Taal- en kulturele wisselwerking tussen Afrikaners en Vlaminge – Prof. Otto Terblanche

Prof. Otto Terblanche

Die Belgies- Suid-Afrikaanse Kulturele Verdrag is op 1 Junie 1954 gesluit. Die verdrag het veral vir die uitwisseling van dosente, opvoedkundiges, kunstenaars en skilders voorsiening gemaak. Vanweë die taal- en kultuurverwantskap tussen Vlaandere en Suid-Afrika, was daar uiteraard noue samewerking tussen hierdie twee lande. Suid-Afrika het uiteraard  minder kontak gehad met die Franstalige Wallonië.

Die Suid-Afrikaanse apartheidspolitiek het uit die aard van die saak die werking van die verdrag nadelig beïnvloed. Die Franstalige politici van Wallonië was byvoorbeeld baie krities oor die werking van die verdrag. Veral die Waalse sosialiste was erg negatief oor die verdrag. Intussen het die apartheidsgeweld in Suid-Afrika toegeneem. Op 9 Desember 1977 het die Belgiese regering op aandrang van die sosialistiese Franstalige minister van Buitelandse Sake, H. Simonet, besluit om die Kulturele Verdrag met Suid-Afrika op te sê. Die Vlaamse bewindhebbers was ontsteld oor die opsegging.

Politieke en kulturele betrekkinge tussen België en Suid-Afrika is sedert 1990, en veral ná 1994, genormaliseer. Die Vlaamse Gemeenskap het in 1993 sy eie parlement en regering gekry. Vlaandere het nou internasionale verdragsbevoegdheid gekry ten opsigte van onderwys, kultuurbeleid en gesondheidsorg. Die Vlaamse regering het in Junie 1993 besluit om sy betrekkinge met Suid-Afrika te normaliseer.

Op 28 Oktober 1996 is ’n Kulturele Verdrag tussen Vlaandere en Suid-Afrika betreffende onderwys, kuns, kultuur, wetenskap, tegnologie en sport onderteken. Vanweë die nuwe politieke bestel in Suid-Afrika het die taalverwantskap tussen Nederlands en Afrikaans ’n ondergeskikte rol gespeel. Vir Vlaandere was dit nou belangrik om die meertaligheid  in Suid-Afrika te ondersteun en te bevorder.

Die Nederlandse Taalunie het in 1994 ’n bedrag van R800,000 per jaar vir drie jaar beskikbaar gestel om die Neerlandistiek in Suid-Afrika te bevorder. Fondse is onder meer beskikbaar gestel vir die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN) se vaktydskrif Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, ’n biblioteeksubsidie aan universiteite, die uitruiling van studente en dosente, studiebeurse, die vestiging van twee kennissentrums, die aanbied van werkswinkels, kursusse en kongresse.

Een van die projekte wat in 1996 deur die Nederlandse Taalunie en Poetry International in Suid-Afrika onderneem is, was die “Rondreis Nederlandse en Vlaamse schrijvers.” Vier Nederlandse en vier Vlaamse digters/skrywers het Suid-Afrika gedurende Maart en April 1996 besoek.

Ses Afrikaanse skrywers (onder wie Etienne van Heerden, Marlene van Niekerk en Marita van der Vyver), het einde 1997 Nederland en Vlaandere besoek. Sover bekend is dit die eerste keer dat so ’n groot groep Afrikaanse skrywers op ’n georganiseerde wyse die Lae Lande besoek het. Dié besoek is ook deur die Taalunie georganiseer.

Die politieke transformasie in Suid-Afrika sedert 1990, en veral ná 1994, het ook binne die Neerlandistiek groot veranderinge teweeggebring. Wetenskaplike kontakte kon weer opgeneem word na die beëindiging van die kulturele en akademiese boikot. Die verhouding Afrikaans/Nederlands het by verskeie internasionale kongresse onder die soeklig gekom. Die Vlaamse Raad het in Oktober 1991 ’n internasionale konferensie in Brussel georganiseer met as tema “Nederlands in de Wereld”. Deelnemers uit nege lande het dit bygewoon. Moontlikhede is ondersoek vir ’n nouer samewerking op kulturele en taalkundige gebied.

’n Tweede internasionale konferensie oor “Nederlands in de Wereld” is in Maart 1994 onder beskerming van die Vlaamse Raad in Brussel gehou. Dit het gefokus op die Nederlands- en Afrikaanstalige media. Die posisie van Nederlands en Afrikaans in die media van die lande waar die tale gepraat word, is ontleed. Groter samewerking is bepleit tussen dié betrokke lande, onder meer die wedersydse uitruiling van TV-programme.

In Oktober 2016 het aan die Universiteit Gent die derde internasionale konferensie oor Afrikaans plaasgevind. Dit is georganiseer deur die “Gents centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika”. Talle akademici uit Suid-Afrika asook diverse sprekers uit Vlaandere, Nederland en ander Europese lande het opgetree. Internasionale Neerlandistiekkongresse het ook ná 1990 gereeld in Suid-Afrika plaasgevind. Dit is bygewoon deur Neerlandici uit verskeie lande.

Afrikaanse skrywers en digters is al ou bekendes in die Lae Lande met hul optredes voor ’n verskeidenheid van gehore. In 2004, byvoorbeeld, het Breyten Breytenbach opgetree by ’n internasionale poësiefees in Brugge en die digter-sanger Gert Vlok Nel by ’n woordfees in Antwerpen. Antjie Krog het ook talle literêre voorlesings in Vlaandere gehou.

Die Afrikaanse skrywer Riana Scheepers was oor die jare heen ’n ou bekende in Vlaandere. Sy was vir ’n paar jaar gas van die Boekebeurs in Antwerpen. In Maart 2000 was sy op ’n uitgebreide voorlesingtoer in Vlaandere. Scheepers was die enigste Afrikaanse digter wat uitgenooi is om in Julie 2002 deel te wees van die Vlaamse parlement se 30-jarige herdenking waartydens 24 digters vanuit die Nederlandse taalgebied hul poësie in die parlement voorgelees het.

Sewentig Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse digters het gedigte bygedra tot die bundel Ons klein en silwerige planeet wat in 1997 verskyn het. Hierdie digbundel oor die natuur en milieu is die eerste publikasie waarin tekste in Afrikaans en Nederlands onvertaald en sonder woordverklarings opgeneem is.

In September 2016 is in Nederland en Vlaandere vir die tweede keer die Week van die Afrikaanse roman gehou. Ses Afrikaanse skrywers het hiervoor na die Lae Lande gekom. Die derde Week van die Afrikaanse roman is in Oktober 2017 gehou. Ses Suid-Afrikaanse skrywers het in Nederland en Vlaandere opgetree.

Besoekers by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) in Oudtshoorn het al sedert ca. 1996 daaraan gewoond geraak dat Nederlandse/Vlaamse produksies deel van die feesprogram is. Taalverskille tussen Afrikaans en Nederlands het nie juis ’n kommunikasieprobleem opgelewer nie. Die Vlaamse regering het Suid-Afrika in 2001 as ’n “doelland” op kulturele gebied beskou. Altesame tien produksies (’n keur van Vlaamse musiekteater) is toe by De Vlaamse Tent by die KKNK aangebied.

Die Afrikaanse Woordfees op Stellenbosch, met ’n sterk literêre inslag, vind jaarliks in Maart plaas. Die US Woordfees is in 2017 vir die 18de keer in Stellenbosch aangebied. Dié fees het nog altyd ’n sterk Nederlandse en Vlaamse teenwoordigheid gehad. Vlaamse skrywers/digters is al ’n instelling by die fees.

Die sangers Johannes Kerkorrel, Jannie du Toit, Laurika Rauch, Karin Hougaard en andere het Afrikaanse musiek meer bekend gemaak in België. Hulle het ’n nuwe waardering vir Afrikaans in die Lae Lande gekweek. Die Vlaams/Nederlandse sanger en kabaretkunstenaar, Stef Bos, en die gewilde Belgiese sangeres, Dana Winner, het Suid-Afrika ook gereeld besoek. Die feit dat Dana Winner ook liedjies in Afrikaans opgeneem het, het bygedra tot haar gewildheid.

Die 45ste Frankfurter Buchmesse het in Oktober 1993 plaasgevind. Hierdie boekebeurs word beskou as een van die belangrikste in die wêreld. Afrikaans het in 1993 deel uitgemaak van die Nederlandse en Vlaamse literêre tentoonstelling op dié boekebeurs.

Die 61ste Boekenbeurs voor Vlaanderen het in November 1997 in Antwerpen plaasgevind. Dit is die grootste boekebeurs in die Lae Lande en die oudste boekebeurs in Europa. Suid-Afrika was vir die eerste keer die temaland vir die boekebeurs en Afrikaanse boeke het besonder goed verkoop. ’n Aantal vooraanstaande Afrikaanse en Suid-Afrikaanse akademici, skrywers en taalpolitici het aan die besprekings deelgeneem. Die Afrikaanse skrywer, Riana Scheepers, het ervaar hoe haar, en haar mede-Suid-Afrikaners, se eens klein wêreldjie verruim.

Letterkundige en kulturele tydskrifte het oor die jare heen ’n belangrike bydrae gelewer om samewerking op kulturele gebied tussen Nederlands- en Afrikaanssprekendes na te strewe. Hierdie tydskrifte is ook ’n belangrike bron wat Vlaams- Suid-Afrikaanse betrekkinge betref. Daar is byvoorbeeld ’n sterk Vlaamse verbintenis wat die Tydskrif vir Letterkunde betref. Bydraes van ’n verskeidenheid Vlaamse digters en skrywers het oor die jare heen in die “Tydskrif” verskyn. Dieselfde geld vir Ons Erfdeel, ’n algemeen Nederlandse tweemaandelikse kulturele tydskrif.

Die Algemeen Nederlands Verbond (ANV) is in 1895 te Brussel opgerig. Die wapen van die ANV bevat drie skepe wat Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika simboliseer. Die maandblad Neerlandia het in 1896 as mondstuk van die ANV tot stand gekom. In die jare na 1960 was daar ’n groeiende ongemak by die redaksie oor die apartheidspolitiek in Suid-Afrika. Tog was dit opvallend dat daar deurgaans by die Vlaminge ’n groter begrip was vir die Suid-Afrikaanse rasseproblematiek. Bande met Suid-Afrika sou eers ná 1990 genormaliseer word.

Sedert 1990 is veel gedoen om die onderrig van Afrikaanse taal- of letterkunde op tersiêre vlak in Vlaandere te bevorder. Gasdosente uit Suid-Afrika het al ’n paar keer sedert 1993 aan die Katholieke Universiteit Leuven (KUL) ’n keusevak Afrikaans aangebied. Prof. Hennie van Coller van die Universiteit van die Vrystaat het byvoorbeeld in 1995/96 altesaam 74 studente in sy klas gehad wat die nuwe semesterkursus in Afrikaanse taal- en letterkunde vrywillig geneem het. Prof. Marcel Janssens was 34 jaar lank (1964-1997) dosent aan die KU Leuven. Hy het oor die jare heen ’n groot rol in die uitbouing van die taal- en kultuurbande tussen Vlaandere en Suid-Afrika gespeel.

Die Universiteit Antwerpen (UA) se Sentrum vir Taal en Spraak bied sedert 1994 Afrikaans as keusevak aan binne die Afdeling Germaanse tale. Studente-uitruiling tussen die UA en die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus het ook intussen beslag gekry. Sedert 2006 word daar elke semester ’n kursus Afrikaanse taal- of letterkunde by die UA aangebied.

Prof. Luc Renders van die Limburgs Universitair Centrum, Diepenbeek-kampus in Hasselt het vanaf 1999 ’n jaarlikse seminaar, afwisselend oor die Afrikaanse taal- of letterkunde aangebied. Die doelgroep was dosente en gevorderde studente. Die kursusgangers het uit verskeie lande gekom. Hierdie jaarlikse seminaar was ’n groot sukses en het in ’n groot behoefte voorsien.

Prof. Ernst van Heerden, Afrikaanse digter en akademikus, het in 1998 sy uitgebreide poësieversameling van meer as 600 Afrikaanse bundels aan die Universiteit Gent geskenk. Hierdie versameling is in November 1998 in Gent amptelik aan die Poëziecentrum oorgedra. Die Universiteit Gent het ook in 2007 begin met ’n kursus in Afrikaans. Meer as 80 studente het vir die kursus opgedaag. In 2016 is daar aan die UGent die “Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika” in die lewe geroep, waar prof. Yves T’Sjoen reusewerk verrig. In Oktober 2017 is aan die UGent ’n leerstoel amptelik ingestel vir “Zuid-Afrika: talen, literaturen, cultuur en maatschappij.” Prof. Hein Willemse van die Universiteit van Pretoria is die eerste bekleër van dié amp. Die digter Fanie Olivier het in 2018 ’n deel van sy private biblioteek aan die UGent geskenk. Dié universiteit beskik dus nou oor die omvangrykste versameling Afrikaanstalige poësie en prosa buite Suid-Afrika.

Sedert 2005 het die provinsie Antwerpen die belangrikheid beklemtoon dat wanpersepsies oor Suid-Afrika deur kontak afgebreek moet word en dat samewerking op verskillende vlakke bevorder moet word. Die provinsie Antwerpen het byvoorbeeld met die Vrystaat en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) saamgewerk. Daar is byvoorbeeld met die hulp van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ’n tolkprojek in Welkom begin. ’n Taallaboratorium is ook met die hulp van die UV op die been gebring en die ATKV het ’n unieke ooreenkoms met die provinsie Antwerpen gesluit om Afrikaanse kinderlektuur te bevorder.

Die ATKV is ook ondersteun om Afrikaans onder tweede- en derdetaalsprekers te bevorder. Slypskole is in dié verband aangebied. In Mei 2006 is ’n belangwekkende konferensie in Antwerpen oor Afrikaans gehou. Dit is gereël en gefinansier deur die provinsie Antwerpen. Dit was die eerste keer dat ’n Europese owerheidsinstansie hom amptelik met Afrikaans bemoei het. Vir Afrikaans was dit dus ’n besondere deurbraak. ’n Rondetafelkonferensie oor Afrikaans het in Mei 2009 in Antwerpen plaasgevind om groter koördinering teweeg te bring tussen die organisasies wat belangstel in die behoud van Afrikaans. Van Vlaamse kant was daar ’n duidelike bereidwilligheid om Afrikaanse mense te help.


Oor die skrywer …

Prof. Otto Terblanche is ’n navorsingsgenoot in Geskiedenis aan die Nelson Mandela Universiteit, Port Elizabeth.

Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

 

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.