Op maat van die riel – Dr. Willa Boezak

Dr. Willa Boezak

Toe die ATKV meer as ’n dekade gelede hul rielkompetisie begin aanbied het met die indrukwekkende Paarlse Taalmonument as agtergrond, was nie alle Khoi-Sanmense daarmee gelukkig nie. Die vrees het veral ontstaan: “Gaan nie nog ’n deel van ons kultuurerfenis van ons vervreem word nie?” Gelukkig was die aanbieder, mnr. Elias Nel, bewus daarvan en het veral in die media beklemtoon vanwaar hierdie lekker loslittige, ja soms uitspattige, dans vandaan kom. Die onrustigheid was gebore uit ’n bewustheid van hoeveel kultuurgoedere weggekalwe het – vir eeue lank al. Die grootste hoëtempo-verlies het tydens die 19de-eeuse instroming van sendelinge plaasgevind. Maak geen fout nie. Was dit nie vir die sendingaksies nie, sou die Khoi-San kwalik iets soos boekgeleerdheid bekom het. Om nie eens van die Christelike geloof en die verbouing van groente en vrugte te praat nie. Tog het dit teen ’n duur prys gekom. Weens die Eurosentriese aanname dat die inheemse kultuur inherent heidens en barbaars was, is dit heelhuids vervang met die vreemde Westerse kultuur. Vandag word kosbare verlore stukkies kultuur stukkie vir stukkie weer opgetel.

Op maat van …

Die riel is een van verskeie tradisionele danse vir verskillende geleenthede. Behalwe bloot vir die pret op ’n Saterdagaand, is dit by elke !Nâu-ritueel gedoen. Hoewel die kitaar vandag voorkeur geniet as dit kom by rielmusiek, veral soos die bekende Pieter van der Westhuizen dit knyp, was toentertyd instrumente soos /khais-dromme gewild en rietfluite, genoem die //aren!a of ǂadi, met rinkelende /xororokwa om die enkels en ritmiese handeklappery (inna //am). Diere se passies soos die volstruis, bobbejaan en meerkat s’n word nagemaak.

Die Khoi-San glo dat elke mens deur verskillende fases gaan, naamlik geboorte, puberteit, swangerskap, huwelik en sterfte. Dan verkeer jy in ’n kritieke staat van !Nâu. ’n Paslike oorgangsrite sluit ’n periode van afsondering in waarin die !Nâu-persoon deur oudstes voorberei word vir die volgende lewensfase. Die pasgebore baba word met ’n sekere ritueel gehelp om aan te pas vanaf die beskermde omgewing van die baarmoeder tot ’n heel vreemde wêreld.  Sodra ’n meisie begin menstrueer (kharu), was dit ’n teken vir haar andersmaken deur bepaalde rituele. In afsondering is sy die hokmeisie waar ’n wyse, volwasse vrou, die abba-tarás, haar voorberei vir die volwasse lewe. Sy word letterlik en simbolies geabba en in die nuwe fase met wysheid gedra. Daarna word sy uit die hut geriel waarna ’n feesmaaltyd volg, die kharu-ǂap. Ditto die seun op vergelykbare ouderdom (14). By antieke volkere het mondigwording dus heelwat vroeër aangebreek.

Die Kerk het daardie oeroue oorgangsrites gemaklik met die doop, katkisasie, aanneming, die Christelike huweliksritueel en begrafnisdiens vervang. Sendelinge het dikwels stamhoofde (khoikwe), hoofmanne (humkwe) en geestelike leiers (//exaba) evangeliste, raadslede en ouderlinge gemaak.  Deesdae word sommige tradisionele  oorgangsrites nog hier en daar toegepas soos die begrawe van ’n pasgebore baba se naelstring tuis, die was van hande by begrafnisse en moderne weergawes van die hokmeisie-tradisie. Die !Nâu gebeur tans meestal as buitengewone rituele by die inhuldiging van leiers, met die slag van ’n skaap en die brand van kooigoed (Helichrysum odoratissimum). Druppels aalwyn gevolg met heuning op die tong, simboliseer die soort lewe wat leiers kan verwag.

My oudste dogter se huwelik met ’n Engelsman was Christelik en Westers, maar ons het vir hulle ook ’n spesiale Khoi-huwelik gereël, bevestig deur my oudste broer, ds. Reggie Boesak, kapelaan en stamhoof van die Overberg-Hessekwa. Die gepaardgaande huweliksdans is die statige Namastap of /khapara met die ritmiese klanke van die mondboog (kha:s).  Disse soos potjiekos, heuningbier (!khadi) en rooibostee met roosterbrood word voorgesit. Wedersydse respek en diensbaarheid as lewenswaardes word versinnebeeld met boegoeblare en water.

Die danse vir reën en heling

Hierdie danse word deur die Boesmans gedoen. Die !giten (geloofsgenesers) moet die siekes genees en dit geskied deur middel van die dans van heling. Die heel eerste doel van die helingsdans was om //Gaunáb (die Bose), wat die siekte veroorsaak het en wie ons as Christene Satan of Lucifer noem, weg te dryf. Gewoonlik vind dit by volmaan plaas, terwyl ’n vuur die hele nag deur brand. Die vroue sit in ’n wye kring, klap hande en sing liedere van genesing. Die sjamaans dans tot die sweet loop en soms bloei hul neuse. Hulle hou aan dans totdat hulle in ’n beswyming gaan. Dit beteken dat hul bewussyn ’n ander vlak of staat (!kia) bereik het. Gevul met goddelike krag (/num), trek hulle dan die siekte uit die liggame van die lydenes en werp dit in die duisternis waar die Bose en sy slegte geeste woon. Die sjamaan vryf kole in sy hare en val daarna in ’n diepe beswyming – ’n soort skyndood. Dis wanneer sy eie gees sy liggaam verlaat en met die Bose geeste worstel. Dié moet die siekte en lyding terug vat wat hulle veroorsaak het. Tussendeur sing die dansers totdat hy weer herstel en sy gees terugkeer. Die sjamaans was die rotskunstenaars wat hul ervaring in grotte of op klip vasgevang het.

  • Reënmakers moet eers vir reën bid voor hul gepaste rite ’n aanvang neem. Ek het al persoonlik gesien hoe die ‡Khomani San van die Kalahari die reëndans doen.

Dan is daar ook ’n ander klas genesers, naamlik die kruiedokters – soos Ma Khulu Nellie Moos, wat in Kimberley bly. Sy ken elke bossie, blaar en plant in die veld wat haar pasiënte op ’n  natuurlike manier kan genees: boegoe, kamaghu, kankerbos, dassiepis, mooi meidjie, dawietjie, koekoemakranka, broodpalm, uintjies, perdepis, suurvye, watsoniapitte, die agt-dae genesingsbossie, waterblommetjies en nog veel meer waarvan sy nie die Latynse name hoef te ken nie.

Akkulturasie

Dr. Isaac Schapera toon in sy klassieke werk The Khoisan Peoples of South Africa die ooreenkomste en verskille tussen die Khoikhoin en San/Boesmans aan – ook m.b.t. kultuur en geloof. Dis veral die begrip van die gewonde God, waaroor ek verlede jaar vir die Universiteit van Pretoria ’n akademiese artikel geskryf het, wat verstommend met die Christelike godsbeeld ooreenkom: Skepper, Gewer en Bringer van die goeie, Voorsiener, Beskermer en regverdige Regter, onse Hemelse Vader en die geloof in ’n hiernamaals. Theophilus Hahn het in 1881 die oergebed van die Nama opgeteken wat so begin:

Tsui//Goatse!                            U, o Tsui//Goab

Abo Itse                                    Vader van ons voorouers

Sida Itse!                                   Onse Vader!

Geen wonder nie dat die Khoi-San redelik maklik die Christelike geloof kon aanvaar. Sedert die 1700’s al probeer sommige Khoi-San ’n middeweg vind tussen hul inheemse geloof en kultuur en die sendelinge se godsdiens, asook Westerse gebruike. Adam Kok I se vestiging van ’n Griekwakerk is tans nasionaal gevestig en die klein Namakwa Kerk van Port Nolloth leef voort. En was ek verras deur ds. George Cloete en Saron se Verenigende Gereformeerde Kerk wat in 2001 begin het om die nagmaal te bedien in erdeware en met roosterbrood!

Willa Boezak,

Khoi-San navorser en skrywer.


Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.