Politiek van die erkenning van identiteit en die euwel van ‘political correctness’

deur Prof Marinus Schoeman

images12


Die tradisionele liberale politiek is een waarin elke burger as vry en gelyk deur en voor die wet erken word. Alle burgers het dieselfde wetlik bepaalde regte en pligte ongeag hulle private verskille (in rykdom, afkoms, geslag, geloof, ras, ens.). Die wet is natuurlik nooit so neutraal as wat dit veronderstel is om te wees nie: selfs in die mees liberale demokrasieë bevoordeel dit in feite ’n bepaalde groep of groepe en hulle waardes (manne, blankes, Engelssprekendes, Protestante, ens.). Veral waar verskillende volke of kultuurgemeenskappe in dieselfde staat saamleef, sorg dit vir spanning en die moontlikheid van konflik. Nogtans was dit wyd aanvaar dat sulke probleme nie fundamenteel onoorkombaar was nie: die hoop was dat dit mettertyd met die toename van vooruitgang en gelykheid sou afneem.

Vroeër of later word die gebrekkige liberaliteit en neutraliteit van die staat of van die wet egter ’n fundamentele probleem. Dit gebeur die oomblik wanneer burgers nie langer tevrede is met die vooruitsig op die verwerwing van formele vryheid en gelykheid (d.w.s. vryheid ongeag allerlei verskille) nie, maar wanneer hulle in hulle ekspressiewe identiteit, in hulle al dan nie selfgekose verskil, publiek deur die wet erken wil word. Wanneer hulle met ander woorde aandring op gelyke erkenning, nie sonder meer as burger nie, maar in hulle eie identiteit: as vrou, as swarte, as Moslem, as gay, as Afrikaanssprekend. Wanneer dit gebeur, word ons gekonfronteer met wat die Kanadese filosoof Charles Taylor noem diepolitiek van die erkenning van identiteit of die politiek van verskil.

Moderne individue druk hulleself uit en verwerklik hulleself via allerlei kenmerke of “verskille”. Dit is in die selfekspressie wat hulle deur andere erken wil word. Veral wanneer hulle geïdentifiseer is met groepsverskille waarvan hulle nie sommer goedsmoeds afstand wil of kan doen nie, wil hulle nie misken of gemarginaliseer word vanweë sodanige verskille nie. Hulle eis in ieder geval dat die wet hierdie verskille op gelyke voet stel met die waardering wat ander groepsverskille geniet (ander tale, godsdienste, volke, sedelike en juridiese gebruike, ens.). Hulle eis dat die wet diskriminasie op basis van hierdie verskille onmoontlik maak en ook op hierdie vlak gelykheid waarborg. Dit impliseer volwaardige publiekeerkenning van die gelykwaardigheid van bepaalde (groep-) verskille soos taal, geslag, ras, of godsdiens. Die liberale politiek van die gelykwaardigheid voor die wet van alle burgers ongeag hulle verskille word vervang deur ’n politiek van die (gelyke) erkenning van die verskille. Dus, geen gelykheid ongeag allerlei verskille nie, maar gelykheid in allerlei verskille. Dít is wat verwag word van die hedendaagse multikulturele samelewing. Demokrasie in ’n multikulturele opset stel as hoogste vereiste dat daar teen niemand, of dit nou ’n groep of ’n individu is, gediskrimineer mag word nie. Teenoor die diskriminasie van weleer word die vaandel van universele erkenning geswaai. Teenoor die skade van skaamte en uitsluiting kry ons die opkoms van prides. Elke godsdiens, elke minderheid, elke individuele opinie wil op gelyke voet staan met alle andere.

As algemene politiek van die erkenning van alle (groep-) verskille is die sogenaamde politiek van verskil duidelik onsinnig. Geen enkele samelewing kan sonder meer bepaalde kollektiewe waardes erken bloot op grond daarvan dat dit waardes is van ’n spesifieke groep in die samelewing nie. In enige samelewing is daar grense aan die wetlike aanvaarding (erkenning) van tale, gewoontes, moraalsisteme, godsdienste, ensovoorts. Daar is uiteraard praktiese grense, maar ook interne grense aan ’n dergelike politiek. Soos Taylor tereg opmerk: ook erkenning van kollektiewe waardes veronderstel dat dit werklik om waardes gaan. Die vraag na die waarde van die groepwaardes is onontkombaar (anders moet ook praktyke soos kliterodektomie, sado-masochisme, poligamie, eerwraak ens. toegestaan word). ’n Politiek van erkenning veronderstel, aldus Taylor, ’n politieke diskussie waarin oor die erkenning van groepwaardes beslis word. So ’n diskussie vooronderstel: a) dat ander tradisies in beginsel as moontlik waardevol aanvaar word; b) dat ’n enigsins gedeelde betekeniskonteks met gedeelde waarderingsmaatstawwe aanwesig is. Taylor praat selfs van ’n “veronderstelling van gelykwaardigheid” ten aansien van vreemde betekeniskontekste of tradisies vir sover hulle aan groot getalle individue vir ’n geruime tyd die konteks van ’n sinvolle lewe verskaf het.

Die gedagte van Taylor dat tradisies in beginsel (apriori) waardering verdien, lyk nie onjuis nie. Taylor sluit hier aan by ’n fundamenteel konserwatiewe gedagte. Dit impliseer nie dat die bestaande enigsins volmaak is nie, maar veronderstel dat tradisies bloot deur hulle oorlewing getoon het dat hulle in staat was om ’n samelewing van mense moontlik te maak wat die hede op ’n duursame wyse verbind met die verlede en die toekoms, en sodoende aan vele die moontlikheid bied om ’n min of meer sinvolle lewe te lei.

Uit die apriori-waardering van kulture of tradisies in die algemeen volg egter nog nie ’n antwoord op die vraag hoe daar in die politieke debat beslis moet word oor die wetlike aanvaarding van bepaalde groepwaardes nie. Die idee van ’n harmonisering van verskille via ’n ope gevoeligheid vir alles wat as waardevol gereken word – die gangbare idee van die multikulturalisme – is duidelik ’n naïewe en inderdaad politiek gevaarlike idee. Die idee hou geen rekening met die onvermydelikheid van hardnekkige onverenigbaarhede van geïnkarneerde (beliggaamde) betekenisse en waardes nie. Betekenisstrukture of waardes is inderdaad beliggaam in konkrete, materiële praktyke: omgangsvorme, opvoedingsgewoontes, maniere van eet, godsdiensbeoefening, liggaamskultuur, ensovoorts. Selfs ons beste pogings om ontvanklik te wees vir vreemde kulture stuit vroeër of later onvermydelik voor gevoelens van walging en morele afkeuring. Ook individue wat oor ’n lang tyd blootgestel is aan en vertroud geraak het met die vreemde, kan skielik gekonfronteer word met ’n moment van totale onaanvaarbaarheid.

Taylor distansieer hom van die voorstanders van ’n multikulturalisme wat alle kulturele verskille as gelykwaardig opvat, pluralisme as enigste ideaal beskou, en identiteit sien as ’n spel ad libitum tussen en met verskille. Maar sy idee van die vrugbaarheid van openheid en van die moontlikheid van ’n versmelting van betekeniskontekste of tradisies ontsnap self nie aan ’n mate van naïwiteit nie. Onbegrip, konflik, onaanvaarbaarheid het al te dikwels te make met skynbaar onbenullige sake (met dinge soos hoofdoeke, ’n bepaalde liggaamshouding of liggaamskenmerk, ens.) waarin die vreemdheid sigself manifesteer. Dit dui op ’n sekere mate van onbeheersbaarheid van ons verhouding met andere, wat op sy beurt weer te make het met die feit dat ons nie volkome meester is van ons eie hegtinge, van ons eie “identiteit” nie. Ons stuit hier voor “domme grense”, en hoe hard ons ook al voorgee om verhewe te wees bo “onbenullighede”, niemand ontsnap ooit heeltemal aan die impak van die geïnkarneerdheid van verskille nie. En onvermydelik ontstaan daar vroeër of later situasies waarin die “meningsverskille” eskaleer op ’n wyse wat van buite af totaal onbegryplik is. ’n Mens kan dan alleen maar hoop op ’n geslaagde politiek van “containment”, waardeur tyd gewen kan word sodat aandag opnuut aan ander dinge bestee kan word, of die teenstellings minstens hulle skerpte verloor.

Die enigste manier om sonder geweld konflikte betreffende die erkenning van groepwaardes te beslis, is via die politieke arena met sy eie (grond-)wetlike spelreëls. Elkeen moet leer begryp dat lojaliteit teenoor die eie ook lojaliteit teenoor die wet impliseer. Tegelykertyd moet, soos Taylor opmerk, ’n sekere mate van terughoudendheid aan die dag gelê word ten aansien van die strewe om alle sosiale probleme eens en vir altyd polities-juridies te wil oplos. Hierdie behoudendheid mag weliswaar die status quo bevoordeel, maar na alles blyk dit die beste garansie te wees vir ’n menslike samelewing waarin nie alleen die eie nie, maar ook die vreemde min of meer vreedsaam kan oorleef.

Die soort politiek waarvan hier sprake is, laat geen ruimte vir political correctness nie. ’n Politiek van political correctnesshou immers onvoldoende rekening met die konkrete, histories-kultureel bepaalde realiteit waarin individue van die een groep onvermydelik min of meer positief of negatief ingestel is jeens die kenmerke en gebruike van ’n ander groep of groepe. By politieke korrektheid gaan dit nie soseer om die (potensieel) negatiewe gevolge hiervan te besweer of te beperk nie, maar eerder ’n strewe om ten alle koste gelyke erkenning van verskille tot stand te bring by en deur alle individue. Dit gaan hier om ’n grandiose heropvoedingsprojek van die mensheid waarin alle individue mekaar moet leer aanvaar “soos wat hulle is”. Daarom moet alle manifestasies van afwysing en afkeer bestry word, desnoods langs juridiese weg. Hierdie soort politiek verskaf nie slegs die ideale teelaarde vir allerhande provokasies en protesbewegings nie; dit maak dit soms ook besonder moeilik om uit te maak of dit gaan om ’n egte vraag na erkenning, dan wel om ’n provokasie.

Die soeke na erkenning deur provokasie neem sy vertrekpunt in die reg van elkeen om op basis van sy of haar verskil onbelemmerd sigself te wees, ongeag of ander daarvoor enige waardering het. Om te provokeer, moet mens sigbaar en hoorbaar wees: die ander moet weet dat ek/ons daar is; hulle mag nie wegkyk nie. As die ander dan tog nie aandag wil gee nie, kan die provokasie alleen maar eskaleer.

’n Politiek van political correctness kan nie lei tot egte erkenning nie, omdat erkenning iets is wat waarlik bedoel word en ’n gedeelde waardering van die verskil veronderstel. Politieke korrektheid resulteer onvermydelik in ’n samelewing waar burgers mekaar louter as vreemdes bejeën met wie hulle so min as moontlik te make wil hê. Die middele wat ten dienste van politieke korrektheid aangewend word, kan alleen maar ’n skyn van gelykheid en verdraagsaamheid tot stand bring. Middele wat aangewend word, behels onder meer die volgende: 1) Pleks van rekening te hou met die weerbarstige realiteit, word die woorde verander en reëls vir nuwe woordgebruik opgestel; 2) ongelykhede moet uitgewis word deur byvoorbeeld verlaging van standaarde, die willekeurige oplegging van verteenwoordigendheid (representivity) of kwotas, ensovoorts.

Sentimentalisme vier hier hoogty. Alle klem word gelê op die subjektiewe gevoelens wat ontsien moet word. Dit lei tot ’n verregaande terapeutisering van maatskaplike verhoudings, eerder as die soeke na reële, duursame oplossings van spanning en konflik. By sommige ontstaan boonop ’n neiging om op ’n perverse manier erkenning te soek deur voortdurend te hamer op die ander se gebrek aan erkenning en boetedoening vir onreg wat teenoor hulle gepleeg is. Die slagoffer-kultus moet ten alle koste lewend gehou word.

Die resultaat van ’n dergelike politiek is nie een van ’n reële sosiale aanvaarding en verdraagsaamheid nie, maar eerder een waar antagonismes ondergronds gaan en subtieler vorme van afwysing ontstaan. Dit lei ook tot ’n toename van allerlei burokrasieë vir wie dit uiteindelik nie gaan om die ongelykheid nie, maar om hulleself in stand te hou deur voortdurend nuwe regulasies en kontrolemeganismes uit te dink. So word verantwoordelikheid gereduseer tot die instel en nakoming van prosedures en kontrolemeganismes. Die toenemende juridisering, wat saamhang met hierdie politiek, het tot gevolg dat burgers teen mekaar opgestel en die sosiale weefsel afgetakel word. Hoe meer sake individue van mekaar of van die staat kan afdwing, hoe minder ruimte is daar vir werklike solidariteit. Versuring van verhoudings gaan saam met ’n verarming van die sosiale strukture, met al die nadelige gevolge daarvan. Spontane verhoudings word bemoeilik of onmoontlik gemaak deur ’n oorgevoeligheid vir afwysing aan die een kant, en ’n konstante op-jou-hoede-wees aan die ander kant.

Political correctness lei tot onderlinge wantroue tussen burgers. Hulle verdink mekaar van skynheiligheid of onopregtheid. Die gesonde verstand word aangetas en dit verhinder dat bepaalde probleme nog aangespreek of dat bepaalde groepe of individue nog gehoor word. Hulle word gebrandmerk as “rassisties”, “kapitalisties”, “ongetransformeer”, “fundamentalisties”, en dies meer. So word verhinder dat nog na hulle geluister of nagedink word, terwyl dit in baie gevalle gaan om werklike probleme en belangrike sake. Daar word kwistig gebruik gemaak van algemene, abstrakte terme wat funksioneer as moraliserende sinjale waaragter “elke denkende mens” sigself sou moet skaar. So word verhoed dat die politiek bepaalde realiteite raaksien en paslik daarop reageer.

Die sluipende, verregaande moralisering van die politiek is deesdae miskien meer subtiel, maar nie minder fanatiek as vroeër nie. Terwyl die politiek hom normaalweg nie regstreeks bemoei met die moraliteit van burgers nie (tensy dit met die openbare orde te make het), impliseer political correctness ’n verregaande poging tot geestelike beïnvloeding in diens van ’n bepaalde ideologie.

Die politiek van political correctness hou geen rekening met die menslike natuur nie. Mense hou nie spontaan van allemense nie; hulle het nood aan geborgenheid en steun van gelykgesindes of lotsverbondenes; hulle is wispelturig en onbedagsaam, angstig of aggressief, ensovoorts. Die sosiale omgang vereis dan ook ’n bepaalde soort beleefdheid wat ruimte laat vir skyn sowel as vir die kans op waaragtige eerbied – ’n welwillende benadering wat aan die ander, by alle bedenkinge, die voordeel van die twyfel gee eerder as om aan te dring op outentisiteit en openheid van gevoelens en intensies, wat onvermydelik aanleiding gee tot agterdog en vyandigheid.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.