Plaasmoorde benadeel almal – Christoff van Wyk

Foto: Vrystaatlandbou.co.za

Die gruwelikheid van plaasmoorde in Suid-Afrika kry toenemend internasionale mediadekking en dis tot ’n groot mate te danke aan die volgehoue bewusmakingsveldtogte van organisasies soos AfriForum. Kallie Kriel en Ernst Roets se onlangse besoek aan Amerika het wye reaksie ontlok. Die uitkoms hiervan is egter dikwels dat die krisis rondom plaasmoorde in die agtergrond verdwyn wanneer die kwessie verpolitiseer, en dan gekaap word deur debatte in die publieke domein wat dan eerder die fokus plaas op rassevooroordele, ideologie en politiek.

Dr. Heinrich Matthee het in sy jongste nuusbrief van die gesaghebbende publikasie South African Monitor, ses redes verskaf waarom plaasmoorde so ‘n geweldige negatiewe impak op Suid-Afrika as geheel het. Dit sal alle rolspelers baat om op nugtere wyse om te gaan met die feite en ten alle koste te keer dat die fokus om oplossings te kry vir hierdie krisis, nie in die politieke retoriek verdwyn nie.

  1. Plaasmoorde vernietig enige kompeterende landbouvoordeel wat Suid-Afrika binne die groter Afrika-konteks mag hê

Internasionale beleidmakers en analiste beskou die stand van lande in Afrika se landbousektor as ’n aanduiding van daardie land se potensiaal om verder op sosio-ekonomiese vlak te ontwikkel. Suid-Afrikaanse boere het in dié opsig, in ag genome die ongunstige klimaat van ’n groot gedeelte van die land, uitsonderlik gevaar. Daardie voordeel wat oor etlike dekades opgebou is, word egter met elke plaasmoord al hoe verder verswak.

  1. Plaasmoorde verswak die landbousektor se bydrae tot die nasionale sowel as plaaslike ekonomie

Die landbousektor met al sy verwante dienssektore dra 2.5% tot die nasionale bruto binnelandse produk by. Volgens Statistiek Suid-Afrika het die nasionale bruto binnelandse produk in die laaste kwartaal van 2017 met 3.1% gegroei. Die landbousektor se aandeel hieraan was 0.8% wat dit die grootste bydraer maak.

  1. Plaasmoorde lei tot ernstige werksverliese

Die landbousektor verskaf werk aan ongeveer 700 000 mense wat 4.6% van die totale werksmag verteenwoordig en dus die tweede grootste werkverskaffer in die land is naas die vervaardigingsektor. In ag genome die hoë werkloosheidsyfer in die land beteken dit dat die landbousektor in terme van werksverskaffing ’n onmisbare rol speel wat stabiliteit te weeg bring.

  1. Plaasmoorde het ’n beduidende negatiewe impak op provinsiale ekonomieë asook landelike sosiale orde

Meer as 18% van werksgeleenthede in die Wes-Kaap word verskaf deur die landbousektor en ander besighede wat direk hiermee verbind word. Die vervaardingingsektor in die Wes-Kaap ontvang meer as 70% van hul besigheid van die landbousektor en agribesigheid. Dit is dus te verstane dat enige impak op die landbousektor, veral in provinsies soos die Wes-Kaap, wye gevolge het vir ander sektore ook. Landelike gemeenskappe is gewoonlik ook kleiner gemeenskappe wat sterk op mekaar aangewese is vir sosiale en ekonomiese voortbestaan en wanneer ’n plaasmoord ’n gesin of familie tref, tref dit inderwaarheid almal in die gemeenskap.

  1. Plaasmoorde verswak die vermenigvuldigingsimpak wat groter landbou-uitsette op die sukkelende ekonomie kan hê

Die skakel tussen die landbousektor en die indirekte invloed wat dié sektor op die res van die ekonomie het, is beduidend. Indien die aanvraag na landbou-uitsette met R1 miljoen styg, verhoog dit die gekombineerde aanvraag na uitsette in ander sektore met R2.14 miljoen. Terselfdertyd sal daar vir elke R1 miljoen se waarde wat toegevoeg word in die ekonomie deur landboubedrywighede, ’n verdere R1.81 miljoen se waarde in ander sektore tot die ekonomie bygevoeg word. Dit is verder beduidend dat die landbousektor in die eerste drie kwartale van 2017 die toppresterende sektor was wat groei betref.

  1. Plaasmoorde plaas voedselsekuriteit in gedrang

Voedselsekuriteit word gedefinieer as die volhoubare toegang tot genoegsame hoeveelhede bekostigbare en voedsame kos. Statistiek Suid-Afrika het bereken dat die tipiese Suid-Afrikaanse huishouding meer as 70% van hulle kosbegroting op vier voedselgroepe spandeer, nl.:

  • Vleis
  • Brood en verwante graanprodukte
  • Melk, kaas en eiers
  • Groente.

As die netto uitvoer teenoor die netto invoer van hierdie vier groepe bereken word, gee dit ’n goeie aanduiding van hoe selfonderhoudend Suid-Afrika werklik is. Indien hierdie berekening gedoen word, toon dit ’n afwaartse trajek  reeds vir die afgelope 20 jaar. Dit beteken dat Suid-Afrika tans nie ’n selfonderhoudende produseerder van die bogenoemde vier voedselgroepe is nie.

Hierteenoor het die Suid-Afrikaanse bevolking sedert 1994 met meer as 20% gegroei tot ’n geraamde 57 miljoen mense en die verwagting is dat hierdie groei in die jare vorentoe nog sal toeneem. In kort beteken dit dat voedselsekuriteit en die landbousektor se vermoë om bekostigbare voedsel te produseer reeds op risiko is. Die feit dat die ANC-regering versuim om werk te maak van landelike veiligheid en geen behoorlike bystand aan die boerderygemeenskap verleen nie, is die grootste faktor wat bydrae tot hierdie groterwordende krisis.

Suid-Afrika het een van die hoogste moordsyfers in die wêreld. Naas Lesotho het Suid-Afrika die hoogste moordsyfer in Afrika en afhangend van die bron wat geraadpleeg word, lê Suid-Afrika tussen 7de en 10de in die wêreld. Dus behoort die voorkoming van moord, oor die algemeen, as ’n absolute prioriteit beskou te word vir die regering en die polisie. Tans blyk dit glad nie die geval te wees nie.

Daar is ’n nuwe ontwaking wêreldwyd rakende Suid-Afrika se misdaadsituasie, maar veral ook rakende die voorkoms van plaasmoorde. Dié bewuswording het die potensiaal om toekomstige toeriste en beleggers af te skrik wat weereens ’n merkbare negatiewe impak op alle Suid-Afrikaners se lewens sal hê. In dié verband verwys Matthee ook na die twee gevalle van Sue Howarth en Peet van Es wat internasionaal die voorblaaie van verskeie koerante en ander media gehaal het. Beide is wreedaardig gemartel voordat hulle aan hul wonde beswyk het.

Die dreigende beleid van grondonteiening sonder vergoeding skep natuurlik verdere onsekerheid vir boere wat alreeds hul werk in onveilige omstandighede na die beste van hul vermoë probeer verrig. In plaas van praktiese oplossings vir landelike veiligheid, is die boodskap wat boere van die Suid-Afrikaanse regering af kry eerder een van magsvergryp ten alle koste wat uiteindelik suiwer ideologies gemotiveer is. Die besluit van die ANC om grondonteiening sonder vergoeding as beleid te aanvaar, was ook ’n kwessie wat internasionaal aandag getrek en selfs sterk bewoorde uitsprake van veral Australiese politici tot gevolg gehad het.

Elke magsvergryp, elke skending van regte, elke plaasmoord wat gepleeg word, het ’n rimpeleffek wat ver verby die onmiddellike situasie of omstandighede van individue of enkele gemeenskappe strek. Die uiteinde hiervan benadeel nie net een groep nie, maar almal in Suid-Afrika. Wanneer gaan ons dit besef?

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.