning staan met die feit van gemeenskap. Die vraag is natuurlik ‘waarom?’

 

Die neo-liberale konsensus steun op die oortuiging dat die keusevryheid van die individu dié absolute waarde is. Hiervolgens kan ek as individu slegs tot my reg kan kom as ek myself van die voorskrifte van my onderskeie gemeenskappe kan losmaak, en voortaan self kan besluit hoe ek my lewe wil inrig.

 

’n Voorbeeld van hoe hierdie konsensus in die praktyk neerslag gevind het, blyk uit die verskynsel van die alleenloper binne die konteks van die tradisionele gesin. Volgens ’n onlangse uitgawe van Time het “solitary living” (alleenloperskap) die afgelope dekades sterk onder Amerikaners toegeneem. Onder die opskrif, ‘Living Alone is the New Norm,’ voer Time met behulp van Amerikaanse sensusopnames aan dat slegs 9% van alle huishoudings in 1950 uit alleenlopers bestaan het. Uit opnames wat in 2011 gedoen is, blyk dit dat hierdie syfers intussen dramaties verander het. Tans bestaan bykans 30% van alle huishoudings uit alleenlopers.[1]

 

Alhoewel Time opgewonde hieroor is, word sy analise deur ’n ironie gekenmerk, want die alleenlopers gaan volgens hom uit hulle pad om – in weerwil van hulle keuse vir alleenloperskap – telkens weer aansluiting by gemeenskappe te vind.

Ten grondslag van die neo-liberale konsensus lê ’n opposisie wat aan ons as navolgenswaardig voorgehou word, naamlik die opposisie tussen gemeenskap en individu. Terwyl die tradisionele gemeenskappe dikwels as outyds, onderontwikkel en immobiel voorgestel word, stel die individuele lewenstyl ons vandag in staat om byderwets, progressief en mobiel te wees.

 

Indien ons onsself van ons gemeenskappe losmaak, sê die neo-liberale konsensus, kan ons ’n ryk van onbeperkte ekonomiese moontlikheid betree. As sodanig het hierdie konsensus ’n vastrapplek in bykans elke aspek van ons lewe gekry. Na analogie van ’n inkopielys wat die verbruiker by PicknPay, Woolworths of Checkers gebruik, kies die individu (nou verskraal tot blote verbruiker) voortaan aan watter kerk of godsdiens – indien enige – hy wil behoort; in watter plek – indien nie Parys, Londen of New York nie – sy wil bly; aan watter volk – indien enige – hy wil behoort; watter lewenstyl sy wil volg; watter gesin – indien enige – hy of sy verkies; en les bes, aan watter taalgemeenskap – indien enige – hy wil behoort.

Daarom skryf Michael Sandel, ’n vooraanstaande filosoof, ook tereg in sy jongste boek, What Money Can’t Buy, dat letterlik alles vandag te koop is. In die proses, skryf hy, gaan gemeenskappe en die gesag wat hulle in die verlede uitgeoefen het, verlore:[2]

 

To a remarkable degee, the last few decades have witnessed the remaking of social relations [d.w.s. ons gemeenskapslewe] in the image of market relations.

 

 

  1. Afrikaans vandag

 

Bogenoemde opmerkings bring my by Afrikaans. Afrikaanssprekendes het die afgelope dekade en meer ’n aktiewe taalpolitiek gevoer (alhoewel hulle, ironies genoeg, dikwels geneig is om vir die woord ‘taalpolitiek’ terug te deins). In dié tyd is nuwe organisasies ter bevordering van Afrikaans gestig, talle hofsake is onder meer rondom die reg op moedertaalonderrig gevoer, voorstelle is by die Parlement ingedien, protes is aangeteken, ensovoorts. Nogtans het die ‘strukturele agteruitgang’ van Afrikaans in hierdie tyd onverpoosd voortgeduur. Trouens, as met ‘strukturele agteruitgang’ verwys word na die agteruitgang van Afrikaans in die openbare sektor en sy veelheid van vertakkinge, het dit op ’n dramatiese wyse plaasgevind.

 

Nou, ek aanvaar dat daar ’n verskeidenheid van redes aangevoer kan word waarom Afrikaans in die laaste jare so agteruitgegaan het. In aansluiting by bogenoemde opmerkings wil ek slegs by een so ’n rede stilstaan, naamlik die gemeenskapsbegrip ten grondslag van ons taalpolitiek.

 

Vanweë ’n magdom ekonomiese, politieke en andersoortige kragte het duisende Afrikaanssprekendes die afgelope jare dit nodig gevind om (m.i. meestal onbewus of ongereflekteerd) aansluiting by die neo-liberale konsensus te vind.

 

Groot getalle bruin Afrikaanssprekendes uit veral die sogenaamde middelstand vind, in weerwil van hulle noue verbintenis met Afrikaans, by die Engelssprekende wêreld aansluiting. Talle Afrikaners volg soortgelyke patrone, hetsy deur hulself van hulle taal- en kultuurgemeenskap los te maak en te emigreer, hulle kinders na Engelse skole en universiteite te stuur of gewoon te aanvaar dat ’n Afrikaanse lewe ‘daar buite’ nie meer moontlik is nie. Ten grondslag van hierdie gebeure lê onder meer die neo-liberale vooronderstelling, naamlik dat ek myself sonder enige wesenlike gevolge vir myself vanuit my gemeenskappe kan abstraheer.

 

Nou, hierdie patrone is redelik algemeen bekend. Wat egter nie so bekend is nie, is ’n politiek gevoelige saak waarna ek nou wil verwys. Dit hou verband met die tipe gemeenskapsbegrip wat in die agtergrond van ons taalpolitiek aan die werk is. Bied dit ’n antwoord op die – waarskynlik meestal ongereflekteerde en selfs onbewuste – neo-liberale tendense onder ons mense?

 

Nou, ek dink dat ons taalpolitiek inderdaad deur ’n sekere gemeenskapsbegrip onderlê word. Maar watter gemeenskapsbegrip? Ter wille van duidelikheid dink ek dit kan handig wees om hier tussen twee uiteenlopende opvattinge te onderskei, naamlik ’n ‘sterk’ en ’n ‘swak’ gemeenskapsbegrip. Wat word daarmee bedoel?

 

’n Swak gemeenskapsbegrip lê ten grondslag van dié gemeenskappe wat inklusief van aard is en dus so min as moontlik grense aan sy lede oplê. ’n Voorbeeld daarvan is die breë en inklusiewe Afrikaanse taalgemeenskap.

 

Nou, die voordeel hiervan lê juis in hulle inklusiwiteit opgesluit; hulle nadeel is egter dat hulle lede hulself met relatiewe groot gemak daarvan kan losmaak, en hulself dus daar buite-om kan definieer.

 

’n Sterk gemeenskapsbegrip daarenteen lê ten grondslag van dié gemeenskappe wat deur ’n noue lotsverbondenheid en in die besonder deur ’n gedeelde geskiedenis en alles wat dit impliseer gekenmerk word, dit wil sê dinge soos ’n gemeenskaplike beskouing op die lewe, gemeenskaplike geskiedenis met sy gemeenskaplike helde en skurke, gemeenskaplike oorwinnings en verliese, gemeenskaplike ideale en teleurstellings, ensovoorts. ’n Voorbeeld daarvan is kultuurgemeenskappe, dit wil sê gemeenskappe soos die Zoeloes, die Vlaminge of die Afrikaners.

 

Hulle voordeel is dat hulle lede hulself slegs met groot moeite daarvan kan losmaak; hulle nadeel is natuurlik dat dit dikwels tot geslotenheid kan aanleiding gee. Nou, dit is so dat die taalpolitiek van die afgelope dekade en meer dikwels op ’n swak gemeenskapsbegrip gegrond is. Tegelyk is dié politiek gekenmerk deur ’n doelbewuste poging om die sterk gemeenskapsbegrip van veral die Afrikaners selfs aan ’n soort onuitgesproke ‘sensuur’ te onderwerp. Ons het vandag by die punt gekom waar ons vir onsself moet vra: Is dit voldoende?

 

Nou, op sigself is daar niks mee verkeerd om ons voorspraak vir Afrikaans vanuit die breë gemeenskapsbegrip aan te voer nie. Trouens, dit is eintlik die mees vanselfsprekende ding om te doen. My bedoeling is dus glad nie om te sê dat ons onsself nie daarop moet beroep nie. Nogtans wil ek op twee oorkoepelende probleme wys waaroor nog glad nie duidelik genoeg in die Afrikaanse wêreld nagedink word nie:

 

Eerstens, dit is eenvoudig ’n feit dat die suksesse wat taalbewegings in die moderne geskiedenis behaal het, sonder uitsondering toegeskryf kan word aan die feit dat hulle deur gemeenskappe met ’n sterk selfbewussyn aangevuur en onderlê word.

 

Talle voorbeelde kan hiervan vanuit die moderne geskiedenis genoem word, maar die Afrikaners self is een van die heel beste voorbeelde hiervan. Alhoewel ek geensins die rol van ander kultuurgemeenskappe met betrekking tot die ontwikkeling van Afrikaans geringskat nie, was die buitengewone prestasie wat Afrikaans tydens die 20ste eeu in die hoër onderwys, navorsing, die staatsdiens in sy veelheid van vertakkinge, in die ekonomie en landbou, in die letterkunde asook in die musiek behaal het, grootliks ’n funksie van Afrikaners wat deur ’n sterk gemeenskapsbegrip gemotiveer is. Sonder Afrikaners wat sterk oor hulle Afrikanerskap gevoel het, sou – om dit maar ook sterk te formuleer – Afrikaans nie die hoogste vlakke van taalontwikkeling bereik het wat dit inderdaad bereik het nie.

 

Vanweë historiese redes het Afrikaanssprekendes in die era na apartheid verkies om hul voorspraak vir Afrikaans op die swakker gemeenskapsbegrip te grond, naamlik die breë Afrikaanssprekende gemeenskap. Maar, en dit is die kritiese punt, sonder dat dit altyd so besef is, het Afrikaans daarmee een van sy histories kragtigste instrumente prysgegee. ’n Belangrike dryfkrag ten grondslag van Afrikaans is so geneutraliseer.

 

My voorstel in hierdie verband is as volg. Alhoewel ons nie moet ophou om vanuit die breë gemeenskapsbegrip vir Afrikaans voorspraak te maak nie, moet ons tegelyk die sensuur op die sterk gemeenskapsbegrip lig. Indien dit gedoen word – en daar dus in die politiek van Afrikaans ook weer ’n beroep op die Afrikaners gedoen word om ook hulleself as Afrikaners in die stryd rondom Afrikaans in te werp – kan daar weer aan Afrikaans ’n enorme stukrag verleen word. Dieselfde punt het betrekking op die ander kultuurgemeenskappe in die Afrikaanssprekende wêreld, soos die Griekwas. Kortom, deur ook ’n beroep op die sterker gemeenskapsbegrip te doen, kan ’n veel groter intensiteit aan die taalpolitiek verleen word. Die noodsaak vir groter intensiteit het aangebreek. Ons gaan die glip, gly en struikel waarin Afrikaans tans verkeer, nie daarsonder hanteer nie.

 

Dit bring my by die tweede en laaste probleem. Dit sluit ten nouste aan by die opmerkings hierbo oor die neo-liberale konsensus. Ek probeer met so min as moontlik omhaal van woorde formuleer:

 

Die breë gemeenskapsbegrip is m.i. nie ’n voldoende antwoord op die steeds uitbreidende gesag van die neo-liberale konsensus nie. Waarom nie? Omdat die swak gemeenskapsbegrip dikwels daartoe neig om by die uitgangspunte van die neo-liberale konsensus aan te sluit. Ek verwys na die belangrike plek wat die keusevryheid van die individu daarin beklee. My lidmaatskap van ’n swak gemeenskap word dikwels – of is dit meestal? – ’n blote funksie van my keuse as individu of ek daaraan wil behoort of nie. Nog nader geformuleer, my lidmaatskap daaraan word op dieselfde vlak ervaar as die vraag watter produk ek van die winkelrak afhaal. Vandag kies ek hierdie produk, more ’n ander een.

 

Alhoewel sterker gemeenskappe vandag ook onder enorme druk verkeer, bied hulle steeds ’n meer effektiewe antwoord hierop.

 

 

  1. Ten slotte

 

Ons behoort ’n “sowel…as” benadering met betrekking tot hierdie saak te volg. Sowel die breër as die meer begrensde gemeenskap, sowel die swakker as die sterker gemeenskapsbegrippe is noodsaaklik in ons nadenke oor die toekoms van Afrikaans.

 

In die verlede het die begrensde of sterk gemeenskapsbegrip die botoon gevoer. Die afgelope jare val alle klem daarenteen op die breër of swak gemeenskapsbegrip. Beide benaderings is egter eensydig, beide gaan uit van ’n “of…of” in plaas van ’n “sowel…as” benadering. Ons behoort in ons taalpolitiek van die toekoms plek vir sowel ’n sterk as ’n swak gemeenskapsbegrip in te ruim.

 

Indien hierdie twee benadering saam ingespan kan word, kan hulle mekaar help om moontlike probleme wat in elkeen skuil, te bowe te kom. So kan die sterk gemeenskap gehelp word om ’n probleem in homself te oorkom, naamlik om geslote te raak. Maar tegelyk kan die swak gemeenskap gehelp word om nie bloot dienstig aan die neo-liberale orde te wees nie.

 

Nog meer, saam kan hulle ’n nuwe impetus aan die taalpolitiek gee. En dit het ons nou meer as enigiets anders nodig.

[1] Eric Klineberg, ‘Living Alone is the New Norm,’ Time, March 12, 2012, p. 38.

[2] Michael Sandel, What Money Can’t Buy. The Moral Limits of Markets (London: Allen Lane, 2012), p. 51.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.