Wenland toekoms is moontlik vir Suid-Afrika

’n Wye kommer is landswyd besig om pos te vat oor die vermoë van die ANC-leierskap om die land te bestuur. Die tekens van swak staatsbestuur is orals te sien, met die gevolglike verval van groot dele van die staat wat die land se toekoms kan laat verbrokkel as dit nie dringend omgekeer word nie. Daar is ongelukkig nie veel bemoedigende tekens dat die ANC leierskap die krisis besef en doeltreffend daarop reageer nie. Inteendeel- die tekens is veel eerder dat die ANC-leierskap die party se beheer nog verder wil versterk om ontevredenes te beveg eerder as om die probleme op te los. Dink maar net aan die geluide oor die Regbank, die Media, veranderings aan die Grondwet, en die verskuiwing van mag vanaf die Parlement na Luthuli-huis. Afrikaners en Afrikaanssprekendes kla ook met reg oor die afskaling van hulle taal en die verwaarlosing en selfs aftakeling van hulle kulturele erfenis.

Dit is nou duidelik dat die ANC nie alleen alles in die land kan regeer nie, en dat die voorwaardes vir die voortbestaan van taal- en kultuurgroepe nie met gerustheid aan hulle oorgelaat kan word nie. In hierdie klimaat van ’n geregverdigde kommer oor die toekoms, is dit noodsaaklik dat daar ’n nuwe nasionale dialoog aan die gang kom om oor die knelpunte te praat en gesamentlike oplossings in werking te stel.

 

Vrugteloos

Die probleem is dat die jarelange gesprekke tussen die ANC en Afrikaner- of Afrikaanse groepe tot sover almal vrugteloos was. Ja, daar was vriendelik en opbouend gepraat, met wedersydse begrip, instemming en selfs belangrike ooreenkomste, maar sonder een wesenlike vaste uitkoms. Beloftes gemaak en ondernemings gegee is net na die hartlike vergaderings totaal vergeet. Later het die meeste van hierdie gesprekke met die ANC se verkiesingsveldtogte begin saamval, en ontwikkel in verduidelikings van ANC beleid met die doel om politieke steun te probeer werf. Die gesprekke het mettertyd so oppervlakkig en sinloos geword, dat niemand dit later meer ernstig opgeneem het nie- nie die ANC óf Afrikaanse organisasies nie. Niemand het dit regtig meer aangevra nie, en die ANC het dit ook nie meer aangebied nie.

 

Uitsluiting en oorheersing

Intussen is Internasionale Politieke Wetenskaplikes soos Donald Horowitz en Charles Taylor se waarskuwings bewaarheid dat gewone demokrasieë in multi-etniese lande gewoonlik lei tot die strukturele oorheersing en demokratiese uitsluiting van minderhede. Die ANC se magsposisie het so oorheersend geword dat hulle die staat en samelewing op alle vlakke beheer het. Ons is steeds demokraties, maar al minder vry. Die ANC het partybeheer (“Hegenomie”) oor die samelewing gevestig met strategieë soos kaderontplooing, magsentralisering, die staatsideologie van transformasie, koöptering van onafhanklike magsentrums en die ontmagtiging van belangrike Artikel 9 instellings soos die Openbare beskermer, die Ouditeur generaal, die doodgebore Pan Suid-Afrikaanse Taalraad en die Kommissie vir Persone wat aan taal-, kulturele-, of Godsdienstige groepe behoort.

Die waarskuwings van welmenende Politieke Wetenskaplikes soos Professor Pierre du Toit van Stellenbosch dat alles in die land nie uitgewerk het soos beplan is nie en dat ’n nasionale gesprek nodig is wat moet uitloop op ’n Opvolgskikking, is deur die ANC afgewys.

 

Sterk boodskap

Dit het ongelukkig dadelik geblyk dat die nuutste uitnodiging tot gesprek met die ANC maar weer dieselfde patroon as die voriges volg- met al die ingeboude foute wat dit laat misluk het- welmenende fasiliteerders ten spyt. Dit was weer ’n eensydige ANC-beheerde proses. Geen besonderhede word verskaf, geen vooraf gesprekke, geen raadpleging oor die Agenda of die proses, met ’n opsigtelike partypolitieke agenda deurdat ons genooi word deur ’n ANC bemarkingsafdeling.

’n Flou ontkenning volg op Rapport se onthulling dat die ANC se doel van die byeenkoms is om agter geslote deure ’n strategie te ontwikkel om steun vir die party te werf soos beplan in die ANC se eie dokumente. In hierdie voorbladberig lees ons dat die beplanningsproses waarby ons op net meer as ’n week se kennisgewing betrek word, al 6 maande aan die gang is, en kry ons so vir die eerste keer meer besonderhede deur die media. Ons is nie amateurs in dié soort ding nie- dis nie aanvaarbaar nie en het ons laat besluit om ’n sterk boodskap uit te stuur dat ons nie gaan deelneem aan nog ’n ANC beeldbou aksie nie. Suid-Afrika, Afrikaners en die Afrikaanse gemeenskap se toekoms is té belangrik en kan nie ’n herhaling van die vorige mislukkings bekostig nie. Gelukkig het baie van die organisasies wat die gesprek bygewoon het hulle saak sterk gestel. Maar ’n opregte dialoog wat uitloop op vaste ooreenkomste oor brandpunte is steeds in landsbelang.

ANC-koöpteringsproses

Die uitkoms van die gesprek het ons vermoede bevestig dat die ANC weer met ’n koöpteringsproses besig is. Die doel van die “inklusiewe struktuur in die ANC Sekretaris-Generaal se kantoor” is nie ’n inklusiewe Suid-Afrika nie, maar ’n inklusiewe ANC. So ’n “inklusiewe struktuur” onder die ANC se partyhoof sal ’n verdere terugslag vir vryheid en demokrasie wees, omdat dit deel van die ANC en op hulle terme en voorwaardes sal wees met ander groepe as ondergeskikte deelnemers. Die mag sal verder sentraliseer word, en vinniger verskuif vanaf die Parlement na Luthuli-huis. Nie eers mnr. Lucas Mangope of eerwaarde Allan Hendricks sou in die ou tyd met so min tevrede wees nie!

Die ANC het nog altyd gegroei deur koöptering eerder as samewerking. Die inlywing van die NNP het die ANC egter met die lyk sonder die boedel gelaat: die leiers sonder hulle ondersteuners wat eerder DA gestem het. Daarom misbruik die ANC nou sy oorheersende magsposisie en regeringsmag om Afrikaanse organisasies te probeer aanlok met die wortel van moontlike inspraak in die party se beleidsformulering. Let wel, nie in die regering nie, maar in die party. Die gevaar hiervan is dat dit die land se groot probleem kan versterk: die oorheersing van die ANC. Die strategie is opsigtelik daarop gemik om die DA teen te werk- veral in die Weskaap waar die ANC meer Afrikaanse bruin steun nodig het en in die Noordkaap waar die ANC die bruin steun wil behou. Dit sal die land verder op die afdraandepad van demokrasie sonder vryheid vat.

 

Alternatief

Daar is gelukkig ’n alternatief. Suid-Afrika is nie die enigste land wat deur ras, kultuur en taal verdeel word nie. Ons kan leer uit die beste praktyke van wenlande. Die beginpunt kan Indië wees, waar daar ’n Ministerie van Minderhede in die regering (nie die party!) is wat sorg dat hulle toegang tot die regering- en inspraak kry in sake wat hulle raak. So ’n Ministerie kan gegrond wees op die Grondwet se bestaande voorsiening vir taal- en kultuurgemeenskappe, soos Artikels 31, 185 en 235. Dit sal die speelveld gelyker maak, en nie die ANC se beheer nog verder versterk nie. So ’n Ministerie sal nie die aller oplossing vir die huidige probleme van taal- en kultuurgemeenskappe wees nie, maar sal ten minste ’n geloofwaardige struktuur skep om aan oplossings te begin werk. Die roete daarheen sal egter nie deur die ANC alleen bepaal kan word nie- dit moet ’n gemeenskaplike proses wees met ’n oop agenda en ’n oop gesprek. Die uiteinde moet wees wat prof. Pierre du Toit al lank bepleit- ’n “Opvolgskikking” – wat Suid-Afrika kan red van ’n uiteindelike Zimbabwe nagmerrie en kan neem na ’n Wenlandtoekoms.

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.