VOORWOORD: Argumente vir ’n eie Afrikaanse universiteit – Prof. Koos Malan

Prof. Koos Malan se voorwoord vir die verslag deur die FAK se NP van Wyk Louw-sentrum oor die argumente vir ’n eie Afrikaanse universiteit. Die verslag kan gratis in elektroniese formaat afgelaai word deur op die voorblad hierbo te kliek.


Universitêre Afrikaans gaan tans drasties agteruit. Dit is aan hoofsaaklik twee kragte te wyte. Die eerste is die homogeniserende beleid van die huidige regering, waarby staatsgedepartementaliseerde universiteitsowerhede geredelik ingeval het. Die produk is die soort van staatsuniversiteit, wat herhaaldelik in hierdie bundel ter sprake is – ’n staatsuniversiteit wat nouliks van ’n staatsdepartement onderskeibaar is. Die tweede is die sogenaamde globale universiteite, wat hulle losgemaak het van hulle gemeenskappe en gevolglik ook hul verbintenis met hulle eertydse plaaslike tale en taal- en kultuurgemeenskappe verbreek het. Suid-Afrika se staatsuniversiteite streef almal die status van globale universiteite na. Afrikaans en sy mense ly hier onder net soos talle ander tale en hulle gemeenskappe.

Die universiteitswese as sodanig – dit wil sê nie net in Suid-Afrika nie – is egter ook in die gedrang. Trouens, dit verkeer in ’n verdiepende krisis. Dit is nie slegs ’n probleem vir kleiner taalgemeenskappe soos die Afrikaanse taalgemeenskappe nie, maar vir alle gemeenskappe. Die krisis van die universiteitswese is ’n integrale deel van ’n algemene beskawingskrisis, meer bepaald die krisis van die Westers-Christelike beskawing.

Die Westers-Christelike beskawing verkeer in ’n krisis omdat hy sy verbintenis tot en waardering vir sy oerbronne – sy fontes pristini – verloor het. Daardie bronne behels die Christelike godsdienstige, die Griekse wysgerige en die Romeinse regstradisies soos wat dit veral deur die gemeenskappe van noordwes-Europa – soms vrywillig, soms gedwonge – ontvang is en in ’n enkele omvattende beskawing saamgevoeg, verfyn, gekoester en voortgesit is.

Die Westers-Christelike beskawing het oor eeue heen deurlopend uit hierdie oerbronne gegroei. Die beskawing het ’n duidelik onderskeibare samehangende geheel. Die Westers-Christelike beskawing is derhalwe nie ’n blindelingse sameskraping van bloot enigiets nie. Dit is nie ’n identiteitlose of karakterlose universaliteit van ’n ongedefinieerde alles en almal nie en dit behels nie ’n onbegrensde relatiwiteit nie. Dit onderskei hom van ander beskawings, en geskiedenisse. Dit het ’n eiesoortige sin vir die transendente. As besondere beskawing lê dit onderskeidings aan: tussen waardevol en waardeloos; waarheid en valsheid; goed en kwaad; mooi en lelik; sinvol en sinneloos; sin en onsin; geldig en ongeldig; verheffend en platvloers; groei en agteruitgang; prestasie en mislukking; beskaafd, verskillend beskaafd en onbeskaafd en dergelike ander.

In die lig hiervan is dit duidelik dat beskawing – in die onderhawige geval die Westers-Christelike beskawing – gepaard gaan met besonderse standaarde, maatstawwe en dissiplines. Dit kom oral tot uitdrukking, meer bepaald op die gebied van opvoeding en op sy mees uitnemende by die universiteit – by hoër opvoeding. Dit is by die universiteit waar beskawing deur geleerdheid herontdek, waardeer, verfyn, gekoester en oorgedra word.

Beskawing is breekbaar. As dit nie voortdurend opgepas, beoefen en oorgedra word nie, gaan dit verlore. Beskawing is egter nie geslote, finaal en klaargemaak nie. Beskawing is altyd iets wat voortgesit word, waaraan toegevoeg word en wat groei. Dit is dus nie ’n ideologie nie en ook nie ’n fundamentalisme nie.

Die eietydse globale universiteit, wat veral sedert die sestigerjare op die voorgrond verskyn het, staan daarvan aangekla dat hy sy verbintenis tot en waardering vir sy oerbronne verloor het. Dit wil nie meer die beste beliggaming van die beskawing, meer bepaald die Westers-Christelike beskawing, wees nie. In plaas daarvan om instellings van beskawingsontvangs,      -verfyning en -oordrag te wees, neig hulle sterk om tot blote kommunikeerders van kennis en tegniek te verword en raak hulle beskawings(ver)vreemd en beskawingsonverskillig. Dienooreenkomstig is die sentrale vraag vir hierdie globale universiteit bloot hoe kennis en tegniek mark-winsgewend bevorder kan word. Die vraag hoe beskawing via die universiteit beskawingsvormend te werk behoort te gaan, het op die agtergrond verskuif.

Die uitwerking hiervan is ook dat globale universiteite karakterloos geword het. Hulle neig toenemend om almal dieselfde te wees. Behalwe dat die globale universiteit nie meer in diens van beskawing wil staan nie, het hulle hul van hul besondere plaaslike kultuurgemeenskappe vervreem.

In Suid-Afrika het die universiteitswese boonop ook in ’n ander soort vaarwater beland. Dit behels die heftige aandrang op wat afwisselend die transformasie, afrikanisering en dekolonisering van die kurrikulum genoem word. Vir sover as wat daar hierin moontlik iets mag skuil van ’n aandrang dat die universiteite nie blote gesiglose globale universiteite moet wees nie, kan daar moontlik ’n element van verdienste hierin wees. Ongelukkig blyk hierdie aandrang oplaas egter meer ekstreem as dit te wees, veral omdat die aandrang basies niks in die plek van die globale universiteit aanbied nie. Inteendeel, die aandrang op transformasie/afrikanisering/dekolonisering blyk ten slotte op twee eise neer te kom wat ewe onvereenselwigbaar met die idee van die universiteit is. Die eerste is ’n aandrang op ’n volledige verstaatliking van die universiteit, naamlik dat die universiteite bloot onderdanige staatsdepartemente moet word, wat die huidige Suid-Afrikaanse regering se politiek van homogenisering moet afdwing. Die tweede eis is bloot nihilisties, want daar bestaan bykans niks wat voorgestel word om in die plek te kom van die gewraakte “koloniale” kurrikulum, wat verwyder moet word nie.

Die antwoord op ons universiteitskrisis, hier te lande en elders, is die gemeenskapsuniversiteit. In die geval van Afrikaners en Afrikaanstaliges is dit die Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit. Die behoefte aan ’n gemeenskapsuniversiteit is allermins net eie aan Afrikaanse mense en beperk tot die situasie in Suid-Afrika. Dit is soos uit die besprekings in hierdie publikasie blyk, ’n gemeenskaplike strewe van talle Westers-Christelike gemeenskappe in antwoord op die beskawingsvervreemde en die gemeenskapsvervreemde globale universiteit en die homogeniserende staatsuniversiteit. In die konteks van Suid-Afrika is dit bowendien ook die antwoord op die taal-homogenisering deur verengelsing, asook op die nihilisme wat onder die oppervlak van die transformasie-aandrang lê.

Die druk waaronder Afrikaans en sy gemeenskappe, meer bepaald ook op die gebied van die universiteitswese verkeer, plaas ons in verskeie opsigte ook in ’n gunstige posisie. Ons het nie die weelde om ons nadenke oor die universiteitswese (en oor onderwys in die algemeen) en ons dade uit te stel nie. Daarvoor is die krisis van die Afrikaanse universiteitswese net te groot. Maar tegelyk kan ons ook met talle ander gemeenskappe ook in Europa en Amerika saamwerk, wat reeds enorme werk gedoen het, om florerende gemeenskapsuniversiteite binne die Westers-Christelike tradisie tot stand te bring. Ons staan dus soos wat etlike van die bydraes in hierdie bundel aantoon, nie alleen nie. Inteendeel, ons is deel van ’n omvattende projek vir die gemeenskapsuniversiteite binne die raamwerk van die Westers-Christelike tradisie, waarvan die tans ontkiemende Afrikaanse universiteit deel sal wees.

Dit is ook, onder andere, langs die weg van die Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit, wat Afrikaners volwaardig ons plek saam met ander gemeenskappe wêreldwyd kan inneem as deel van die Westers-Christelike beskawing en as een van die totaliteit van gemeenskappe.

Te midde van die huidige ywer om ’n Afrikaanse universiteit te vestig, lewer hierdie publikasie van die NP van Wyk Louw-sentrum ’n bydrae daartoe.

 

Prof. Koos Malan

Departement Publiekreg

Universiteit van Pretoria

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.