‘ORDELIKE’ KOMMUNISME EN ‘TWYFELAGTIGE’ DEMOKRASIE: ORDERISME EN DIE TOEKOMS – Johan Schoeman

NP van Wyk Louw Vladimer Putin

Foto: Vladimer Putin

Merkwaardige verskynsels en gebeure van belang vind dikwels voor ons oë plaas, maar die skynbaar toenemende gebrek om sinvolle verbande te lê, veroorsaak soms ’n tipe intellektuele blindheid. Dalk het dit iets te doen met paradigmas en denk-kollektiewe, om enkele redes te probeer noem. In die geval wat hier aan die orde kom, is die verskynsel die toenemende ‘irrelevansie’ van die demokrasie, onder andere as gevolg van sy geneigdheid om betekenisvolle verbande mis te kyk, terwyl dit terselfdertyd met nog meer stukrag as ‘die antwoord’ op ongeveer alles bemark word. Of dan ten minste ’n bepaalde verskyningsvorm van die demokrasie. Mens wil dadelik konteks gee hieraan en dit probeer verklaar, maar kom gou agter dat hier meer aan die gebeur is as wat binne die omvang van hierdie kort skrywe val. Dit is so – omdat alles so toelaatbaar is in die demokrasie, raak dinge des te meer onsigbaar, opgesluk in die verskeidenheid en dinamiek van dinge. Waar moderniteit dalk eenmaal gekenmerk kon word deur skaarstes, is een van die postmoderne (en later) se kenmerke dalk juis tekenend van ‘te veel’. Om verbandhoudend sin te kan maak in hierdie veelheid, verg ’n spesifieke soort leierskap en kundigheid, en hierin lê ’n probleem. Die vermoë om verbande in te sien in ’n komplekse realiteit raak ’n toenemend bedreigde wetenskap.

Benewens die onvermoë van swak verbandlegging, is voorbeelde van die dun praktiese gronde van die moderne vorm van demokrasie talryk. Onlangs kan mens dit sien in die eis tot ’n herreferendum oor EU-lidmaatskap vir Brittanje nadat die eerste rondte nie die resultate gelewer het wat verwag is nie en die implikasies daarvan ongemaklik begin word het vir die denkmodel wat geld. Verder, ook in sprake van die stigting van ’n fonds om diegene wat die Britse onttrekking uit die EU-veldtog gedryf het, wetlik te vervolg. En die skielike opposisie en geskarrel rondom Trump in Amerika om ten alle koste te verhoed dat hy die komende verkiesing wen. Ondenkbaar vir enige klassieke demokraat en baie ironies in die historiese opdring van die rou demokrasie aan ander, saamgelees met die aandrang om jou by die wil van die meerderheid neer te lê, maar dit is ’n ander verhaal, ook wat die historiese en eietydse Suid-Afrika betref. Daarbenewens veroorsaak die immigrantekrisis in die EU, as een voorbeeld van ’n mislukkende verskyningsvorm van die teoretiese en praktiese grondslae van die liberaal-demokratiese model, ’n nuwe debat oor die grondslae van Europa van die 20ste eeu. Kortom, die demokrasie, soos hy nou in die Weste bedryf word, is toenemend onder verdenking wat sy denke, sy wil en sy doen betref.

Onlangs skryf ’n opinieskrywer uit Europa ’n goeie opsomming in die Amerikaanse pers oor wat aan die gang is in Rusland, veral op ideologiese terrein. Nieteenstaande die hernieude, weliswaar stadige groei van die klassieke Marxisme aldaar, het hy dit oor die ideologie van Putin se Rusland en wys hy hoe die heersende lewens- en wêreldbeskouing aldaar nou aansluit by elemente van ’n nuwe ideologie wat hy ‘orderisme’ noem. Die korrespondent, Jochen Bittner, noem sy artikel The new ideology of the new Cold War. Bittner het dit oor die nuwe ideologiese stryd tussen die Weste en die Ooste en skop sy argument af deur te verwys na die ou kommunistiese stelling dat kapitalisme die werker verraai het. Hierdie stelling word in Moskou se nuwe ideologie aangepas tot een wat sê dat demokrasie diegene wat stem, verraai het. Wat is die vernaamste uitgangspunte hiervan? In kort kom dit op die volgende neer:

  • Liberale ideologieë en die internasionale reg het nie die gewenste uitwerking op wêreldvrede nie. Stabiliteit is nou wêreldwyd meer as voorheen in gedrang, iets wat hierdie konsepte juis wou verhoed.
  • Globalisasie is ’n werklikheid, maar niemand sien oënskynlik die nadele daarvan raak of neem dit ernstig op nie. Een duidelike nadeel is dat globale handel gelei het tot werksverliese en die massa migrasie van mense.
  • Op persoonlike vlak lei intellektuele grensloosheid daartoe dat elke tradisionele waarde, gebruik, tradisie of instelling nou onderhandelbaar of te koop is.
  • Hierdie tipe morele swakheid, waarvan die Weste nou die fakkel dra, het die val van elke groot wêreldryk in die geskiedenis voorafgegaan.
  • Op die gebied van die internasionale reg geld eenvoudig die wet van die sterkere, en hulle pas die wet toe soos en waar dit hulle pas.
  • Orderisme het ten doel om stabiliteit te beklemtoon bo demokrasie en wil ’n antwoord bied op die laissez-faire-samelewingsmodel van die Westerse wêreld.
  • Vir hierdie doel, vorm orderisme ’n alliansie gebaseer op patriotisme, tradisionele geslagsrolle, militêre mag, selfs Ortodokse Christelikheid en, aan die bopunt, ’n goedbedoelende ‘tsaar’ wat net belowe wat hy kan aflewer.

Uiteindelik wil orderisme ’n antwoord bied op niks minder as ’n sterwende Westerse ideologie en praktyk nie. Bittner noem dat selfs in die Weste daar tekens is van verset teen byvoorbeeld globalisasie, soos o.a. gesien kan word in die Britse besluit om die EU te verlaat. Hy wys daarop dat hierdie nuwe ideologie dalk niks anders as net nog ’n vyeblaar vir tirannie verteenwoordig nie. Tog sien hy waarde in die kritiek van hierdie denkraamwerk op die Westerse model, veral wat betref liberale demokrasieë. Hy sê dat Westerse state juis in hierdie nuwe stryd om idees leiers nodig het wat antwoorde kan bied op die kritiek wat orderisme lewer, maar dat dit gepaard moet gaan met ’n ‘kalm’ stryd gebaseer op genuanseerde denke en berekende, gebalanseerde aksie. Hierdie eis tot nuansering sluit direk aan by die vermoë tot buitengewone verbandlegging. Dit help dus nie om te probeer antwoord met nog meer van dieselfde ‘verbandarme’ optrede en om die Westerse model van eenwording wat tans heers, nog meer radikaal te verdedig, soos in sommige intellektuele (selfs neo-marxistiese) kringe in Europa bepleit word nie. Selfondersoek is dringend nodig.

En hier by ons? Behalwe dat ons deeglik behoort kennis te neem van bogenoemde verwikkelinge, is die demokrasie sekerlik nog die stelsel van keuse, alhoewel sommige reeds aan die wyse waarop dit uitspeel begin twyfel, ook buite die kontinent en soos hierbo na verwys. Daarbenewens is die demokratiese ‘spel’ na die pas afgelope verkiesing, die lê van intellektuele en praktiese verbande en die maak van afleidings waarop besluite gebaseer sal word, nou in volle swang. Sou mens kon sê ons ‘leiers’ is ideologies ook met bogenoemde besig; het ons ’n eie vorm van Afrika-orderisme of sit ons dalk bloot met ’n mengsel van orderisme en Afrika-sosialisme, ingebed in ’n nuwe Afrikanisme (met Sjinese ondertone) en bedien met die Afrika-weergawe van roofridder-kapitalisme en ’n korrupsie mengelslaai? Hoe lyk die opponente se posisie in hierdie verband? Hieroor kan mens ’n standpunt hê, maar moontlik is die begin van ’n antwoord eerder geleë in ’n opmerking iewers aan die begin. Dit is naamlik dat ons dringend moet werk aan mense (en leiers) se vermoë om werklik effektief verbande te kan insien en dit te interpreteer, om nie te praat van die ontwikkeling van hulle oordeelsvermoë nie. Die pers is daagliks ’n goeie bron om hierdie vermoëns van rolspelers te toets. Die rooi ligte wat dikwels hier aanskakel, sê iets van die aard van die huidige debat, maar vra terselfdertyd ook weer ’n noukeurige kyk na die grense van vryheid en die vryheid van grense. Ons moet uiteindelik verbandkundige antwoorde kan gee binne ’n nuwe denkraamwerk wat ook globale raakpunte het.

Uiteindelik is die vraag: wie gaan diegene wees wat, op alle terreine vir ons belangrik is, wat hulle vaardigheid in strategiese verbandleggings- en oordeelsvermoë sal demonstreer? Hier is niks minder as verantwoordelikheid, reputasie, oorlewing en sinvolle verdere bestaan ter sprake nie. Om nie te praat van ‘die nuwe demokrasie’ wat moet kom in die plek van die verloopte, dikwels kultuurvyandige vorm daarvan wat tans geld nie, al is ons so opgewonde oor die toenemend ‘volwasse’ karakter wat die demokrasie hier dan nou sou begin aanneem. In hierdie verband is daar nie regtig meer sprake van keuses nie, maar wel van dringende noodsaak.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.