Uitdagings en antwoorde – Prof. Danie Goosen

Toespraak gehou by die FAK prestige-aand, 31 Oktober 2014

Vanjaar kyk die FAK terug. Ons is immers 85 jaar oud. As in gedagte gehou word dat die Afrikaners ’n jong volk is, beteken dit dat die FAK nou reeds met ’n merkbare gedeelte van ons geskiedenis saamval. Ons vier die geslagte wat ons voorafgegaan en dit moontlik gemaak het.

Maar die FAK kyk vanjaar nie net terug nie. Die FAK wil ook deel van ons toekoms wees. Ons staan in die gesprek hieronder daarom nie net by ons geskiedenis stil nie, maar ons verwys ook kortliks na ons toekoms as Afrikaners.

  1. Die geskiedenis

Ons gaan hieronder uit van die standpunt dat die geskiedenis gekenmerk word deur die spel tussen verrassende uitdagings en ons (geslaagde of mislukte) antwoorde daarop. Kortom, waarheen die geskiedenis met ons op pad is, is ’n funksie van die wyse waarop ons op haar verrassende uitdagings antwoord.

Kom ons kyk eers na enkele voorbeelde hiervan uit die Europese geskiedenis. Ons verwys in die besonder na die enigsins merkwaardige feit dat daar die afgelope vyfhonderd jaar tydens die eerste twee dekades van elke nuwe eeu ’n verrassende uitdaging aan Europa gerig is. Telkens is die rigting waarin die geskiedenis in die daaropvolgende eeue beweeg het, bepaal deur die wyse waarop die Europese mens op dié uitdagings geantwoord het.

Byvoorbeeld, op 31 Oktober 1517, vandag presies 497 jaar gelede, het Martin Luther ’n verrassende ding gedoen toe hy sy 95 stellinge teen die kerkdeure van Wittenberg vasgespyker het. Daarmee het Luther ’n omvattende uitdaging aan sy tyd gerig. Die wyse waarop Europa op Luther se daad geantwoord het, het die aard en wese van die volgende eeue gedefinieer, bykans op elke terrein van die lewe.

Ter wille van tyd laat ons die belangrike datums aan die begin van die volgende eeue, naamlik 1618, 1707 en 1814 agterweë, en noem ’n voorlaaste laaste voorbeeld. In 1914, vanjaar presies honderd jaar gelede, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek. Die wyse waarop op hierdie selfvernietigende gebeure geantwoord is, het die aard en wese van die ganse 20ste eeu gedefinieer.

Ons laaste buitelandse voorbeeld is vroeg in ons eeu, naamlik die gebeure van 11 September 2001, toe gekaapte vliegtuie in Amerikaanse geboue vasgevlieg het. Word ons eeu reeds gedefinieer deur die wyse waarop op dié gebeure geantwoord word?

Maar dit bring ons by enkele belangrike voorbeelde uit ons eie geskiedenis. Ons verwys nogmaals na die vreemde feit dat die afgelope drie eeue en in die besonder die eerste twee dekades van elke nuwe eeu deur die spel tussen verrassende uitdagings en ons (mislukte of geslaagde) antwoorde daarop gekenmerk is.

Ons eerste datum is 1707, aan die begin van die nuwe eeu. U is vertroud met die verhaal: Na uitdaginge wat die Kaapse owerheid destyds aan die inwoners van Stellenbosch gerig het, het Hendrik Bibault, uit woede teen die owerhede, die merkwaardige antwoord gegee: “Ik ben een Afrikaander.”

Waarom was dié antwoord merkwaardig? Bibault het met sy antwoord ’n definisie aan homself en sy mense gegee wat oor die eeue heen weerklank gevind het. Meer as 300 jaar later beskryf dit steeds ons as kultuurgemeenskap. Soos Bibault destyds is ons vandag nog steeds Afrikaners.

Ons tweede datum hou verband met ’n uitdaging wat op ’n haar na presies ’n eeu later, naamlik 1806, aan ons gerig is, toe die Kaap vir die tweede en laaste keer deur Brittanje beset is. Waarom was dit ’n uitdaging? Vroeër het die Afrikaners hulself nog polities as afhanklik van Nederland ervaar. Toe Brittanje die Kaap egter finaal beset het, is die uitdaging aan ons mense gerig om die politieke (en psigiese!) afhanklikheid jeens die moederland te laat vaar en voortaan vir onsself verantwoordelikheid te aanvaar. Die hele eeu wat op 1806 gevolg het, kan as ’n uitdrukking van dié antwoord verstaan word.

Die eerste manifestasie daarvan was ’n mislukte antwoord, naamlik die Slagtersnek-rebellie van 1815. In die groter golwinge wat hierdie dramatiese antwoord egter veroorsaak het, het groot getalle Afrikaners enkele dekades later ’n suksesvolle antwoord gegee toe hulle aan die Groot Trek deelgeneem het. En ten grondslag van die Groot Trek het die gedagte gelê dat ons voortaan vir onsself verantwoordelikheid sal aanvaar.

Dit bring my by die datum aan die begin van die 20ste eeu. Ek verwys na 1905. Hierdie datum is ’n belangrike landmerk in ons geskiedenis, want toe het Afrikaners gewys hoe om skeppend op die vernietigende Anglo-Boereoorlog, wat in 1902 beëindig is, te antwoord.

In 1905 word die gedig van Eugene Marais, naamlik “Winternag” gepubliseer. Met dié uitsonderlike antwoord wys Afrikaners dat hulle gereed is om hul moedertaal tot op die hoogste vlakke in die letterkunde uit te bou.

Daarby het dit egter nie geëindig nie. Asof ons toe besef het dat “Winternag” deur ’n veelheid van kragtige instellings ondersteun moet word, het Afrikaners – let op die datums – onder meer die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 1909 en die Nasionale Party in 1914 gestig.

Alle antwoorde wat ons toe gegee het, was uiteraard nie oor die langtermyn suksesvol nie. Trouens, juis in 1914, op ’n haar na ’n honderd jaar na die mislukte Slagtersnek-rebellie, en vanjaar presies ’n honderd jaar gelede, het Afrikaners met nog ’n ‘mislukte’ opstand geantwoord, naamlik die Rebellie van 1914. Nogtans het dié tragiese antwoord, soos Slagtersnek, ook positiewe golwinge veroorsaak.

Een van die grootse dinge wat daaruit voortgevloei het, was juis die FAK, wat in 1929, ’n dekade en ’n half daarna, gestig is. Daarmee het Afrikaners ’n instelling tot stand gebring wat vir ons taal en kultuur kon intree. En dit is presies wat die FAK nou reeds vir 85 jaar doen.

Maar dit bring ons by die laaste datum. Ons bevind onsself weer eens in die eerste dekades van ’n nuwe eeu. Watter datums staan hier uit?

Tydens die twee ampstermyne van pres. Thabo Mbeki, wat in 2008 tot ’n einde gekom het, het daar iets bykans onsigbaar onder ons mense gebeur. Tydens dié ampstermyne het daar ’n gemeenskaplike besef onder Afrikaners deurgebreek dat die staat (in weerwil van die beloftes van die grondwet) afwysend staan teenoor ons demokratiese aansprake, en in die besonder afwysend staan teenoor ons aanspraak om oor dié sake te besluit wat onsself as gemeenskap raak. Die onlangse uitlatings van die minister van hoër onderwys dat geen beskutte ruimtes vir Afrikaans aan universiteite geduld sal word nie is slegs die jongste uitdrukking hiervan.

Maar soos vroeër breek daar in hierdie tyd ook die gemeenskaplike besef deur dat ons vir onsself verantwoordelikheid sal moet aanvaar.

Driehonderd jaar na Hendrik Bibault in 1707, tweehonderd jaar na die oproer wat die Britse besetting van 1806 veroorsaak het, en ’n honderd jaar na “Winternag” in 1905, gee ’n toe nog redelik onbekende sanger uitdrukking aan hierdie besef. In 2006 sing Bok van Blerk vir die eerste keer sy onbeskaamde Afrikanerlied, “De la Rey.” Soos Bibault drie eeue voor hom bevestig Van Blerk so op ’n hartstogtelike wyse wie en wat hy is. Groot getalle Afrikaners vereenselwig hulself in dié tyd spontaan met dié lied.

Maar daarby eindig die vergelyking nie. Net soos met “Winternag” in 1905 val “De la Rey” in 2006 ook saam met die klem op die belangrikheid van instellings.

In presies dieselfde jaar as “De la Rey” word die MWU volledig in Solidariteit verander. Uit Solidariteit word ’n verskeidenheid van lewenskragtige instellings geskep, soos AfriForum, wat eweneens in dieselfde jaar as “De la Rey” gestig word. AfriForum is die grootste en mees suksesvolle burgerlike beweging ooit onder Afrikaners.

Maar nog meer. In 2010 word ’n ou en senior organisasie soos die FAK met behoud van karakter, styl en fokus ’n volwaardige vennoot van die Solidariteit-beweging. In die proses word die FAK in staat gestel om op sy terreine – kultuur, geskiedenis en idees – ’n meer effektiewe antwoord op die uitdaginge van ons tyd te gee.

Hierdie antwoorde word deur groot getalle jong Afrikaners versterk wat, miskien reeds voor “De la Rey”, vir hulself begin sorg en op die ekonomiese terrein uitnemend as ondernemers presteer.

As ons na ons geskiedenis kyk, kan ons sê dat die Afrikaners nie ’n hand vol blare is wat toevallig byeengehark en met die eerste dwarrelwind in alle rigtings weggewaai kan word nie. Die merkwaardige patrone in ons geskiedenis wys dat ons eerder deur ’n eeue-oue standhoudendheid gekenmerk word. Dit is ’n standhoudendheid wat kwalik met behulp van die begrip “toeval” verstaan kan word. Inteendeel, ’n ou teologiese begrip soos “voorsienigheid” kan ons hier beter help. Dit bring my ten slotte by enkele opmerkings oor ons toekoms.

  1. Die toekoms

Die belangrike vraag waarvoor ons vandag te staan gekom het, is hoe ons met nog groter verbeelding, intensiteit en helder denke op die uitdaginge van ons tyd kan antwoord. Ons gee enkele wenke.

Eerstens, ons sal sinvol antwoord as ons deur ’n gesonde gemeenskapsgedagte gemotiveer word (en nie maar net deur ons eie individuele belange nie).

So ’n gemeenskapsgedagte word gekenmerk deur die feit dat sy dade aan die hoogste norme getoets kan word; dat dit nie aan die patologiese selftwyfel van die afgelope dekades ly nie; dat dit nie in die teleurstellings van die verlede vashaak nie; dat dit anderkant die ou en uitgediende verdelingslyne tree; dat dit ’n geduld met onderlinge verskille toon; dat dit ’n sin vir die werkbare het sonder om onsself prys te gee; dat dit die ruimte skep waarbinne doeners, digters en denkers kan floreer; en dat dit goeie verstandhoudinge met ander gemeenskappe handhaaf.

Tweedens, ons kan op die eise van die tyd antwoord as ons ’n helder toekomsbeeld het. En ons voorstel is dat ons ’n Suid-Afrika moet nastrewe wat as ’n werklik volwaardige plurale demokrasie bekend sal staan. So ’n Suid-Afrika bestaan tans nog net in teorie. Dit moet nog waargemaak word.

Die heersende orde kan toenemend as ’n falende orde beskryf word. Dit lewer ons uit aan sistemiese korrupsie, wanorde en ongekende vorme van geweld. Daarby toon dit ’n diepliggende onbegrip vir die wese van ’n werklike plurale demokrasie, dit wil sê ’n demokrasie waarin gemeenskappe wat dit verkies so groot as moontlike inspraak in hul eie sake het.

Ons sal in die toekoms ’n onvermoeide (en goed begronde) voorspraak vir so ’n demokrasie moet maak. Die argument dat ons grootste uitdaging vandag die falende staat eerder as die plurale aard van die demokrasie is, verstaan nie dat hierdie dinge intiem met mekaar verweef is nie: State faal nie net wanneer alle mag bo in die hande van ’n onbekwame elite saamgebundel word nie, maar ook wanneer die ywerig-werkende gemeenskappe misken word. Wanneer gemeenskappe vry is om hul eie ding te doen, strek dit tot die voordeel van almal in die land.

Derdens, waar moet hierdie demokratiese inspraak in eie sake gebeur? Wêreldwyd word aanvaar dat dié inspraak daar sinvol kan gebeur waar gemeenskappe aan hul eie instellings deelneem en toegelaat word om self oor die toekoms daarvan te besluit.

Dit is instellings soos skole en (ten minste twee) universiteite, maar ook eie besighede en sakekamers, kultuurorganisasies, burgerlike bewegings, teaters, kunsterade, radiostasies, uitgewers en openbare media, vakbonde, maatskaplike organisasies en veiligheidsorganisasies.

Geen internasionale hof of falende staat gaan dié instellings egter vir ons gee nie. Ons sal onsself vanuit eie krag daarvoor moet beywer. Soos in die verlede is die sleutelwoorde hier weer eens ‘selfstandige handeling’, die vat van eie verantwoordelikheid.

Vierdens en in aansluiting hierby, Afrikaners was in die verlede dikwels staatsgerig. Ons het vanuit die staat gedink en gedoen. Afrikaners gaan tans deur ’n omvattende proses van heroriëntasie. Ons maak ons los van afhanklikheid jeens die staat. Ons dink en doen vanuit die gemeenskap. En dit is die regte antwoord op ons tyd.

So ’n gemeenskapsbenadering staan nie in spanning met die belange van ander gemeenskappe nie. Inteendeel, as ons ons gemeenskapsbenadering reg aanpak, kan dit tot die voordeel van alle gemeenskappe strek.

Trouens, ons oproep stem ooreen met die oproep van ’n bekende swart redakteur, Modli Makahanya, wat enkele dae gelede ’n oproep aan die swart gemeenskappe gedoen het om hulle van hul afhanklikheid jeens die staat los te maak. Daarin kan ons mekaar se bondgenote wees.

Omdat ons in die verlede staatsgerig was, het Afrikaners ook staatsleiers opgelewer. Vanuit ’n gemeenskapsgerigte benadering het ons vandag eerder gemeenskapsleiers nodig, orals, op die platteland, in elke dorp en stad. En anders as wat dikwels gesê word, naamlik dat Afrikaners nie leiers het nie, is daar vandag reeds talle uitnemende gemeenskapsleiers onder ons mense.

Vyfdens, in aansluiting by die gees van die plurale demokrasie kan ons ook – en hier het ons ’n sprong in die verbeelding nodig – vir onsself gekonsolideerde plekke skep, soos selfs ’n eie taal-stad. Geen taalgemeenskap kan oor die lange duur homself handhaaf sonder dat hulle mekaar van tyd tot tyd in die strate, markpleine en raadsale van eie taal-plekke kan sien en hoor nie.

Hierin lê geen pleidooi vir isolasie opgesluit nie. Totale isolasie is vir enige gemeenskap ongesond. Maar totale blootstelling is eweneens ongesond. Te midde van ons blootstelling aan andere het ons vandag ook plekke van assosiasie met mekaar nodig.

Dit bring ons by die laaste wenk. Dit draai rondom ons uitgangspunte en lewensbeskouinge.

        Daar word dikwels gesê dat die Afrikaners lewensbeskoulik aan verwarring ly. Hierdie punt is slegs gedeeltelik waar. Navorsing wys dat by verre die meeste Afrikaners deur ’n breë konserwatiewe lewenshouding gekenmerk word. Dit blyk onder meer uit ons handhawing van tradisionele deugde soos praktiese wysheid, hardwerkendheid, pligsgetrouheid, regverdigheid en vriendskap; uit die belangrikheid wat ons aan tradisionele instellings soos die gesin, skool en kerk heg, en die wete dat die sin van ons bestaan in ons Christelike erfenis geanker is.

Een van ons grootste uitdaginge is om met ’n verbeeldingryke demokraties-konserwatiewe lewensbeskouing op die lewensbeskoulike uitdaginge van ons tyd te antwoord. Dit is nie ’n lewensbeskouing wat terugkrabbel, toesluit en versmoor nie. Dit is eerder ’n lewensbeskouing wat ons in staat stel om met ’n ontvanklike, realistiese en skeppende gemoed op die politieke, sosiale en ekonomiese vrae van ons tyd te antwoord.

Vriende, soos wat hierbo aangetoon is, toon ons as kultuurgemeenskap ’n merkwaardige standhoudendheid. Oor eeue heen het ons voorgeslagte op ’n uitnemende wyse op die uitdaginge van die tye geantwoord. Ook ons kan vandag weer so antwoord. Trouens, talle van ons mense en instellings is reeds besig om so te antwoord. Laat ons hande vat, laat ons mekaar daarin sterk.

Tags:

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.