Reaksie op minister Motshekga se aankondiging dat geskiedenis tot gr. 12 verpligtend gemaak kan/gaan word

deur Prof. Fransjohan Pretorius 

Reaksie-op-minister-Motshekga-se-aankondiging-dat-geskiedenis-tot-gr-12-verpligtend-gemaak-kan-gaan-word-xs


Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, het aangekondig dat ‘n taakspan aangestel is om die moontlikheid te ondersoek om geskiedenis tot gr. 12 verpligtend te maak.

Sy het aangedui dié besluit spruit uit die onlangse xenofobiese aanvalle en die skade wat aan geskiedkundige standbeelde aangerig is. Sy reken die aanvalle het dit duidelik gemaak dat almal die land se geskiedenis moet ken om as verenigde nasie vorentoe te beweeg.

Dit klink mooi, en maak die liefhebber van geskiedenis opgewonde, want daar is aantreklike voordele daaraan verbonde. Dit kan egter alleen benut word as daar sekere strikke vermy (kan) word, want die nadele wag om met die prys weg te stap.

Met geskiedeniskennis sal leerlinge nie meer so oningelig en sonder ‘n verwysingsraamwerk deur die lewe gaan nie – hulle sal hopelik meer kennis hê en konteks van gebeure begryp. Daar is mense wat maar onkundig oor die verlede is. Hulle sal opmerk: “Julius Caesar en Napoleon was albei figure lank gelede, daar ver in die Middeleeue.” Dat Caesar uit 50 v.C. dateer en Napoleon uit 1800 n.C. en dat die sogenaamde Middeleeue tussen hulle lê met veel ontwikkeling ná Caesar en vóór Napoleon, is vir hulle geen begrip nie.

Die bekende standpunt geld: As jy weet waar jy vandaan kom, weet jy waar jy nou is en verstaan jy beter waarheen jy oppad is. Veels te weinig mense het ‘n begrip hiervan. Geskiedeniskennis sal help.

‘n Waardevolle bydrae van geskiedeniskennis is die besef dat niks sommer net gebeur nie. Die ontwikkeling in die geskiedenis met oorsaak en gevolg sal hopelik begryp word. F.W. de Klerk het nie op 2 Februarie 1990 die ANC op die ingewing van die oomblik ontperk nie – die aftakeling van apartheid het al van die dood van dr. Verwoerd af gekom. Dit was ‘n lang ontwikkeling. Niks in die geskiedenis is dus simplisties nie.

Indien die onderrig gebalanseerd oorgedra kan word, kan mens begrip kry van en selfs waardering vir alle groepe se uiteenlopende erfenisse. Dit is werklik nodig, sodat die emosies uit byvoorbeeld die xenofobiese en standbeeld-kwessies gehaal kan word. Dit kan lei tot wedersydse begrip, harmonie en versoening, hoewel ons nog moet debatteer wat versoening beteken. Vir die regering is dit blykbaar dat die meerderheid se standpunt seëvier.

‘n Bonus sal wees dat leerlinge weer sal leer om behoorlike opstelle te skryf met goeie formulerings, sinskonstruksie en hopelik spelling. Hierdie aspekte het in die afgelope dekades sleg agteruitgegaan.

En tog stem die minister se aankondiging my onrustig.

Waar gaan die onderwysdepartemente al die onderwysers kry om sinvol geskiedenis te gee? Die regering het die onderwyskolleges toegemaak. Universiteite se opvoedkunde-fakulteite dra swaar. Oral gebeur dit dat onderwysers wat nie daarvoor opgelei is nie, geskiedenis (dalk teen hulle sin) moet aanbied. Die resultaat: Leerlinge word ‘n spul datums en feite gevoer, want die onderwyser is nie voldoende toegerus om begrip en insig te kweek en die draad van die geskiedenis oor te dra nie.

Die moontlikhede vir vakkeuses is reeds propvol. Soveel as wat ek begeer dat alle leerlinge geskiedenis neem, is daar reeds spesialisasie op skool en konsentreer leerlinge op vakke wat hulle loopbane in byvoorbeeld ingenieurswese, medies of die besigheidswetenskappe kan bevorder. Natuurlik sal geskiedenis insig en selfstandige denke kweek, en hulle ook in daardie rigtings help, maar dis nie so eenvoudig in ‘n vol program nie.

Saam daarmee is lesingroosters by skole reeds propvol. Waar pas jy geskiedenis in tot matriek?

Sekerlik die grootste probleem is die ideologiese kwessie. Die onderwysdepartemente se beleid is één handboek (dit wil sê indien dit betyds versprei word). En wie se standpunt gaan dit bevat? Kan of sal alle kante van omstrede kwessies daarin belig word? Dít is die toets.

Meer nog: Minister Motshekga sê dit moet ‘n gebalanseerde geskiedenis wees. Wat bedoel sy daarmee? My ervaring is dat die ANC reken dis nou hulle beurt om sake te beheer en voor te skryf. Hoe gaan hulle Paul Kruger uitbeeld – as hierdie leier van die Afrikaner in die negentiende eeu wat swart Afrikane van hulle grond ontneem het, of gaan hulle óók vertel van sy bydrae tot die republikeinse tradisie in Suid-Afrika, sy stryd teen Britse imperialisme, en byvoorbeeld sy goeie verhouding met Kgosi August Mokgatle van die Bafokeng, wat veroorsaak het dat die Bafokeng vandag van die rykste platinummyne ter wêreld besit?

Die minister reken kinders moet leer dat die res van die vasteland soms ten koste van hulself die bevrydingstryd gesteun het. “Hoe kan hulle Angola se rol in die bevrydingstryd verstaan as hulle nie die agtergrond en geskiedenis van die Slag van Cuito Canavale verstaan of ken nie?”, vra sy. So, haar kommer is oor die bevrydingstryd wat in die geskiedenis nie korrek uitgebeeld word nie. En ander standpunte dan? Anders as wat sy kennelik dink, is daar oor Cuito Canavale geen eenstemmigheid nie. Sowel die Suid-Afrikaanse Weermag as Swapo en die Kubane het ‘n oorwinning opgeëis. Besef die minister die slag het in werklikheid geen wenner opgelewer nie? En, soos Adriaan Basson in Beeld aangedui het, die ANC se reaksie dat kinders sal kan leer oor die “glorieryke” stryd teen apartheid en kolonialisme, is teleurstellend. Feit is daar was nie net een wenner nie, want ‘n skikking is tussen die partye bereik. Bowendien is “glorieryke” geskiedenis geen gebalanseerde geskiedenis nie.

‘n Voorbeeld van hoe problematies die minister se stelling is dat dit ‘n gebalanseerde geskiedenis moet wees: In 2005 het (let wel wie:) die Instituut vir Geregtigheid en Versoening ‘n reeks oor die geskiedenis van Suid-Afrika gepubliseer. In die Voorwoord is dit aangekondig as ‘n “democratic history – one in which more than one voice is heard”. Verre daarvandaan. Dit was hoofsaaklik die “struggle”-geskiedenis, waar apartheid tereg pakkry, maar waar die Afrikaner se Groot Trek- en republikeinse geskiedenis negatief uitgebeeld word. Die Onderwysdepartement het die reeks omhels, en in eksamens is daaruit aangehaal vir leerlinge om op te reageer. In die reeks was daar één sinnetjie oor Paul Kruger, naamlik dat hy probleme met die mynmagnate gehad het. Hoe gaan daardie enkele sinnetjie beeldstormers vermaan om nie sy standbeeld te verwyder of, erger nog, af te breek nie? Ná kritiek het ‘n latere uitgawe ‘n gebalanseerde hoofstuk oor die Anglo-Boereoorlog bygekry.

Hierdie gebrek aan balans was die aansporing vir die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns om Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag (2012) te skryf. Die balans was vir die redakteur nog nie heeltemal reg nie, en ‘n verbeterde Engelse uitgawe, A history of South Africa: From the distant past to the present day, het gevolg (2014). ‘n Toekomstige tweede Afrikaanse uitgawe sal dieselfde teks as die Engelse uitgawe dra.

Geskiedenisleerplanne het die aaklige manier om die ideologie van die regering van die dag ter wille te wees. So was dit in die apartheidstyd, toe die geskiedenis van die Afrikaner voorgehou is as die geskiedenis van Suid-Afrika. En so is dit tans met die “struggle”-geskiedenis wat aangebied word as die geskiedenis van Suid-Afrika. Dit moet verander. Ons is nou ‘n demokrasie in ‘n multi-kulturele samelewing, en alle groepe se geskiedenis behoort gebalanseerd en regverdig in ons geskiedenisboeke te figureer. Dít is die uitdaging. Slaag die beplanners/skrywers daarin, steun ek die gedagte. Dis egter reeds moeilik om ‘n gebalanseerde geskiedenis te skryf, en as ons sin vir balans uit die staanspoor gebrekkig is…

Prof. Fransjohan Pretorius is voorsitter van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en redakteur van Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.