Toekomsgedagtes – Prof. Danie Goosen

 

Te midde van die ernstige aard van die toestand waarin ons as gemeenskap verkeer, is daar goeie rede om hoopvol te wees. Dit is ’n hoop wat nie in ’n illusie gegrond is nie. Inteendeel, dit spruit uit die moed wat ons mense reeds die afgelope jare toon om van ‘onder af’ te handel – met verbeelding, inisiatief en daadkrag.

___________________________________________________

 

Wat is Afrikaners se visie vir die toekoms?

Hierdie is nie ’n blote teoretiese vraag nie. Inteendeel, dit is ’n vraag wat talle van ons mense vandag met die grootste mate van dringendheid vra.

Ons neem immers daagliks met verbystering kennis van die feit dat ons blote bestaan as kultuurgemeenskap bevraagteken word; ons ervaar eerstehands hoe gevaarlik-gebrekkig die staat op alle vlakke van regering geword het; ons neem met skok kennis van die vyandigheid waarmee ons uitnemende skole bejeën word; hoe ons mense op die platteland op weersinswekkende wyses vermoor en talle in armoede vasgevang word; hoe die nasionalisering van private eiendom in die vooruitsig gestel word, ensovoorts.

Geen wonder ons vra wat die toekoms vir ons inhou nie. Is daar hoegenaamd hoop? En as daar nog hoop is, watter visie kan die draer van ons hoop wees?

Alles is egter nie hopeloos nie. As ons dieper probeer pyl wat tans onder ons mense gebeur, is daar diep en lewende strome van hoop wat deur ons are vloei.

Trouens, as ons dieper kyk, sal ons die buitelyne van ’n visie raaksien wat die afgelope jare bykans ongesiens onder ons gestalte begin kry het – meestal buite die oog van talle kommentators. Dit is ’n visie wat hoop gee.

Wat is daardie visie? Alvorens ons daarop antwoord, moet vooraf gesê word wat dit nie is nie. Ons kan dit in enkele sinne saamvat:

Vandag kan met oortuiging aangevoer word dat ons toekoms nie meer in ’n blinde vertroue op die sogenaamde ‘beste grondwet ter wêreld’ opgesluit lê nie. Uiteraard moet ons so veel as moontlik van die bestaande grondwet gebruikmaak. Maar dit word ook duidelik, soos wat prof. Koos Malan met groot oortuiging aantoon, dat die grondwetlike hof toenemend die ideologiese voorkeure van die regerende elites weerspieël. Onlangse uitsprake deur dié hof teen Afrikaans en ons geskiedenis bewys dit ten oorvloede. Die minagting waarmee dit alles wat vir ons dierbaar is hanteer word, verteenwoordig ’n tragiese doodloopstraat. Grondwetlike towerformules gaan ons nie noodwendig meer help nie.

Om te herhaal, dit beteken nie dat Afrikaners vorentoe nie ’n beroep op die bestaande grondwet moet doen nie. Nog minder beteken dit dat Afrikaners vorentoe buite-om wet en orde moet handel. Maar ons sal tegelyk anderkant die beperkinge van die grondwetlike bedeling moet tree.

Watter visie het die afgelope jare bykans ongesiens onder ons mense ’n vastrapplek gekry? En ewe belangrik, op watter wyse (‘hoe’) is Afrikaners die afgelope tyd reeds besig om praktiese uitvoering aan so ’n gemeenskaplike visie te gee?

As mens jou ore plat op die grond hou, hoor mens die versugting by ons mense na ’n toestand waarin ons (in aansluiting by ons oudste politieke tradisie) die goeie kan najaag en tegelyk die kwade kan vermy.

Nog nader geformuleer, ons mense strewe ten diepste na ’n toestand waarin ons vry is om die goeie na te jaag – die goeie in ons gesinne, ons skole, tegniese kolleges, universiteite, kerke, landbou en besighede, ons kunste, musiek en teaters, ons media, burgerregte-organisasie, vakbonde, veiligheid, ensovoorts.

Hoe kan ons vandag konkrete inhoud aan dié visie gee? Ons formuleer stapsgewys:

  1. In die hart van dié strewe staan die gedagte van beheer oor ons eie toekoms. Ons kan slegs (ons eie opvatting) van die goeie najaag as ons toestand in eie hande neem en vir ons eie toekoms intree.

Omgekeerd geformuleer, om onsself steeds van die staat afhanklik te stel, sal bykans noodwendig beteken dat ons ons beheer oor onsself sal prysgee – dit alles met die noodlottige gevolge vir ons vermoë om ons ‘gemeenskaplike goed’ na te jaag.

 

  1. Om beheer in ons eie toekoms te verwesenlik, verg egter ’n omvattende denkskuif. Watter denkskuif? Dit verg ’n bereidwilligheid om ‘van onder af’ te dink en te handel (en nie soos in die verlede ‘van bo-af’ nie).

Nog nader geformuleer, dit verg die moed en selfvertroue om vanuit onsself as gemeenskap te  handel. Daarmee word nie gesê dat ons as gemeenskap nie ’n goeie verhouding met die staat moet handhaaf nie. Kleiner gemeenskappe moet altyd goeie verhoudinge opsoek. Maar ons toekoms lê opgesluit in die uitdagender weg ‘van onder af’ – vanuit die eie gemeenskap en die veelheid van plekke waar ons onsself bevind.

Die goeie en hoopgewende nuus is dat die gedagte van beheer oor ons eie toekoms reeds en bykans sonder enige onderlinge afspraak posgevat het. So asof ons bykans spontaan besef dat indien ons nie vir onsself intree nie, niemand anders dit sal doen nie.

Ons kan die inisiatief wat reeds die afgelope jare ‘van onder af’ geneem word, met drie voorbeelde illustreer. Eerstens, AfriForum betrek reeds duisende mense dwarsoor die land om self verantwoordelikheid vir die hantering van talle plaaslike infrastruktuur-probleme en ons eie veiligheid te aanvaar.

Tweedens, met betrekking tot ons kunste, ons musiek en teaters word verskeie verhoë deur ’n veelheid van organisasies geskep waarbinne dit kan floreer. ’n Voorbeeld hiervan is die enorme sukses wat die Brooklyn Teater in Pretoria die afgelope jare behaal het. Geen staatsondersteuning is hierby betrokke nie. Inteendeel, die sukses daarvan is die gevolg van verbeeldingryke plaaslike leierskap, entoesiasties ondersteun deur groot gehore vanuit Pretoria en omgewing.

En derdens moet die voorbeeld van Akademia, ons eie private Afrikaanse universiteit, genoem word. Een van die mees uitdagende dinge vir gemeenskappe wat na beheer oor hulself strewe, is om eie universiteite te stig. So word hulle in staat gestel om die ‘hoogste en edelste’ dinge ook in hul eie tale te kan sê. Terwyl Akademia reeds ’n sukses is, dui alles daarop dat dié jong universiteit ’n belowende toekoms in die gesig staar.

 

  1. ’n Belangrike teoretiese voorwaarde vir handeling ‘van onder af’ is dat dit in ’n taal en idioom geformuleer moet word wat wêreldwye legitimiteit geniet.

Alhoewel ons mense vanweë historiese redes nie altyd daarmee vertroud is nie, is die beste taal en idioom waarin dit gegiet kan word, die ‘federatiewe’ tradisie. Soos geen ander tradisie in die geskiedenis van politieke denke nie, gee dit telkens sy stempel van goedkeuring aan die ‘van onder af’-benadering.

Trouens, in wat spesifiek as die ‘gemeenskapsfederatiewe’ denke bekend staan, word vandag met groot oortuiging aangevoer dat die demokratiese gedagte die beste tot haar reg kan kom waar gemeenskappe van onder af (veral in en deur eie en sterk gemeenskapsinstellings) handel.

Ons het nie die toestemming van die staatlike sentrum nodig om onsself op die tradisie van federatiewe denke te beroep nie. Tegelyk sal ons wêreldwye erkenning kry indien dit inderdaad gedoen word. Die internasionale gemeenskap verstaan die belangrikheid daarvan bykans instinktief.

Ook hieroor is daar goeie nuus. ’n Kragtige en dinamiese beweging soos die Solidariteit Beweging het reeds op verskillende wyses te kenne gegee dat die ‘konstitusionele visie’ vir ons eie mense na buite met behulp van die federatiewe denke verwoord moet word. Federatief-geïnspireerde idees het kennelik reeds ’n diep vastrapplek onder ons mense verwerf.

 

  1. Dit bring ons by ’n laaste en praktiese saak. Dit hou verband met ’n belangrike praktiese voorwaarde vir die strewe na beheer oor jou eie toekoms – naamlik die demografiese konsentrasie van gemeenskappe.

Alhoewel gemeenskappe wat yl verspreid is steeds ’n sinvolle ‘van onder af’-benadering kan volg, is dit suksesvoller wanneer hulle demografies gekonsentreerd is.

Ons is nie ’n uitsondering op hierdie reël nie. Selfbestuur met betrekking tot dinge soos ons veiligheid, skole, mediese sorg, kulturele vermoë, ensovoorts, sal suksesvoller wees as ons demografies sterker gekonsentreerd is.

Maar, kan krities gevra word, is die demografiese konsentrasie van ons mense nie ’n blote teoretiese droom nie?

Alhoewel ek nie nou die verrassende resultate van buitengewoon betekenisvolle navorsing onder ons mense vooruit wil loop nie, blyk dit dat daar reeds ’n beduidende beweging na demografiese konsentrasie onder ons mense vaardig is.

Trouens, uit die voorlopige bevindinge van die navorsing blyk dit dat Afrikaners in betekenisvolle getalle aan die ‘trek’ is. Dit is ’n trek vanaf plekke waarin dinge soos ons veiligheid, ons skole en ons mediese sorg in ’n kommerwekkende toestand verkeer na groter plekke (soos groeiende streeksdorpe) waar sodanige dinge inderdaad nog op ’n uitnemende wyse aanwesig is.

Te midde van die nood waarin ons mense vasgevang word wat nie die trek na groter en sterker gekonsentreerde plekke kan onderneem nie (en ons alles in ons vermoë moet doen om dié Afrikaners se hand in ’n ‘van onder af’-strategie te versterk), is genoemde trek een van die mees betekenisvolle gebeure van die afgelope dekade.

Waarom? Omdat dit – demografiese konsentrasie – ’n belangrike praktiese voorwaarde vir dinge soos die beheer oor jou eie toekoms verteenwoordig. Vanweë groter konsentrasie word ons in staat gestel om in nog ’n groter mate onsself van die outoritêre gesag van die staat te speen – en ons eie ding te doen.

Is daar hoop? Te midde van die ernstige aard van die toestand waarin ons as gemeenskap verkeer, is daar goeie rede om hoopvol te wees. Dit is ’n hoop wat nie in ’n illusie gegrond is nie. Inteendeel, dit spruit uit die moed wat ons mense reeds die afgelope jare toon om van ‘onder af’ te handel – met verbeelding, inisiatief en daadkrag.


Prof. Danie Goosen is voorsitter van die FAK-direksie en ‘n dosent in filosofie aan UNISA.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.