Universiteitswese, transformasie en dekolonisasie: Wat kan ons verwag? – Christoff van Wyk

NP van Wyk Louw Transformasie op kampusse

Foto: Netwerk24

Studenteorganisasies dreig opnuut om kampusse onbegaanbaar te maak deur massa protes. In weerwil hiervan swyg die minister van hoër onderwys en faal klaaglik om die kritieke leierskap te gee wat nou nodig is in dié verband. Intussen dreig daar ’n groeiende fiskale krisis by verskeie universiteite waar sommige alreeds aangedui het dat hul finansies in die rooi is of op pad is soontoe. Die vraag kan tereg gevra word: ‘Waarheen is ons universiteitswese op pad in Suid-Afrika?’

Die hoëronderwysbedeling sedert 1994 – is ons beter af of slegter?

Suid-Afrika se hoër onderwys het ’n omwenteling van enorme proporsies ondergaan in die afgelope 15 jaar. In 1994 was daar 21 openbare universiteite, 15 sogenaamde ‘polytechnics’, 120 kolleges, 24 verpleeg- en 11 landboukolleges. Teen 2001 het die opleidingskolleges heeltemal weggeval en is die meeste van hulle geïnkorporeer in verskeie universiteite. Uit die 36 universiteite en technikons wat daarna nog bestaan het, het verskeie weer saamgesmelt, terwyl party ontbind is om by ander geïnkorporeer te word om sodoende ’n universiteitslandskap te skep met:

  • 11 tradisionele universiteite wat grade toeken;
  • 6 universiteite wat grade, diplomas en sertifikate toeken; en
  • 6 universiteite van tegnologie. Daar is ook verder besluit om 2 nuwe universiteite te stig in provinsies waar geen universiteite was nie.

Tans is daar 26 universiteite in Suid-Afrika met drie nuwe universiteite van tegnologie wat sedertdien bygevoeg is. Die verhoging in studentegetalle in die afgelope 22 jaar is verstommend.  In 1993 was daar ’n geskatte 473 000 studente in Suid-Afrika. Volgens statistiek verskaf deur die Raad vir Hoër Onderwys in Suid-Afrika het daardie getal in 2013 reeds verhoog tot 983 698. Ten spyte van hierdie vergrote inname is daar slegs drie nuwe universiteite in die tyd gebou.

Suid-Afrika het dus gegaan van ’n sisteem waar 191 staatsbedyfde hoëronderwysinstellings in 1994 bestaan het tot slegs 26 instellings vandag.

Privaat universiteite verteenwoordig nog ’n relatiewe klein gedeelte van die totale studentegetalle in Suid-Afrika en daar kan nie aanvaar word dat hierdie instansies die toename kon help absorbeer nie. Die regverdige aanname wat dus gemaak kan word, is dat bestaande universiteite tot ’n groot mate self planne moes maak om die toename van studentegetalle te akkommodeer. Die befondsing hiervan moes dikwels op kreatiewe maniere gebeur wat meer getuig het van goeie bestuur deur rade as van die beleid deur die regering.

Finansiële uitdagings

Rakende die huidige finansiële probleme wat die universiteite in die gesig staar, skryf Karen Macgregor in haar artikel Higher education in the 20th year of democracy as volg: “Three other factors were likely to compound the funding challenge (in die toekoms): the target of raising participation to 25% and student numbers from a current 950,000 to 1.6 million; the decline in funding for higher education as a proportion of GDP from 0.76% in 2000 to 0.69% in 2009 with no target for increased funding; and a rising school-leaving exam pass rate, resulting in an increasing numbers of students qualifying for university.”

Die prentjie wat geskets word, is dat daar eenvoudig te veel jongmense is wat tans met universiteitstoelating matriek slaag, maar wat dit nie kan bekostig om by ’n tradisionele universiteit te studeer nie. Jongmense wat uit veral arm agtergronde kom, sien ’n universiteitsgraad as die enigste manier om uit die greep van armoede te ontsnap. Hierdie jongmense word egter ontmoedig wanneer hulle nie die fooie kan bekostig nie, wat hulle dan noop om lenings te probeer kry. Die lenings dek meestal nie alle koste nie en sommige staak hul studies bloot omdat hulle nie meer die hoë koste kan dek nie. Die regering se studenteleningsfonds, die National Student Financial Aid Scheme (NSFAS) wat veronderstel is om arm studente by te staan, gaan tans gebuk onder erge finansiële druk as gevolg van wanadministrasie en die versuim van studente om lenings terug te betaal. Navorsing wat deur die NSFAS belê is, het onder andere die volgende skokkende syfers onthul: “An analysis of the NSFAS Annual Reports from 2011 to 2015 shows that the percentage of NSFAS debtors paying has dropped from 35% to 12%, resulting in a 61% drop in loan recoveries in this time. For NSFAS, student default is currently measured in respect to the number of NSFAS loans held by debtors who are no longer studying, but which are not being paid. Since 2011, the number of debtors has increased from 776 239 to 851 116 (2014), but the number paying has dropped from 275 429 to 100 419 in the same time. This represents a drop from 35% to 12%.”

BusinessTech berig verder op 25 Oktober 2015 in ’n artikel getiteld SA universities owed R4.1 billion, oor die enorme skuldlas waarmee baie universiteite alreeds sit. Volgens die Sunday Times-artikel wat hulle aanhaal, sou die aankondiging deur pres. Zuma dat daar geen klasgeldverhogings in 2016 gaan wees nie ’n verdere R3 biljoen gaping in universiteite se begrotings veroorsaak.

Akademiese agterstand

Baie kritiek is ook al uitgespreek oor die kolleges wat weggeval het en die gevoel onder baie kenners is dat daar weggedoen is met eersterangse technikons om plek te maak vir tweederangse universiteite.

Maar ’n ander faktor is die akademiese agterstand waarmee ’n groot gedeelte van die studentekorps by die universiteit aankom, wat dan ook veroorsaak dat hulle nie vorder nie en na ’n jaar of twee opskop.  Prof. Theodorus du Plessis skryf in sy artikel Ongelykhede in taal en onderwys – perspektiewe op moedertaalonderrig in Suid-Afrika, die volgende oor akademiese agterstande onder nuwe studente: “Hierdie krisis het te make met die onvoorstelbare onderprestasie op skool van Suid-Afrikaanse leerders. Volgens die Children’s Institute aan die Universiteit van Kaapstad se jongste Child Gauge-verslag (Volksblad het in 2015 ’n berig hieroor gedra), is die onderprestasie van veral swart skoolgangers so groot dat hulle teen die einde van die sekondêre skoolfase minstens vyf jaar agter hulle ‘bevoorregte’ eweknieë is. Ons praat dus hier van ’n soort sistemiese ongelykheid wat universiteite in werklikheid erf.”

’n Regeringsverslag wat onlangs vrygestel is, beweer dat soveel as 47.9% van studente nie hul graad voltooi nie. Hierdie studente sit dan met ’n geweldige bedrag skuld om af te betaal en geen wesenlike werksvooruitsig nie.

Dekolonisasie

Ten spyte van al die bogenoemde kopsere wat dringend aandag nodig het, is daar ’n algehele aanslag deur die regering, onder leiding van minister Blade Nzimande, asook verskeie rade, universiteitsbesture en studente drukgroepe om universiteitskampusse en kurrikulums te dekolonialiseer. In die Britse koerant The Guardian word die studentegroepe verantwoordelik vir die chaos en vandalisme op kampusse as volg beskryf: “This protesters include both students dependent on financial aid and those from the insurgent black middle class. Their intellectual inspiration comes from the anti-colonialism of Franz Fanon, the black consciousness of Steve Biko. Their focus is on a curriculum that they see as narrow and unreformed and on cultures and practices that position them as unwelcome outsiders in public universities in their own country.”

Volgens Nzimande moet Suid-Afrika se universiteite verander om Afrika-universiteite te word: “We want our universities to become African universities in a developing country that has a history of racist and gender based, class exploitation. These universities, all of them, must shed all the problematic features of their apartheid and colonial past.”

Wat hy hier bedoel, kan dalk beter verstaan word as daar gekyk word na die voorgestelde raamwerk vir kurrikulumverandering wat onlangs vanuit ’n werksgroep by die Universiteit van Pretoria ontstaan het. Die volgende aanhalings uit hierdie dokument is insiggewend.

Rakende epistemologiese diversiteit: “Excavating and recuperating African, Latin American and Asian knowledges and practices that have been devalued and marginalised and, in some cases, decimated and distorted by Eurocentrism and epistemic racism and sexism.”

“Diversifying epistemology means bringing marginalised groups, experiences, knowledges and worldviews emanating from Africa and the Global South to the centre of the curriculum. It involves challenging the hegemony of Western ideas and paradigms and foregrounding local and indigenous conceptions and narratives, …”

Wat hiermee bedoel word, is dat daar weggedoen moet word met die Westerse akademiese denkraamwerk en dat Afrika-akademie en ander alternatiewe denkraamwerke in plek daarvan gestel moet word.

Met betrekking tot die institusionele kultuur van die universiteit, moet die volgende aangespreek word volgens die werkgroep:

Accelerating transformation of academic staff through the hiring, support and promotion of black South Africans, women, disabled and gender non-conforming academics …”

Reviewing and redefining the identity of the university, including its dominant subjectivities, its historically entrenched narratives and ways of doing, …”

Dismantling institutional hierarchies …”

“Interrogating and reimagining spaces and symbols …”

Die volledige dokument kan hier in pdf-formaat verkry word.

Gevolgtrekking

Onlangs het ’n groep Namibiërs, waaronder verteenwoordigers van ’n privaatskool-netwerk, besoek afgelê by die Solidariteit Beweging. Die bogenoemde verwikkelinge rakende die universiteitswese is bespreek en een van die besoekers het grappenderwys opgemerk dat die tendens van Namibiërs wat in Suid-Afrika kom studeer dalk binnekort omgekeer gaan word (maar darem ook bygevoeg dat ons welkom is daar!). Hoe ver van die waarheid is hierdie opmerking? Frans Cronje het al by geleentheid gesê dat dit eintlik nie baie moeilik is om te voorspel wat die regering vooruit gaan doen nie, want hulle vir jou. Dis net gewoonlik goedgelowige mense wat hulle dikwels nie wil glo nie.

As die bogenoemde in ag geneem moet word, stuur ons staatsbedryfde universiteitswese op ’n ramp af. Die dryf om universiteite te Afrikaniseer, beteken dat enige sweempie van Westerse kultuur, waardes en taal (behalwe Engels) wat nog op enige kampus in Suid-Afrika vandag bestaan, afgebreek en omvorm moet word. Ten opsigte van Afrikaner of selfs Christelike kultuur of erfenis, is daar nie eers twyfel dat dit totaal verwyder moet word nie. Verder word die legitieme eise van arm studente gekaap vir politieke redes om die Afrikaniseringsagenda verder te dryf.

Dit voorspel ’n universiteitswese wat totaal anders is as enigiets wat nog ooit in Suid-Afrika gesien is en heel moontlik enige plek in die wêreld, want die feit van die saak is, daar bestaan tans geen ‘ware’ Afrika-universiteite nie.

Indien u belangstel in hierdie onderwerp, kan u gerus die konferensie bywoon wat deur die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies aangebied word. Die tema sal wees: ‘Universiteitswese, transformasie en dekolonisasie – Wat kan ons verwag?’.

Dit vind plaas op 8 September 2016 by De Kroon Kamer, Fort Schanskop op die Voortrekkermonumentterrein. Die konferensie is gratis, maar plek moet vooraf bespreek word deur ’n e-pos te stuur na [email protected] of te skakel na 012 301 1777. Sprekers wat gaan optree sluit in: Adv. Jan Heunis, prof. Fika van Rensburg, Willie Spies, prof. Pieter Duvenage en prof. Danie Goosen.

Vir meer inligting kliek hier.

 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.