Tien snellers vir vernuwing sal Afrikaners uitdaag

deur Dr. Heinrich Matthee 

Tien snellers vir vernuwing sal Afrikaners uitdaag


Afrikaners is die mees gewaagde volk op aarde, het N.P. van Wyk Louw aangevoer. Die Afrikaner moet elke dag sy bestaan tussen groter kragte verower. Soms het dit vasstaan geverg rondom dit wat bestaan, soms nuwe planne. ’n Boer maak ’n plan, lui die spreekwoord, maar nie alle planne werk nie. Trouens, van elke honderd skeppende idees, sterf die meeste. Slegs ’n paar oorleef in die vorm van ’n rowwe kulturele, politieke of ekonomiese uitvinding. Nog minder eindig as ’n innovasie: ’n geheel nuwe organisasie van simbole en bronne, of ’n nuwe produksieproses, produkte of dienste. Suksesvolle innovasie onder Afrikaners is nietemin nie ’n vreemde verskynsel nie. Die geskiedenis van Afrikaans en Afrikaanse kultuurinstellings self is ’n kroniek van terugslag én innovasie. Lees gerus prof. Jaap Steyn se “Ons gaan ’n taal maak”.

Internasionale- en Afrika-skokke

Hierdie stuk fokus op tien moontlike snellers van innovasie of groot vernuwing onder Afrikaners vorentoe. Afrikaners is tans ’n geskatte 2.7 miljoen mense, versprei tussen Suid-Afrika se ander 54 miljoen inwoners van minstens 10 groot etniese groepe. In die buiteland is ’n hele paar honderdduisend Afrikaners versprei oor verskeie lande in en buite Afrika. Die eerste sneller vir innovasie onder Afrikaners is skokke vir die bestaande orde in Suid-Afrika. In die geskiedenis van suidelike Afrika is Afrikaners meermale verras deur sulke skokke in die internasionale arena: dink maar aan die Britse Ryk se manewales, twee Wêreldoorloë, die val van die Sowjet-Unie, of die Europese ekonomiese krisis na 2008. Gebeure in Afrika kan ook skokke vir die bestaande orde in Suid-Afrika meebring. Die bevolkingsdruk in Afrika neem reeds toe, so ook binnelandse en geopolitieke mededinging rondom grond, water en ander hulpbronne. Politieke gebeure in lande soos Zimbabwe, Angola, die Kongo, Mosambiek en Namibië het in die geskiedenis die verloop van sake in Suid-Afrika geraak. Dit kan weer gebeur. Meeste Afrikaners rig hul aandag op Suid-Afrika. Verdere verrassings vanuit die internasionale of Afrika-arena is dus baie moontlik. Die fokus moet wees om platforms en sakebande só na buite te bou dat mens by meerdere ontwikkelings nog kanse kon aangryp..

Skokke uit die ANC-orde

Onder Afrikaners is daar ongelukkig ’n historiese gaping rondom kennis van die tale en sosiale ordes van nie-Westerse groepe. ’n Klein groep onder druk kan maklik homself te veel na binne rig en moontlike bondgenote of slegte veranderings onder magshebbers miskyk. Dit bly ’n terrein vir moontlike innovasie. Onder die ANC het ’n hibriede, semi-demokratiese stelsel ontwikkel, soos ontleed in South African Monitor se Junie 2015-verslag. Nuwe faksies of faksie-mededinging onder die ANC-magshebbers kan ook ’n skok vir die bestaande orde oplewer. Daar was al aanduidings van hoe vinnig sake kan verskuif. Die honderde gewelddadige demonstrasies per jaar wat deel vorm van politieke mobilisasie; die Marikana-slagting, wat internasionale skokgolwe veroorsaak het; die xenofobiese aanvalle na die Zoeloekoning se uitlatings in 2015; faksiestryde en vuilspel binne die veiligheidsmagte; meer as 40 politieke sluipmoorde tot op provinsiale leiersvlak die afgelope jare. Die opkoms van sekurokrate binne die ANC-bewind in reaksie op sy swakker politieke greep is reeds geskiedenis. Die opkoms van krygshere en bendeleiers met sosiopolitieke rolle in sekere streke is deel van die toekoms. Skokke rondom die fisiese onveiligheid van burgers sal een van die groot snellers van innovasie bly. Owerhede se beleid en versuim om burgers goed te beskerm het ’n belangrike rol gespeel by die koms van die Hugenote na die Kaap, en by die Groot Trek. Dieselfde dryfveer het sedert die 1990’s honderdduisende burgers uit alle groepe beïnvloed om elders in Suid-Afrika te trek. Baie het hul bates oorsee gestuur of selfs hul gesinne oorsee geneem. Ook vir Afrikaners as groep was dit ’n vorm van innovasie.

Sluimerende behoeftes

Die onthulling of vergroting van sluimerende behoeftes onder mense is ’n tweede sneller vir innovasie. Mense se behoeftes is aanvanklik onduidelik, soms ook die antwoorde daarop. ’n Soekproses van proeflopies en bemarking moet sake dan laat uitkristalliseer. ’n Sosiale ondernemer soos die Afriforum-burgerregtebeweging het van enkele lede in 2006 tot meer as 135 000 lede in 2015 gegroei. Sy leierskap het deur die jare kennelik daarin geslaag om die latente behoeftes onder burgers te onthul en te vervul.

Voorste gebruikers

Eric von Hippel, tans professor in tegnologiese innovasie in die VSA, beklemtoon die belangrike rol van ’n derde sneller in innovasie. Voorste gebruikers wysig die diens of produk om by hul behoeftes aan te pas, en kom in die proses op handige uitvindings af. As die produsent of diensleweraar oop staan vir sulke uitvindings, lei dit soms tot aansienlike vernuwing. Prof. Hermann Giliomee merk onlangs op dat die organisasie en mobilisasie van Kaapse Afrikaners meestal ’n ander benadering verg as onder noordelike Afrikaners. Dit is verder duidelik dat die sosiopolitieke ordes in verskillende dele van Suid-Afrika al meer mag verskil. Von Hippel se advies sou wees dat Afrikaner-organisasies juis in noue samewerking met hulle plaaslike ondersteuners hulle boodskap en dienste daar innoveer.

Nuwe beleid en spelreëls

Nuwe beleid of regulasies, nuwe spelreëls en aansporingsstelsels, is ’n vierde sneller wat innovasie in ander rigtings druk of trek. Die ANC-bewind se rasgerigte bemagtigingsprogramme het sedert die 1990s sakelui gedwing om nuwe oplossings te bedink. ANC-beleid en -versuim sal ’n belangrike bron van frustrasie bly, maar ook van risiko vir ondernemings wat te doen kry met die grys ekonomie en staatskontrakte gekoppel aan die ANC. Soms mag nuwe beleid en spelreëls elders ook innovasie onder burgers aanspoor. Binne die Europese Unie se mark van 500 miljoen mense word toenemend ’n premie geplaas op gehalteprodukte gekoppel aan ’n spesifieke streek of produsentegroep. Sou Afrikaanse produsente vorentoe juis met Koos van der Merwe Veiligheidsstelsels, Noord-Kaap Pekanneute en Maroela Films hoër op die waardeketting verkeer as hulle mededingers uit Suid-Afrika?

Nabootsing en afgeleide toepassing

Om ander dop te hou, en hulle idees en praktyke na te boots of uit te brei, is ’n vyfde sneller vir innovasie. ’n Studiestuk van die Duitse Instituut vir Globale en Area-studies in Julie 2015 ontleed die Russiese en Chinese modelle oor hoe om die media, internet en nie-regeringsorganisasies se invloed in te perk. Daar is helaas te veel tekens dat die Zuma-ANC ook hiervan probeer leer. Daarenteen het die Israeliese vakbondgroep Histadrut blykbaar ten dele gedien as inspirasie tydens Solidariteit se omvorming in die 1990s. Sommige Afrikanerkringe kyk deesdae na Suid-Tirool-Alto Adige in Noord-Italië as ’n model van etnopolitieke saambestaan tussen ander groepe. Ander denkers weeg idees oor die gebiedsonafhanklike outonomie van kultuurinstellings. Dit is ’n benadering waarvan die wortels terugstrek na Oostenrykse Marxiste soos Karl Renner aan die begin van die 20ste eeu.

Herkombinasie en oordrag

Herkombinasie en die oordrag van idees en praktyke van een domein na ’n ander, is ’n sesde sneller vir innovasie. Dit is opvallend watter rol verskynsels in die natuur reeds speel by die innovasie rondom tegnologieë. Die bionikus Ylva Poelman se De natuur als uitvinder behandel heel pakkend die natuur se voorbeeldrol by beperkte energiegebruik en suinigheid met materiaal. Die proses vind soms plaas vanaf natuurpraktyke of biotegnologie na sosiale praktyke. Sommige historici bespeur ook ’n wisselwerking tussen Jan Smuts se idees sedert sy studentedae rondom holisme en evolusie, en sy politiek rakende die Britse Gemenebes en Suid-Afrika.

Noodtoestand

Nood leer bid, lui ’n spreekwoord, maar nood leer ook innoveer. ’n Noodtoestand is ’n belangrike sewende sneller vir innovasie. Dit bly ’n vraag in watter mate meer veiligheidsdorpe, privaatopvoeders en privaathospitale in 21ste eeuse Suid-Afrika voortspruit uit ’n verval in dienste of uit oorsese voorbeelde. Meer ad hoc-alliansies tussen gemeenskappe en nie-regeringsorganisasies – of selfs dele van die staatsdiens is vorentoe goed moontlik. Een onaangename waarheid staar egter Afrikaner-organisasies in die gesig. Hulpbronne is beperk, Afrikaners is versprei oor ’n groot gebied, en die uitdagings aan klein groepe soos die Afrikaners raak meer. Organisasies sal nie vir alle Afrikaners kan sorg of almal kan “red” nie. Aansienlike dele van die Afrikaners sal ook nie wil doen wat nodig is om hulself beter in te rig nie, maar as gratis passasiers wel voordele wil oppik. Sekere gebiede in Suid-Afrika raak toenemend offerland: gebiede wat mens in effek sal moet opgee aan die plaaslike omstandighede, om elders wel instellings en ruimtes te behou en uit te bou. Afrikaners vorm byvoorbeeld in dele van Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap ’n onbeduidende en krimpende persentasie van die bevolking. Afrikaner-organisasies sal hul beperkte hulpbronne en dienste net beperk daar kon toewys, of soms glad nie. As mense in die offerlandgebiede wel al die voordele van sulke organisasies wil geniet, moet hulle dit vorentoe dalk self help moontlik maak vir daardie organisasies. Andersins sou hulle die plaaslike omstandighede moet aanvaar. Of minder dienste deur Afrikaner-organisasies. Of na gebiede trek waar groter konsentrasies van Afrikaner-instellings bestaan. Soos die Israeliese sielkundige en Nobelpryswenner Daniel Kahneman egter opmerk, sal mense liewer niks verloor nie as wat hulle ’n werklike voordeel behaal. Dit mag ’n blinde kol vorm onder organisasies ook. Innoverende denke is nodig om te bepaal welke temas, gebiede en gemeenskappe die prioriteitaandag van Afrikaner-organisasies verdien..

Nuwe kundigheid en tegnologie

Soms druk nuwe kundigheid en tegnologie as agste sneller innovasie na vore. Die Nasionale Intelligensieraad van die VSA noem in Global Trends 2030: Alternative Worlds die belang van individue se bemagtiging weens nuwe inligtings-, kommunikasie- en selfs produksietegnologieë. Die Britse Guardian-koerant het in 2013 byvoorbeeld eksperimenteer met ’n interaktiewe multimediamodel in die Firestorm-projek. Daarvolgens kon burgers met tekste, hul selfoon- en videokameras tydens ’n krisis dien as joernaliste op die toneel. ’n Landwye netwerk van interaktiewe burgerjoernaliste sou ook vir Afrikanermedia tydens krisistye binnelands en buitelands ’n kragopwekker kon wees. Saam met natuur- en kulturele toerisme bied die nuwe kundigheid kanse aan Afrikaners om beter internasionale bande te skep. Dit het die Wêreldwyd-netwerk vir Suid-Afrikaners in die buiteland ook moontlik help maak.

Ongelukke

 ’n Negende sneller vir innovasie is ongelukke. Dit omvat ook onverwagte ontwikkelings, waar mens mik op A en in die proses eerder B ontdek. Gesels maar met Afrikaanse denkers, skrywers en kunstenaars: dit geld wyd tydens hulle skeppingsproses. Dit geld ook by verskeie tegnologiese uitvindings, van vlekvrye staal tot pasaangeërs. Weens die aard van die huidige orde is die kans op terugslae en ongelukke wat Afrikaners raak helaas hoog. Die ANC-bewind se nie-voorkoming van die elektrisiteitskrisis is ’n duidelike voorteken. Die Amerikaanse ekonoom Frank Knight beskryf wel onsekerheid as ’n produksiefaktor, en risiko-bereidheid as onderdeel van enige vorm van ondernemerskap. Dit val te besien of van die gedwonge  innovasies na ongelukke en terugslae die skade sal oortref. Dit is egter nie toevallig nie dat in vele tale ’n variasie bestaan op die spreekwoord: “Dit is nie hoe jy val wat saak maak nie, maar hoe jy opstaan.”

Kopskuiwe

Mense hou dikwels nie van verandering nie. Groot instellings het ook ’n opgeboude traagheid. Die sterkste modus operandi vir mense en instellings blyk verder uit die geskiedenisboeke: voortploeter en deurworstel. Ook Afrikaner-organisasies sal nie hieraan ontkom nie. Maar die snellers van innovasie sal ook na vore tree, en ’n antwoord verg. Die tiende sneller vir vernuwing is dalk die belangrikste: om nie te fokus op die balle wat die lewe na jou gooi nie, maar op jou reaksie daarop. Soos Afrikaners onder groot druk verkeer, sal dit ’n uitdaging bly om daardie oop en aktiewe houding te handhaaf. Dit sal ook vernuf verg om dit as die oorheersende norm van spanne te vestig wat binne of naas organisasies hul proefnemings najaag.

Ekostelsels vir vernuwing

Die suksesvolle implementering van idees is by uitstek ’n spanaktiwiteit. Duursame innovasie verg ook ’n ekostelsel van rolpelers wat dit ondersteun, uitdaag en ruimte gee. Dit is ’n tema op sigself, maar daarmee is mens ook by die hart van ‘n kultuurgroep en sy instellings. Afrikaners sal in die komende jare behoorlik uitgedaag word deur die genoemde tien snellers. Hulle sal daarop moet antwoord met verskillende vorms van ekonomiese, kulturele en politieke innovasie. Maar dit is veral bestaande en nuwe Afrikaner-instellings wat die sukses van vernuwing en die voortgang van Afrikaners sal bepaal. Die Griekse filosoof Herakleitos het reeds aangevoer: verskillende waters vloei in riviere wat dieselfde bly. Juis omdat die waters verander, is daar riviere, eerder as poele of mere. Dieselfde geld vir die geskiedenis van mense en volke, van die Zoeloes tot die Afrikaners. Juis die slingerproses van vorming, aanpassings en proefnemings, terugslae en suksesse help om hul voortgang te bestendig. Maar soms stu hulle ook eenvoudig voort, sonder veel innovasie, soos opgedamde dele aan die kant van die rivier. Ook dit sal deel wees van sommige Afrikaners se antwoord op die uitdagings van die toekoms.

…..

…..

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.