Stad en land

deur Carel Boshoff IV

Stad en land


‘n Vriend stel onlangs die vraag: “Watter persentasie van ons mense is verstedelik?” Iets waaroor dit moeilik is om betroubare statistiek te vind, selfs al kan jy presies uiteensit wat met “ons mense” bedoel word. Want, om sommer uit die staanspoor af te dwaal, “ons mense” het die plaasvervangende woorde vir “ons volk” geword omdat die woord “Volk” vir tyd en wyl nog te swaar dra aan die hooflettergewig waarmee dit in ‘n vorige era belaai is.

Daarom kan mens seker aanvaar dat die vraag beteken: Hoeveel Afrikaners, of om dit statisties hanteerbaar te maak, hoeveel Afrikaanssprekende Blankes in Suid-Afrika verstedelik is. Maar dan is daar nog die vraag wat met “verstedelik” bedoel word. Statisties kan mens sekerlik onderskei tussen mense wat stedelik en landelik woon en verwag dat dit met die bevolkingsdigtheid van ‘n woongebied en met die beskikbaarheid van dienste soos lopende water en rioolafvoer in die huis, elektrifisering en ontwikkelde padnetwerke te make het.

Die probleem is egter dat, hoe meer mens die vraag inrig om by die beskikbaarheid van inligting aan te pas, hoe minder vind jy dalk uit wat jy wil weet. Die redes is eerstens dat mens vandag kwalik alle Blanke Afrikaanssprekendes oor een kam kan skeer en tweedens dat fisiese verstedeliking eintlik geen betroubare aanduiding gee van “waar ons mense is” nie. In elk geval nie in die breë sin van die woord wat die vraag onderlê nie, want ek dink dit het meer te make met hoe hulle lewe eerder as waar hulle woon.

Twee ver uiteenlopende ervarings het my verbeelding die afgelope weke hieroor geprikkel en my laat dink dat ons onsself ‘n nuwe antwoord op die vraag na ons stedelike kultuur skuld. Die eerste was ‘n week by die groot jaarlikse landbouskou by Bothaville, NAMPO, en die tweede was ‘n besoek net daarna aan die outonome provinsie van Suid-Tirool in die noorde van Italië. Die Suid-Tirolers is ‘n Duitssprekende bevolking in ‘n gebied wat tradisioneel tot Oostenryk behoort het, maar na afloop van die Eerste Wêreldoorlog as oorlogsbuit aan Italië gegee is en wat sedertdien meer selfstandigheid nastreef. Daar is ‘n “Vriendekring van die Afrikaners” wat sterk bande met Orania het.

Om by NAMPO te begin, dit is ‘n sonderlinge geleentheid om met boeremense van alle soorte, maar veral met Afrikaners wat een of ander belangstelling in die landbousektor het, skouers te skuur. Ordentlike mense as jy dink hoeveel duisende daar deurbeweeg en hoe netjies die terrein aan die einde van ‘n dag lyk. Maar dit net terloops, die punt is dat blootstelling aan Afrikaanse landbouers my tot die onwaarskynlike gevolgtrekking gebring het dat 100% van ons mense verstedelik is. Dit beteken natuurlik dat ek daarvoor ‘n ietwat ongewone definisie van verstedeliking gebruik, iets soos dat die stedelike lewe en kultuur as ons mense se belangrikste verwysingspunte dien, al woon hulle op die platteland.

In hoeveel boerehuise se yskaste is daar byvoorbeeld plaaslik geproduseerde melk? Op hoeveel plase wat as besighede verstaan word – en landbouleiers moedig boere gedurig aan om dit só te sien – is daar groentetuine? Hoeveel klere word nie eenvoudig in winkels gekoop en vervang as dit slytasie toon nie? Ek vermoed dat langlewe melk, bevrore groente en winkelklere aan die orde van die dag is en dat baie boere sal aanstoot neem by die gedagte dat iets anders verwag sou word. So asof hulle agterlik moet wees, met gelapte klere of perdekarre – en net mooi dié verontwaardiging bevestig my punt, naamlik dat prakties al ons mense stedelik dink en dat uitsonderings op dié reël nie noodwendig op plase gesoek moet word nie. Dink aan tuisskolers byvoorbeeld.

Ek bedoel dit ook nie as ‘n negatiewe oordeel nie, ek sien dit bloot as ‘n feit en maak boonop self deel van dié verstedelikte landelike bevolking uit.

Aan die ander kant was dit ons almal wat op die Orania Beweging se studietoer na Suid-Tirool was, se ervaring dat ons daar met waardering as “die Buren” herken en ontvang word – én dat dit nie net ‘n naam verteenwoordig nie, maar ook ‘n meelewing met grond, klimaat, arbeidsaamheid, geloof, boerdery, selfstandigheid en wat meer inhou, dinge waarmee ons trots was om vereenselwig te word. Veral deur ‘n volk wat tot in afgeleë plattelandse gebiede ‘n hoogs ontwikkelde en gekultiveerde bestaan voer. Die Tiroolse boer wat tussen twee en vyf hektaar grond intensief verbou en wat allerlei aktiwiteite beoefen om nie net selfversorgend te wees nie, maar ook welvarend en selfstandig, is allermins ‘n agtergeblewe figuur. Hulle laat mens dink aan die aangrensende Beiere (tuiste van o.m. BMW) se slagspreuk “mit Lederhose (leerbroek) und Laptop”, iets wat mens letterlik sien.

My eenvoudige gevolgtrekking is dat ons Afrikaners nie ‘n skerp teenstelling tussen stedelikheid en landelikheid moet bewerkstellig nie, maar ‘n samehang moet soek en koester. Dat ons nie meer kan of wil wegtrek tot waar jy nie jou buurman se rokie kan sien trek nie, beteken nog lank nie dat ons ons verband met die grond en die feit dat ons in werklikheid daaruit lewe, onomkeerbaar afgesweer het nie. Selfs wie onder ons mense die grond nie wil bewerk nie, weet nog hoe om die bewerking daarvan te waardeer en met die lief en leed daarvan mee te lewe.

As ons in die toekoms ‘n selfstandige en selfversorgende volk wil wees, sal dit nie die vrug wees van ‘n politieke keuse vir stad bo land of ‘n sentimentele voorkeur vir land bo stad nie. Dit sal die vrug wees van ‘n eg menslike saamdink van stad en land soos dit op ander plekke in die wêreld ook gedoen word en op ander tye in ons beskawingsgeskiedenis al gedoen is. Om die waarheid te sê, sonder ‘n sin vir stand én land sal ons halwe mense wees.

(Enigeen wat by dié gedagtegang aansluiting vind, kan gerus die Amerikaanse skrywer, Wendell Berry se werk, beide fiksie en nie-fiksie, opsoek. Maar dit is ‘n hele onderwerp op sigself.)

Tags: , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.