Stilbly oor die Anglo-Boereoorlog is geen opsie nie!

deur Dr. Danie Langner 

Stilbly oor die Anglo-Boereoorlog is geen opsie nie


Gegewe die groter uitdagings in die Suid-Afrikaanse samelewing en die druk op Afrikaans aan universiteite, is dit maklik om die jongste voorval van kulturele geweld as ’n beuselagtigheid af te maak. Wat maak dit immers saak as Minister Nathi Mthethwa die Anglo-Boereoorlog eensydig herdoop na die Suid-Afrikaanse oorlog? Dit volg immers op ’n reeks van kulturele naamsveranderings. Eers dorpe, strate, stede en nou ook internasionaal erkende name van historiese gebeure. Wat is nuut? Die feit dat die staatsbeheerde oorlogsmuseum en die minister geen Afrikanerkultuurorganisasie geraadpleeg het nie, nie eers die Vrouemonumentkommissie of Bloemfonteinse kultuurorganisasies nie, is natuurlik jammer, maar ook dit is niks nuuts nie.  Stemme gaan reeds in die Afrikaanse media op wat die wit minderheid maan om eerder gewillig, gedienstig en gedwee stil te bly ten einde nie ’n vlaag van swart woede teen hulle te ontketen nie. Malema se Londen-uitsprake word aan die vlagstok opgehang as waarskuwing vir wittes. Buitendien, vra sommige, hoe durf wit bevoorregtes kla oor die nuutste vorm van kulturele geweld? Laat ons maar eerder ons koppe nederig buig en instemmend knik.

Laat ek eerlik wees, die versoeking is groot om dié keer eerder stil te bly. Ten spyte van die glipsie, dalk ook maar ’n knie buiging ter wille van voortgesette staatsbefondsing, doen die Oorlogsmuseum uitnemende werk. Dit is aangenaam om die Oorlogsmuseum te besoek. Die uitstallings is interessant en word na alle kante gebalanseerd aangebied. Die Sol Plaatjie-saal is ’n waardevolle toevoeging. Die navorsing oor die Anglo-Boereoorlog is uitstekend. Die personeel is deurentyd vriendelik en hulpvaardig. Dat die Oorlogsmuseum hulself by die debakel laat betrek het, is jammer. Dit is ook reg dat die lyding van swartes tydens die Anglo-Boereoorlog erkenning kry.  Die oorlog het swart en wit intens geraak. An illustrated history of black South Africans in the Anglo-Boer war 1899-1902 – A forgotten history, bied ’n uitstekende blik op swart lyding. Die monumentale werk van Johan van Zyl, Rodney Constantine en Tokkie Pretorius (uitvoerende direkteur van die Oorlogsmuseum) verdien ’n ereplek op elke historikus se boekrak. In die voorwoord van die publikasie, wat befonds is deur die Departement van Kuns en Kultuur, skryf Direkteur-generaal Sibusiso Xaba: “Our pursuit for a cohesive society needs to start with  acknowledging the collective painful sacrifices made by all South African race groups in our struggle for liberation. To this end, our history should depict a balanced inclusive story and a true reflection of the sequence of events that begin to credit all who contributed to the South Africa we are enjoying today.” Hiermee kan niemand tog fout vind nie. Dit is ’n standpunt wat middelgrondsoekende Afrikaners steun. Minister Nathi se getalle staan miskien op bedenklike navorsingsgronde, maar dit is reg dat die name van wit en swart sterftes op die granietpanele voor die Oorlogsmuseum gegraveer is.

Hoekom is stilbly dan nie ’n opsie nie?

Die eerste probleem lê by die ANC se ideologiese verstaan van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Op 24 Maart 1987 het die ANC en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese party formeel besluit Afrikaners is “colonialists of a special type.” Die etikettering van Afrikaners vorm die hoeksteen van die ANC se houding teenoor Afrikaners en hulle vertrekpunt tot die verstaan van Suid-Afrika se geskiedenis. Sedert 1987 het die ANC geen aks van hulle historiese inbeelding afgewyk nie. Mbeki se tipering van Afrikaners as kolonialiste van ’n spesiale soort in 2004 of Zuma se uitsprake oor Jan Van Riebeeck in 2015 rus steeds op die 1987-historiese inbeelding. Na die 1987-besluit is ’n reeks strategiese beleidsdokumente ontwikkel om die Suid-Afrikaanse geskiedenis aan die hand van die ANC se anti-koloniale  meesterverhaal te herskryf deur subtiele nuanse-verskille of bloot blatante onwaarhede. Dit pas byvoorbeeld nie in die ANC se meesterverhaal dat Afrikaners tydens die Groot Trek weggetrek het van die Britse imperialistiese wurggreep in die Kaapkolonie nie. Dit pas hulle ook nie dat die Voortrekkers die eerste demokraties verkose republieke suid van die Sahara gestig het nie. Die Groot Trek moet eerder vertolk word as wittes wat die binneland van Afrika wou kolonialiseer deur grond te steel.  Dit pas nog minder in die ANC-verhaal dat twee klein demokratiese republieke hulle teen die vergrype van Brittanje se imperialisme  verset het in twee antikoloniale vryheidsoorloë. Die waarheid moet subtiel verdraai word deur die sagklinkende neutrale naam van ‘n Suid-Afrikaanse oorlog.  Minister Nathi verstaan die kuns van  manipulering van  nuanses en subtiele inkleur van historiese werklikhede, want as hoof van die ANC se opleidingskool is hy een van die ANC se voorste ideologiese leiers. Hy verstaan dat ’n suksesvolle ideologie twee basiese bestanddele nodig het om ‘n greep te kry op mense se dink en doen. Enersyds word ’n ideologie gebore uit en gevoed deur ’n voortdurende vertroeteling van ’n slagoffer gevoel van onreg. Andersyds is die verheffing van selektiewe ideale tot ’n einddoel nodig om uiteindelik ’n absolute aantrekkingskrag op mense uit te oefen. Die brousel skep mettertyd ’n illusie waarin ideologies gekleurde waardes aan ons en hulle toegeken word. Dit beskou kritiek as dislojaliteit. Dit hol etiese waardes uit. Dit teer op vrees en bedreiging  wat  meesters in die dramatisering van spekulasie uitbuit om napratende en instemmende lakeie te skep.  Uiteindelik heilig die doel die middele.

Hierdie subtiele ideologiese inkleur van die Suid-Afrikaanse geskiedenis, of dit naamsverandering van ’n oorlog of die herskryf van skoolgeskiedenishandboeke is, maak dit moontlik om Afrikaners te reduseer tot kolonialiste van ‘n spesiale soort, hulle grondwetlike kulturele regte te ontken of te onderspeel en om Afrikaners de facto te reduseer tot tweedeklasburgers in hulle eie land. ‘n Gelate aanvaarding of ‘n swyende instemmigheid oor die kulturele geweld is verkeerd.

Tweedens is die historiese naamsverandering maar net nog ‘n simptoom van die dieperliggende  vraag oor ’n toekomsvisie vir Suid-Afrika.  Die besluit van Minister Nathi hou ironies genoeg verband met die ou strydpunt tussen twee Anglo-Boereoorlog oponnente, naamlik generaal Jan Smuts en Lord Alfred Milner. Die strydpunt wat kort na die Anglo-Boereoorlog ontstaan het, handel oor die status en regte van die Britse kolonies in die Britse Ryk. Milner en sy Kindergarten was ten gunste van ’n gesentraliseerde benadering waar alle sake van kolonies deur een sentrale parlement vanuit Londen dikteer en beheer word.  Milner wou vanuit ’n gesentraliseerde sentrum diverse kulture en kolonies die knie laat buig voor Britse belang en strewes en die meerderwaardigheid van Britse kultuur en geskiedenis op hulle afdwing. Al sy propaganda en onderwysbeleide was op die bereiking van dié ideaal gerig. Daarteenoor het Smuts gepleit dat die kolonies erken word as outonome gebiede met die reg tot selfregering en beheer oor eie kulturele sake.

Die strydpunt het tydens die Eerste Wêreldoorlog ’n hoogtepunt bereik  toe beide Smuts en Milner as lede van Loydd George se Oorlogskabinet moes besin oor Brittanje se verhouding met sy kolonies in ’n na-oorlogse  bedeling.  Op 15 Mei 1917 het Smuts in die Britse parlement betoog dat die Britse Ryk “was not as State but a community of states and nations … not a stationary but a dynamic and evolving system, always going forward to new destinies. The British Commonwealth of nations does not stand for standardisation or denationalisation, but for a fuller, richer and more varied life of all the nations that are comprised in it. The roots should be founded on principles which appealed to the highest aspirations of mankind, the principles of freedom and equality.” Smuts het die argument teen Milner gewen en die konstitusionele weg gebaan vir die 1931-Statuut van Westminster wat outonome selfregering aan Britse kolonies toegeken het.

Die konteks verskil, maar die uiteenlopende toekomsvisies van Smuts en Milner is steeds relevant. Die kernvraag is steeds om ons ‘n Suid-Afrika visualiseer waar ‘n Milneristiese verstikkende gesentraliseerde eenheid van bo-af op almal en alles afgedwing word? ’n Geslote sisteem waar diversiteit, ook diverse historiese vertrekpunte, deur ’n  magtige meerderheid tot ’n meesterverhaal gestandaardiseer word en  minderhede uit vrees die knie moet buig en instemmend moet knik?

Of visualiseer ons Suid-Afrika as ‘n dinamiese gemeenskap van gemeenskappe? ’n Oop, en ruimteskeppende sisteem wat kulturele vryheid van gemeenskappe  en die vryvloei van idees waarborg? ‘n Suid-Afrika wat die rykdom van taal en kulturele diversiteit  as ’n bate beskou en nie as beuselagtige lastighede in die groter verhaal nie? ’n Suid-Afrika  waar niemand vandag meer deur die meerderheid of minderheid gekolonialiseer of geëtiketteer word nie? ‘n Suid-Afrika waar niemand deur joernaliste  gemaan word om uit vrees te swyg nie?

Minister Nathi en meelopers kan gaan doppies blaas. Suid-Afrika het nie vandag nog imperialistiese Milners nodig nie, eerder leiers met die wysheid, insig en staatmanskap van ’n Anglo-Boereoorlog-generaal.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.