Wat laat ons na? – Christoff van Wyk

np-van-wyk-louw-nageslagte


Prof. Flip Smit, eertydse rektor van Tukkies en bekende navorser oor demografiese neigings het een keer geskryf: “Demografie is die toekoms wat reeds gebeur het en kan noodlotsbepalend wees.”

Om teen getalle te stry, is sinneloos. Persentasies en syfers oor demografie kan nie gemanipuleer word na willekeur om ’n spesifieke verwagting of uitkoms te forseer nie.

Maar, getalle vertel nie altyd die volle prentjie nie. Die kultuur van ’n gemeenskap is van wesenlike belang vir die voortbestaan van ’n land en sy mense, en in hierdie verband behoort die verskillende gemeenskappe wat die geheel van die Suid-Afrikaanse samelewing opmaak, onsself ’n paar indringende vrae te vra.

Statistiek SA het in 2015 bevind dat van die 16.5 miljoen kinders in Suid-Afrika wat onder 15 jaar oud is, slegs ongeveer 35%, oftewel ’n derde van die ouderdomsgroep, saam met beide hul ouers bly.

Marriages and divorces 2014 (StatsSA) het bevind dat daar 150 852 huwelike in 2014 gesluit is, maar dat daar in dieselfde tydperk 24 689 egskeidings gedokumenteer is. Meer as die helfte van die paartjies wat geskei is, het kinders gehad wat onder 18 jaar oud is. Suid-Afrikaanse statistiek met betrekking tot huwelike wys dat ons min of meer die wêreldtendens navolg waar  huwelike oor die algemeen afneem en mense eerder saambly sonder om te trou. Navorsing het egter getoon dat kinders by verre meer stabiliteit ervaar binne ’n gelukkige huwelik as binne ’n gelukkige saamblyverhouding.

In ’n ander verslag deur Statistiek SA wat in Julie 2016 bekendgestel is, toon navorsing dat daar meer as 279 000 huishoudings in Suid-Afrika is waar kinders, tussen die ouderdom van 10 en 19, die hoof van die huishouding uitmaak. Hierdie tipe huishoudings het sedert 2011 met 50 000 toegeneem. Met ’n gemiddelde aantal persone per huishouding van 3.3, beteken dit dat daar ongeveer ’n miljoen mense in Suid-Afrika bly in huishoudings waar kinders aan die hoof van daardie huishouding staan.

Daar word ook vermeld dat 2.4 miljoen kinders aangedui het dat hul een of beide ouers verloor het as gevolg van vigs. Na raming was daar in 2013 reeds 360 000 kinders tussen die ouderdomme van 0–14 wat vigs gehad het. Suid-Afrika is een van die lande in die wêreld met die hoogste voorkoms van HIV-besmetting met meer as 7 miljoen mense wat die virus onder lede het.

Ander statistiek rakende geweld teenoor kinders vertel ’n ewe droewige verhaal. Die Optimus Studie wat in Mei 2016 uitgereik is in samewerking met die Universiteit van Kaapstad het bevind dat 784 967 kinders tussen die ouderdomme van 15–17 al een of ander vorm van seksuele mishandeling ervaar het. Dit vergelyk rofweg met die getal inwoners van Port Elizabeth.

Die volgende aanhaling uit die verslag is werklik tekenend met betrekking tot die situasie in Suid-Afrika: “While levels of interpersonal violence have always been alarmingly high, the ongoing and pervasive abuse and exploitation of children and youth by people they know and who care for, educate and are trusted by them, is most disturbing, even within this complex socio-political context.”

Die bogenoemde syfers en statistiek skep voorwaar ’n donker prentjie van ’n groot gedeelte van die opkomende geslag. Jongmense wat siek, verwaarloos en gebroke is. ’n Groep jongmense wat net verwerping ken en geen hoop op enige vooruitsig vir ’n beter toekoms het nie.

Hoe gaan ons samelewing lyk oor 20 of 40 jaar wanneer hierdie geslag ons ouers, onderwysers, gemeenskapsleiers en politici gaan opmaak? Gaan dieselfde patrone wat nou aanwesig is, weer herhaal word? Hoe word hierdie probleme aangespreek?

Een van die grootste faktore wat bydra tot hierdie skokkende situasie, is die afwesigheid van morele leierskap. Die jongmense wat hierbo na verwys word, het geen rolmodelle om na op te kyk nie. Afwesige ouers, swak onderwysers, oneerlike en korrupte politici en ’n privaat sektor wat te gewillig is om die knie te buig voor ’n staat wat reeds lankal hul morele kompas verloor het (indien hul dit enigsins besit het).

Tradisioneel sou die kerklike gemeenskap die leiding gee, maar die Kerk is in die afgelope eeu totaal gestroop van haar rol as bedienaar van barmhartigheid en rigtinggewende krag  rakende morele kwessies is. Hierdie funksies is totaal aan die staat oorgelaat en in Suid-Afrika se geval het ons staat ons klaaglik misluk. Indien die huidige trajek van ons staat se werkswyse enige aanduiding is, kan ons bittermin verwag in terme van oplossings vir ons toekoms.

Is ons besig om die volgende nageslag toe te rus vir die toekoms wat voorlê? Is ons besig om ’n kultuur te skep waar hoë ideale seëvier en waar daar gewerk word in die gemeenskaplike belang? Of, is ons te besig om net elkeen vir homself te sorg en basta met die res?

Die dagvaarding van die minister van finansies, Pravin Gordhan, het blykbaar ’n senuwee getref onder besigheidsleiers. Soveel so dat daar nou ’n veldtog ontstaan het onder uitvoerende hoofde en sakeleiers om ’n ‘belofte’ te onderteken waarin hul hulself verbind daartoe om “… die regte ding te doen, te staan by dit wat korrek is en dit te verwerp wat verkeerd is.”

Die stelling wat woorde bevat soos ‘regte ding’, ‘dit wat korrek is’ en ‘verwerp wat verkeerd is’, herinner sterk aan Thomas Aquinas se eerste natuurwet. Prof. Danie Goosen beskryf hierdie gedeelte in sy boek Oor gemeenskap en plek as volg: “In die tweede deel van sy Summa Theologiae en spesifiek in Vraag 94 skryf Aquinas dat die wese van die natuurwet opgesluit lê in sy eerste en belangrikste wet. Laasgenoemde lui kortweg dat “die goeie gedoen en nagestrewe en die kwade vermy moet word.”

Maar, hierdie stelling moet gekwalifiseer word, want vir ’n bendeleier beteken die goeie om meer geld te maak uit afpersing en onwettighede, en die kwade wat vermy moet word ’n skuldigbevinding in ’n hof en tronkstraf.

Volgens Aquinas kom die strewe na die goeie in die tweede plek tot uitdrukking in dit wat die mens met alle ander lewende wesens deel, naamlik die strewe na gemeenskap in al sy gedaantes, wat insluit die gesin, opvoeding, sorg, ens. Hier val die bendeleier uit.

Dit stop egter nie hier nie. Goosen skryf verder oor ’n nog hoër natuurwet wat Aquinas identifiseer: “Die strewe na die goeie kom in die derde plek tot uitdrukking in, soos Aquinas dit stel, die ‘natuurlike neiging (van die rede) om die waarheid omtrent God te ken en tot ’n lewe in gemeenskap (nou met die geheel van die wat is en in die besonder met God self)’ te tree.”

Die tyd om op te staan vir ’n nuwe kultuur waarin daar waarde geheg word aan dit wat goed en reg is tot die opbou en voordeel van die hele gemeenskap en tot verheerliking van God, is nou. Getalle is dalk teen ons, maar soos Gideon van ouds kan ons in geloof hierdie taak aanpak met die wete dat oorwinning reeds in Hom behaal is.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.