RSG, die blinde mans, en die olifant

Op 12 Januarie 2015 het die onderrokke van RSG en sy normaalweg bekwame joernaliste, Cobus Bester en Izak du Plessis, weer vêr uitgehang. Net na sewe die oggend is ’n onderhoud gevoer met een van die “nuwe hervormers”, dr. Abel Pienaar, in sake die reaksie van Afrikaanse luisteraars op die terreur wat in Frankryk rondom die Charlie Hebdo sage plaasgevind het. Die SMS-reaksie van Afrikaners op RSG was skynbaar oorweldigend dat dit wat heilig is vir ander, met rus gelaat en nie onnodig met satire hanteer moet word nie. Hierdie reaksie het blykbaar die span by RSG ontstig. Dit sou te veel begrip toon vir die fundamentalistiese streep wat in ons wêreld, ook in Suid-Afrika in sy Christelike gewaad, te vinde is. Op ’n stadium het Cobus Bester dan ook melding gemaak dat vele predikante vandag nog op gesofistikeerde wyse fundamentalisme beoefen. Om hierdie vraagstuk te beantwoord, is die kommentaar van dr. Pienaar gevra.

Vra vir dr. Abel Pienaar

Op die vraag wat fundamentalisme nou eintlik is, het dr. Pienaar geantwoord dat dit ’n emosionele omgang met jou geloof is, op so ’n wyse dat alle redelikheid eintlik in die slag bly. Tot sover sou ’n mens met hom, gekwalifiseerd, kon saamgaan. Maar dr. Pienaar is ook bekend daarvoor dat hy die ortodokse Christendom bevraagteken en as “Gnostiese Christen”, baie meer aan die begrip fundamentalisme verbind as wat die meeste Christene in ons hoofstroom kerke sou doen. Dr. Pienaar het by die hoogtepunt van sy gesprek gestel dat alle godsdiens kultureel bepaald is en dat dit menslik van aard is.

Dit is ’n vraag of sulke uitsprake nie ook dogmaties en fundamentalisties getoonset is nie en hierop kom ons later terug. Wat insiggewend is, is die toepassings wat dr. Pienaar hieruit gemaak het. Hy het die hele kwessie van godsdiensbeoefening in skole weer op die tafel geplaas. Dr. Pienaar is bekend daarvoor dat hy aan ’n definitiewe kant met betrekking tot hierdie sake staan. Hy het dan ook oor die lug gestel dat dit ’n tipe van indoktrinasie en breinspoeling is om kinders van net een godsdiens in die skool te leer. Dit is hier waar die onderhoudvoerders van RSG ernstig kwalik geneem moet word. Dalk het dit iets te make met die feit dat Izak du Plessis by geleentheid teologiese opleiding gehad het en dat gemeen is dat hy genoegsaam bekwaam is om eensydighede uit te ken en aan die orde te stel. Helaas, die gees van die gesprek het totaal eensydig verloop en ’n mens kan nie anders as om onder die indruk te kom dat die andersins bekwame joernaliste in hierdie geval óf duidelik die onderliggende sentimente van die Melville-liberales gewys het nie, óf andersins erg gegly het. Die duidelikste teken hiervan tree na vore wanneer jy die begin en die einde van die onderhoud met mekaar vergelyk. Die olifant in die kamer staan lewensgroot en die andersins skerp joernaliste stel dit hoegenaamd nie aan die orde nie.

Vra vir RSG

Dr. Pienaar eindig sy betoog dat die groot antwoord op fundamentalisme neerkom op respek vir ander godsdienste en standpunte en sienings. Die miljoen dollar vraag is nou: Maar was dit nie die wese van die oorweldigende antwoord wat die luisteraars met hul teksboodskappe ingestuur het nie? Die indruk wat die inleiding en onderhoud geskep het, was die volgende: Luisteraars mag nie sê dat ons respek moet hê vir ander godsdienste nie, want hulle antwoord is bloot ’n projeksie van hul eie fundamentalistiese gevoelens oor godsdiens wat nie gesatiriseer mag word nie. Dit sou RSG dan aan die kaak stel deur middel van ’n bekende debatteerder teen die ortodokse Christendom.

Juis dit is so ironies in die genoemde onderhoud – dat die gesprek voorgee om so onbevange en neutraal die werklikheid te aanskou. Wie net effe daaroor nadink, behoort tog raak te sien dat dit hier uiteindelik net maar een stel dogmas vir ’n volgende stel prysgegee word. Die mees voor die hand liggende is seker dr. Pienaar se uitspraak: “Alle godsdiens is kultureel bepaald.” Dit is ’n allesomvattende uitspraak wat voorgee om ’n standpunt te wees wat buitekant enige kultuur staan om vandaar dan nou ’n meta-uitspraak te maak oor die arme godsdienste wat nou eenmaal moeite het om te besef hoe lokaal en plaaslik hulle nou eintlik is.

Die vraag hierop is of postmoderniteit dan nie juis die waarde van plek en lokaliteit herbevestig nie? Hierop sou die antwoord waarskynlik ja wees, maar dan moet jy jou provinsialisme erken, ook in jou godsdiens. Wanneer die imperialisme van die uitspraak, “alle godsdiens is menslik en kultuurbepaald” egter aan die bod kom, is dit egter, skynbaar, onduidelik of dit ook ’n plaaslike, kulturele en menslike konstruksie is. Om imperialisme in die naam van ’n nuwe imperialisme te bevraagteken is eenvoudig nie geloofwaardig nie. Die nadors van die modernisme is eenvoudig iets waaraan ons nie so maklik ontsnap nie. Dr. Pienaar met sy “alle godsdiens is kultureel bepaald,” het bloot sy eie Archimedes-punt van waar hy die oeroue tradisie van “alles is …” deftig wil voortsit. Op subtiele wyse maak hy aanspraak daarop dat hy ’n morele hoër grond betree, hoër as die godsdienste wat so plaaslik is en so emosioneel kan raak. Hierdie morele hoër grond is skynbaar die “rede,” sy gesonde verstand, wat by hom so onaantasbaar inwerk. Die teoloog en sendingkundige apologeet, Dr. Lesslie Newbigin, het egter hieroor lankal ’n treffende opmerking gemaak oor ’n ander olifant.

Vra vir dr. Lesslie Newbigin

Dr. Newbigin het gepraat oor die bekende gediggie van die blinde ses mans van Hindostan wat elkeen ’n ander stukkie van die olifant aangeraak het. Almal was in hul weergawe tegelyk reg en verkeerd, omdat almal tog net gedeeltelik die waarheid beet had. Die enigste wyse waarop ons dit egter sou weet, het dr. Newbigin deur middel van gesonde verstand aangetoon, is as daar iemand is wat nie blind is nie en kan sien wat aangaan. Die subteks van die onderhoud met dr. Pienaar is dat dr. Pienaar so ’n man is. Hy staan onbevange en sien wat nou eintlik aangaan in godsdienste. En RSG wat darem ook nie sienende blind is nie, het ten minste die insig om vir so ’n man te vra wat aangaan, sonder om eers, soos wat hulle gewoonlik doen, iemand anders ook te vra wat die moontlike ander kant van die saak kan stel. Is hulle dalk ook (ten minste intellektueel) ingeskakel by dr. Pienaar se Renaissance-groep van spirituele lede wat die land tog moet help om te sien hoe godsdienste, Christenskap ingesluit, nou eintlik werk?

Dit bring ons dan by daardie gewraakte f-woord wat so vinnig beswaard rondgegooi word wanneer iemand anders emosioneel oor die waarheid of oor ’n standpunt raak. Laat ons begin deur daarop te wys dat dit nie noodwendig verkeerd is om emosioneel oor standpunte te raak nie. Mense wat nie passievol vir iets staan nie, val vir alles. Om byvoorbeeld emosioneel te raak wanneer jou eggenote se naam valslik beswadder word, is alles behalwe onedel. Natuurlik moet dit nie met prysgawe van grasie en gesonde verstand wees nie, maar dit was nog altyd waarop die ortodokse Christendom aanspraak gemaak het – dat dit juis nié die rede inboet of verskraal nie, maar eerder tot volle wasdom begelei. Dit is juis hierdie aanspraak wat dr. Pienaar ernstig in die openbaar bevraagteken. Dit is juis hier waar dit belangrik is om van die ander moderniteit wat die FAK promoveer, kennis te neem. Hoewel wat hier volg nie aanspraak maak om die standpunt van die FAK te verteenwoordig nie, behoort dit wel sterk oorvleueling te toon met die ander moderniteit wat eerder onder Afrikaners gestimuleer behoort te word.

’n Voorstel

Daar is ’n sin waarin elke mens fundamenteel en dogmaties is. Dit geld ook van dr. Pienaar. Sy uitspraak dat alle godsdiens kultureel bepaald is, is ’n goeie voorbeeld hiervan. Wanneer ’n mens hieroor verder grawe vind jy dan ook dat diegene wat nou sogenaamd klaargespeel het met die dogmas van die kerk, dit eintlik net verruil het vir ’n ander gesagsbasis – dikwels die huidige konsensus-beskouings van die elite in die sosiale wetenskappe. Hieraan word dikwels ’n tipe godsdienstige gesag toegeken op ’n wyse wat snaaks sou wees as dit nie so tragies was nie.

Die kerk is natuurlik nie volmaak nie en ’n bepaalde fundamentalisme kom wel voor en moet beslis afgewys word. Dit kan egter nie gebeur deur sonder meer die definisie van enigeen daarvoor te aan vaar nie. Een persoon se “waarheid wat vrymaak” word vandag te maklik die volgende persoon se beskrywing van fundamentalisme. Die gevolg vandag is dat elkeen wat nog glo dat daar permanente vaste waarhede is, maklik ’n dubbel-f, toegevoeg word. Omdat ons in ’n relativistiese eeu leef, moet ons eenvoudig rekening hou met die feit dat elke relativis dit as fundamentalisme benoem wat veragtelik is in sy of haar eie oë.

My voorstel is dat ons moet onderskei tussen fundamenteel en fundamentalisme. Almal van ons is onvermydelik fundamenteel oor dit wat na ons mening onverhandelbaar is. Dit is dikwels onsigbaar en lê op die vlak van vertrekpunte. Die vraag is daarom nie óf nie, maar wáároor ons fundamenteel is. Verder moet ons ook duideliker omskryf wat ons met die soort fundamentalisme bedoel wat ons onaanvaarbaar ag. My indruk is dat meeste van ons, soos ook verteenwoordig in die aannames van die meerderheid SMS-response aan RSG, met hierdie woord bedoel dat iemand die een of ander waarheid eensydig en blindelings handhaaf. Ons gebruik dit ook wanneer ons aanvoel dat iemand bloot op die uiterlike fokus en die letter en nie die gees of konteks van ’n saak nie, aangryp. In sulke gevalle word die liggaam dan soms selfs blindelings oorgegee om verbrand te word, maar sonder liefde. Mense in die greep hiervan verhef ook dikwels metodes en toepassings van ’n saak tot beginsels, juis omdat hulle nie die diepere beginsels en bedoelings snap nie. En dikwels het diegene wat op hierdie glybaan van die vuriges beland ’n behoefte aan een of ander radikale groep wat hul ideologie legitimeer en die teenparty demoniseer. Die motiewe om by hierdie groepe te beland, kan ook wissel – van morele verontwaardiging, tot bitterheid tot jaloesie.

Die kerk het nog altyd hierdie gevare besef en dit is een van die groot redes waarom ons altyd op die hoede is vir dwaalleer (haeresis – in Engels heresy). Haeresis het in die geskiedenis plaasgevind wanneer ’n individu of groep self wou kies wat waar en reg is, in reaksie teenoor die oorgelewerde tradisie. Dit is die ortodokse manier waarop Christene (normaalweg) enige uitwasse in die geskiedenis hanteer het, sonder prysgawe van hul spesifieke en noodwendig lokale waarhede wat tegelyk vir die hele wêreld en selfs kosmos betekenis het. Die ortodoksie wat RSG egter aan die orde stel, sonder enige bevraagtekening in die onderhoud, het hierdie “kulturele gebondenheid” van die meerderheid Afrikaners kamma oorstyg. RSG het net een opinie nodig wat die meerderheidsopinie van sy luisteraars, wat eintlik per SMS baie kerklik gepraat het, moet reghelp. Ons is egter nog lank nie klaar met die virtuose begeleiding van die klassieke ortodoksie van die Christendom nie. RSG het in sy program eintlik maar net een ortodoksie verruil vir ’n ander een. Was dit tekenend van ’n radiostasie wat meer pertinent ’n ander ortodoksie vir Afrikaners wil voorhou, of was dit bloot naïef? Geeneen van die hierdie twee opsies behoort met waardering begroet te word nie.

Tags: , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.