Taalverhoudings in Europa: Ondervinding is die beste leermeester

Referaat gelewer by die Tweede Nasionale Taalberaad, Pretoria, 23-24 Februarie 2007

  1. Wanneer ons reis deur Suid-Afrika, verby die groen Zoeloes en die rooi Tswanas en die blou Afrikaanses (die spreker wys op die skerm na ’n kaart van Suid-Afrikaanse tale), dan wonder ’n mens: Wat kan ons van ander vastelande leer oor die verhouding tussen tale van meerderhede en van minderhede? Al moet ek in ’n paar minute teen die enorme denneboom van tale van meerderhede en minderhede in Europa opklim, is ek werklik bevoorreg dat ek geskeduleer is om dit met u te deel.

 

Europese tale

  1. Die dominante taalfamilies in Europa (die spreker wys die ingeslote kaart op die skerm) is die grys Slawiessprekende tale, die groen Germane en die blou Romane, waartussen verdeel is die meeste van die 38 Europese tale – tale, nie dialekte nie. As ons lank na hierdie kaart staar, wat slegs tale nommer en nie lande nie, kom ons agter: Meeste tale het dominante tale geword in bepaalde gebiede. Wat beteken dit? Deur die loop van eeue, selfs millennia, het byna elke meerderheidstaal, kragtens die dryfkrag van demokrasie, ontwikkel tot ’n ampstaal, met ander woorde, tot ‘n staatstaal, tot ’n regeringstaal. So in die meeste van die gevalle, vanaf Portugees in die weste, tot by Russies in die ooste, vanaf Grieks in die suide tot by Fins in die noorde, vind ons: meeste Europeërs woon in samelewings waar die meerderheidstaal gepraat word. Die kritieke faktor is daardie wit strepies: hulle is die magsvermenigvulder, die geografiese grense van state. Dit beteken: die taalgemeenskap het ’n politieke eenheid gevorm waarbinne sy taal die voorkeurtaal is.
  1. My lewensmaat vra egter nou die dag vir my: Maar wat van die 61 miljoen Franse? Hulle is mos ook ‘n minderheid binne die groter Europa? En wat van die so te sê 100 miljoen Russe? Al is hulle ‘n meerderheid binne die ongeveer 145 miljoen burgers van die Russiese Federasie, is hulle binne die groter Europa, ook ‘n minderheid! Dit is korrek. Maar hulle word nie as minderhede beskou nie want hulle het hulle eie state geskep, net soos die selfs kleiner taalgemeenskappe van die sestien miljoen Nederlanders en die ses miljoen Dene. Elkeen van hierdie en meeste ander Europese tale het in sy eie gebied, dikwels oor eeue, ’n ampstaal geword, met ander woorde, hy het die magsvermenigvulder van staatsgrense As u in die Knesset instap, die parlement van Israel (die spreker wys kaarte en foto’s), kyk u vas teen ’n reuse beeld wat verlig is van agter af. Dit is die beeld van Theodor Herzl, skrywer van Der Judenstat, ‘n intellektuele grondlegger van die moderne Israel. Hy voer welsprekend aan hoe noodsaaklik dit is dat Hebreeus as ’n minderheidstaal, indien hy sy toekoms wil beveilig, ’n meerderheidstaal en dus ’n ampstaal word. Talle Europese taaldenkers voer aan dat so ‘n beginsel van toepassing is op elke minderheidstaal.
  1. Desnieteenstaande! As ons kyk na Europa dan vind ons ook ’n teenoorgestelde tendens soos oral in die geskiedenis: teenstellings, teentendense. Ons vind dat, ten spyte van dié tale wat reeds dominant is, daar ander tale is wat minderhede vorm. Wat is ’n minderheidstaal? Dis tale wat deur minder as vyftig persent van die bevolking van ’n land gepraat word. Soms vorm minderhede maar tien persent, vyf persent, twee persent van die bevolking. Om die posisie van minderheidstale te verstaan, het ek by enkele minderhede ’n paar geel sirkels op die kaart getrek – soos hierlangsaan. Terselfdertyd het ek die nommer van artikels ingevoeg wat minderheidsregte onderskryf. Daardie artikels verskyn in die Raamwerkkonvensie vir die Beskerming van Nasionale Minderhede, wat een van die belangwekkendste ooreenkomste is wat Europese state gesluit het. Dalk het u reeds kennis geneem van hierdie konvensie van net agt bladsye. Indien u nog nie kans gehad het nie, beveel ek aan dat u dit bestudeer en daardeur gefassineer word. Vir minderhede van enige soort is dit ’n kragtige wapen. Die geel sirkels op die kaart verwys na enkele deurslaggewende artikels.
  1. Wanneer ons die ervaring van Europese minderheidstaalgemeenskappe ondersoek, leer begryp ons iets van wat prof. Niek Grové vanoggend opgemerk het: ’n Fundamentele verskil tussen samelewings is dat sommige samelewings hulle eie de jure reëls de facto toepas terwyl die wette en konvensies van ander slegs op papier bestaan. Europa stel vir Suid-Afrika ’n voorbeeld van die konkrete toepassing van geskrewe besluite.
  • Artikel 11 van die raamwerkkonvensie pleit vir die reg om die tradisionele plaaslike name te gebruik van areas waar minderhede woon terwyl artikel 12 pleit vir die oordrag van kennis van geskiedenis en kultuur.   En dis presies die regte wat die Spanjaarde vir die Baske waarborg, hulle wat Baskies praat – taal nommer 34.
  • Artikel 10 argumenteer: Jy het eerstens die reg om jou taal vryelik te praat, in die privaat en in die openbaar, maar ook andersyds die reg dat administratiewe owerhede die lede van jou taalgemeenskap in hulle taal sal bedien. Dis presies wat die Spanjaarde doen in die provinsie Katalonië, waar Katalaans –taal nommer 4 – verselfstandig is as dié streektaal waarin die staat dienste lewer.
  • Artikel 14, wat oor opvoeding handel, benadruk dat minderhede voldoende kanse (“adequate opportunities”) moet kry om onderrig te kry in die minderheidstaal. Só, Katalane stuur hulle kinders kleuterskool toe, laerskool toe, hoërskool toe én universiteit toe, waar die voertaal Katalaans is, soos aan die Universiteit van Barcelona. Ons sien die volgende: Die Spaanse staat, wat die ampstaal Spaans – taal nommer 2 – as meerderheidstaal handhaaf, waarborg, terselfdertyd, die minderheidstaal Katalaans – taal nommer 4 – in die provinsie Katalonië. Dis wat die Europeërs doen met minderheidsregte: Hulle sê nie net A nie; hulle doen ook A. Ook daar in die noorde het ek geskryf Artikel 14, langs die meerderheidstaal Deens, taal nommer 13. In die suide van Denemarke woon ’n anderstalige minderheid. En weet u wat doen hierdie Dene? Hulle verseker nie net dat die minderhede, kragtens die konvensie se Artikel 13 hulle eie skole mag bedryf nie, en kragtens artikel 14 onderrig kry in hulle eie taal nie. Nee, hulle gaan veel verder: Hulle subsideer selfs privaat skole, in ’n proses wat ons kan noem die toestaan van derdegenerasieregte. Dit is wat gebeur wanneer ’n samelewing die lewensgehalte bereik van daardie bykans ses miljoen hoogs gesofistikeerde Dene!
  • U sal opmerk: daar in die Swart See staan Artikel 15. Volgens my oordeel is dit waarskynlik een van die mees gevorderde artikels. Wat is die uitgangspunt? Dit help nie jy gee vir ‘n minderheid die reg om sy taal in eie geledere te praat en erken sy historiese name en sy eie skole, maar die lede het nie inspraak in ekonomiese aktiwiteite en in die politieke stelsel nie. Artikel 15 benadruk doeltreffende deelname (“effective participation”), veral in kwessies wat die minderheid raak. Van belang is dat jý, taalgemeenskap, volle inspraak sal hê op alle vlakke: plaaslik, provinsiaal, nasionaal. U sal byvoorbeeld sien Hongaars, taal nommer 35 – is pienk, dieselfde as Fins en Estnies daarbo. Soos Fins en Estnies is ook Hongaars ’n Oeraliese taal, ’n taal wat in die Oeralgebergtes ontspring het en half geïsoleer is hier in die middel van Europa. U sal ook sien daar is ’n groot stuk pienk by taal nommer 8, Roemeens, en trouens binne die wit grense van Roemenië. Weet u hoe benader die Roemene hierdie minderheid? Soos ook in ander soortgelyke gevalle in Europa, buig die Roemene agteroor om vir daardie Hongare in die Roemeense parlement permanente spreukbeurte en setels te waarborg. Dieselfde gebeur met minderhede in Kroasië. België is ’n uitsonderlike voorbeeld van hoe ’n staat die reg op ekonomiese deelname en politieke inspraak van die minderheid, in hierdie geval van die 35 persent Franssprekendes, volledig waarborg. Talle minderhede in die wêreld ervaar maar te dikwels: Myle lê, tussen doen en sê! En ook in Europa worstel sommige substreke steeds om minderheidsregte te waarborg. Tóg wys meeste Europeërs, na eeue van rypwording, dat wat hulle in hulle dokumente skryf en onderteken, soos in die Raamwerkkonvensie vir die Beskerming van Nasionale Minderhede, hulle so goed as moontlik prakties toepas.
  1. As ons probeer om ’n model te ontwikkel, wat hierdie druk vir meerderheidsregte én minderheidsregte, in Europa maar ook elders, empatiek met mekaar versoen dat ons gelyktydig albei kante se strewe en gedrag kan insien, dan kan ons ’n boom gebruik (die spreker skets die model op die skerm) om die spanning te verduidelik. Die stam van die boom simboliseer meerderheidsbelange: Hier staan ons. Ons is sterk. Eén saak met gedien word. Almal moet ons steun. Dis ’n onderliggende, monistiese mitologie wat hier geld. Die takke van die boom, hierteenoor, simboliseer minderheidsbelange, en die gedragspatroon, kenmerke en sentimente van minderhede: Daar is alternatiewe om tussen te kies. Ons wil nie oorheers word nie. Ons wil ons eie windrigting kan inslaan. Ons wil vryelik kan beweeg. Ons wil selfs kan wegbreek om die stam van ’n nuwe boom te vorm.
  1. Die meerderheidstaalgemeenskap strewe oral na nasiebou deur sentralisering. Die minderheidstaalgemeenskap strewe oral na verselfstandiging deur lokalisering. Hoe verskil die probleme? Die probleem wat ervaar word deur ’n minderheid is dat hy geassimileer kan word. En hierdie genoemde Raamwerkkonvensie vir die Beskerming van Nasionale Minderhede in Europa – Artikel 5 – waarsku teen assimilasie. Die begrip assimilasie kom dááruit. Die konvensie waarsku teen die subtiele maniere waarop ander taalgemeenskappe te werk kan gaan om sprekers van jou taal af te rokkel en hulle byvoorbeeld te verengels, verfrans of verduits. Hy waarsku teen sulke beleid of praktyk (“policy or practices”). Die meerderheid, daarenteen, ervaar ’n anderssoortige probleem, naamlik die probleem van vervreemding, selfs afskeiding van die minderheid wat soms nie meer lid wil wees van die betrokke stelsel en samelewing nie.
  1. Vir ’n wetenskaplike begrip, moet ons eintlik nie praat oor vandag nie, maar oor die afgelope vyf duisend jaar. Maar kom ons loer na wat gebeur het met enkele minderheidstale in Oos-Europa die afgelope twintig jaar. Die Europeërs het toegelaat dat ook van die kleiner taalgemeenskappe in hulle eie damme kan swem. Ons het voorheen verwys na die sprekers van Est daarbo, taal nommer 36, wat ook ‘n Oeraliese taal is. Hulle het as Estland onafhanklik geword. Ook hulle wat Lets praat, taal nommer 29, as Letland. Terloops Litous, nommer 28, ‘n taal met drie miljoen sprekers wat die afgelope duisend jaar betreklik stadig verander het, is ‘n brontaal waaruit navorsers heelwat leer oor hoe die Indogermaanse tale sou kon gelyk het, duisend, twee duisend jaar gelede. Wat het die Litouers gesê? Dit help nie ons is ’n paar vissies, drie miljoen, saam met hierdie 160 miljoen Russe, in een dam nie. Hulle stamp ons met hulle neuse. Hulle ondertrou met ons. Hulle verrussies ons. Hulle doen net wat hulle wil. Ons moet doen wat Theodor Herzl gesê het. Ons moet differensieer. Ons moet ’n groen dam vir onsself skep. Ons taal moet ’n ampstaal word. En dis presies wat gebeur het: Litoue is onafhanklik. Dieselfde proses van verstandiging van minderheidstale tot meerderheidstale sien ons by Wit-russies, nommer 25. By die Oekraniëners, 26. By die Slowene, 17. Dié van u wat die politieke en kulturele gebeure die afgelope vyftien jaar gevolg het, weet van die stryd van die Kroatiessprekendes, nommer 18, om weg te breek van die Serwiërs en hulle eie taalregte te verseker. Vir almal wat hulle moedertaal wil bly praat, is dit ’n besielende verhaal.
  1. Dames en here, kyk na die Tjegge, 23, en die Slowake, 22. U het gehoor sommige senuweeagtige assimileerders sê: Ja, die skeiding is die gevolg van emosionele aggressie wat tussen die taalgroepe bestaan. Die waarheid is egter: Dit is glad nie só nie! Op dieselfde televisieprogram sit die Slowake en die Tjegge. Die Tjegge praat met die Slowake Tjeggies, en die Slowake reageer op die Tjegge in Slowaaks. So goed verstaan hulle mekaar! So respekteer hulle mekaar se tale! Desondanks, desnieteenstaande, het hulle aparte taalgemeenskappe gevorm en hulle eie politieke stelsels geskep. Waarom? Want die Slowaak respekteer die taal van die Tjeg, maar hy respekteer sy eie taal méér, is liewer vir sy eie taal. Dit is die beginsel. Kan ek maar na die lied De la Rey verwys? Bok van Blerk sing van ’n handjie van ons teen die hele groot mag. Ons is maar ’n handjie vol, redeneer elke taalgemeenskap, as ons nie verseker dat ons taal êrens ’n ampstaal sal wees vir die meerderheid van ons sprekers nie.

10.In die inleiding tot die minderheidskonvensie waarsku die Europeërs: Kyk, ons het uit die geskiedenis geleer dat ás ons vasteland van Europa stabiliteit, veiligheid en vrede begeer, is die beskerming van nasionale minderhede noodsaaklik (the protection of national minorities is essential). Dis die waarskuwing wat spruit uit die verlede, ek haal weer die Engelse teks aan: uit the upheavals of European history: die opstande van die Europese geskiedenis. Miskenning van die regte van taalminderhede lei tot rustelose omwentelings. Só skryf die Europeërs met hulle kulturele agtergrond van duisende jare. Terloops, u weet dat in tale soos Frans, Duits en Italiaans talle woorde terugspoorbaar is tot ‘n duisend jaar en verder, iets wat vir jonger tale mag vreemd klink. Die Europeërs sê: Ons grond hierdie gevolgtrekking om taalmeerderhede én taalminderhede te respekteer op ondervinding wat so oud is soos die berge – ondervinding is die beste leermeester!

11. Baie van u het u waarskynlik al verdiep in die navorsing van Jared Diamond. Hy is een van die mees gesaghebbende historici, antropoloë en geograwe wat oor die geskiedenis van die mensdom, veral die afgelope twaalf duisend jaar, besin – ’n ontleder wie se werke ek sterk aanbeveel . Ook die wenner van die Pulitzerprys vir wetenskap. Een van die vrae wat Jared Diamond stel en beantwoord, is: Hoekom gee meerderhede én minderhede voorkeur aan hulle eie taalgemeenskap? Hy meen: Of jy ’n lid is van ’n meerderheid of ’n minderheid, of jy ’n Fransman is wat, as meerderheidstaalspreker, vir die Engelse in Parys sê: Hier praat jy Frans!, en of jy ’n Katalaan is wat, as minderheidstaalspreker, vir Spanjaarde verduidelik: Hier praat jy Katalaans! – albei huldig dieselfde grondbeginsel. Jared Diamond sê die Europeërs wat, vergeleke by sommige ander kultuurblokke, innerlik al soveel ryper geword het, verstaan diep in hulle harte: Elke taal is die voertuig van ‘n unieke denkwyse, ’n unieke letterkunde en ’n unieke wêreldbeeld!

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.