Suid-Afrikaners (te) tevrede met swak leiers – Christoff van Wyk

“ ’n Volk juig as regverdige mense die mag kry; ’n volk sug as ’n goddelose mens regeer.”

Spreuke 29:2

___________________________________________________________________

My tannie het altyd gesê alles met ’n ‘te’ vooraan, is verkeerd behalwe te voet en te perd, maar is ons samelewing in Suid-Afrika nie ‘te’ tevrede met swak leierskap nie en indien wel, wat kan ons doen om dit te verander?

Goolam Ballim, hoofekonoom by Standard Bank reken dat Suid-Afrika soveel as R1 biljoen armer geword het gedurende Jacob Zuma se presidentskap en dat hierdie verlies die direkte gevolg van sy swak leierskap was. In lyn hiermee reken The Economist dat Suid-Afrika se ekonomie vandag ongeveer 25% groter sou gewees het indien die groeikoers tot en met 2009 gehandhaaf was.

Dalk is dit nodig om op die vooraand van ’n nuwe leierskapsera baie deeglik te gaan kyk na wat ons van ’n goeie leier moet verwag en ook terselfdertyd te besin oor wat ons te doen staan as dit nie realiseer nie.

Brand Pretorius skryf in sy boek Aan die stuur dat ’n effektiewe leier oor ten minste 11 eienskappe moet beskik, naamlik basiese intelligensie, morele intelligensie, spirituele intelligensie, emosionele intelligensie, teenspoed-intelligensie, integriteit, nederigheid, gehardheid, dissipline, ’n positiewe houding en die gewilligheid om aan te hou leer.

Hy lys dan ook verder ’n paar vaardighede waaroor ’n uitnemende leier moet beskik wat onder andere insluit strategiese denke en goeie kommunikasie.

Al sou ’n persoon oor al hierdie eienskappe en vaardighede beskik, is daar egter drie eienskappe wat uitgelig kan word en universeel erken word as deurslaggewend, naamlik integriteit, morele intelligensie en spirituele intelligensie.

Volgens Pretorius is integriteit die belangrikste kenmerk van ’n effektiewe leier, want “… ware leierskap begin binne, by die persoon se karakter.” Genl. Norman Schwarzkopf het dit so gestel: “Leierskap is ’n kragtige kombinasie van strategie en karakter. Maar as jy sonder een moet klaar kom, los dan die strategie.”

Die tweede eienskap wat onontbeerlik is, is morele intelligensie. Volgens Pretorius is morele intelligensie dit “ … wat ons gewete rig, en sodoende ons reaksie op die omstandighede en uitdagings wat ons teëkom beïnvloed. Morele intelligensie bepaal ons integriteit – dis ons morele kompas. Dit bied die verwysingsraamwerk vir wat reg en verkeerd is.”

Die laaste eienskap wat as onontbeerlik beskryf kan word, is spirituele intelligensie. Hy beskryf dit as “ … ons vermoë om volgens waardes te leef wat ’n sinvoller doel stel vir wat ons doen as bloot eiebelang. Leiers wat op hierdie gebied uitstaan, is nie selfsugtig of korttermyn-georiënteerd nie – hulle streef na iets meer as persoonlike glorie.” In dié verband verwys hy dan ook na dr. Albert Wessels as ’n goeie voorbeeld van ’n leier met spirituele intelligensie.

Die Zuma-administrasie was ’n ramp. Maar, dit was ’n mensgemaakte ramp wat vermy kon word as daar vroeg reeds opgetree is. Dikwels is die samelewing egter te vergewensgesind en te onbetrokke en dan word swak leierskap die norm, en ’n geslag word groot sonder om werklik te besef hoe lyk goeie leierskap, máár ook wat dit beteken om ’n goeie leier te wees. Want, elkeen van ons staan iewers in ’n leierskapsposisie. Daar rus ’n plig op elke burger om op alle vlakke die tipe leierskapseienskappe soos hierbo genoem, uit te leef en veral dié drie eienskappe wat hierbo uitgesonder word, naamlik morele intelligensie, spirituele intelligensie en absolute integriteit.

Ons as burgers van Suid-Afrika se plig in vandag se samelewing strek veel verder as om net elke nou en dan te gaan stem. Ons plig is om op verantwoordelike wyse deel te neem aan die publieke lewe waar ons onsself ook al bevind. Dit sluit in ons plaaslike regering, ons werksplekke, ons kerke, ons skole en selfs ook op provinsiale en nasionale regeringsvlak, indien moontlik.

In die eerste plek vereis dit verantwoordelike optrede van alle landsburgers se kant af, maar dan ook die optrede om ons leiers verantwoordbaar te hou en nie slap te lê nie.

Ons eerste groot uitdaging binne die nuwe leierskapsera is reeds hier en dit gaan ’n bepalende faktor wees vir die toekoms van elke persoon in Suid-Afrika. Die kwessie is natuurlik grondonteiening sonder vergoeding. Ons sal deur die propaganda en swak argumente moet kyk, by die beginsel van die saak uitkom en die geveg vanuit die morele hoë grond daar beveg.

Martin Niemoller was ’n prominente protestantse predikant wat ’n uitgesproke teenstander was van die Nazi-regering in Duitsland en selfs sewe jaar in gevangenskap deurgebring het oor sy sieninge en uitsprake. Hy skryf in ’n gedig die volgende:

First they came for the Socialists, and I did not speak out —
Because I was not a Socialist.

Then they came for the Trade Unionists, and I did not speak out —
Because I was not a Trade Unionist.

Then they came for the Jews, and I did not speak out —
Because I was not a Jew.

Then they came for me — and there was no one left to speak for me.

Alhoewel die presiese inhoud van die gedig ’n omstrede onderwerp is, staan die boodskap hiervan duidelik uit soos ’n paal bo water. Ons kan nie terugsit en kyk hoe ’n land verwoes word omdat dit my nog nie persoonlik raak nie.

Ons moet ophou om tevrede te wees met swak leiers, voor dit dalk TE laat is.

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.