Paradigmaskuif: Krities vir Afrikaners se voortbestaan – Christoff van Wyk

 

Die HAT definieer ’n paradigmaskuif as “’n groot verandering veral in ’n mens se denkwyse”. Heel gepas gebruik hulle dan ook die woord, ter verduideliking, in die volgende sin: “Vir hom was dit nogal ’n paradigmaskuif om suksesvol binne die nuwe politieke bestel te funksioneer.”

Om hierdie punt nog verder te illustreer, vertel Stephen R Covey in sy topverkoper The 7 Habits of Highly Effective People van ’n klein paradigmaskuif wat hy ervaar het op ’n trein in New York. Dit was ’n Sondagoggend met net ’n paar mense op die trein en die atmosfeer was rustig. Party mense het sit en boek lees, ander koerant, terwyl sommiges slegs met hul oë gesluit gesit het. Skielik het hierdie hele atmosfeer verander toe ’n pa en sy twee kinders by die volgende stasie opgeklim het. Die pa het langs Covey kom sit en was totaal afgesluit van die hele situasie om hom, amper in ’n waas. Dit terwyl die kinders rondhardloop, skree en selfs goed uit mense se hande uit gryp. Covey het die situasie tot op ’n punt verdra, maar toe op ’n stadium oorgeleun en vir die man gevra of hy nie dalk sy kinders meer kon beheer nie, want hulle was besig om ’n klomp mense te ontstig.  Die man, wat gelyk het of hy skielik ‘wakker’ word, het geantwoord: “Ja, jy is seker reg. Ek moet seker iets doen. Ons kom nou net van die hospitaal af en hul ma is ’n uur terug oorlede, en ek weet werklik nie wat om te dink nie. Hulle weet seker ook nie hoe om dit te hanteer nie.” Oombliklik, skryf Covey, het hy ’n totale paradigmaskuif beleef en onmiddellik aangebied om die man te help op enige manier wat hy kon.

Afrikaners wat dalk nog nie ’n paradigmaskuif gemaak het oor Suid-Afrika nie, sal vinnig moet opvang. Die uitvoerende direkteur van die Sentrum vir Politiek en Navorsing (CPR),  Prince Mashele, skryf onlangs in sy artikel, SA finally African, all thanks to Zuma, dat Jacob Zuma ons oë oopgemaak het vir die feit dat ons nie ’n ‘spesiale’ land hier onder aan die suidpunt van Afrika is nie, maar inderwaarheid, net nog ’n Afrika-land.

Mashele verwoord dit as volg: “During the presidency of Nelson Mandela and Thabo Mbeki, some among us used to believe that the black people of SA are better than those of other African countries. We must all thank Zuma for revealing our true African character; that the idea of rule of law is not part of who we are, and that constitutionalism is a concept far ahead of us as a people. How else are we to explain the thousands of people who flock to stadiums to clap hands for a president who has violated their country’s constitution? Such people have no idea of constitutionalism.”

Ons bly in Afrika. En Suid-Afrika, is net nog ’n Afrika-land. Hierdie paradigmaskuif is tans broodnodig, veral vir Afrikaners. Dit is nodig, want sonder hierdie skuif, kan daar nie voldoende beplanning gedoen word vir die toekoms nie. Mashele skryf verder: “The people who think we have come to the end of SA don’t realise that we have actually come to the beginning of a real African country, away from the Western illusions of exceptionalism. Those who are unsettled by this true African character need help. The best we can do for them is to ask them to look north of the Limpopo River, to learn more about governance in Africa.”

Inderdaad gebruik Mashele dan ook as voorbeeld lande soos Nigerië, Kenia en Zimbabwe om te illustreer wat ons kan verwag in die jare wat kom. Dis gewoonlik op hierdie stadium dat ‘n groot groep Afrikaners en liberales, in ’n koor al die redes sal begin opnoem oor waarom Suid-Afrika nooit soos daardie lande sal word nie. Dit sluit in die Grondwet, die howe, eiendomsreg, vryheid van spraak en regverdige verkiesings.

In die laaste paar jare was daar egter verskerpte aanvalle op al die bogenoemde instellings. Die nuwe Regspraktykwet 28 van 2014 vervang die regsberoep se uiters suksesvolle stelsel van selfregulering nou met semi-staatsregulering.

Verder is die nuwe Onteieningswet besig om sy laaste hekkie te spring voor dit in werking gestel sal word.

Die voorstelle om haatspraak en rassisme te kriminaliseer, sal in ’n konsepdokument vervat word wat so vroeg as Augustus 2016 ter tafel gelê sal word. Die lyn tussen vryheid van spraak en haatspraak gaan heel waarskynlik opnuut gedefinieer en geïnterpreteer word, en indien daar in ag geneem word dat die algemene persepsie onder swart mense bestaan dat net wit mense rassiste kan wees, voorspel dit niks goed nie. Daar is ook die gedurige gerugte van stembusknoeiery en korrupte verkiesingsbeamptes wat ook nie juis baie vertroue inboesem nie. Die vraag bly staan of die ANC geredelik mag sal oorgee indien dit wel eendag gebeur dat hulle by die stembus onttroon word.

Dit behoort dus vir enige persoon wat realisties na die situasie in Suid-Afrika kyk, duidelik te wees dat hier ’n grootse projek van Afrikanisering besig is om plaas te vind. Vir die moderne Afrikaner is die idee om te verval onder ’n regime van hoofmanne en stamleiers ondenkbaar. Net so ondenkbaar soos om regeer te word deur diktators wat die skyn van demokrasie voorhou, maar dan in werklikheid totalitêre mag op dieselfde manier uitoefen. Die beroemde Amerikaanse politieke wetenskaplike, prof. Samuel Huntington het die volgende raad vir Afrikaners gehad oor hul toekoms in Suid-Afrika: “Julle sal moet afskeid neem van die staat en op julle eie bene staan. Afrikaners sal moet loskom van staatsafhanklikheid en selfstandig begin raak. Die ANC gaan soos elders in die wêreld die staat oorvat en aanwend om hulle beleid (Afrikanisering) uit te voer, om hulle beloftes aan kiesers na te kom, om hulle ondersteuners werk te gee (kaderontplooing), en om hulle politieke doelwitte (transformasie) met die staat se belastinginkomste te befonds.”

Afrikaners staan dus voor ’n baie groot besluit. Laat vaar die droom en besef ons bly in ’n Afrika-land, net soos enige ander Afrika-land. Of hou aan droom en word telkens onkant betrap en de josie in gemaak vir elke nuutste skandaal. Indien jy vrede maak met die eerste opsie, begin dan diensooreenkomstig praktiese planne en skuiwe te maak om jou en jou kinders se voortbestaan hier te verseker.

Want, daar is nog ’n toekoms vir die Afrikaner in Suid-Afrika, mits Afrikaners hulself van die realiteite vergewis.

Afrikaners sal moet begin inskakel by gemeenskapsorganisasies waar hulle in groot getalle op beskerming van hul burgerlike regte, asook hul fisiese beskerming kan aanspraak maak. As individue staan ons nie ’n kans nie en sal ons die stryd teen oorheersing stadig maar seker verloor.

Verder sal Afrikaners hul kulturele identiteit weer met trots moet opneem en besef dat hul herkoms en kultuur nie slegs uit apartheid bestaan nie, maar uit soveel meer as dit. Eers dan sal Afrikaners voel dat hulle ook wel ’n sê het oor wat in die land gebeur en dat hulle ook ’n plek hier het.

Dit wil voorkom asof daar ’n totale verlamming oor baie Afrikaners en meeste blankes kom, elke keer as apartheid opgeroep word as beskuldiging teen hulle. Die ‘misdaad’ van die verlede word dan elke keer gebruik as regverdiging vir apartheid-styl wetgewing soos transformasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, wat met die uitsluitlike doel geformuleer is om teen Afrikaners en ander minderhede te diskrimineer en hul ekonomies te ruïneer. Hierdie ekonomiese, etniese suiwering is onaanvaarbaar en moet stop. Genoeg is genoeg. Hoe meer stemme bymekaar gevoeg word om hierdie onregverdige praktyke te beveg, hoe moeiliker sal dit wees om dit te ignoreer.

Paradigmaskuiwe is nie maklik nie. Maar, dikwels wanneer jou voortbestaan daarvan afhang, is dit moontlik.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.