Verlies aan plek

deur Roelf Peens

Verlies aan plek


Ps 103:16

“As die wind daaroor gaan is dit nie meer nie en sy plek ken hom nie meer nie”.

(1953 vertaling).

“….as die woestynwind daaroor waai is dit weg en sy plek vir altyd leeg”

(latere vertaling)

Daar is tans baie besprekings oor die rigtingloosheid van die Afrikaner. Van links en regs (polities), gelowig en ongelowig (kerklik-teologies), waardesisteme (filosofies) reg en verkeerd (juridies), gebreksindroom etc. (sielkundig of psigo-analities), skuldgevoelens (slapgatgeit) of wat ookal se eenvoudige verklaring, is dat die Afrikaner nie die verlies aan mag kan beheer nie en dat alles waarmee hy worstel, sukkel, verwerk, deelneem aan die nuwe struktuur, homself afsonder, of intieme debat of self waar hy oplossings soek (hetsy Orania, Kleinfontein, Boeremag, Radio Pretoria, Politieke Partye of die V.K.K) toegeskryf kan word aan die magsverliessindroom.

Sindroom is dan blykbaar iets wat nie definieerbaar is nie, maar verklaarbaar in terme van sekere eienskappe. Binne hierdie verwardheid, is daar tans ‘n lewendige debat aan die gang. Skrywer is nie ‘n plastiekoog, fudamentalis of kenner wat die ware diagnose, behandeling of prognose skoolmeesteragtig wil opdring of afdwing nie (laasgenoemde allermins omdat daar geen antwoord is nie). Miskien, en ten minste preliminêr, word hier ‘n fragmentariese blik op ons probleme, wat deur meer intellektueles uitgebrei kan word, belig.

Maar om terug te keer na Dawid, “… en sy plek ken hom nie meer nie”. Is dit nie meer ‘n geval van “hy ken sy plek nie meer nie”, want die plek het vreemd geword; nee – die plek bestaan nie meer nie.

Ter inleiding is verwys na die Leeu van Juda, maar ter aansluiting ook die temporêre; verwysing na Raka:

“Toe Koki ‘n sterk man was… hoe hy uitgedans het om in die swart woud te stry…”

Dan-verder “…en sy het gekla: wie hom nou sal red teen die groot dier wat wag, wié sal belet dat hy inkom en heers?”

Miskien, ter wille van die argument, moet verder aangehaal word;

“En stiller en sagter:

dat die skoonste gesterf het, dat die edelste wagter koud lê langs die vuur, en sy stam lê oop soos boukraal in die gras…”

“Plek” sou dan wees die fisiese ruimte, maar ook die nie-fisiese ruimte. By gebrek aan uitdrukkingsvermoë word die begrippe “ruimtelike oriëntasie”, “fisiese of geestelike domein”, nie gebruik nie, bloot ook omdat plek soveel duideliker uitspel van waar ons onsself bevind. Na die dood van Koki, het die stam verword en ken hy nie meer sy plek nie. Koki moet dan gesien word as begrip wat die ideaal van die groep omsluit en bestendig het. Dit het sekerheid gegee.

As ons dan kyk na ons eie landskap, kan ons net nostalgies terugkyk na die plek wat ons geken het. Veertig/vyftig jaar gelede was daar nog ongeveer ‘n 120 duisend boere aktief in die landbou. Die plaas was ‘n plek waar ‘n gemeenskap gelewe het. Die boer, met al sy attribute, die vrou met haar deugdelikhede, die kinders met hul geborgenheid en plig tot arbeidsaamheid en die arbeidsmag met sy lojaliteit en dislojaliteite, het saam die gemeenskap gevorm. Die plek waarop hulle bestaan het, het ook baie kenmerke gehad.

In die eerste plaas was dit ‘n veilige plek (of was dit in die eerste plek ‘n veilige plaas?). Ek onthou dat die motors onder die bome parkeer was en dat ‘n sleutel nooit uitgehaal is nie. Die huis was warm en gesellig, gesonde kos, wat meesal op die plek produseer is, is voorberei. Hoewel patriargale gesinne grootliks binne die Afrikanergemeenskap bestaan het, was vrye kommunikasie en debat ‘n kenmerk van die plaasgesin. Besprekings van sport, sake van die dag en verhale uit die geskiedenis was algemeen.

Maar hierdie gesin het deel uitgemaak van ‘n groter area en was deel van ‘n groter gemeenskap, gewoonlik geografies afgebaken en kenmerkend na verwys as die “Limburg area”, “Steilloop area” of wat ook al. So ‘n area het nogal, ook as gevolg van die geografie, sy eie kenmerke gehad en was gewoonlik ook ‘n kerkwyk op sy eie.

Die klein gemeenskap het homself ook georden in sy meelewendheid. So sou elke swart plaasvoorman bekend wees aan al die ander boere van die area. Dit sou alles meehelp om die plek te beveilig, maar ook om deur interaksie die plek aangenaam en geborge te maak. Hierdie klein gemeenskap het verder gesentreer rondom ‘n dorp. Daar was die kerk, skool, koshuis en ‘n koöperasie. Elkeen van die plekke het sy kenmerk gehad, maar die koshuis was waarskynlik die mees vormende. Hier is jy uit die geborgenheid van gesin met kennis van die area se kinders, blootgestel aan die groter gemeenskap van die distrik.

Gelukkig het onderwysers toe nog voogdyskap aanvaar – tot so ‘n mate dat jy verbied was om elke naweek huistoe te gaan. Sonder om te lank uit te brei; dit was ‘n fisiese ruimte wat tot die fisiese toegesien het, maar wat ook sy besondere speelplekke, hoekies, eetsale en studiesale gehad het, wat dit as leefplek gemaak het. Nie-fisies was dit ‘n plek van interaksie tussen mense – ’n gemeenskap – tot voorbereiding van ‘n groter gemeenskap van die grootmens wêreld.

Miskien moet mens ook hier na die kerk verwys. Nie die algemene apostoliese kerk nie, maar die Moederkerk waar ons gedoop en aangeneem is, of die Grootte kerk in Bosmanstraat of Oom Paul se kerk in Kerkstraat waar bekendes hulle name in die banke uitgekerf het. Vir my as koshuiskind, wat nie huis toe mog gaan nie en kerk toe moes gaan, het die moerderkerk na lyfpoeier, Mum en Scent geruik op ‘n Sondagoggend – amper soos die “frying chickens” vir die ou sanger. Feit bly – dit was ‘n plek en sou ‘n plek bly vir die volgende geslag wat weer nostalgie kon put as dit voortbestaan het. Helaas, dit bestaan nie meer nie en word nie eers besit deur dieselfde denominasie nie.

Dan was daar die stad – ’n ander plek. Die stad was nie ‘n plek waar die aardse interaksie soos op die platteland plaasgevind het nie en was daar nie die emosionele band tussen mens/groep en plek nie. Tog was dit gemeenskap en is stede deur die gemeenskappe gevorm tot kenmerk van daardie stad: Kaapstad was en is metropolitaans, Durban was en is Engels en Asiaties; Johannesburg was en is Engels.

Die aard van hierdie stede is so dat dit geen verskil maak vir iemand wat daar in of uit beweeg nie. Dit bly ‘n tydlose ruimtelikheid wat almal wat dit van tyd tot tyd besoek, akkommodeer, maar, behalwe dalk vir die natuurskoon, nie emosioneel bind ten einde soos Boplaas van Boerneef geslagte aanmekaar bind nie. Pretoria en Bloemfontein was Afrikaans. ‘n Mens onthou Pretoria as die Afrikaner stad. Die Universiteit was dié plek vir die Afrikaner jongmens – die ou kampus sentraal rondom die Ou Lettere en die Aula, maar ook die buitemuurse gebou in die middestad is plekke vol herinneringe.

Die middestad was lewendig en vibrerend met die Constantia klub ‘n stil baken waar Afrikaner saakmakers bymekaar gekom het en gepraat het oor ruimtelike orientasie. So was daar die Algemene Hospitaal wat later die HF Verwoerd Hospitaal was; almal plekke: fisiese plekke met fisiese kenmerke. Al hierdie plekke van die plaashuis tot die stad was egter ook, afgesien van die fisiese kenmerke, simbool en draer van geesteswaardes of hoër waardes of enige van daardie waardes waaroor mense deesdae monduitspoel. Hierdie sisteme is egter ook plekke wat voorsiening maak vir onder andere die geborgenheid van die mens. Kyk ons dan net kortliks na die groot G’s – gesin, gesag, geloof, godsdiens, grondgebied, sien ons dat elkeen ‘n plek is wat voorsien in sekere behoeftes. Hierdie plekke verteenwoordig, hoewel nie ‘n fisiese plek nie maar ‘n “geestelike domein”. Die vraag hier is ook of die plekke nog bestaan.

Die gesin, soos gekenmerk op die boereplaas bestaan nie meer nie. Dis gemeenplaas dat die materiële welvaart die struktuur van die gesin vernietig het en dat die ouer-kind verhouding of gekenmerk word deur of ‘n afsydigheid met finansiële afkoop van kinders deur ouers, of ‘n ongebalanseerde sieklike bemoeisieke betrokkenheid van ouers by kinders. Die normale normatiewe gesin is vandag amper die uitsondering; of word nie as normaal aanvaar nie.

Gesag as die normatiewe bindingsfaktor het insgelyks verdwyn en is vervang met sielkundige en ander teoretiese voorskrifte. Nie dat gesag nie deur tyd en plek verander word nie, maar deurdat dit verwerp en vervang is soos so baie ander dinge, is dit sy plek ontneem.

Geloof en godsdiens is nie sinonieme nie, maar beset min of meer dieselfde domein. Geloof bly daardie persoonlike belewenis van elke mens en het dus ‘n plek. Maar van die vaste onwankelbare geloof wat gegrond is op die onfeilbare sekerheid het min oorgebly. Die strominge val vas in óf die fundamentalisme óf die ateïsme, waar laasgenoemde in die huidige debat nie meer ‘n geloofskwessie is nie, maar ‘n godsdienstige stroming geword het.

Daarbenewens word die geskiedenis verwerp of verwring of ten minste so gediskrediteer dat dit sy plek nie meer vervul nie. Immers, die nou is tog net die dun lagie sement tussen die verlede en die toekoms. Hoe kan daar dan toekomstige rigting wees as daar nie ‘n verlede is nie?

Nou waaroor dan die bohaai, gekletsery of oppervlakkige bespreking van fenomene of die nostalgiese teruggryp?

Dit is net om te sê: “die plek ken hom nie meer nie”. Alles wat sekerheid verskaf het, bestaan nie meer nie. Die plaaslewe, die gemeenskapslewe en die plattelandse dorpe bestaan nie meer nie. Ongelukkig is hulle nie vernietig deur ‘n orkaan of aardbewing nie, maar is fisies nog daar vir ons om die verval te sien. Dit maak nie meer saak of jy jou in Makapaanstad of ‘n gehuggie êrens in Niger of Somalië bevind nie, die plekke lyk dieselfde en is vreemd.

Pretoria se middestad is ‘n rommelhoop en wie sou graag die naam Verwoerd aan die hospitaal wil koppel? Die Universiteit is nie meer ‘n plek nie, maar ‘n ruimte waar iemand die septer swaai op die graf van ‘n C.H. Rautenbach en Eddie Hamman.

Om watter rede sou mens dan wou veg vir die naam Pretoria vir ‘n plek wat nie meer bestaan nie? Die betoog is nie, en kan nie fundamentalisties wees om terug te keer nie. Die betoog is dat ons ons plek verloor het en daarmee saam, alles. Die plek kan nooit weer herstel word nie en daarmee saam nooit die produkte wat die plek opgelewer het nie. Miskien soos in ‘n chemiese oplossing sal nuwe kristalle vorm. Die probleem is egter dat ons nie inspraak het op die bestanddele nie en dus ook nie kan voorspel of bepaal hoe sodanige kristallisering moet plaasvind nie. Behoede ons egter daarvan om vanuit ‘n gevange wêreld met sy nostalgie of beleefde sekuriteit, voorskriftelik te wees van hoe die nuwe plek moet lyk.

Feit is: Ons het ons plek verloor en miskien is die Woord waar wat sê dat alle goeie dinge kom tot ‘n einde. Immers volgens geskrifte is daar heelwat beskawings wat bestaan het, maar wat ons niks van weet nie, behalwe dat hulle bestaan het, want die wind het oor hulle gegaan.

Dalk is die Woord reg: “… sy plek ken hom nie meer nie”.

Tags: , , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.