Roem ter wille van roem

deur Prof. Amanda du Preez 

Roem ter wille van roem


Roem het ʼn besonderse hupstoot in die 21ste eeu gekry deur die moontlikhede wat alom teenwoordige digitale en sosiale media bied. Soos ʼn virus kan roem nou ongehinderd oor globale netwerke versprei sonder dat daar ʼn ooglopende teenmiddel beskikbaar is. Onbekendes kan oornag in bekendes verander deur deel te neem aan die bloeiende industrie van roemskeppende televisie programme soos Celebrity Apprentice en Dancing with the Stars. Indien dit nie slaag nie kan mens altyd die doen-dit-self roete[1] volg of vir mikro-roem deur Instagram of YouTube mik.[2] Dit beteken egter ook dat roem vervlak tot blote voorkoms en oppervlakte verskynsel. Die intensifisering en versnelling wat in die verspreiding van roemrykheid ingetree het hits die proses van vervlakking nog verder aan. Dit is nie soseer die aard van die roemkultuur wat verander het nie, meen Robert van Krieken in Celebrity Society (2012), maar wel die skaal en pas waarteen roem oor ons skerms sirkuleer wat wel drasties toegeneem het.

am1

The rise of the micro-celebrity, Social Media Philanthropy website (2011)

Daar het ook ʼn ander belangrike verskuiwing plaasgevind, naamlik dat roemrykheid nou bloot verwys na bekendheid of berugtheid. Sedert die laat 20ste eeu het roem bloot ʼn produk van bekendheid of befaamdheid geword. Kortweg: ʼn beroemde persoon is iemand wat bekend is omdat hy of sy bekend is (“the celebrity is a person who is well-known for their well-knownness” (Boorstin 1962:58)). Dit beteken dat helde en bewonderenswaardige persone wat grootse dade verrig nie noodwendig beroemd word nie, maar veel eerder diegene wat vir die een of ander rede bekend of berug is. Paris Hilton en Kim Kardashian is goeie voorbeelde in die verband. Nie een van die skoonhede is beroemd omdat hulle geniale of grootse dade gepleeg het nie, maar hulle is beroemd omdat hulle beroemd is. Deur persoonlikhede aan ʼn proses van roem te onderwerp of celebritisation beteken dit dat die media strategieë van roem op persoonlikhede toepas wat hulle dan in beroemdes verander. Dit is dus letterlik die proses van roemskepping of die fabrisering van roem (byna uit niks) wat deur die media en publisiteit geskep word. Mens hoef dus nie besonders talentvol of begaafd te wees om beroemd te word nie, want ons bewonder nie meer genieë of uitstaande persone nie, maar eerder roem terwille van roem. Soos Paul Virilio – filosoof en uitdager van die kontemporêre verbruiker samelewing – verduidelik, implodeer die bewondering van roemrykes (celebrities) tot die blote bewondering van roemrykheid (celebration). Ten einde sy punt te bewys haal Virilio ʼn deelnemer van ʼn onlangse realiteitsprogram aan:

Let me remind you of what a young man said on a reality TV show. He was asked what he wanted to do in the future. His response was: “I want to do celebrity.” He didn’t want to become a Picasso, a Shakespeare, or a Godard. He wanted to “do celebrity”. And he had perfectly understood that celebration would allow him to become a celebrity without any works to his name. (Virilio 2012:62)

Dit is die viering van roem terwille van roem wat op die voorgrond tree, eerder as om ʼn beroemde te wees wat dus beklemtoon word in die jong man se opmerking. Die feit dat Madonna se derde grootse treffers album Celebration (2009) heet, waarop haar ge-Warholifiseerde gesig pryk, behoort ʼn goeie aanduiding van die fenomeen te wees. Wie het immers die proses van roem beter verstaan as die popkunstenaar Andy Warhol (1928-1987)? Die massa produksie van die ikoon wat ironies genoeg gelei het tot die stroop van individualiteit en dehumanisering van beroemdes, lê duidelik in Warhol se siniese herhaling van die beeld. Die mens “agter” die beeld is vernietig – soos brutaal in die geval van Marilyn Monroe gebeur het – sodat die ikoon ongehinderd versend en verbruik kan word. In die geval van Madonna se album val sy en haar roem ooreen.

am2

Links: Andy Warhol, Marilyn (1962); Regs: Madonna, Celebration (2009).

Wat beteken hierdie ooreenval van beroemde (celebrity) en roemrykheid (celebration)? Ten einde iets van hierdie drang tot onmiddellikheid te kan verstaan moet ons in ag neem dat die kultuur waarin ons leef klem lê op die oombliklike, visuele en sensasionele in teenstelling met die standhoudende, geskrewe woord en rasionele. In hierdie vlietende kultuur word beroemdes die verpersoonliking van private aspirasies wat moet vergoed vir die verlies aan gemeenskap en ʼn gevoel van geborgenheid. Dit is byna asof die roemryke moet intree vir “the affective deficit of modern life”, aldus Graeme Turner in Understanding Celebrity (2013: 6), deur vorm te gee aan ʼn verlore gemeenskap via nuwe media. Die beroemde word ʼn anker met wie daar geassosieer of mee geleef kan word. Die opwelling van openbare rou wat wêreldwyd ervaar is na Prinses Diana se dood is ʼn duidelike bewys van die verwagtinge en hoop wat op beroemdes geplaas word.

am3

Foto van roubeklaers se eerbetoon aan prinses Diana voor Buckingham Paleis, 1997

In hierdie verband kan die rol van sosiale media en netwerke in die beskikbaarstelling van beroemdes se doen en late nie oorbeklemtoon word nie. Soos die private en publieke sfere inmekaar vloei wil dit voorkom asof die ooraanbod van onmiddellikheid in sosiale media ’n beweging weg vanaf representatiewe media na presentatiewe strukture aankondig. Volgens Marshall (2010:44) kan die self-identiteite wat aanlyn geskep word, of liewer geproduseer word (self-production), as meer presentatief van aard beskryf word, omdat dit die illusie skep dat die aanlyn persoonlikheid nader aan die “ware” self beweeg as ander representasies. Glanspersoonlikhede verkies dus al hoe meer om direk met aanhangers op sosiale netwerke te kommunikeer deur die skep van ’n “interkommunikatiewe self” (Marshall 2010:45). Deur gereeld skakels na YouTube-video’s, musiek, foto’s en artikels te deel kan die “sensasie van onmiddellikheid” (Marshall 2010:45; my vertaling) instand gehou word. Die illusie word dus geskep dat die interkommunikatiewe self van die beroemde persoon byna ongefilter en ongehinderd aan die gehoor beskikbaar gestel word sonder enige skynbare bemiddelende medium soos die geval was byvoorbeeld in ouer vorme soos die gedrukte media. Die gevolg hiervan is dat bewonderaars die gevoel kry dat hulle in die teenwoordigheid van roemrykes self beweeg, en nog meer, dat roem self dus binne bereik is.

Die aard van roem en wat dit beteken om beroemd te wees, het dus drasties in die 21ste eeu verander. Die belangrikste hiervan is waarskynlik die versnelling van die proses en die feit dat beroemde en roem nou ooreenval wat beteken dat roem terwille van blote roem die dominante eienskap geword het.

Bronne:

  • Boorstin, D. J. 1962. The image; or, what happened to the American Dream. New York: Atheneum.
  • Marshall, P.D. 2010. The promotion and presentation of the self: celebrity as marker of presentational media. Celebrity Studies, 1(1):35–48.
  • Senft, T. 2013. Micro-celebrity and the branded self, in Blackwell companion to new media dynamics by John Hartley, Jean Burgess and Axel Bruns (reds). Wiley Online Library.
  • Turner, G. 2013. Understanding celebrity. Londen: Sage.
  • Van Krieken, R. 2012. Celebrity society. Londen: Routledge.
  • Virilio, P. 2012. Celebration: A world of appearances. Interview with Sacha Goldman. Cultural Politics, 8(1):61–72.

[1] Doen-ditself- roem (DIY celebrity) verwys na die feit dat gehore nie hulself bloot meer as die passiewe verbruikers van roem bestempel nie maar nou aktief kan deelneem of meemaak aan hulle eie roem. Die term is deur Graeme Turner eerste gebruik in 2004.

[2] Mikro-roem (micro-celebrity) verwys na iemand wat beroemd word na aanleiding van virale web verspreiding van beelde of video’s, dus meestal roem wat uit sosiale media, realiteit televisie en Twitter spruit. Sien Theresa Senft se hoofstuk getiteld “Micro-celebrity and the branded self” vir ‘n goeie inleiding tot die verskynsel.

Tags: , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.