Sophie se pensioen

deur Dr. Attie Louw 

Sophie se pensioen


’n Vriend vertel my nou die dag van wat hy die “boosheid van die nuwe Suid-Afrika waarin ons vandag leef” noem. Een van die skoonmakers in sy kantoor, kom ons sê haar naam is Sophie, het onlangs na meer as 40 jaar diens by sy maatskappy afgetree. “Ek verstaan nou eers werklik hoe leeg en absurd die nuwe Suid Afrika is met al hulle BEE, social responsibility, community involvement en allerhande nonsens” was sy kommentaar. Sy was volgens hom ’n lewenslustige en blymoedige werkster wat duidelik bo alles vir haar Skepper geleef en gewerk het.

Maande voor haar aftrede het hy haar gevra of haar sake reg was. Sy het hom verseker dit was. Dit was ses maande gelede. Die afgelope week het sy hom gebel. Haar geld is op. Sy het meer as 40 jaar se pensioen in ses maande uitgeleef. Hy het dadelik die personeelbestuurder gebel. Hy het hom herinner aan haar blymoedigheid en getrouheid van meer as 40 jaar. Kan sy nie maar haar ou werk terugkry nie? Dit is toe dat hy hom teen ’n muur vasloop het. Nee, die maatskappyreëls sê sy moet op 65 aftree. Die kort en lank is dat dit vir almal geld, sonder uitsondering. Reëls is reëls. Die feit dat sy die broodwinner is en dat haar twee seuns werkloos is, is irrelevant tot die saak. Hy het hom verseker dat haar aftredebeplanning noukeurig met haar deurgegaan was en daarom kon hy sy hande in onskuld was. Sy moenie haar probleme die maatskappy s’n maak nie. “Die tragiese is”, het hy gesê, “dat sy in haar geloof alles vir ons op haar eenvoudige manier gegee het. Sy was letterlik soos die Bybelse lig op die staander. Dit is nie soos ons mense met ons mense gewerk het nie. My Oupa en ooms wat in die Karoo geboer het, was deur diep waters, insluitend die Groot Droogte en Depressie van 1933 en die ineenstorting van die wolprys in die laat 1950’s. In al hierdie moeilike tye het daar nooit enigiemand op hulle werf honger of koud gaan slaap nie, nie enigeen van die volk of enigeen van die bywoners nie. Daar is ook nooit van enigiemand ontslae geraak nie. Sou een van die volk te oud of te swak wees om te werk het hy steeds tot en met sy dood onderhoud en middele soos enige van die ander ontvang.” “Ons mense was nooit ryk nie”, het hy by gevoeg, “maar ons was geseënd”.

Ek het ’n rukkie gelede ’n gesprek met ’n kollega gehad aangaande die gebruik van Afrikaans in die werksplek. Daar was volgens die hom geen plek vir Afrikaans in die werksplek nie. Die rede is eenvoudig, almal moet ’n gelyke staanplek hê en daarvoor is Engels as ’n universele taal nodig. Hiermee het hy sonder twyfel die essensie van die nuwe postmodernistiese Suid Afrika saam gevat, naamlik almal moet ’n gelyke staanplek hê, ongeag waar jy vandaan kom en wie jy is. Die Christelike liefde word intrinsiek in die argument geïmpliseer, naamlik om mense ’n staanplek te weier, impliseer nie net ’n inherente rassisme nie, maar ook intense liefdeloosheid.

Die vraag is, hoe lyk die mens wat deel van almal vorm? Hierdie is ’n baie relevante vraag want Sophie was ook deel van almal by die werksplek. Haar verhaal is geensins uniek nie, soos baie van ons sal kan getuig. Sy het haar staanplek gehad tot op haar laaste dag. Hierin is juis die tragedie van nie net die nuwe Suid-Afrika geleë nie, maar ook van die totale postmoderne Weste. Ten spyte van die postmodernistiese aversie in enigiets wat na universele begrippe ruik, het hulle vir hulself so ’n abstrakte beeld van die mens gevorm dat die mens as mens totaal verdwyn het. Die mens as mens is letterlik afgeskaf, opgesê en met ’n niks vervang.

Hierdie hiperabstrakte universele begrip van die mens is een van ’n totaal vryswewende individu sonder enige noodwendige bande en assosiasies. Die mens is bloot niks meer as die stoflike nie, waarvan die ekonomiese handelinge van koop en verkoop tussen individue die belangrikste is. Die geestelike en die kulturele aspekte van die werklikheid is blote epifenomene wat later bykom en is in wese niks anders as die onderliggende stoflike en lyflike basis daarvan nie. Hierdie idee dat die mens niks anders is as die stoflike en die lyflike en dat die belangrikste interaksie tussen mense die ekonomiese is, hef in wese die individu se leefwêreld waarin God, sy gesin, sy familie, sy kerk, sy vriendekring en sy omgewing, veral in die werksituasie, totaal op. In hierdie gereduseerde wêreld vorm die uitoefening van mag, hetsy ekonomies, deur politieke “korrekte” begrippe, of deur blote geweld, die hoogste waarde. “Geregtigheid” beteken bloot die korrekte verspreiding van magte sodat daar aan elkeen ’n staanplek gegee kan word. Daar is in hierdie bleek wêreld geen plek vir tradisionele waardes soos die liefde, skoonheid, goedheid en waarheid nie. Hierdie waardes is blote konstruksies van die gemeenskap waarin die individu homself bevind of van die individu self.

Die begrip van die postmoderne mens en sy samelewing is so hiperabstrak en leeg dat dit op elke vlak weer van voor af gedefinieer moet word, beginnende by die staat se grondwet en die handves van menseregte, die regstelsel, die arbeidswetgewing, huweliksreg, kindersorg, werkgewers- en werknemerskontrakte, huwelikskontrakte, ens. Op elke vlak moet elkeen se “staanplek” in die situasie “gelyk” wees.

Die tragedie is dat die werknemer se werkskontrak en pligstaat binne die konteks van die arbeidwetsgewing en die grondwet met sy handves van menseregte nou die werknemer se menswees volledig definieer en vasstel. Die onmenslikheid en demoniese aard van hierdie situasie word eers duidelik wanneer ’n mens dit van die anderkant af benader. Sou ons in die situasie van die werknemer sy werkskontrak, saam met sy pligstaat en die wyer arbeidswetsgewingskonteks en die grondwet weg neem, sit ons letterlik met ’n lugleegte, ’n niks. Die mens is in wese die agterkant van hierdie dokumente. Draai mens enigeen van die dokumente om staar jy na ’n blanko vel papier. Agter die mooi klinkende frases van menswees is die groot Niks.

Hierdie niks of nihilisme is volgens die filosoof Conor Cunningham in sy boek Genealogy of Nihilism (Routledge, New York, 2002) ’n kenmerk van beide die modernisme en die postmodernisme. Die werklikheid is net dit wat voor ons is. Alles in die werklikheid kom vanuit die niks en verdwyn weer in die niks soos dit ons blikveld inkom en verlaat. Hy stel dit ook anders, die keersy van die (post)modernistiese werklikheidsmunt is ’n blote niks. Dit is soos die bekende tekening van die haas en die eend. ’n Mens sien òf die haas òf die eend, nooit beide nie. In ons geval is een van die twee ’n niks en die ander een ’n iets, in hierdie geval die hiperabstrakte idee van ’n mens.

haas-eendDit is ook geen wonder dat maatskappye so klem lê op niksseggende waardes, visies en missies nie. Daar is geen gemene faktor wat werknemers met mekaar en met die bestuur deel wat as ’n gemene grond vir optrede kan dien nie. Hierdie feit is baie krities in ’n multikulturele en veelrassige omgewing. Alles, insluitend enige werksetiek, moet van die begin af uitgestippel word, alles moet gedokumenteer word en daar moet kontrole op alles wees. Die gevolg is ’n totale determinisme wat geheel en al teenstrydig is met die postmodernistiese ideaal van die vrye ongebonde indiwidu.

Die hiërargie tussen werkgewer en werknemer, of te wel tussen heer en kneg, is deel van die werklikheid omdat die werklikheid in wese hiërargies is. Ons kan nie die werklikheid op ’n plat vlak uitstryk en alle punte soos mense met mekaar gelyk verklaar nie. Die feit dat ons almal gelyk is voor God maak ons nie gelyk voor mekaar nie. C.S. Lewis beskryf in sy boeke Perelandra en That Hideous Strength dat die verhoudinge tussen rasionele wesens (byvoorbeeld engele en mense) soos ’n dans is. Die dans word deur elkeen se rol, soos bepaal deur elkeen se stand in die hiërargiese skeppingsorde teen die agtergrond van die universele transendentales, naamlik waarheid, goedheid en skoonheid van die skepping, bemiddel. Ons moet net daarop klem lê dat alhoewel die orde en die onderskeie rolle in die skepping vasgelê is, die persone wat die rolle vervul nie staties is nie.

Die heer en sy kneg is ook in ’n dans betrokke. In die dans sal die heer altyd kan aanspraak maak op die kneg ten opsigte van sy lojaliteit en arbeid en die kneg sal altyd kan aanspraak maak op die heer ten opsigte van sy versorging en beskerming. Hierdie is die tipiese feudalistiese verhouding wat ook in die ou tyd op ons plase gegeld het. Die kneg was in wese deel van die heer se huishouding en kon op al die voorregte wat vanuit so ’n verhouding gespruit het, aanspraak maak. Net so is die plaasvolk in die ou dae vanuit die boer se kombuis gevoed en geklee. Dit was die heer of die boer se plig om sy kneg teen die buitewêreld te beskerm.

Die punt is dat elitisme ’n baie groot menslike sy het wat in ons tye totaal genegeer word. Hierdie verhouding is baie meer as ’n blote ekonomiese transaksie van arbeid vir die loon. Dit neem eerder die vorm aan van die gee en neem van wedersydse geskenke waar die gee altyd die ruimte laat vir ’n dankbare respons, wat op sy beurt weer ’n vorm van gee is.

Die verwyt van uitbuiting en onderdrukking van die kneg kan nie sonder meer afgewys word nie. Ons moet egter erken dat ons in ’n sondige wêreld leef en onsself dra die erfsonde in ons rond. Natuurlik was daar uitbuiting en onderdrukking. Ons moet ook stel dat ’n heer-knegverhouding nie altyd maanskyn en rose is nie. Die verhouding tussen heer en kneg is in wese ’n asimmetriese wederkerige verhouding waarin elemente van dwang en vrye wil altyd aanwesig is. Hierdie verhouding, moet soos gestel is, altyd binne die konteks van Goddelike liefde funksioneer. Hierdie wedersydse asimmetriese verhouding is tog in wese ’n afskynsel van die verhouding tussen God en Sy kind. Dit is slegs binne so ’n verhouding waarin ware vertroue en lojaliteit kan gedy. Sonder die konteks van liefde en die besef dat so ’n verhouding altyd ’n afskynsel is van ’n baie dieper en groter verhouding degenereer die heer-kneg verhouding altyd in ’n eenrigting verhouding van pure dwang en die uitoefening van naakte mag. Pogings om die mag te versprei deur sosiale ingenieurswese met reëls en regulasies verplaas die middelpunt net verder weg van die verhouding wat beide die heer en die kneg oorspan. Beide word dan net nòg objekte of pionne binne ’n groter magsnetwerk. So ’n netwerk vorm in die aanwesigheid van pure mag en die afwesigheid van liefde ’n voorpoort tot die hel.

Die postmodernistiese konsepte van die mens en die liefde is in die Niks gegrond. Die Amerikaanse skryfster Flannery O’Connor beskryf hierdie nihilisme in haar boek The Violent bear it Away (Kindle uitgawe, ligging 556 & 558) baie goed:

(T)he salesman said that it had been his personal experience that you couldn’t sell a copper flue to a man you didn’t love. … He said love was the only policy that worked 95% of the time. He said when he went to sell a man a flue, he asked first about that man’s wife’s health and how his children were. He said he had a book that he kept the names of his customers’ families in and what was wrong with them. A man’s wife had cancer, he put her name down in the book and wrote cancer after it and inquired about her every time he went to that man’s hardware ware store until she died; then he scratched out the word cancer and wrote dead there. “And I say thank God when they’re dead,” the salesman said; “that’s one less to remember.”

Die gevolg van hierdie nihilisme is dikwels, ten spyte van die mooiste teorieë en voornemens, Nazi-uitwissingskampe, Sowjetstrafkampe, die uitwissing van stede soos Dresden, Hiroshima en Nagasaki in die Tweede Wêreldoorlog, die halssnoermoorde van die ANC tydens die sogenaamde struggle, aborsies, genadedood, homoseksualiteit en so meer tot gevolg het. Dit is nie die Middeleeuse feudalisme wat werklik die Donker Eeue was nie, maar ons eie postmoderne stiksienige nihilisme wat ons verhoed om nie eens te vermoed dat daar, soos in Sophie se geval, ’n probleem is nie.

Aan die een kant is iemand soos Sophie letterlik vir die wolwe gegooi. Haar eie onvermoë om haarself te handhaaf in haar nuwe situasie is nie die gevolg van apartheid of kolonialisme nie, maar is deel van ’n groter Afrika probleem wat uit Afrika self spruit. Aan die anderkant het sy, soos dit vir my lyk, vanuit die onuitputlike Bron van haar geloof, karakter en ’n insig in die wêreld getoon wat by haar nihilistiese werkgewer totaal afwesig was.

Tags: , , , , , , , , , , , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.