Open Stellenbosch, Transformasie en die US: Die Adam Tas Studentevereniging se perspektief

deur Frederick van Dyk 

Open Stellenbosch Transformasie en die US Die Adam Tas Studentevereniging se perspektief


Die atmosfeer op die Matie-kampus kan met een woord beskryf word: Elektries.

Nie net as gevolg van die luide aandrang op verandering deur groepe soos Open Stellenbosch nie, maar ook die sensitiewe gesprekke en debatte tussen studente oor die kampus, die status quo en die geskiedenis laai die Bolandse Lente-luggie tot hoogspanning. Adam Tas, as vereniging wat hom sedert 2007 beywer vir Afrikaans se Grondwetlike plekkie in die Matie-son, beskou hierdie nuwe tydsgees nie as ‘n Armageddon vir Afrikaans en sy behoud op die universiteit nie. Inteendeel, ná deeglike en rasionele ontleding van die verskeie standpunte, besef ons dat die huidige atmosfeer juis geleenthede en pligte van kardinale belang skep.

Open Stellenbosch (voorts OS) het in die vroeë maande van 2015 as ‘n dinkskrum van studente met standpunte van ‘n soortgelyke aard ontstaan. Die organisasie het van ‘n klein groepie kritiese denkers binne ‘n paar maande tot ‘n magtige populistiese stem op kampus ontwikkel. ‘n Stem wat studente en personeel se diepste en mees gevestigde oortuigings bevraagteken en selfs aangeval het; wat mense met ‘n wye reeks reaksies- van ‘n ligte bolip-sweet tot knaende irritasie tot ongekende woede en onsekerheid- gelaat het. Die organisasie het sy ideologiese ammunisie en vinnige publisiteitsprong grootliks te danke aan sy makkers in die #Rhodesmustfall-beweging, wat tot groot opskudding op die Ikey-kampus (UK) gelei het. Vir sommige is OS ‘n messias, vir andere ‘n wolf in skaapklere, vir die res ‘n irriterende muskiet wat sy eie brandstof sal uitwoed. Sover is daar grondige bewyse vir die eerste twee perspektiewe, maar OS blyk die standaard vir studentepolitiek keer op keer te ontwyk, juis omdat die groepie vasbyters weier om uit te brand, ten spyte van ‘n reeks taai nederlae!

Hoe maak ‘n mens met hierdie OS-fenomeen? Wat moet ons dink, hoe moet ons rasionaliseer, as ‘ons’ kan verwys na die liefhebbers en belangstellendes in Afrikaans die taal? Hoe skiet ons hierdie olifant – en indien hy geval het, waar begin mens eet? Moet ons hom in die eerste plek skiet, of hom dalk sy plek in die wildtuin van hoër onderwys gun? En hoe kan ons transformasie laat plaasvind sodat almal met ‘n glimlag wegstap?\

Adam Tassers het gou tot die besef gekom dat die logiese reaksie (om OS te beveg) nie vrugte gaan dra nie. Indien ons eerlik en rasioneel met onsself is, sal ons weet dat die boublokkies van OS studente net soos ons is. Mense met al die vrese, onsekerhede en angs wat saam met adolossensie as ‘n gemeenskaplike geskenkpakkie kom. Inderwaarheid is hulle einddoel op universiteit gelyk en ewe waardig aan enige ander Matie s’n: om graad te kry en met lekkerkry klaar te kry. Om die werksmark met selfvertroue en kwalifikasie te betree. Om eendag kos op my familie, gesin of afhanklikes se tafel te kan sit. Om my vet studielening af te betaal. Om menswaardig en seker en suksesgedrewe die lewe in te stap.

Opgesom, om mens te word. Om te oorleef, met ‘n tikkie meer fleur. Dit kan dus nooit regverdigbaar wees om ons broeders-en-susters in die studentestryd die skerpkant van die pistool te wys nie.

Juis daarom het ons die teleskoop waarmee ons OS bekyk het met ‘n mikroskoop vervang. Ons het OS se status van ‘vyande’ na ‘medemense’ verander. Die onmiddellike gevolg was dat die aard en stemming van ons houding na dié van ‘n volwasse, beskaafde debat verander het. Sonder dat ons ooit ons eerste beginsels of missie hoef op te sê. Ons kan dus OS bestudeer en krities oor hulle dink, wat ons ‘n waardiger en eerliker perspektief kan gee rondom dié groepering se doen en late, eerder as om simptomaties en aggressief te werk te gaan en elke daad van OS aan te val. Adam Tas werk dus met die onderliggende, fundamentele bestaansredes en argumente van OS, pleks van hul oppervlakkige kenmerke wat ander organisasies keer op keer onsuksesvol probeer aanvat.

OS se ideologie, kortliks, kan verstaan word volgens die Marxistiese ontleding van die geskiedenis, veral die koloniale verlede, soos geteoretiseer deur skrywers soos Frantz Fanon (1925-1961), ‘n filosoof en psigiater wat die psigiese en (by uitbreiding) politiese gevolge van kolonialisme en post-kolonialisme op gekoloniseerdes beskryf het. OS maak egter nie bloot op Marx-gebaseerde teorie staat nie, maar eerder op die breër studieveld bekend as Kritiese Teorie (‘Critical Theory’) wat fokus om die redes agter ongelykheid te probeer beskryf. Die Feministiese Derde Golf (‘Third Wave Feminism’), kritiese gender-studies en kritiese rasse-teorie is al drie deel van die verskeie subvelde van Kritiese Teorie. Hoewel ons nie noodwendig OS se ideologie sommer as onsinnighede afskiet nie, is Adam Tas se Liberale oriëntasie met betrekking tot kampuspolitiek en aktivisme dikwels kwaai teenstrydig met die premisse van Kritiese Teorie. Waar liberalisme hom bemoei met die vrye regte tot assosiasie, kultuur, godsdiens en oortuiging van keuse, is Kritiese Teorie meer gefokus op die klassestryd tussen groepe wat, relatief tot mekaar, histories ongelyk is. Hiervoor word die Establishment (US-bestuur) dikwels sonder goeie feitelike ondersteuning blameer. Adam Tas soek eerder vrede en vooruitgang in die Afrikaanssprekende individu, ongeag ras of etniese oorsprong, se grondwetlike reg om Afrikaans as akademiese voertaal en as een van die elf amptelike tale in die Grondwet te hê. OS soek egter, onder andere, radikale transformasie van die status quo om gelyke behandeling van alle studente te bewerkstellig wat hul akademiese voertaal betref. Engels, alleenlik en deur die bank aan almal, word as die gelykmakende remedie voorgeskryf. Daarmee saam dra die been van kritiese rasse-teorie ‘n post-Apartheid tipe Afrikanisme of Afrika-nasionalisme by, wat aan OS sy kenmerklike regtervleuel Swart Bewussynsretoriek gee. Adam Tas, weer in die liberale tradisie, beskou ras en etnisiteit as faktore wat ons kan verenig in verskeidenheid, soos die Grondwet vra, en ons steun dus nie OS se idee dat die verskille tussen rassegroepe radikaal uitgehef en beklemtoon moet word om die parameters van ongelykheid te probeer bepaal nie. Veral hul Afrika-nasionalisme, wat radikaal en soms ekstreem uitgeoefen word, het volgens ons nare reuke van rassisme, soos die optrede van sommige OS-lede al telkemale getuig het.

Die feit dat OS se onderliggende ideologie identifiseerbaar is, maak dit makliker om gemene grond tussen ander partye en OS te vind, en om logiese denkfoute in OS raak te sien. Die meeste partye soek gelykheid vir alle studente en droom van ‘n oplossing vir die huidige onstabiliteit. Hoe hierdie gelykheid en regverdigheid bereik word, is egter juis waar die grootste wrywing ontstaan. Tans is die wrywing van só aard dat studentegroepe nie meer na mekaar luister nie, en polarisering die noodwendige hartseer gevolg is. Die feit dat OS hardkoppig weier om met die US-bestuur te praat, maak die situasie nog meer gespanne. Die uiteindelike dooiepunt tussen die partye is ons insiens nie volhoubaar, gesond of konstruktief nie.

Adam Tas is rasioneel ingestel en krities wat alle groepe se optrede in die verband, insluitende ons eie, betref. Ons wil leer uit foute, deurlopende introspeksie doen en dus deurlopend ontwikkel. Ons ag die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika as ons vernaamste en gelyke reëlboek in enige konflik of onderhandelingsgeleentheid. Daarom is ons in die posisie om meer objektief na die US-saga te kyk. OS se werksetiek is eerstens nie aanvaarbaar binne ‘n demokratiese en konstitusionele Suid-Afrika nie. Om klasse te ontwrig, loopbaanuitstallings (privaat ondernemings en werkgewers se eiendom!) te bestorm, toe te laat dat lede “One settler, one bullet” sing en ras-gelaaide retoriek rondgooi, is nie regverdigbaar volgens enige van die Grondwet se bepalings of die gees, strekking en oogmerke daarvan nie. Dit is selfsugtig, onverdraagsaam en diskriminerend. Ook die ideologiese terminologie soos “wit bevoordeling” (white privilege), “institusionele rassisme” en “dekolonisering” is geheel polariserende, betekenislose, leë retoriek indien daar nie logies deurdagte definisies, bewyse en konsensus daaroor bestaan nie. Tans is onsekerheid oor al hierdie OS-jargon ‘n enorme bron van konflik wat andersins vermy kon word. OS roem ook graag daarop dat dit ‘n “kollektief” is wat nie sentrale leierskap wil hê nie, aangesien dit strydig is met hul “anti-hiërargiese” oortuigings. Die kritiek wat Adam Tas hierop lewer, is dat hierdie skynbare leierloosheid geen ruimte vir konsekwentheid of verantwoordbaarheid laat nie. Indien OS-lede dan buite die groep se mandaat optree, maar namens die organisasie praat, is daar geen strukture in plek om lede tot orde te roep nie. In effek kan enige lid enigiets sê en bloot die verweer opper dat hy of sy namens OS praat. Aangesien daar nie strukture is om welke lid te hanteer nie, reflekteer so ‘n lid se houding op die hele organisasie. Siende dat OS-lede boonop nog diverse opinies het, bestaan daar dus geweldige wisselvalligheid. Hoe kan sulke wanorganisering vertrou word?

Adam Tas het ‘n mate van begrip vir OS se weiering om met die US-bestuur te praat, aangesien daar nie altyd genoeg moeite in die vroeë dae van die OS-beweging gedoen is om dialoog uit te roep nie. Ons argumenteer dat OS se beskuldigings van “institusionele rassisme” ernstige klagtes is wat bewyse benodig. Die wat beweer, moet bewys. Ongelukkig was OS se houding in die verband nie sover van veel waarde nie. Geen moeite is al gedoen om bewerings van “institusionele rassisme” te staaf nie. Die duidelike tekort aan “Apartheid”-tipe regulasies in die Universiteitsreglemente help nie juis om hierdie bewerings te ondersteun nie. Klagtes van rassisme binne sosiale kringe en koshuise is kommerwekkend, en Adam Tas is dit met OS eens dat gevalle hiervan dringend aangespreek en uitgewis moet word. Dit is ‘n logiese denkfout, en ‘n bitter gevaarlike een, om te beweer dat enkele gevalle van rassisme noodwendig spreek van ‘n groter, geïnstitusionaliseerde rasse-vooroordeel. Sonder bewyse is hierdie blote spekulasie, en Adam Tas verwelkom enige regverdige, objektiewe bewyse vir of teen hierdie bewerings. OS het hierdie denkfout ongelukkig al so erg geïnternaliseer dat sommige lede amper paranoïes raak daaroor, en die radikales het telkemale die denkfout as regverdiging gebruik om lelike veralgemenings rondom wit studente, kleurlingstudente, apolitiese swart studente, Afrikaners of Afrikaanssprekendes te maak. Slagspreuke soos “I feel like I’m in Europe” en “I can’t breathe- all this whiteness!” spreek daarvan. Die feit dat die US-bestuur juis deur OS as die grootste klip in die pad van transformasie beskou word, is te wyte aan misverstande deur beide kante. Min dialoog is in die begin van 2015 aangebied, en OS se ongeduld het gelei tot die knellende dooiepunt wat tans bestaan. Adam Tas is van mening dat dié wantroue nie ‘n bilaterale oplossing tussen die bestuur en OS gaan toelaat nie. Wyer deelname is nodig.

As oplossing glo Adam Tas dat die pad na transformasie slegs aangepak kan word indien multilaterale ronde tafel onderhandelings die model word om die huidige konflik te hanteer. As OS vra dat mense moet #Luister, is hulle reg. Ons moet begin luister, en begin onderhandel, met die Grondwet as ons hoogste rigtingwyser. Ons as studente, as makkers-in-die-stryd. Op hierdie manier, en hiermee alleen, sal ons gemene grond kan vind en blywende oplossings kan vind. Slegs so kan ons konsensus vind oor wat transformasie behels, sodat ons dié Grondwetlike plig kan nakom sonder dat die regte van enige persoon of groep ingedoen word. Slegs so kan Stellenbosch Universiteit vir die hele land, ander universiteite en die wêreld wys dat ons konflik beskaaf kan hanteer, en dat ons die lesse van die KODESA-onderhandelinge ernstig opneem. Tans is daar ‘n studentegedrewe inisiatief aan die groei op kampus, bekend as “KODESU” (Konvensie vir ‘n Demokratiese Stellenbosch Universiteit) wat mik om die onderhandelings by KODESA as voorbeeld te gebruik vir probleemoplossing op Maties. Adam Tas, tesame met verskeie ander studentegroepe, ondersteun hierdie inisiatief. Die begin van die einde, of altans, die geleentheid daarvoor, het gekom.

Die atmosfeer by Maties is meer gelaai as wat Eskom se kragopwekkers ooit sal kan droom om te wees. Ons gun alle studente die interessante tye, maar ons gun hulle ook vrede en voorspoed in hul studies. Dié wense kom egter teen die prys dat ons almal, ook OS, na mekaar moet begin luister en saamwerk na ‘n goue middeweg.

Masimamelane. Let us Listen. Kom ons luister.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.