Waar kruip jy weg, Afrikanervrou?

deur Jahni Cowley 

Waar kruip jy weg, Afrikanervrou


Ek was gelukkig vandag. Ek het ’n kans gekry wat min ander vroue van my generasie het, en dis om op reis te gaan saam met iemand uit ’n ander era, en gevoel asof dit my eie verhaal was wat oorgedra word. ’n Vrou wat nie bang was om nie polities korrek te wees in ’n tyd waar korrektheid ’n makliker lewe beteken het nie. Dis interessant hoe die geskiedenis hom herhaal.

Ek ag myself ’n moderne, Afrikaanse vrou. Ek is gelukkig om in ’n beroep te staan binne-in ’n roepingsgedrewe organisasie, wat die uitlewing van my persoonlike waardes maklik maak. Ek maak my kinders alleen groot, wat sekerlik steeds ietwat boheems geag word, maar ek glo ook dat verveling die doodskoot van kreatiwiteit is, en ’n lewe sonder kreatiwiteit is niks minder as die dood nie.

Ek wonder soms of ons min is, en of ons net nie van mekaar weet nie. Sterk, eiesinnige vroue wat so op hulle eie manier die wêreld verander. Destyds was dit een basaar op ’n slag, vandag slaan ons slae in professionele beroepe terwyl ons ons kinders grootmaak (dikwels alleen), en die balans tussen respek en tradisie aan die een kant, en ’n gesonde nuuskierigheid en selfhandhawendheid aan die ander kant, met hulle probeer vind. Dis nie maklik nie, maar die leeuetaak rus op ons, meer as op ons mans.

Ons kan stry, maar die lewe, veral die werkslewe, is steeds meer om die lewensbeskouing van ’n man gebou, as dié van ’n vrou. Die verantwoordelikheid wat ’n vrou dra om die huislike pligte soos kinders versorg, is selfs steeds in 2015 meer as ’n man s’n, en steeds in 2015 nie goed vir ’n vrou se loopbaan nie. Dis hartseer, veral in ag genome dat daar steeds mans EN vroue is wat glo ’n vrou se “hoogste roeping” is om vrou en ma te wees. Dit laat ons boheemses effens in die koue, en dis interessant hoe M.E.R. in die 1920’s reeds standpunt daarteen ingeneem het: In kritiek teen ’n kerklike standpunt oor die roeping van die vrou, het sy gesê: “… om ’n vrou te wees, is maar ’n lewensomstandigheid. Enige mens streef na iets hoër as homself, en dit is ons hoogste roeping.” In die tyd toe die redakteur van die Huisgenoot (inderdaad heer C.J. Langenhoven) hom skerp uitgespreek het teen die toelating van vroue tot die regsberoep (vroue is dan emosionele wesens wat slegs emosionele besluite kan maak), het dit ware durf gevat vir ’n vrou om haar hak in te slaan en nee te sê.

Ek wonder wat sou M.E.R. en die ander vroue van haar generasie van ons gedink het? Ek neem aan die gejaag na wind in ons, soms doellose, gejaagde lewe sou hulle waarskynlik tegelykertyd gefassineer en met afgryse vervul het. Die feit dat ons mag kies wat ons wil word, dat ons mag voldoen aan ons eie soeke na selfverwesenliking, dat ons mag word wat ONS wil word, is ’n voorreg wat hulle nie beskore was nie. Ons mag in enige rigting studeer, ons mag stem. Hulle het nie dieselfde gehad nie, en was dit nie vir hulle nie, sou ons dit ook nie gehad het nie. En wat presies doen ons daarmee?

Dit bring my by my bekommernis: Wat doen ons met hierdie voorregte wat nou ons regte is? Waar is jy, Afrikanervrou? Ek sien jou nie dien op maatskappyrade nie. Ek hoor nie jou stem in raadsale nie. Ek sien jou nie op die nuus nie, ek hoor jou nie in die parlement nie. Waar is jy?

Is jy so besig om te sorg dat jy die nuutste grimeertegnieke bemeester, en jou plekkie sorgvuldig agter jou man in te neem dat jy vergeet het wat in jou murg aangaan? Het jy vergeet dat duisende van JOU voorsate opgeruk het na die Uniegebou om petisie aan te teken teen die aanhouding van ’n onskuldige man? Het jy jou oumagrootjies vergeet wat deur middel van die Handhawers gesorg het dat Afrikaans sy plek as algemene gebruikstaal inneem? Wie het jou rol gereduseer tot byspeler, terwyl jy gebore is om die kollig op jou te hê?

Ek kan dink jy is effe verward. Jy pas nie in die polities korrekte skool van feminisme in nie, jou Afrikanerskap maak jou “voorheen bevoorreg”, ten spyte van die feit dat jy ook ’n geskiedenis van verdrukking en lyding het. Jou oumagrootjies moes hulle kinders in konsentrasiekampe aan die lewe probeer hou. Jy mag ook nie gestem het nie. Jy het, nes enige ander vrou in die geskiedenis van die mensdom, bitter min seggenskap oor jouself en jou lewe gehad. Die huidige politiese klimaat moet vir jou ook baie ongemaklik voel, nes dit vir my soms ongemaklik is: Jy word, ten spyte van jou vrou wees, steeds gemeet aan jou velkleur, en in ’n polities korrekte “voorheen bevoordeelde” boksie geplaas. Daar is skielik grade van geslag en ras, en die maklikste is om alles te ignoreer, en in jou Fortuner jou kindertjies by jou estate se kleuterskool te gaan aflaai, voordat jy by jou Crossfit-klas aansluit. Baklei is jou nie beskore nie, glo jy. En so mis jy ook jou kans om regtig te doen, regtig ’n verskil te maak.

Ek verstaan dat daar baie Afrikaanse vroue is wat ’n wesenlike probleem met die negatiewe konnotasie van die radikale feministiese beweging het. Ons is lief vir ons mans en ons is ook Christene, en ons glo dit beteken ons moet met hoof gebuig, twee tree agter loop. Dis nie waar nie. Dis ’n leuen wat ons onsself wysmaak sodat ons nie ons regmatige plek aan die voorpunt hoef in te neem nie. Ons het ’n veilige, gerieflike wegkruipplekkie gekry, maar ons mis ook dan die punt: Ons opstaan vir onsself en ons susters beteken nie radikaliteit nie, dis die gevolg van logika en respek vir onsself. Wat leer jy jou dogtertjies, Afrikanervrou? Hoe leer jy jou seuntjies vroue hanteer?

Ons geskiedenis het verhale wat vertel moet word. Stories oor vroue wat dinge vermag het onder omstandighede wat ons ons nie kan voorstel nie. Oorlewingsverhale, maar ook verhale van triomf en sukses. Die goue draad is iemand wat na vore tree, en haar plek volstaan. Dit maak nie saak hoe die houe val nie, die stryd moet gestry word. Die ongemaklike sake moet aangeroer word en die ongemaklike gesprekke moet plaasvind.

Waar is jou “kaalvoet oor die Drakensberge”-geveg vandag? Daardie vroue se bloed druis ook deur jou are, en dit maak dat jy wil DOEN. Nie vra nie, nie smeek nie, doen. Bou aan ons land, sodat ons iets vir ons kinders kan nalaat.

Ek was meer bevoorreg as gelukkig vandag. Ek verstaan nou dat die lesse wat ons uit geskiedenis leer, ons gaan help om weer op te staan, en weer ons regmatige plek in te neem, en ek gaan nie stilbly totdat dit gebeur het nie.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.