Wat vandag verlore gaan, kan nie môre gered word nie! – Estelle Pretorius

Hierdie slagspreuk van die Erfenisstigting is baie wyd en geld beslis nie net vir ons kultuurerfenis nie.  Tog is dit gelaai en omarm dit alle vorme van ons erfenis – ons tasbare roerende erfenis soos kunsskatte, kultuurhistories-belangrike voorwerpe, ons argiewe en biblioteke; die nie-roerende tasbare erfenis soos ons monumente, historiese geboue en grafte asook ons nie-tasbare erfenis soos ons taal, musiek, danse en tradisies.

ʼn Landswye, groeiende behoefte aan die bewaring van ons tasbare erfenis soos monumente en historiese begraafplase het tot die totstandkoming van die Erfenisstigting (ES) gelei. Die ES is op 13 September 2002 as ‘n Artikel 21-maatskappy sonder winsmotief geregistreer, om te help omsien na bedreigde erfenisgoedere. Die volgende kultuurorganisasies was stigterslede van die ES: Die Afrikanerbond, die Voortrekkers, Solidariteit, asook die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge, die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging, Vriende van Afrikaans en die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie. Die Direksie is van mening dat die verwaarlosing, vernietiging of negering van erfenishulpbronne nie toegelaat kan word nie en dat die toekoms van ons kulturele besit nie onderhandelbaar is nie.

WAAROM IS DIE BEWARING VAN KULTUURHISTORIESE ERFENIS SO BELANGRIK?

In 1999 het die SA Erfenisbewaringswet, die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne verskyn.  Dit is volgens internasionale standaarde klaarblyklik ‘n baie goeie, deeglike wet en ek haal graag die aanhef aan:

“Hierdie wetgewing is daarop gemik om die goeie bestuur van die nasionale besit te bevorder, en om gemeenskappe in staat te stel en hulle aan te moedig om hulle erfenis te koester en te bewaar sodat dit aan toekomstige geslagte nagelaat kan word.  Ons erfenis is uniek en kosbaar en kan nie hernu word nie.  Dit help ons om ons kulturele identiteit te definieer en vorm dus die grondslag van ons geestelike welsyn en het die krag om nasie te bou.  Dit het die potensiaal om ons uiteenlopende kulture te bevestig en daardeur ons nasionale karakter te vorm.

Ons erfenis gedenk ons prestasies en dra daartoe by om onbillikhede van die verlede reg te stel.  Dit voed op, dit verdiep ons begrip van die samelewing en moedig ons aan om empatie te toon vir die ervarings van andere.  Dit fasiliteer genesing en materiële en simboliese herstel en dit bevorder nuwe en voorheen verwaarloosde navorsing oor ons ryk mondelinge tradisies en gebruike”.

Die ES se unieke kombinasie van vaardighede, ervaring, vennootskappe en fasiliteite posisioneer ons uitstekend om verskeie fasette van impakstudies, argivale navorsing en verbandhoudende projekte te hanteer. Deur middel van ons eie argief- en biblioteekdiens het ons toegang tot navorsingsfasiliteite reg oor die wêreld. Die ES het kliënte in beide die openbare- en privaatsektor, asook verskeie nie-regeringsorganisasies.  Die personeel is opgeleide vakkundiges wat insluit argivarisse, biblioteekkundiges, argeoloë, antropoloë, museumkundiges, taalkundiges en kultuurhistorici.  Me Cecilia Kruger wat haar, saam met ander vakkundiges vir die totstandkoming van so ‘n organisasie beywer het, is sedert 2016 die Besturende Direkteur.

Die Erfenissentrum

Een van die doelstellings van die Erfenisstigting was die oprig van ‘n sentrum wat ‘n uitstalling oor die Afrikaner sou bevat, asook ‘n argief, biblioteek, boekwinkel en kantoorruimtes. Op 5 September 2008 is dié Erfenissentrum op die terrein van die Voortrekkermonument geopen.  Die uitstalling Afrikaners in die 20ste eeu: baanbrekers, bakens en brûe – ‘poskaartflitse’ uit die geskiedenis, is op die boonste vlak geleë. Die uitstalling poog om ‘n objektiewe en geloofwaardige blik te gee van die Afrikaner se rol en bydrae tot Suid-Afrika gedurende die 20ste eeu.  Die biblioteek en leeskamer is op die middelvlak geleë en oop vir die publiek, terwyl die argief op die grondvlak geleë is. Fase 2 van die Erfenissentrum is op 27 November 2014 geopen. ‘n Groot argiefruimte, kantore en konferensiefasiliteite is aangebou.  Die argief huisves versamelings van organisasies soos die ATKV, FAK en die AB en is sedert 2017 vergroot om ook die NH Kerk se argief te huisves.

Terreine

Die Erfenisstigting het eienaarskap van die volgende terreine bekom:

2002Kerkenberg-terrein, Oos-Vrystaat
2003Danie Therongedenksuil, Gatsrand, Fochville
2004Bloukransmonumentterrein, Estcourt, KZN
2007Mahikeng Konsentrasiekampbegraafplase
2012Karel Landmanmonument, Alexandria, Oos-Kaap
2012Ossewabrandwag se Ere-akker, Centurion
2012Kroonstad Konsentrasiekampbegraafplaas

Die Erfenisstigting is ook betrokke by die bewaring van die volgende terreine:

Vanaf 2002Bloedrivier-erfenisterrein, KZN saam met die VTM
Vanaf 2005Doornbult Konsentrasiekampterrein, Noord-Kaap
Vanaf 2008Louis Trichardtgedenktuin, Maputo
Vanaf 2011Boekenhoutfontein Erfenisterrein, Rustenburg
Vanaf 2011O’Neill’s Kothuis, Majuba

Projekte

Die verskuiwing (2013) van die Andries-Pretoriusbeeld van die hoogs bedreigde standplaas net noord van Graaff-Reinet na ‘n nuwe, beveiligde posisie in die Camdeboo Nasionale Park, ongeveer 1 km verder noord en steeds sigbaar vanaf die Graaff-Reinet-Middelburghoofpad.

Verskeie diverse projekte wat die restourasie van historiese huise, monumente en grafte, asook die skuif van openbare beeldhouwerke ingevolge die Erfeniswet, insluit, is suksesvol hanteer.

Bykans 40 Anglo-Boereoorlogterreine is tussen 2011 en 2014 gerestoureer en in stand gehou ingevolge ‘n samewerkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap.  Die ES het sedert 2007 verskeie sensitiewe aangeleenthede rondom die opgrawe van menslike oorskot, verskuif van grafte en oorskot, asook navorsing in dié verband gefasiliteer en hanteer.

Bykans 40 Anglo-Boereoorlogterreine is tussen 2011 en 2014 gerestoureer en in stand gehou ingevolge ‘n samewerkingsooreenkoms met die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap.  Die ES het sedert 2007 verskeie sensitiewe aangeleenthede rondom die opgrawe van menslike oorskot, verskuif van grafte en oorskot, asook navorsing in dié verband gefasiliteer en hanteer.

O’Neill’s se kothuis voor en na restourasie. Die huisie is aan die voet van Amajuba, ongeveer 12 km suid van Volksrust. Die vredesonderhandelinge na die Eerste Anglo-Boereoorlog (1880-1881) het hier plaasgevind. In 2011 is die bewaringsbestuur van die terrein deur die Erfenisstigting oorgeneem en in 2013 is die huis en buitegebou deur die ES gerestoureer. Die plaaslike Rapportryerskorps het finansieel tot die projek help bydra. Daar is ook ‘n klein museumuitstalling. Die huisie word versorg deur die plaaseienaars en ‘n opsigter, en kan deur die publiek besoek word.

 

Erfenishulpbronbestuur

Op grond van ‘n toename in aanvraag vir ons dienste en kundigheid het dit vir ons noodsaaklik geword om ons vermoëns uit te brei om erfenishulpbronbestuur in te sluit. Kundigheid, opleiding en ervaring is verpak en word tans aan verskillende kliënte beskikbaar gestel.  Bedrewe navorsers stel projekverslae op, gebaseer op argief- en akte-navorsing vir o.a. ontwikkelaars en die mynbedryf.  Erfenisimpakstudies word ook in die verband gedoen, terwyl die museumkundiges met skakeling, projekbeplanning en museumuitstallings behulpsaam is.

Skoonmaak van beelde

Die Erfenisstigting was in 2015 ook bedrywig met die skoonmaak van beelde wat deur ʼn vlaag vandalisme geskend is. Dit sluit in die Paul Kruger-standbeeld op Kerkplein, Pretoria en die M.W. Pretorius-standbeeld in Pretoria asook die J.G. Strijdom- en Paul Kruger-standbeelde in Krugersdorp ( sien foto van  Kruger-standbeeld onder).

Die Erfenisstigting word byna daagliks oorval deur klagtes oor die verwaarlosing van erfenisgoedere. Omdat die nodige fondse nie altyd beskikbaar is nie, is dit soms moeilik om finansieel by te dra, maar met raad en daad staan die personeel van die Errfenisstigting nie terug nie!

Sedert 2017 is daar verskeie komitees op die platteland tot stand gebring wat die ES as voertuig gebruik om hulle van hulle erfenis in hulle eie omgewing bewus te maak.  Komitees bestaan tipies uit plaaslike toerisme- en sake-kamers en belangstellende individue.  Kultuurorganisasies het dikwels ook takke  in die gemeenskappe en lede vorm ook dikwels deel van die komitees.

 

Na 20 jaar in die bewaringswêreld het die ES ‘n paar lesse geleer:

  • elke kultuurgroep is vir die bewaring van sy eie erfenis verantwoordelik – niemand anders gaan dit namens jou bewaar nie;
  • Erfenisbewaring kan nie in isolasie deur enkele organisasies gedoen word nie – dit verg spanwerk;
  • Ego’s en emosies kan nie in die pad van die groter saak staan nie!

Estelle Pretorius

Senior Bestuurder Navorsing en inligtingsdiens – Die Erfenisstigting

Comments are closed.