Staan of skuif – Dr. Danie Langner

MT Steyn-standbeeld op UV-kampus  – Foto: Netwerk24

President Marthinus Theunis Steyn sou die laaste Afrikaner wees wat bloot ter wille van vrede ’n polities korrekte kniebuig voor radikale eise maak.

Daarvan getuig sy standbeeld voor die hoofgebou van die Vrystaatse Universiteit.

Die beeld, twee maal die lewensgrootte van President Steyn, is ’n skepping van Anton van Wouw. Dit toon President Steyn wat in ampsgewaad op die vooraand van die Tweede Vryheidsoorlog voor die Vrystaatse Volksraad sy beroemde woorde uitspreek: “Ek verloor liewer die onafhanklikheid van die Vrystaat met eer as om dit te behou met oneer of ontrou.” Die ystergraniet-voetstuk is ’n simbool van sy onbeweeglike integriteit en beginselvastheid.

Studente en oudstudente van Grey Universiteitskollege het reeds in 1917 begin om onder voorsitterskap van Samuel Pellissier fondse in te samel vir die oprigting van ’n standbeeld van President Steyn. Deur middel van toneelopvoerings, koekverkopings en ander fondsinsamelingsprojekte is die bedrag van £3000, pennie vir pennie, ingesamel.

Die onthulling van die Steyn-standbeeld op 29 September 1929 het saamgeval met Grey Universiteitskollege (latere Vrystaatse Universiteit) se kwarteeufees. In sy spreekbeurt het NJ van der Merwe, skoonseun van President Steyn, namens die familie die studente bedank vir die oprigting van die beeld deur “hulle inspanning en spaarpennies.” Namens Me. Tibbie Steyn het hy verklaar “dat hierdie monument ’n blywende besieling tot onwrikbare toewyding aan die vryheidsgees van Suid-Afrika moet wees.”

Die beeld, wat vanjaar reeds 89 jaar voor die hoofgebou van die Vrystaatse Universiteit staan, moet sonder twyfel beskerm word teen die vandalisme van radikale studente. Die Voortrekkers, FAK en ander organisasies kan uit dure ondervinding getuig met watter hoë kostes die verskuiwing, herstel en heroprigting van ’n beskadigde beeld gepaard gaan. Die FAK het begrip vir die meriete vir die pro-aktiewe beveiliging van die beeld. Die Vrouemonument is verseker histories en simbolies die mees geskikte plek. Die FAK sal, soos met die herstel en verskuiwing van die CR Swart-beeld en die herstel van President Brand se kerkhof, die verskuiwing van die Steyn-standbeeld na die Vrouemonument ondersteun, indien die standbeeld moet skuif.

Die beveiliging van die beeld kan egter nie die enigste oorweging wees in die belangrike besluit nie. Nog minder die emosionele argument dat President Steyn se standbeeld ter wille van vrede geskuif moet word om radikales te paai. Dit is ‘n motivering wat die FAK beswaarlik kan steun.

Om die waarheid te sê, die motivering dat die beeld ter wille van vrede moet skuif, kan met goeie reg gematigde Suid-Afrikaners, en spesifiek Afrikaners, baie bekommerd laat.

Die radikales is nie vir Steyn kwaad nie. Uit hulle argumente kan afgelei word hulle weet nie eers mooi wie MT Steyn is of wat sy historiese konteks is nie. Die radikales se onderliggende boodskap is duidelik, witmense is onwelkom. As daar met verskuiwing beoog word om hulle te paai, moet die vraag gevra word wat moet nog ter wille van vrede geoffer word? Eers Afrikaans. Nou Steyn. Dan Generaal de Wet voor die Vierde Raadsaal? Kort voor lank plase ter wille van vrede?

So skuif is allermins ’n strategiese oorwinning vir Afrikaners, soos sommige dit wil voorhou. As Afrikaners self die beeld verwyder, sal radikales dit as ’n morele oorwinning opeis. Net soos wat hulle sal doen as hulself die beeld soos CR Swart omtrek, aan die brand steek, met hamers toetakel en in die visdam gooi. Is verskuiwing werklik ’n antwoord om radikales te paai? Gaan dit werklik vrede en gemoedsrus op kampus beteken? Wat help dit om ’n beeld van brons en graniet ter wille van vrede te beveilig as jy bekommerd is oor veiligheid van jou kinders op ’n kampus en in die land as radikales met ongrondwetlike argumente die oorhand kry? Na die oorlog het Steyn gesê die taal van die veroweraar is in die mond van die verowerde die taal van slawe. Afrikaners durf nie ter wille van vrede die taal en idioom van radikales soos “verowerde slawe” internaliseer en napraat nie.

Die vraag oor staan of skuif, lê baie diep in die historiese bewussyn van Afrikaners. Die vraag kan selfs teruggevoer word na die argumente wat die Groot Trek voorafgegaan het. Retief was lank ’n voorstander vir staan aan die Oosgrens, voordat hy na vele mislukte probeerslae om vrede te bewerkstellig, geskuif het. Net so was daar Vrystaatse burgers wat voor die oorlog alliansies na Brittanje wou skuif, terwyl Kruger en Steyn vasgestaan het. Steyn het in dieselfde toespraak wat sy standbeeld simboliseer, gesê: “Moenie dink dat ek ligvaardig oor hierdie saak dink nie. Ek weet wat dit vir twee swakke republieke is om te stry teen die magtigste ryk wat die wêreld ooit geken het.” ’n Eerlose en karakterlose vrede was nooit vir hom ’n opsie nie. Vandag is daar talle Afrikaners wat die opportunistiese uitnodiging van ’n Australiese minister om te skuif ernstig oorweeg, eerder as om te bly staan in ons gebroke land.

Om die vraag oor staan of skuif sinvol te antwoord, moet ’n antwoord gevind word op die betekenis van NP van Wyk Louw se pleidooi vir voortbestaan in geregtigheid in eietydse konteks. Is ’n vasstaan van gematigdes teen radikale elemente op kampusse en in ons samelewing nie eerder die regte benadering vir nou nie? Is dit nie tyd dat gematigdes opstaan vir kulturele verdraagsaamheid en wedersydse respek vir erfenis nie? Is die beeld nie onlosmaaklik deel van die Vrystaatse Universiteit se historiese ontwikkeling nie? Die beeld van Steyn se opstaan teen die verwoesting van imperialistiese veroweraars behoort ’n inspirasie vir alle gematigdes te wees. Dit is ’n saak van eer.

Natuurlik is talle oud-Kovsies ontnugter oor die Vrystaatse Universiteit se hantering van Afrikaans. Die verwagting is dat die universiteit se ondersoekkommissie maar net ’n dekmantel is om ’n rassetransformasie na die volgende vlak te voer en dat die historiese beeld nie die rigiede ideologie gaan oorleef nie. Dalk verras die universiteit ons. Afrikaners moenie dit vir die universiteitsbestuur makliker maak deur ’n oorhaastige en eerlose verskuiwing ter wille van vrede nie. Die keuse tussen ’n eervolle brugbou of ’n eerlose kniebuig voor radikales is tans in die universiteitsbestuur se hande. Die morele hoë grond is die universiteit s’n om te verloor. Kom ons gee die universiteit ’n billike kans om die regte ding te doen.

Steyn se slotbetoog in sy vasstaan-toespraak is ook in hierdie saak van toepassing. Hy het sy toespraak afgesluit met die oortuiging: “Ons saak is reg.”

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.