Taalreg raak aard van regstaat diep

deur Prof. Danie Strauss 

Taalreg raak aard van regstaat diep


Ons verneem dikwels dat instellings verteenwoordigend van die bevolkingsamestelling van Suid-Afrika moet wees. Volgens Prof. Theuns Eloff is daar 39 tersiêre onderwysinstellings in die land, waarvan 33 Engels is. Sowat 20% van die totale getal studente wat deur hierdie onderwysinstellings bedien word sou verkieslik in Afrikaans hul tersiêre  opleiding wou ontvang (hetsy by ‘n Afrikaanse universiteit of by ‘n parallel-medium universiteit). Bloot op die getalle af – dit wil sê om verteenwoordigend van die “studente-bevolkingsgetalle” te wees – bied dit dus ‘n regverdiging vir minstens 7 Afrikaanse universiteite.

Verreken hierby verder dat 7 miljoen Suid-Afrikaners Afrikaans as moedertaal gebruik en nog 13 miljoen dit by geleentheid gebruik. Van die 7 miljoen moedertaal Afrikaansprekendes is 60% gekleurd (dus sowat 4.2 miljoen) en ‘n raps minder as 3 miljoen wit. Die (voort-)bestaan van Afrikaanse of minstens parallel-medium universiteite naas (enkel-medium) Engelstalige universiteite, behoort dus vanselfsprekend as reg aanvaar te word.

Kragtens die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika word 11 amptelike tale in Suid-Afrika erken. Die Grondwet bepaal voorts dat die “Pan South African Language Board” “must … promote, and create conditions for the development and use of … all official languages”. Die “demoting” van Afrikaans is dus ongrondwetlik.

Die onreg wat dit sal veroorsaak sny egter nog dieper.

Die onreg wat in die ou Apartheidsbedeling vergestalt was het burgers van die Republiek van Suid-Afrika die vryheid ontneem om hul kulturele en taal-identiteit op alle vlakke van die samelewing uit te leef, insluitende die domein van tersiêre onderwys (die bedoeling van die oorspronklike “Tuisland-universiteite” was immers Apartheidsideologies daarop gerig om die bestaande Suid-Afrikaanse universiteite wit te hou). Maar noudat die Nuwe Suid-Afrika reeds 20 jaar ‘n demokratiese bestel beleef het, moet gekleurde Afrikaanssprekende burgers, teen wie reeds in die Ou Suid-Afrika gediskrimineer is, ewe skielik verneem dat die proses moontlik herhaal gaan word deurdat hulle nie meer vryelik in Suid-Afrika universiteitsonderrig in Afrikaans sal kan ontvang nie.

Grondwetlik gesproke is daar geen beginsel-beswaar in te bring teen die voortgesette bestaan van Afrikaans as tersiêre onderrig-taal nie. Die regsbelang wat Afrikaanssprekendes het by die promovering en die skep van geleenthede vir die ontwikkeling van “alle amptelike tale” is juridies ononderhandelbaar.

Sommige studente argumenteer dat die huidige parallel-medium UV Kampus ‘n onregverdige praktyk is aangesien net swart studente hul moedertaal moet opgee. Hulle argumenteer dat Afrikaanssprekendes daarom ook in Engels behoort te studeer.

Afrikaanse en Engelse moedertaalsprekers is bevoorreg om oor moedertale te beskik wat tot wetenskapstale ontwikkel het. Geen inheemse taal in Suid-Afrika het egter tot ‘n wetenskapstaal ontwikkel nie. Wanneer inheemse moedertaalsprekers die voorreg benut om Engels as universiteitstaal te gebruik word niks van hulle weggeneem nie. Iets wat hulle nie gehad het nie kan immers nie van hul weggeneem word nie.

Daar bestaan dus geen geldige redes waarom Afrikaanssprekende studente die voorreg ontneem moet word om hul wetenskapstaal, Afrikaans, te beoefen bloot omdat die inheemse tale nie wetenskapstale is nie. (Dit sal benewens die universiteitsvlak ook fatale gevolge vir Afrikaans op skool en in die werkplek inhou en sal prakties op “ethnic lingual cleansing” neerkom – téén die ideale van die reënboognasie.)

Die argument dat swart studente van hul moedertaal (aan ‘n parallel-medium universiteit) moet afstand doen en derhalwe dieselfde van Afrikaanssprekende studente behoort te verwag word is ondeurdag. Om immers konsekwent te wees behoort Engelse moedertaalsprekers by Engelstalige universiteite hulle klasse dan in Afrikaans te ontvang om daarmee ook oor dieselfde kam geskeer te word.

Die Minister van Hoër Onderwys het onlangs die opmerking gemaak dat wat hom betref daar nie Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika bestaan nie – slegs Suid-Afrikaanse universiteite. Dit is ‘n staatkundig-geografiese perspektief wat niks oor die taal sê nie – studente praat immers nie “Suid-Afrikaans” nie. Vanuit ‘n akademies-kulturele perspektief kan jy die Afrikaanse universiteite (of universiteite wat Engels geakkommodeer het in parallel-medium onderrig) en Engelse universiteite in Suid-Afrika nie wegpraat nie.

As vrug van die Wes-Europese kultuurontwikkeling het die weë van staat, kerk en universiteit teen die 12de en 13de eeuse begin uiteenloop. Dit het ‘n domein van intellektuele besinning tot sy reg laat kom – bevry van die greep van beide die kerk en die staat. Persoonlike denk-vryheid en universitêre akademiese vryheid sou uiteindelik ook in aktes van menseregte en moderne konstitusies erkenning ontvang.

Ten diepste gaan dit hier nie bloot oor taal nie, maar oor die grondslae van die staat as publieke regsverband wat daartoe geroepe is om in een openbare regsorde die verskeidenheid regsbelange op sy territorium op die basis van die monopolie oor die “swaadmag” saam te bind en telkens regsherstel te bewerkstellig wanneer regskending plaasvind. Daarom behoort die owerheid van ‘n regstaat die vryheid van elke individu en van alle nie-staatlike samelewingsvorme te eerbiedig en te beskerm sonder om daarop inbreuk te maak. Wanneer die owerheid van ‘n staat universiteite ondersteun en gedeeltelik finansier mag dit nie ontaard in beheer en besit nie. Die universiteit besit ‘n interne akademiese bevoegdheidsfeer wat in beginsel buite die juridiksie van die staat val – net soos elke ander nie-staatlike samelewingsvorm. Sonder selfstandige nie-staatlike samelewingsvorme verval die regstaat.

Die bestaande Suid-Afrikaanse universiteite het ontstaan danksy die invloed van die ryke Europese akademiese kultuurerfenis. Eentaligheid sal die studente van Suid-Afrika van hul toegang tot hierdie wetenskaplike erfenis beroof en deure toemaak.

Die voortbestaan van Afrikaans as wetenskapstaal hang daarom ten nouste saam met die vraag of Suid-Afrika die aard van die regstaat sal kontinueer sonder om die weg van ‘n totalitêre samelewingsbestel te bewandel – beliggaam in ‘n diktatuur van die meerderheid.

Prof. Danie (DFM) Strauss, voormalige Departementshoof van Wysbegeerte, Dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe en Uistaande Professor aan die UV, is ook die kleinseun van DF Malherbe, die eerste Professor in Afrikaans en onvermoeide vegter vir Afrikaans.

Tags: , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.