Universiteitswese in Suid-Afrika en die Afrikaner (deel 2)

deur Morne Diedericks 

Universiteitswese in Suid-Afrika en die Afrikaner deel 2


Goosen (2014) maak in sy artikel “Afrikaanse universiteit en ʼn plurale demokrasie” die volgende standpunt:

Die meerderheidsregering is “besig om stukkie vir stukkie die ware grondslae van die plurale demokrasie te vernietig. En ons steeds vaster aan die greep van die totalitêre gees te bind.”

Op hierdie standpunt van Goosen bou ek verder in die drie artikels waarvan hierdie deel twee is. In die vorige artikel het ek ‘n saak uitgemaak vir Afrikaners wat moet kies vir universiteite en moet wegbeweeg van multiversiteite. In die eerste deel het ek aangevoer dat multiversiteite instellings is met ‘n groot verskeidenheid van benaderings en alle kulture wil akkommodeer. Hul poging om alle kulture te akkommodeer lei egter tot ‘n “niks vir niemand” kultuur wat bloot ‘n instrument van die staat geword het. In hierdie artikel kyk ek na die situasie van Afrikaner akademici by publieke universiteite en ek maak die stelling dat:

Afrikaner akademici moet begin om die belang van die Afrikaner te bedink en minder bloot die belang van Afrikaans.

Die geskiedenis van universiteite loop hand aan hand met die geskiedenis van die politiek. Ringenberg (2006:115) toon aan dat ‘n gevorderde gemeenskap wie se belange nie meer by ‘n bepaalde universiteit bevorder word nie, ‘n nuwe universiteit stig. Hierdie verskynsel sien ons ook onder die Afrikaners. Die aanhoudende druk op Afrikaans by die groot publieke universiteite die afgelope twintigjaar het Afrikaners gedwing om na alternatiewe te soek. Hierdie alternatiewe is nuwe Afrikaanse opleidingsinstansies soos Aros wat tans 750 onderwysstudente oplei en Akademia wat tans 300 studente oplei.

My vraag is egter wat met die magdom Afrikaner akademici by die groot publieke universiteite gebeur? Die huidige twee Afrikaner opleidingsinstansies, Aros en Akademia kan maar net ‘n handjievol akademici akkommodeer. Ek probeer myself in die skoene van ‘n vyftigjarige Afrikaner akademikus by ‘n publieke universiteit indink. Wat moet so persoon ervaar en hoe sien hy/sy hulle eie toekoms by die universiteit?

Voormalige Afrikaanse universiteite se huidige situasie

Die publieke universiteite is grootliks staatsgedrewe universiteite wat deur die staat gefinansier word. Die universiteite word natuurlik nie net deur die staat gefinansier nie, maar ek is van mening dat ons huidige publieke universiteite nie sonder die staat se finansiële ondersteuning kan funksioneer nie. Die rede waarom ek so dink is omdat die groot publieke universiteite al vanaf die apartheidsregering af deur die staat gefinansier is. Dus funksioneer hierdie universiteite met begrotings waarvan die staat ‘n groot hoeveelheid bydra. Vanaf die apartheidsregering het die regering in Suid-Afrika dus ‘n groot inspraak gehad op die wyse waarop die publieke universiteite funksioneer. Ons sal ook soms verkeerdelik praat van die publieke universiteite as ‘staatsuniversiteite’. In wese is dit presies wat die groot publieke universiteite in die apartheidsregering geword het, dit het staatsuniversiteite geword wat deur die staat gebruik is om die regering se planne uit te voer of om diensknegte vir die regering te vorm. Die uitdrukking “wie betaal bepaal” is hier van belang. As jy baie geld spandeer op ‘n bepaalde saak verwag jy ook dat daardie saak tot jou voordeel is.

Met die regerings oorgang in 1994 het niks verander nie, behalwe die regering. Die publieke universiteite wat deur die apartheidsregering in staatsuniversiteite verander is het steeds staatsuniversiteite gebly. Die enigste verskil was dat dit net nog nie die ideologie van die nuwe regering verteenwoordig het nie. Die proses van transformasies was in werking gestel om hierdie “probleem” op te los. Die sogenaamde “probleem” was Afrikaans, wat later te blyk nie eintlik die probleem was nie, maar eintlik die Afrikaners en blankes.

In 2015 is hierdie “probleem” (Afrikaans, Afrikaners, blankes) nog nie heeltemal opgelos nie. Afrikaans is op die meeste kampusse oorwin, dit is nog net die NWU wat nog ‘n laaste poging aanwend om Afrikaans te behou, maar die probleem van Afrikaners of blanke akademici is nog nie opgelos nie. ‘n Artikel in die City Press (2014) met die titel “Where are our black academics?” illustreer die toenemende druk wat Afrikaners by publieke universiteite gaan ervaar. Die artikel voer aan dat die oplossing vir die “probleem” van te veel blanke akademici aggressiewer transformasie peilings is. By die Universiteit van die Vrystaat vorm ‘n departementshoof se bereiking van transformasies peilings deel van sy evaluering vir verhogings en Jonathan Jansen pleit daarvoor dat die regering meer fondse beskikbaar moet stel vir die universiteite wat ernstig is oor transformasie.

Vyftigjarige akademikus by ‘n publieke universiteit

Ek fokus op die vyftigjarige akademikus by ‘n publieke universiteit, omdat dit sekerlik die hoogtepunt is van ‘n akademikus se loopbaan. ‘n Vyftigjarige akademikus is ervare en het nog baie om die universiteit te bied. Die probleem is egter dat die vyftigjarige blanke akademici ‘n las op universiteite plaas, ‘n las omdat hulle wit is en omdat hulle nog vir vyftienjaar lank daar moet/wil werk. Die vyftigjarige akademikus by ‘n publieke universiteit moet onder geweldige druk en spanninge verkeer. ‘n Afrikaner akademikus moet ook versigtig wees oor dit wat hy/sy sê en sorg dat sy uitsprake polities korrek is. ‘n Dosent by Tukkies moes bedank toe sy op sosialemedia gesê het: “Natuurlik is dit baie makliker om onophoudelik te kla oor “Calvinisme” as om die vraag te vra waarom die verkragting van babas ‘n kulturele verskynsel onder swart etniese groepe is.” Die dosent het berou oor haar opmerking gehad, maar die feit bly staan, Afrikaners kan nie sê wat hulle dink nie, want enige rede om ‘n persoon af te dank sal voldoende wees en daardeur kan die transformasieproses bespoedig word.

Daar is tans vier soorte Afrikaner akademici by publieke universiteite:

  • Anti-Afrikaners: Hierdie groep is vreemd genoeg teen enige Afrikanerpoging tot sukses. Hulle vra aanhoudend verskoning vir die verlede en skryf aktief teen die Afrikaner en enige Afrikanerinstellings.
  • Die Skisofrene: Hierdie groep is goeie navorsers. Hulle put die universiteit se fondse uit, omdat hulle meer niksseggende kongresse oorsee bywoon as wat hulle klasgee. By hulle huise het hulle wel ‘n ou Bybel, ‘n ossewa en hulle oupa grootjie se geweer uit die Anglo-Boereoorlog en om die braaivleisvure sal hulle met hulle vriende politiek praat en die Afrikaner se probleme oplos. By die werk is hulle egter gefrustreerd, maar hulle hou hulle monde en probeer nie te veel aandag trek nie. Hulle lewe as ’t ware twee lewens.
  • Die Taalliefhebbers: Hierdie groep verkondig Afrikaans as ‘n liefdestaal en ‘n versoeningstaal. Hulle doen baie vir Afrikaans en veg vir elke stukkie van Afrikaans. Hulle is die groep wat tans al die pryse wen vir Afrikaans en alles wat hulle doen vir Afrikaans. Die woord Afrikaner is egter ‘n woord wat nie in hulle woordeboeke ingeskryf is nie.
  • Die Afrikanerdenkers: Hierdie groep is klein, maar kan tussen die geskarrel by die universiteit steeds die Afrikaner belange bevorder. Hulle is positief oor Afrikaans, maar nog meer oor die Afrikaner. Hulle gebruik die fondse en tyd tot hulle beskikking om die Afrikaner gemeenskapsbelange te bedink en te bevorder.

Dit is na die laaste groep wat ek opkyk. Hierdie groep weet dat die Afrikaner belange op publieke universiteit van korte duur is, maar dat hulle nog baie kan doen om Afrikaner belange te bevorder vanuit die situasie waarin hulle is. Dit is na gelang van hierdie groep dat ek sê: “Afrikaner akademici moet begin om die belang van die Afrikaner te bedink en minder bloot die belang van Afrikaans.”

Bronverwysings

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.