‘Woorde weet en woorde verklap’ – Abraham H. de Vries

Abraham H de Vries

Ontvangstoespraak wat tydens die oorhandiging van die FAK se NP van Wyk Louw-toekenning vir die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur gelewer is op 31 Oktober 2017 in Lyttelton, Pretoria. 


Partymaal is daar niks anders nie as clichés om op terug te val. Dankie, baie, baie dankie.

Ek voel ’n bietjie klein in die geselskap van voorgangers soos onder andere Elisabeth Eybers, Karel Schoeman en Dan Sleigh verlede jaar. Wat hierdie toekenning so belangrik maak, is die assosiasie met N.P. van Wyk Louw, een van die heel grootste digters en denkers, indien nie die grootste nie, in die Afrikaanse letterkunde. In ’n gelukwensing maak ’n Karoo-vriend melding daarvan dat die toekenning “so ’n besondere naam dra van daardie man van Sutherland wat ook wyer en universeel kon dink”.

Dis ’n eer waarvan ek seker is dat ek dit nie verdien nie en wat my laat vermoed u het ’n baie welkome fout gemaak. Maar daar is ’n troos wat ek raakhoor en nie vergeet nie, want woorde verkondig soms hul eie waarhede: Van Wyk Louw is ’n boorling van die GrootKaroo; ek kom uit die Klein-Karoo. Woorde weet en woorde verklap.

Dis so in gedigte en dit is so in kortverhale. Hennie Aucamp het al daarop gewys dat dié twee genres ’n voorliefde gemeen het, vir verwysings, assosiasies, vir taal as eintlik iets onvertaalbaars. Maar veral vir die “glansryke werktuig” en “tweesnydende swaard” se vermoë om te suggereer, om iets totaal anders te fluister as wat jy sê. Kyk nou so: My vrou het my laat beloof ek sal my gedra vanaand en ’n bietjie die landsake uitlos.

Maar terwyl ek hier sit en tik, sien ek in die boekrakkie op my lessenaar het Auchebe se Things Fall Apart omgeval bo-op Alan Paton se Ah, But Your Land Is Beautiful. Wat ons toeval noem, gebruik soms suggesties nes ’n verhaal.

Ek vermoed daar is ’n ongestelde vraag by almal van ons wat vanaand hier is: Van watter taal praat jy? ’n Taal wat sal bly voortleef so lank as wat daar mense is wat dit praat? Daar is baie spoke om op te jaag en baie skralerige geraamtes om vol lawaai en hoop te laat ratel. Ek vermoed dis die moeite werd om Louw se antwoord uit 1961 weer goed te lees omdat hy die gesprek wegstuur van herkoms en stryd, van geskiedenis en taalsosiologiese wetmatigheid af na die menslike, die moreel/etiese toe: Ek haal hom aan: “Oor wat ons taal sal word, of oor wat van hom sal word, kan ons nie praat nie, behalwe met hartstogtelike verlange.” (Uit Vernuwing in die prosa.)

Begrip en eerbied vir hierdie “hartstogtelike verlange” is die kweekplek vir medemenslikheid en vir respek. Waar wanbegrip en ’n gebrek aan eerbied heers, verdwyn respek en ontstaan konflik. Ek weet van nêrens waar respek nie welkom is nie – dit geld in gewone gesprekke en beroepe, maar ook in hofdokumentasie en aan universitêre inrigtings.

Waarmee ek my dankwoord wil afsluit: Ek aanvaar hierdie toekenning ook namens die Afrikaanse kortverhaal, dié genre wat saam met poësie juis nou in hierdie wye en droewe land vir begrip wat so belangrik is, vra. Elizabeth Bowden had gelyk: “The short story, as I see it to be, allows for what is crazy about humanity: obstinacies, inordinate heroism, ‘immortal longings’.”

En, ja, juis in hierdie land. Ek haal aan uit Tristia:

Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.

O my land, o my land: jy is ek.

Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.

Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê


Hierdie meningstuk is deur ‘n onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word is nie noodwendig die beleid of standpunt van die FAK se werknemers of direksie nie. 

No comments yet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.