Stemloosheid – Jahni Cowley

deur Jahni Cowley

fak-stemloosheid


Ek is onlangs weer platgetrek met ’n virus wat veroorsaak het dat ek letterlik my stem verloor het. Dis nie die eerste keer nie, dis iets wat my al ’n paar jaar lank teister, waarskynlik die gevolg van ’n dekade se aktivisme en gepaardgaande harde stemtoon. Dis nooit lekker nie, inteendeel dis moeilik om die frustrasievlakke te beskryf. Niemand skryf of tik so vinnig soos hulle kan praat nie. Vir ’n ma met klein kindertjies hou hierdie toestand natuurlik addisionele gevolge in, maar dis ’n artikel vir ’n volgende dag. “Hoe om beheer in jou huis te behou met woedende handbewegings”.

My stemloosheid kom op die agterent van die vlaag kampusgeweld wat ons land die afgelope paar weke teister. As vakbondorganiseerder verantwoordelik vir Solidariteit se lede by die kampusse, het ek eerstehands beleef hoe mense vasgevang is in ’n situasie wat hulle nie verstaan het nie, want die protesleiers se eise het al soveel keer verander dat dit vir almal moeilik was om by te hou. Die konflik het om almal se koppe gewoed, en die groot leemte was duidelik: Hoekom word ek, werknemer, nie hierin geken nie? Hoekom word daar gedebatteer (aan die een kant) en bakstene gegooi (aan die ander kant) oor kwessies wat my raak, maar ek het geen plek om my mening te lug nie?

Hoe het ek my stem verloor?

Stem verloor het baie fasette. Ons verloor vinnig en maklik ons stemme in ’n werkplek as ons nie bereid is om op te staan, hoe ongemaklik ook al, en standpunt in te neem nie. Nie noodwendig standpunt in te neem téén nie, maar op te staan vir dit waarin ons glo. Selfs dieper, weet ons nog waarin ons glo? Het alle universiteitswerknemers paraat gesit met ’n goed genuanseerde argument vir sake soos die gebruik van Afrikaans op kampusse, vir veiligheid op kampusse? Die antwoord is nee. Die antwoord is dat ons, selfs met die lang waarskuwingstyd waarmee ons gesit het na #FeesMustFall, nie heeltemal reg was nie, en eerder onmiddellik elders na eksterne leiding gesoek het, as binne onsself. En daardeur het ons ons stem verloor.

Een les te leer uit die kampusgeweld, is hoe noodsaaklik dit is om te weet wat om ons as werknemers aangaan, beide in die mikro- en makro-omgewing, ’n besluit te neem oor ons standpunt oor ’n saak, en gereed te wees om ’n argument te kan voer om ons standpunt te verdedig.

Ons is lank nie klaar nie, en die feit dat universiteitskampusse ’n politieke speelveld geword het, beteken nog baie ruimte om stem te vind en te praat. NP van Wyk Louw het gesê: “Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.” Laat ons ons stemme vind, en laat ons nooit ophou praat nie.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.